Pick your preferred language

English

Afrikaans

Successfully reported

KwaZulu-Natal

+19

Beskrywing

Die gees van KwaZulu-Natal spoel vanuit die warm Indiese Oseaan se branders, rol oor die binnelandse groen heuwels en bosveld en styg op teen die kranse van die Drakensberge. Dit vlieg oor troppe wild en slaap tussen skilpadeiers op die Strand. Dit stop by oorlogsmonumente en hardloop met die voetslag van Zoeloe-dansers. Ruik dit in die kerrie en proe dit in 'n bunny chow. In hierdie landskap ontdek besoekers 'n mengelmoes van kultuur en avontuur. KwaZulu-Natal is geleë aan die ooskus van Suid-Afrika en het 'n gematigde, subtropiese klimaat wat dit heeljaar 'n uitstekende vakansiebestemming maak. Die provinsie spog met twee Wêrelderfenisgebiede, 'n diverse demografie en 'n magdom aktiwiteite ... kom ervaar die kleurryke gees van KwaZulu-Natal saam met LekkeSlaap.

KwaZulu-Natal se warm ooskus is 'n ideale water- en avontuursportbestemming. Seeliefhebbers sal dol wees oor die warm water, die groot golwe en die ellelange wit strande. Die seelewe is volop, en die ooskus is wêreldbekend as 'n uitstekende plek vir skubaduik, veral die prentjiemooi koraalriwwe van Sodwanabaai. Die perfekte golwe kan geniet word teen Ballito se kus, waar daar jaarliks branderplankrykampioenskappe plaasvind. Die noordelike strande van KwaZulu-Natal is die broeiplek van seeskilpaaie en besoekers kan hierdie rare geleentheid aanskou tydens 'n begeleide toer. Indien die aktiwiteite op land nie opwindend genoeg is nie, kan jy altyd met 'n valskerm oor die Drakensberge sweef of 'n vreesaanjaende reksprong doen. Die brugswaaisprong by Oribi Gorge en die stadionswaaisprong by Moses Mabhida Stadion, is die hoogstes van hulle soort.

As jy meer van 'n boekwurm as 'n adrenalienvraat is, bied die provinsie vir jou boektoere, geskiedkundige monumente en oorlogsvelde. Reis terug na die Voortrekker-dae en besoek by Kwa Matiwane die plek waar Piet Retief en sy manskappe vermoor is. Gaan maak 'n draai by die Bloedrivier Erfenisterrein tussen Dundee en Vryheid, of besoek die Bloukransmonument wat een van die oudste Voortrekkermonumente is. Piet Retief se dogter het sy naam en geboortedatum op 'n rots geverf, en dié Retiefklip en standbeeld van 'n kaalvoet vrou kan naby die Sterkfonteindam besigtig word. In eMakhosini, bekend as die Vallei van die Konings, kan besoekers na die grafte van Dingaan, Shaka en vyf ander Zoeloe-konings gaan kyk. By die Fort Amiel Musuem in Newcastle kan jy wapens en uitstallings van die Anglo-Boereoorlog sien.

'n Toer na KwaZulu-Natal sal niks wees sonder 'n besoek aan Durban en die Drakensberge nie. Durban is 'n besige, kosmopolitaanse stad wat 'n smeltkroes van verskillende nasies, tale en kulture is. Hier ontmoet die Ooste, die Weste en Afrika mekaar. Van die spoghotelle se skemerkelkies tot straatkafees se heerlike wegneemetes - Durban is 'n plek om te beleef. In Durban se middestad is daar talle nagklubs, inkopiesenstrums en kunsgalerye. In die noorde van Durban is daar gesogte woonbuurte met pragtige see-uitsigte en die Durban Gholfbaan. Durban-Wes sluit die prentjiemooi “Vallei van 'n Duisend Heuwels” in, en Durban-Suid se Amazimtoti bied ellelange wit strande. En wat sal 'n besoek aan Durban wees sonder 'n dag by die uShaka Marine World? Jy kan heeldag op die massiewe glyplanke baljaar, 'n dolfyndans aanskou en kennis maak met 'n haai. Na 'n dag van pret en plesier kan jy altyd ontspan in die botaniese tuine terwyl 'n filharmoniese orkes in die agtergrond speel.

Aan die ander kant van die provinsie lê die manjifieke Drakensberge. Hier kan die siel rus en die adrenalien pomp. Die berge is verklaar as 'n Wêrelderfenisgebied vanweë die San-rotstekeninge wat hier gevind is, en jy kan een van die talle rotskunsroetes in die Kamberg-natuurreservaat gaan stap. Die Drakensberge het 'n magiese atmosfeer en 'n onversteurde skoonheid, en mens kan dink dat Retief en sy manskappe hierdie landskappe as die beloofde land kon beskou. Trek kaalvoet saam met die Voortrekkers oor die Drakensberge, die meeste passe waaroor die ossewaens gery het, is vandag 4x4-roetes. Ry oor die kronkelende Sanipas en stop vir 'n drankie by die hoogste kroeg in Afrika. Indien jy nie die grondpaaie wil aandurf nie, maar steeds die uitsigte wil waardeer, kan jy op 'n helikopterrit gaan – 'n geleentheid wat nie misgeloop moet word nie!

Sit die bal aan die rol en gebruik 'n gebeurtenis as vakansie-verskoning. KwaZulu-Natal se kalender is propvol wedlope en wedstryde. Die Meneer van alle padwedlope, die Comrades, loop deur hierdie provinsie en is die wêreld se oudste en grootste ultra-marathon. Dapper drawwers pak 'n stewige 90km aan, en jy kan ook een van hulle wees. Die Comrades is egter nie die enigste kroonjuweel van sportgeleenthede nie, die wêreld se grootste oopwatergala, die Midmar Mile, vind ook jaarliks naby Pietermaritzburg plaas. Die oudste kanowedvaart in Afrika en een van die moeilikstes op die internasionale kalender is die Dusi Kanovaart, en deelnemers roei tussen Pietermaritzburg en Durban. Span jou kragte, stel jou langtermyn-doelwit, en strek jou spiere in KwaZulu-Natal. Vind die wedloop wat die beste by jou pas, of maak dit jou lewensdoelwit om elkeen van hierdie gesogte medaljes huis toe te vat.

Swem in die warm Indiese Oseaan se branders, rol oor die binneland se groen heuwels en die bosveld, en styg op teen die kranse van die Drakensberge. Word wakker met 'n trop rooibokke buite jou venster en raak stil by 'n oorlogsmonument. Volg die Voortrekkers se spoor oor die Drakensberge en durf die Sanipas aan. Kom beleef die avontuur en natuurskoon van hierdie provinsie en slaap in een van LekkeSlaap se keuses van spog-akkommodasie.

Kaart

As jy al so ver gekom het, het jy dit duidelik geniet om oor KwaZulu-Natal te lees! Hoekom maak jy nie 'n vakansie daarvan nie? Kliek hier om meer akkommodasie–opsies in KwaZulu-Natal te sien.
Sien Akkommodasie
Kliek hier om meer akkommodasie–opsies te sien
Kliek hier om terugvoer te gee. Laat weet ons asb. as iets op dié webblad verouderd of onakkuraat is.
World Travel Awards
Stem vir ons in die World Travel Awards!
Stem vir ons in die World Travel Awards!
stem
stem