Pick your preferred language

English

Afrikaans

Successfully reported

Pretoria

+6

Beskrywing

“Pretoria, Jakarandastad, dis weer Oktobermaand. Miskien is dit die rede dat ek so verlang vanaand,” sing Koos du Plessis. Pretoria het 'n besonderse vermoë om in jou hart te kruip. Dalk is dit die herinneringe: uitstappies na die dieretuin, verjaarsdagpartyjies in die botaniese tuine, tienerjare se kattekwaad in Hatfield Square en studentejare op Tuks. Miskien is dit eenvoudig net die reuk van 'n Hoëveldse donderstorm of die somerreën wat laatmiddae die aarde afkoel. Dan is daar ook nog die pers strate in die lente. Wanneer jy behoorlik kennis gemaak het met die Jakarandastad, stap jy weg met 'n nostalgie wat moeilik is om af te skud. Net soos die verre geruis van motors op die snelweg, sit die verlange altyd in jou agterkop. Kom ontdek wat Pretoria vir jóú spesiaal maak.

Pretoria het baie name: Tshwane, Snor City en Pretoriusdorp, maar haar mooiste naam bly “Jakarandastad”. Duisende Jakarandabome pronk langs die strate en in Oktobermaand bloei die Jakarandas en die strate word met pers blommetjies getooi. Hierdie boomryke streek lê tussen die Hoëveldse platorand in die suide en die bosveld in die noorde. Pretoria se kimaat is oor die algemeen warm in die somermaande met 'n heerlike somerreën wat smiddae lafenis bring. Dit is die lekkerste lekker om 'n hoëveldweerligstorm te aanskou – die vlaktes is die verhoog, die weerligstrale is die skouspel en 'n swaar reënbui is die applous. In die winter is dit windstil, droog en die velde verdof tot 'n ligte geel.

Behalwe dat Pretoria die hoofstad van Suid-Afrika is, is dit ook 'n internasionale stad – naas Washington DC in Amerika het Pretoria die meeste ambassades in die wêreld. Deesdae kan die stad ook met talle “Grootste in die Wêreld”-titels spog. Die voormalige Kerkstraat (deesdae Stanza Bopape-straat) is die langste stedelike straat in Suid-Afrika en een van die langste reguit strate in die wêreld. Een van die grootste diamante ter wêreld, die Cullinan-diamant, is naby Pretoria gedelf. Die grootste sokkerbal in die wêreld troon bo-op Lukasrand se Telkomtoring. Hierdie bal is 'n indrukwekkende 24 m breed en 8 verdiepings hoog.

Pretoria het 'n ryk kulturele erfenis. Alhoewel mense al duisende jare lank deur dié kontrei trek, het Marthinus Pretorius die stad in 1855 gestig en dit vernoem na sy pa, die Voortrekkerheld Andries Pretorius. Die stigting van Pretoria as die hoofstad van die Suid-Afrikaanse Republiek het die einde van die Groot Trek gesimboliseer. Maak 'n draai by die Voortrekkermonument as jy volgende keer weer in Pretoria kuier, dit is 'n baken van die Groot Trek en een van Gerard Moerdijk se argitektoniese kunswerke. Hierna kan jy oorkant die pad (Ben Schoeman-rylaan) na Vryheidspark stap, waar 'n uitstalling sewe tydperke van Suid-Afrika se geskiedenis uitbeeld. As jy belangstel in kuns moet jy 'n draai gaan maak by die Pretoria-kunsmuseum in Arcadia. Nog 'n tipiese Pretoriaanse uitstappie is 'n balletvertoning by die Suid-Afrikaanse Staatsteater.

Benewens sy wolkekrabbers en uitbreidings bied Gauteng ook heelwat vir natuurliefhebbers. Rietvlei-natuurreservaat is tussen Johannesburg en Pretoria geleë en hier kan jy werklik wegbreek van die stadslewe. Ongeveer 300 verskillede voëlspesies asook sebras, renosters, springbokke, elande en seekoeie kan hier gesien word. Bring 'n kampstoel en piekniekmandjie en spandeer die hele dag langs die rivier. Anders kan jy Hartbeespoortdam, ook bekend as Harties, besoek vir 'n lekker naweekwegbreek. Gaan loer gerus na LekkeSlaap se groot verskeidenheid gastehuise en selfsorg-eenhede langs dié geliefde dam. Harties is 'n gewilde bestemming vir watersport-entoesiaste, en oor naweke is die dam vol bote. Pretoria se dieretuin bied 'n tuiste vir sowat 700 spesies is en is altyd 'n besoek werd. As jy by al 9000 van die dierlike inwoners 'n draai wil maak, het jy 'n paar ordentlike tekkies nodig, maar as die luiheid jou vang, is daar darem 'n sweefspoor met kabelkarretjies.

Pretorianers is hardwerkende mense, maar hulle weet ook hoe om pret te hê! Al die inkopiesentrums bars uit hulle nate oor naweke, ja – die meeste Pretorianers is lief vir 'n mall. Maar dit is met goeie rede – hier is die inkopiesentrums omtrent argitektoniese wonders en pretparke van vermaak. Besoek gerus die indrukwekkende Menlyn-winkelsentrum en stap oor die brug van glas, of gaan na die kleiner Lynnwood Bridge-winkelstrum waar daar 'n rustige atmosfeer en bronsstandbeelde van Angus Taylor is. Wanneer jy nou regtig wil baljaar kan jy altyd mik na Montecasino wat lyk soos 'n antieke Toskaanse dorpie. Hier kan vakansiegangers die land se grootste teater besoek, in een van die vele restaurante eet, of 'n kans waag by die casino. Rustige siele, wat eintlik net smag na 'n Savannah en 'n lekker bord kos, kan laatmiddag gaan afsaal by Lucky Rodrigo.

Na 'n bedrywige dag in die stad sal LekkeSlaap 'n plekkie verskaf waar jy salig kan slaap. Van gastehuise tot hotelle, ons het iets vir elke dier en sy gier. Kom kuier by Pretoria – hierdie plek sal in jou hart kom lê en iets binne jou sal aanklank vind by die vreemde mengsel van rustigheid en haastigheid. In die woorde van Bittereinder: “Soos 'n hoëveldweerligstorm is hierdie stad in my ingebrand, Kerkorrel se Snor City, Pretoria in my hart.”

Kaart

As jy al so ver gekom het, het jy dit duidelik geniet om oor Pretoria te lees! Hoekom maak jy nie 'n vakansie daarvan nie? Kliek hier om meer akkommodasie–opsies in Pretoria te sien.
Sien Akkommodasie
Kliek hier om meer akkommodasie–opsies te sien
Kliek hier om terugvoer te gee. Laat weet ons asb. as iets op dié webblad verouderd of onakkuraat is.
World Travel Awards
Stem vir ons in die World Travel Awards!
Stem vir ons in die World Travel Awards!
stem
stem