Pick your preferred language

English

Afrikaans

Successfully reported

Cape Town

+22

Beskrywing

“Kyk uit na Kaapstad in die nag. Die liggies en die swart, swart see,” sing Koos Kombuis in Lisa se klavier. Teen die hange van Tafelberg lê daar 'n mengelmoes van kultuur en avontuur, 'n plek met 'n magiese atmosfeer. Kaapstad ontwyk eenvoudigheid. Dié stad is al eeue lank die smeltkroes van nasies, en die veelvolkige invloed is sigbaar in die geboue en mense: Die helderkleurige huisies van die Bo-Kaap langs die wolkekrabbers van internasionale maatskappye. 'n Straatkafee wat besoek word deur kaalvoet kunstenaars en briljanjappies. Die winkels van Woodstock en die kuierplekke van Kampsbaai. Gaan kuier saam met LekkeSlaap in Kaapstad en laat die stad jou óók betower.

Kaapstad lê tussen Tafelberg en die see en bied aan besoekers pragtige uitsigte en natuurskoon. Tafelberg alleen het 'n groter verskeidenheid plantspesies as Nieu-Seeland en Brittanje, en die meeste van hierdie fynbos is endemies in die gebied – besoekers kan dus plante sien wat nêrens anders voorkom nie. Natuurliefhebbers moet Kirstenbosch Botaniese Tuine besoek, een van die eerste botaniese tuine ter wêreld wat fokus op die beskerming van endemiese plante. Avontuurlustiges kan die uitsigte vanaf Leeukop geniet op 'n staproete. Dié klein boetie van Tafelberg is gewild wanneer dit volmaan is, maar gaan vroegoggend as jy die stapverkeer wil vermy. Daar is ook talle ander staproetes en natuurreservate, soos die Kaappunt-natuurreservaat, om te gaan verken.

As jy staproetes as ligte ontspanning beskou en 'n iets met 'n bietjie meer byt soek, kan jy saam met haaie gaan duik! Verbasend genoeg kom 'n kwart van die wêreld se haaispesies in Kaapse waters voor. Terwyl jy jou voete natmaak kan jy net sowel jou branderplank saambring en die branders van Kommetjie en Muizenberg geniet. Moet net nie jou duikpak vergeet nie, want die Atlantiese Oseaan se water is bibberkoud. Op droë land en vanaf hoogtes sal die dapperste adrenalienvrate in Kaapstad 'n vreesaanjaende zipline en baie plekke wat geskik is vir valskermsweef, vind. Indien jy jou tekkies gerieflik by die huis vergeet het, maar steeds in die opwinding wil deel, kan jy 'n draai maak by die Two Oceans Aquarium of Tafelberg met 'n kabelkarretjie besoek.

Kaapstad is 'n lushof vir geskiedkundiges en museumliefhebbers. Stap sommer net in die straat en waardeer die pragtige ou Kaap-Hollandse geboue. Robbeneiland en die Distrik Ses-museum bied 'n insiggewende blik op Suid-Afrika se apartheidstydperk. Die Iziko Suid-Afrikaanse Museum, gestig in 1825, is die huis van meer as 'n miljoen eksemplare, insluitend gereedskap wat meer as 120,000 jaar oud is. Reis terug in tyd en besoek die Koopmans-De Wet-huis met sy Victoriaanse meubels, of ervaar die skadusy van hierdie era by die Iziko-slawelosie. Die Kasteel die Goeie Hoop is die oudste koloniale gebou in Suid-Afrika, en was in 1678 die administratiewe en militêre sentrum van Kaapstad. Anders as wat baie mense glo, het Jan Van Riebeeck nie die Kasteel gebou nie – hy was klaar terug in Nederland toe die bouwerk aan die Kasteel voltooi is! Indien jou belangstelling in geskiedenis verder strek as die stadsgrense, kan jy ook die Planetarium besoek.

Die Kaap is nog altyd sinoniem vir die see. Clifton is 'n gewilde bestemming vir sonbaaiers, maar jy kan gerus verder suid mik na die stil strande van Muizenberg en Simonstad. Oudekraal en Smitswinkelbaai is stil strande – lekkeplekke vir mense wat 'n bietjie wil wegbreek uit die Moederstad se gewoel. Wingerd en wyn is ook onmiskenbare Kaapse aanloklikhede. Vir 'n knertsie wyn en geskiedenis, gaan na Groot Constantia. Dié wynplaas is nie net bekend vir sy pragtige uitsigte nie, maar is ook die oudste wingerd in die land – Simon van der Stel het in 1685 hierdie grond aangeskaf. Wynliefhebbers kan 'n wyntoer onderneem en na 'n besoek aan Groot Contantia, kan hul ook 'n draai gaan maak by Klein Constantia, Buitenverwachting, Constantia Uitsig en Steenberg. Die wyn uit hierdie area is wêreldwyd bekend en die plase se pragtige Kaap-Hollandse herehuise vervolmaak die ervaring.

Smulpape en fynproewers sal hulle vingers aflek vir 'n diverse kulinêre ervaring in Kaapstad – restaurante bied van Franse tot Ethiopiese kookkuns. Proe heerlike Maleise geregte soos samoesas en kerries by kafees of bestook jou sintuie met die eksperimentele disse van Test Kitchen in Woodstock. Gaan op 'n uitstappie na Mzoli's Place, 'n lewendige kuierplek in Gugulethu. Hierdie restaurant gee aan besoekers 'n insiggewende blik op die township-lewe, en lewer 'n interessante kinkel op die tradisionele “bring en braai.” Inwoners drink bier saam met toeriste, alles in 'n feestelike atmosfeer. Vakansiegangers wat wil feesvier moet 'n Kaapse draai maak in Langstraat. Hierdie straat het polsende nagklubs en luilekker straatkafees en is gewild onder buitelanders en jongmense. 'n Skemerkelkie sonder 'n uitsig en sonsondergang is net 'n drankie, en Kaapstad bied altwee noodsaaklikhede met swierigheid aan. Trek jou hoëhakskoene of das aan, Kampsbaai het van die deftigste restaurante in die land. Mense wat 'n vakansie kaalvoet wil geniet, sal hulself verlekker in die heerlike vis-en-tjips winkels by die hawe of Kalkbaai.

Kaapstad maak uitstekend voorsiening vir toeriste. Die stad spog met die grootste hoeveelheid akkommodasie in Suid-Afrika. Daar word beweer dat meer as 28 000 instansies in die stad bedryf word, wat meer as 60 000 beddens impliseer. Uit hierdie magdom akkommodasie-opsies, het LekkeSlaap nét die bestes gaan kies. Daar is luukse hotelle en ouwêreldse gastehuise, iets wat in elke vakansieganger se smaak en begroting val. 'n Afrikaanse idioom lui: “Ek moet eers die Kaap sien.” Wyse woorde. Besoek die Moederstad en beleef 'n vakansie van opwinding en prentjiemooi uitsigte. Laat Kaapstad jou inspireer terwyl LekkeSlaap jou akkommodeer.

Kaart

As jy al so ver gekom het, het jy dit duidelik geniet om oor Cape Town te lees! Hoekom maak jy nie 'n vakansie daarvan nie? Kliek hier om meer akkommodasie–opsies in Cape Town te sien.
Sien Akkommodasie
Kliek hier om meer akkommodasie–opsies te sien
Kliek hier om terugvoer te gee. Laat weet ons asb. as iets op dié webblad verouderd of onakkuraat is.
World Travel Awards
Stem vir ons in die World Travel Awards!
Stem vir ons in die World Travel Awards!
stem
stem