Suid-Afrika se Weskus bied ’n betowerende agtergrond vir paartjies wat op soek is na ’n rustige wegbreek langs die Atlantiese Oseaan. Is dit dié magiese streek se ruwe kuslyn en asemrowende sonsondergange wat paartjies keer op keer weer hierheen lok, of eenvoudig die feit dat dit besoekers die kans gee om ’n Griekse vakansie op tuisbodem te ervaar? In dié blog reis ons al langs die Weskus om al die versteekte juwele en romantiese wegkruipplekke te ontdek sodat jy jou wederhelf met ’n spesiale wegbreek kan bederf.

The Moorings 3

Paternoster

Dié oulike selfsorgkothuis is so te sê op die strand in die bekoorlike vissersdorpie Paternoster geleë. Die oopplan-kombuis het alles wat julle nodig het om iets lekker voor te berei, maar daar is ook braaigeriewe buite en dit is stapafstand vanaf restaurante. Kom sit buite op die stoep en teug aan ’n skemerkelkie terwyl julle die uitsig oor die baai bewonder.

The Tin Shack

St. Helenabaai

Dié prentjiemooi, eko-vriendelike skeepsvraghouerhuisie skuil op ’n kleinhoewe met natuurlike plantegroei op ’n heuwel agter St. Helenabaai en spog met die mooiste uitsig oor die dorp en die hele baai. Daar is twee en suite-slaapkamers, ’n toegeruste kombuisie en ’n dek met braaigeriewe en ’n houtvuurwarmbad. Vergeet vir ’n tydjie van die alledaagse stadsgedruis en bring jou boek, verkyker, swembroek en stapskoene saam.

Le Mahi Guest House

Langebaan

Le Mahi Guest House bied luukse B&B-verblyf op ’n gholfbaan in Langebaan, net een kilometer vanaf die strand. Die gastehuis het vyf kamers met en suite-badkamers, platskerm-TV’s en privaat stoepe met uitsigte oor die gholfbaan. Daar is ook ’n omsetter en batterystelsel wat seker maak julle wegbreek word nie deur beurtkrag beïnvloed nie. 

Smugglers’ B&B

Paternoster

Smugglers’ B&B skuil in ’n stil hoekie in Paternoster, net 50 meter van die strand af. Dié troeteldiervriendelike B&B bied verbyf in drie gastekamers met en suite-badkamers. Julle het toegang tot die gemeenskaplike eetarea waar die tweegang-ontbyt bedien word, ’n sitarea met ’n eerlikheidskroeg en ’n pragtige binnehof met ’n swembad.

West Coast Luxury Tents

Elandsbaai

Breek weg na dié glanskamptente tussen die duine op ’n privaat plaas. West Coast Luxury Tents bied ’n ontspannende wegbreek net buite Elandsbaai en Dwarskersbos. Daar is drie luukse tente met gemaklike beddens, en suite-badkamers, toegeruste kombuisies en privaat braaigeriewe. Die tente is net 500 meter vanaf ’n 40 kilometer lange strand waar julle lekker vir die dag kan uitspan.

The Stables Cottages

Langebaan

The Stables Cottages is op ’n perdelandgoed sowat vier kilometer buite Langebaan geleë. Daar is drie selfsorgkothuise, maar ons beveel die ou karavaan vir jou en jou wederhelfte aan. Die karavaan het ’n dubbelbed, is met ’n yskassie, mikrogolfoond, ketel en gratis WiFi toegerus en bied toegang tot ’n privaat ablusieblok met ’n stort en ’n toilet.

The Oystercatchers’ Haven

Paternoster

Kom bly in dié gastehuis op die strand in Bekbaai met ’n ononderbroke uitsig oor die see en die Columbine Natuurreservaat se kuslyn. Elke gastekamer het ’n koninggrootte-bed met Egiptiese katoenlinne, ’n en suite-badkamer en ’n stoep met ’n see-uitsig. Daar is ook ’n gemeenskaplike sit- en eetarea waar die ontbyt bedien word en dit lei na ’n gemeenskaplike stoep met ’n plonspoel, strand-uitsig en direkte toegang tot die strand.

Trekosglamping 2

Paternoster

Trekosglamping 2 is ’n troeteldiervriendelike skeepsvraghouerverblyf vir twee naby Trekoskraal wat net agt kilometer buite Paternoster geleë is. Dié skeepsvraghouer gebruik sonkrag en ’n gasgeiser en die kombuis is met ’n gasstoof toegerus. Buite is daar ’n stoep met ’n buitebad en ’n sitarea met ’n uitsig oor die sonsondergang en die see in die verte. Daar is ook vuurputbraaigeriewe tussen die bosse.

Aloha 1

Paternoster

Aloha 1 is ’n solderwoonstel met sy eie ingang op dieselfde perseel as twee ander eenhede in Paternoster, net 200 meter vanaf die strand en stapafstand vanaf die dorp. Die netjiese woonstelletjie het ’n oopplan-uitleg met ’n koningingrootte-bed. Die kombuisie is goed toegerus, gratis WiFi word voorsien en buite is daar ’n privaat balkon met braaigeriewe en ’n uitsig oor die dorp.

Bayside Luxury Studios

Jacobsbaai

Bayside Luxury Studios beskik oor twee selfsorg-ateljeewoonstelle naby die see in Jacobsbaai. Albei woonstelle het koningingrootte-beddens, kombuisies met verhit-en-eetgeriewe en balkonne met draagbare braaigeriewe en gedeeltelike uitsigte oor die see. Hiér kan julle bedags die dorpie verken en saans met die branders se gedruis in die agtergrond aan die slaap raak.

The Cottage Collection

Paternoster

Dié pragtige selfsorgkothuise is stapafstand vanaf die see, winkels en restaurante in Bekbaai. Die eenslaapkamerkothuis het ’n aparte slaapkamer, toegeruste kombuis met alles wat julle nodig het om lekker disse op te tower, ’n oopplan-leefarea met ’n kaggel en ’n platskerm-TV met DStv, en ’n stoep met ingeboude braaigeriewe.

Daar is ’n rede waarom die Weskus so gewild is en ’n mens hoef amper net na dié blyplekke se foto’s te kyk om te sien waarom. Kies een van dié prentjiemooi blyplekke en bederf jou lief met ’n Griekse vakansie op tuisbodem! 

Hooffoto: The Tin Shack

Lees ook:

Toevlugsoorde vir 2 op die Tuinroete

8 Wonderlike wegbreke vir jou wittebrood

Weskus-strandhuise vir groepe