Is jy ’n ywerige visvanger of is jy net op soek na verblyf weg van die stad se gewoel? Dan is jy op die regte plek. In hierdie blog wys ons vir jou ’n paar lekke plekke in die Wes-Kaap waar jy na hartelus kan visvang en behoorlik ontspan.


Matjiesvlei Cottages

Matjiesvlei Cottages is in die Matjiesvlei-vallei, aan die voorheuwels van die Swartberge, slegs 16 kilometer vanaf Calitzdorp geleë. Verblyf word in drie selfsorg-plaaskothuise aangebied; Middelplaas-kothuis, Bokwagtershuis en Die Stalle. Die ongelooflike berguitsigte en die vallei se plaasaktiwiteite skep ’n rustige atmosfeer, terwyl elke kothuis met WiFi en binne-braaigeriewe spog. Hier kan jy met ’n visvangpermit in die Gamkarivier, wat aan die eiendom grens, visvang. Die vis wat gereeld hier voorkom is geelvis en karper, en visvang word op ’n vang-en-vrylaat-basis toegelaat.

Ander aktiwiteite in die omgewing: voëlkyk, wynproe, fietsry, bergfietsry en swem


Myoli Beach Lodge

Myoli Beach Lodge is in Sedgefield in die Wes-Kaap geleë en is stapafstand vanaf die bekende Gericke se Punt en getypoele. Hierdie warm, pragtige selfsorgstrandhuis het ’n Afrika-styl en bied verblyf in ses chalets, ’n selfsorgwoonstel en ’n en suite-kamer. Dié strandhuis is tussen Knysna en Wildernis geleë. Daar is lekke visvangplekke voor die lodge, waar jy onder meer swartstert, steenbras, stompneus en blouvis op ’n vang-en-vrylaat-basis kan vang. 

Ander aktwiteite in die omgewing: wandel, swem, snorkel, branderplankry en vlieërplankry 


Pomona Farm House

Pomona Farm House is op ’n protea- en vrugteplaas hoog op die Piketberge 16 kilometer buite die bekoorlike plaasdorpie Piketberg geleë. Die plaashuis het vier slaapkamers, drie badkamers en ’n volledig toegeruste kombuis, en spog met ’n braai-area, kaggel en ’n slim-TV met Netflix, Showmax en DStv. Boonop is daar ook ’n KolKol-warmbad om te geniet. Jy kan grootbekbaars in die plaasdam vang, maar onthou om jou eie toerusting saam te bring. Die beste tyd om te hengel is van Oktober tot Desember, wanneer die water warmer is en die dam nog redelik vol is. 

Ander aktiwiteite in die omgewing: swem, bergfietsry, voetslaan, wynproe of gholfspeel


Duifieklip

Duifieklip is ’n seefront-strandhuis in Hannasbaai, St. Helenabaai. Dit is ’n hanetreetjie vanaf die hoogwatermerk en stapafstand vanaf die strand deur die veldtuin. Duifieklip is ideaal vir groepe van ses volwassenes en gesinne met kinders. Die stoep bied ’n uitsig oor die veldtuin en strand waar meer as 60 voëlspesies te siene is. As julle gelukkig is mag julle selfs dolfyne, walvisse of robbe vanaf die huis sien. Julle kan van die rotse voor die huis af hengel, asook vanaf die hawe-pier. Diegene wat ’n net het en kenners is, kan harders voor die huis vang.

Aktiwiteite in die omgewing: kajakvaar, voëlkyk, voetslaan, draf, swem, duik en bergfietsry


Hout & About Guest House 

Hout & About Guest House is ’n lieflike gastehuis in Houtbaai en is ideaal vir gaste wat die Kaap wil verken. Die gastehuis beskik oor agt kamers wat slaapplek aan twee tot vier gaste bied. Die kamers het ’n uitsig oor die tuin, op die berg of oor die baai, en WiFi en ’n slim-TV is ook beskikbaar. ’n Fynproewersontbyt word in die luukse leefarea of op die sonnige stoep met ’n uitsig oor die see en op die bergreeks bedien. Julle kan in die sitarea of op die balkon ontspan en daar is ’n buitelug-swembad om in af te koel. Die eiendom is naby die hawe en hier kan jy tuna en geelstert hengel. Dié area spog ook met talle maatskappye waar julle visvangtoerusing kan huur.

Ander aktiwiteite in die omgewing: see-kajakvaar, abseil, voetslaan, fietsroetes, verf en pottebakkery en helikoptervlugte


Kelkiewyn

Kelkiewyn is ’n lieflike vakansiehuis vir gesinne van agt en is op die Mile 16 Beach-landgoed, net 200 meter vanaf die see in Yzerfontein. Die ruim leefarea het ’n eetarea met ‘n gesellige kaggel en ’n sitarea met ’n TV, klankbalk en WiFi. Braairoosters en ’n potjiepot is ook beskikbaar. Daar is glasdeure wat na ’n onderdakstoep met braaigeriewe lei en dit bied ’n uitsig oor die Kolkol-warmbad. Buiten die parkeerplek vir twee voertuie, kan daar ook vir ’n klein boot voorsiening gemaak word. As jy van die strand af hengel is galjoen meestal te vinde en vanaf die boot (Dasseneiland Charters), is dit snoek, geelstert, kartonkel en slender tuna. Op visvangbote word die vis deur die kliënte gehou totdat daar genoeg is, dan is dit slegs op ’n vang-en-vrylaat-basis.

Ander aktiwiteite in die omgewing: branderplankry, seil, ski, sandplankry en staproetes


The Whale on Main B&B

The Whale on Main B&B is ’n luukse B&B in die gewilde vakansiedorp, Hermanus, aan die Wes-Kaapse Suidkus. Verblyf word in ses slaapkamers wat smaakvol versier is aangebied en spog met ’n uitsig oor die see of op die berge. Daar is ’n gemeenskaplike swembad, sonstoele, ’n gemeenskaplike eetarea en ’n gastesitarea in die huis. Die eiendom is 75 meter vanaf die bekende kranspaadjie in Hermanus. Julle kan vanaf verskeie punte op die kranspaadjie rotshengel. Die Gang, wat reg oorkant die straat van die eiendom geleë is, is ook ’n gewilde plek vir rotshengel. Blade Charters is die topvisvanghuurmaatskappy in Hermanus en bied allerhande visvangaktiwiteite, insluitend visvang op die riwwe. Vis wat in area voorkom, sluit onder meer rooiroman, Cape Bream en rooisteenbras in. Vis kan op hierdie uitstappies deur die visserman gehou of vrygelaat word. Vis wat op die SASSI-rooilys is moet egter vrygelaat word.

Ander aktiwiteite in die omgewing: walviskyk, historiese besienswaardighede, watersport, valskermsweef en gholfspeel


Lyk hierdie plekke vir jou lekke? Dan stel ons voor dat jy sommer dadelik jou visstok gereed kry en ’n visvangwegbreek bespreek.


Let wel: Die beskikbaarheid van vis kan deur verskeie faktore soos droogtes en oorstromings beïnvloed word, daarom word julle aangeraai om eers by ’n eiendom navraag te doen oor die visvanggeleenthede voor julle bespreek.

Hooffoto: Unsplash