As ’n mens aan die Vrystaat dink, dink jy miskien aan mooi meisies, mooi mielies en Bloemfontein, maar min van ons dink aan vakansie. Dit is tog te jammer, want wat die Vrystaat tekort skiet deur nie ’n grens met die see te deel nie, maak hy voor op met sy oulike dorpe, gasvrye mense, interessante geskiedenis, lekker kos en onverwagse natuurprag. So, as jou voertuig se bande weer jeuk, draai gerus in die Vrystaat se rigting vir ’n bietjie plattelandse pret en ’n wegbreek sonder die skares. Laat LekkeSlaap.co.za jou vertel watter Vrystaatse dorpe op jou reislysie hoort. 

Gariepdam

Gariep Dam Gariepdam Free State South Africa Dam in South Africa
Foto: Bigstock

Kyk, ons weet daar is nie ’n see in die Vrystaat nie, maar daar ís ’n dam — en dan is dit nog die grootste dam in die land ook. Die Gariepdam vorm die grens tussen die Vrystaat en die Oos-Kaap en is sentraal in Suid-Afrika geleë, daarom gebruik baie mense dit as ’n oornagstop. 

Bly jy ’n bietjie langer, sou jy egter geelvis of tilapia uit die 374 km²-grootte dam kon trek. Natuurlik is daar ook ander watersporte soos waterski, jetski, motorbootry, sleeptjoepry, swem en begeleide bootritte as vermaak. Die Gariep Inn is net één van die gastehuise in die area wat sulke bootvaarte bied en dit is ook langs dié damdorp se geliefde restaurant, Tjailatyd, waar nóg wateravonture oor ’n lekker bord kos bespreek kan word. Let dat die dorpie nie baie restaurante het nie, so dit is absoluut noodsaaklik dat jy ’n bespreking maak. 

Die Gariepdam Natuurreservaat op die dam se noordelike oewer is die Vrystaat se grootste natuurreservaat en pronk met die grootste trop springbokke in die land! Daar is meer bokspesies as grootwild hier te sien, maar jy sal om elke bossie en grashalm ’n voëltjie gewaar aangesien hier meer as 242 spesies rondbeweeg. Die enorme reservaat spog ook met bykans ’n honderd kilometer se grondpaaie vir bergfietsryers.

Van tyd tot tyd is ’n damwaltoer beskikbaar ─ hieroor kan jy by Tjailatyd se voorste toonbank navraag doen. Só ’n toer neem jou ses verdiepings na onder tot by die oorspronklike rivierbedding en jy kan jouself fiks klim op die trappe en vir meer as dertien kilometer die binnekant van die damwal verken. Einde verlede jaar, toe die sluise ná die uitstekende reëns oopgemaak is, was die dorp, soos die dam self, tot oorlopens toe vol, soos gaste van heinde en verre gestroom het om die groot gebeurtenis te sien. Pak jou tasse en laai die gesin, dan stroom jy ook af Gariepdam toe vir ’n vakansie langs die grote (nie oseaniese) waters.

Lees ook Gesinsvriendelike doendinge by die Gariepdam

Bloemfontein

Naval Hill Bloemfontein South Africa Statue Nelson Mandela
Foto: Bigstock

Bloemfontein is nou nie ’n dorp nie, so dit kan nie die bekoring van ’n dorp pleit nie, maar as ’n mens in ag neem hoe grootoog die Bloemfonteiners toegekyk het toe die Rosestad se strate met die Springbokke-Wallis-rugbywedstryd oorgeloop het, kan ’n mens met vertroue sê dit is ’n stad wat nog dínk dis ’n dorp. Tog, anders as die ander dorpe in hierdie blog, bied Bloemfontein al die geriewe van ’n stad én toerisme-trekpleisters by dosyne. Hier is regtig iets vir ’n ieder en ’n elk. 

Laai gerus die inkopie-geeste in die gesin by die Mimosa Mall en Loch Logan Waterfront, of op Saterdae tussen sewe-uur en eenuur by die Langenhoven Boeremark af, dan kom haal jy hulle weer wanneer die winkels toemaak.

Die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke is die beste beginpunt vir iemand wat in die Anglo-Boereoorlog belangstel en bied ’n groeiende versameling navorsing en memorabilia van die oorlog wat op treffende wyse uitgestal word. Langsaan is die Vrouemonument, ’n roerende huldeblyk aan Suid-Afrikaanse vrouens wat tydens die oorlog met baie moed vir hulle lewens en dié van hulle kinders in die konsentrasiekampe geveg het. Die monument, wat in 1913 geopen is, is nie met staatsgeld gebou nie, maar eerder met elke sjieling en sent wat die verarmde Suid-Afrikaners ná die oorlog bymekaar kon skraap om die vrouens se bydrae te vereer. 

Natuurliefhebbers moet sommer ’n dag by die Vrystaatse Nasionale Botaniese Tuin in die buitewyke van die stad deurbring en tussen die dolerietkoppies wandel. Olienhout- en kareebome word met pragtige tuine en mooi geboue afgewissel. As jy kultuur en natuur wil meng, rig jou na die Oliewenhuis Kunsmuseum wat ’n geskiedkundige én kontemporêre kunsversameling met pragtige, groot tuine kombineer. Dié Neo-Duitse herehuis het konings onthaal en as tydelike tuiste van verskeie staatspresidente gedien voor dit in 1972 Oliewenhuis genoem is en het eers later as museum begin dien. 

Maak tog seker jy neem die hele gesin na Naval Hill, die hoogste punt in Bloemfontein wat tydens die Anglo-Boereloog as stoorplek vir twee skeepskanonne gebruik is. Van hier af kan jy ’n pragtige uitsig oor die Rosestad bewonder, ’n foto by die enorme standbeeld van Nelson Mandela neem en die Planetarium vir ’n ongelooflike digitale kykie na die heelal besoek. 

Ficksburg

Ficksburg Free State South Africa Cherry Town
Foto: Bigstock

Ficksburg is sinoniem met kersies, en alhoewel die groter Kersiefees in Covid-tyd uitgestel en toe afgestel is, het plaaslike kersieplaas, Iona, die fakkel met graagte aangevat. Hier, net buite die dorp op die R26, bied Iona nou self in November ’n kersiefees aan en julle kan musiek deur topklas-kunstenaars, ’n kersietoer, kersiepluk, die biertent en vele meer kom geniet. 

Daar is ook staproetes en die Iona Cherry MTB Challenge om na uit te sien en dit is sowaar ’n groot bederf om hier, in die voorheuwels van die Malutiberge, omring deur sandteenkranse en plattelandse prag, jou fi(c)ksheid te kom beproef. 

Ander tye van die jaar is daar egter steeds rede om Ficksburg toe te keer. Rondom April en weer rondom September word die wêreldklas-uitsigte rondom die dorp deur kosmosblomme verfraai, so neem ’n landskapsrit in die omgewing om die streek in sy volle glorie te aanskou. 

Ficksburg as dorp het ook oulike winkeltjies wat onder andere boeke en kersiesjokolade verkoop en as jy ietsie te ete wil kry of kersies wil koop, is Constantia Padstal aan te beveel. Ons hoor hulle aarbei-kaaskoek is heerlik! Cafe Chocolat is ook ’n besoek werd en as jy net ’n bietjie sielsrus soek, is ’n wandeling deur hierdie dorpie se strate, tussen die pragtige, historiese standsteengeboue, ’n vereiste.


Bethulie

Bethulie sonneblomme funflowers bethulie free state sir herbert baker
Foto: LekkeSlaap.co.za

Bethulie is een van die oudste dorpe in die Vrystaat en spog dus met ’n ryk geskiedenis en baie meer om te sien as wat ’n mens dink! Dié dorpie, wat se naam “God se uitverkorene” beteken, spog met kenmerkende sandteengeboue en broekiekantstoepe en deel graag die geskiedenis wat tussen sy grense opgesluit lê indien jy vooraf die nodige reëlings tref. So moenie laat slaap en uitmis nie!

Plaaslike toergids, Trudie Breedt-Venter, bied ’n verrykende toer van die dorp aan en enige donasies wat sy ontvang, word vir die onderhoud van die dorpsmuseum en gedenkwaardighede aangewend. Die Pellissier Huismuseum is die oudste Voortrekkerwoning in die Vrystaat en die oorspronklike sendingstasie wat tydens die Anglo-Boereloorlog opgerig is, is ook ’n besoek werd. Trudie kan inligting oor die museum self, insigte in die Voortrekkers se bestaan in die dorp, die konsentrasiekampterrein en die historiese begraafplaas bied.

Dan is daar ook die treinbrug oor die Oranjerivier wat die Vrystaat met die Oos-Kaap verbind. Teen 1152 meter is hierdie die langste brug in Suid-Afrika en spog dit met ’n pragtige boogvormige sandsteenstruktuur wat vir ongelooflike foto’s sal sorg. 

Ná ’n dag van historiese verkenning en landskapsfoto’s sal jy sekerlik genoeg van ’n aptyt hê om die Ou Kar Restaurant in die dorp se pizzas te beproef. Ons het al meer as een keer gehoor hoe lekker dié restaurant se pizzas is en dit is tot al as “skokkend lekker” beskryf. So, maak ’n draai, loop ’n bietjie deur die dorp en kyk (en proe) self. 

Clarens

clarens town free state sandstone building
Foto: Bigstock

Julle het sekerlik nie gedink ons gaan van Clarens vergeet nie. Dié dorpie, wat tereg as die Juweel van die Vrystaat bekend staan, is net drie uur se ry van Johannesburg én van Bloemfontein af, wat dit die ideale wegbreek vir stedelinge maak. 

Dit is die naaste dorp aan die Golden Gate Highlands Nasionale Park waar stap- en bergfietsroetes deur die berglandskap kronkel. Die Brandwag-krans by die ingang van die park is verantwoordelik vir dié park se naam omdat dit met sonsopkoms en sonsondergang skouspelagtig, goud gloei en in die herfs en lente is die park van die kosmosblomme oortrek.

Jy hoef egter nie Golden Gate toe te ry om die die prag en praal van die Clarens-omgewing te ervaar nie. Sluit Saterdae by die Parkrun deur die dorp aan om Clarens en sy onmiddellike buitewyke te voet te verken. 

In die dorp self sal jy ’n kunstenaarsparadys van sandsteengeboue, lowerryke boomlanings, galerye, restaurante en ander oulike winkeltjies aantref. Die winkels spog met alles van pottebakkery, leerprodukte en tradisionele komberse, tot tuinmeubels, tweedehandse meubels, klere en die oulikste boekwinkeltjie, Bibliophile. Barris Monger bied ’n kaas-en-wynproe ver van die Kaap af en as jy eerder ’n bierdrinker is, moet jy by Clarens Brewery indraai vir hulle verskeidenheid biere of die jaarlikse bierfees (volgende jaar s’n is in Februarie) bywoon. Wat eetplekke betref, word Clementines en 278 on Main aanbeveel. 

As inkopies en natuurritte vir jou te stadig is, maak die meeste van jou besoek deur na organisasies soos Clarens Xtreme uit te reik en ’n rits aktiwiteite soos vierwielmotorfietstoere, witwatervlotvaarte, abseil en verfbal by jou agenda te voeg! 

Fouriesburg

Fouriesburg Free state maluti mountains
Foto: Bigstock

Nes sommige van die vorige dorpies op ons lys, het Fouriesburg ’n tipiese kleindorpiegevoel, maar hierdie dorpie, by die kruising van die R711 en die R26, sit knusser teen die Malutiberge wat beteken dat dit die naaste dorpie aan die Caledonspoort-grenspos na Lesotho is.

Met die Anglo-Boereoorlog-aktiwiteite in die omgewing, bied Fouriesburg ook, soos baie dorpies in die Vrystaat, toegang tot verskeie historiese slagvelde, maar dié dorp is meer as net sy geskiedenis. Fouriesburg se mense is vriendelik en gasvry, sy pragtige sandsteengeboue is ’n lus vir die oog en die aanbod in die dorp is lekker, maar nie só bedrywig soos die nabygeleë Clarens s’n nie. Fouriesburg se slaghuis kom ook hoogs aanbeveel, so maak seker jy steek die aand wat jy oorbly vuur op en braai plaaslik. 

’n Menigte gaste beveel Di Plaasstoep Restaurant aan waar jy aan tuisgebak en plattelandse disse soos pap en kaiings en skaapstertjies kan smul. Maak ook by die Windmill Pub & Grill ’n draai, want dit beloof die beste pizza in die Oos-Vrystaat (vergelyk dit maar self met Bethulie s’n en laat weet ons wat jy dink). Laastens is daar die Country Kitchen Restaurant en Orange Apple Country Shop, ’n uitstekende plek om gin te proe terwyl die kinders by die speelarea vermaak word. 

Omdat jy so naby Clarens is, is daguitstappies soontoe én na die Golden Gate Highlands Nasionale Park, maklik, maar as jy eerder nie te ver wil ry nie, kan jy die Meiringskloof Natuurpark besoek en van dié reservaat se ongelooflike staproetes na verskeie grotte op die proef stel. 

Parys

Parys free state tourist town golf estate
Foto: LekkeSlaap.co.za

Parys lê, soos sy Europese naamgenoot, op ’n rivier se oewer, maar spog met drie en nie net een Eiffeltoring! Wanneer jy hier op die Vaalrivieroewer, kom kuier, kyk gerus of jy al drie van die mini-Eiffels in die dorp kan uitken!

Omdat Parys net ’n uur se ry van Johannesburg af is, is hierdie kunstenaarsdorpie ’n gewilde naweekwegbreek vir stedelinge wat dit ’n standhoudende toerismemark verseker. Maar wat Parys nóg meer besonders maak, is dat dit ook in die Vredefortkoepel — die grootste meteoriet-impakplek ter wêreld — geleë is. Toere van die koepel, wat as Suid-Afrika se sewende Wêrelderfenisterrein tel, kan gereël word, of julle kan saam met Koepel Mega Zipline by Kiepersol oor ’n gedeelte van die koepel gly, daardeur stap, of selfs ’n warmlugballonrit bespreek om die sekelvormige impak van die enorme meteoriet van bo af te sien! Ander avonture in en om die dorp sluit hengel in die Vaalrivier en ongelooflike witwatervlotvaart in. Toeroperateurs soos Eagle River Rafting bied pakkette om onder andere die Big Daddy-stroomversnelling in die Vaalrivier eerstehands te ervaar. 

Moenie bekommer nie. Parys is nie net vir adrenalienvrate nie, maar bied ook, soos sy naamgenoot, die geleentheid om dekor- en mode-inkopies te doen. Begin by die hoofstraat, Waterstraat, wat om die draai in Breëstraat verander, en neem al die winkels daar in. As jy op soek is na antiekeware en mal is oor “thrifting” kan jy by winkels soos Pines Antiques, Paris Antiques, Mon Ami Antiques, Ou Goed en Parys Auctioneers aanklop, en as jy ’n pasgemaakte rok soek, stel ons voor jy lewer besoek aan die modeontwerpers Michael Bezuidenhout of Werner Dey.  

Wat eetplekkies betref, is daar veral ’n groot aanbod koffiewinkels soos Die Koffiekan en La Vie en Rose, en as julle klaar aan iets soets gesmul het en ’n bietjie romanties wil verkeer, kan julle ’n liefdesslot aan die 1919-hangbrug oor die Vaalrivier gaan haak. Vir die res van die gesin is daar gholf by die Vaal de Gráce-gholflandgoed met 18 putjies, die geleentheid om bessies by Bon-af Bessieplaas te pluk en heerlike wyn en pieknieks by Pont de Val.

Philippolis

Philippolis free state karoo town
Foto: LekkeSlaap.co.za

Wie sou kon dink dat die enigste populasie wilde tiere buite Asië naby ’n Karoodorpie in die Vrystaat geleë sou wees? Tiger Canyons, net buite Philippolis, is deur die dokumentêre filmmaker, John Varty, gestig en dien as ’n alternatiewe habitat vir die kwynende tierpopulasie in Asië. Dit bied ’n eens-in-’n-leeftyd ervaring waar jy van ’n platform af die tiere in hulle habitat kan sien en oor hulle kan leer terwyl jy aan ontbyt of aandete smul.

Maar Philippolis kry nie net ’n plek op ons lysie te danke aan dié tiere nie. Hierdie dorpie in die Vals Karoo is rég in die middel van Suid-Afrika en was al die jare op die hoofroete deur die land voordat die N1 verlê is. Anders as ander plattelandse dorpies wat in vergetelheid verdwyn het toe paaie verskuif is, het die wegval van Philippolis se vyf vulstasies met die verskuiwing van die N1 toegelaat dat dié dorp weer sy karakter kon vind. Deesdae is Philippolis, ondanks sy afstand vanaf die hoofpad, ’n welkome afdraai vir reisigers. Sy stofstrate (net vier strate is geteer) en uitstekende Victoriaanse argitektuur maak middagwandelings die moeite werd en die die NG Kerk spog met ’n besonderse olienhout-kateder wat sonder ’n enkele spyker of bout inmekaarsteek. In die verste hoek van die dorpie rus boere, Engelse en Griekwas saam in een begraafplaas wat Philippolis se ryk en diverse geskiedenis illustreer.

Dié dorp is die geboorteplek van Laurens van der Post, die “wit Boesman”, wat ’n mentor vir Koning Charles III, ’n wonderlike bewaringsekoloog en skrywer was. Daar is ’n pragtige dorpstuin in Voortrekkerstraat wat ter ere van hierdie vegter vir die San-kultuur en bewaringsake tot stand gebring is en langs die tuin kan jy op bespreking by Ouma Anna Restaurant @ van der Post eet. 

Emily Hobhouse het Philippolis ook destyds haar huis genoem toe sy ná die oorlog ’n weefskool vir hawelose boeremeisies hier gestig het. Haar gedenkteken staan nou nog in die straat waar sy haar middagstappies geneem het. Die Transgariep Museum bevat die geskiedenis van die dorp se tyd as sendingstasie, Emily Hobhouse se tyd in die dorp en die fassinerende lewe van Adam Kok II, die Griekwaleier, wat vir ’n ruk saam met sy volgelinge hier gebly het. 

Wat winkels en vermaak betref, is jy meestal op die historiese stofstrate aangewese. Daar is elke Saterdagoggend ’n boeremark en die dorp het ’n Foodzone met minimale proviand, so maak maar jou voertuig op Colesberg of Trompsburg vol en koop ook daar jou kruideniersware. Moet egter nie dat dit jou van Philippolis afskrik nie! As jy op soek is na rus, is hierdie jou plek.

Rosendal

Rosendal accommodation free state
Foto: LekkeSlaap.co.za

Rosendal is net ’n entjie se ry van Clarens af en word as die Juweel van die Vrystaat se kleiner sussie beskou. Sy het net een teerstraat, maar maak daarvoor op met haar pragtige, historiese sandsteengeboue en rustieke bekoring. 

Covid het hierdie opkomende kunstenaarsdorpie ’n redelike knou toegedien en heelparty winkeltjies en restaurante wat Rosendal op die pad geplaas het om ’n toeristedorp te word, het hul deure gesluit. Maar hou moed: hier is steeds meer as genoeg om vir ’n lekker kort wegbrekie te sorg! 

Op die Mosamane-voetslaanroete so tien kilometer buite die dorp kan jy die omgewing met ’n nege kilometer lange dagstap leer ken. Maak net seker jy bespreek dit vooraf. Die dorp is ook ’n baie gewilde bergfietsbestemming met meer as driehonderd kilometer se grondpaaie in die onmiddellike omgewing. Daar word elke paar maande ’n Social Mountain Bike Weekend gereël waar fietsryers van alle ouderdomme en fiksheidsvlakke uit die verskillende roete-opsies (van 20 tot 300 kilometer) kan kies en ’n heerlike naweek per fiets kan geniet.

Waar jy fietsyers kry kry jy …? Dis reg, goeie koffie! Oppiedam Coffeeshop in Peacock-straat is elke dag van die week, behalwe Maandag, oop en verkoop heerlike koffie, etes wat van vars, plaaslike bestanddele gemaak word en ingelegde produkte. Ander goeie opsies is die Service Station Wine Bar vir ’n heerlike glasie wyn en Benjamin’s vir stewige, plattelandse etes. Wat winkels betref, kan jy gerus die strate invaar, maar onthou dat elke eerste Saterdag van die maand markdag is. 

Diereliefhebbers sal verheug wees om te weet dat Rosendal as dorp uiters hondevriendelik is. Jy kan vir Wagter saambring na verskeie gastehuise in die dorp, asook na Rosendal se markdae en na bykans al die restaurante hier. Dus is Rosendal nie net ’n naweekparadys nie, maar ook ’n hondehemel. Waarvoor wag jy? Bespreek vir jou ’n lekker rusplekkie in hierdie oulike dorpie, want hier is alles van ’n historiese poskantoor, bank, skool tot ’n ystersmidwinkel om in te bly!

Wat jy moet weet voor jy gaan

  • Groot dele van die Vrystaat, veral die dorpies langs die R26, soos Bethulie, Ficksburg en Fouriesburg, asook Rosendal, sukkel met die onderhoud van hulle paaie. As jy stadig en versigtig ry, sal enige voertuig die pad kan vat, maar ’n voertuig met ’n hoër grondvryhoogte is goed as jy die opsie het. 
  • Die kleiner dorpies soos Philippolis het nie noodwendig kruidenierswinkels waar jy alles kan koop waarna jy soek nie. As jy selfsorgverblyf bespreek het, maar seker jy vat eerder voorraad saam sodat jy nie met ’n slap riem gevang word nie.
  • Maak jou voertuig vol wanneer jy by ’n vulstasie kom voor jy die kleiner dorpies betree en moenie aanneem jy gaan ’n werkende vulstasie in die dorp vind nie.
  • Die meerderheid van die dorpe hierbo se hoofinkomste is landbou en nie toerisme nie, dus kan jy nie aanvaar al die besienswaardighede hierbo is oor ’n naweek en tot laatmiddag oop nie. Doen altyd jou navorsing en bel vooruit om te verseker dat jy die meeste uit jou besoek kan put.
  • Die Vrystaters is vriendelik! Vra as jy vashaak of verdwaal.

Belangrike kontakte

  • Gariepdam-aktiwiteite en restaurantbesprekings: Kontak Tjailatyd by 051 754 0190.
  • Ficksburg se Iona Cherry MTB Challenge: Kontak Danie by 082 926 8488.
  • Bethulie se historiese toere: Kontak Trudie Breedt-Venter by 083 630 8849.
  • Philippolis se Ouma Anna Restaurant @ van der Post: Kontak die bestuurder by 081 838 1186.
  • Rosendal Social Mountain Bike Weekend: Kontak vir Debbie van die Rosendal Outdoor Hub by 083 294 5260.
  • Besprekings vir die Mosamane-voetslaanroete in Rosendal: Skakel 082 901 8799.
  • Alle ander kontakte in hierdie artikel het skakels waarop jy vir meer inligting kan deurkliek.

Moenie die Vrystaat as vakansie- en naweekbestemming geringskat nie. As jy nie veel met die see gepla is nie, lief is vir vriendelike mense, kleindorpies, lekker eet en buitelug-aktiwiteite in ’n asemrowende omgewing, kan jy regtig nie vir beter vra nie. Dis altyd Vrydag in die Vrystaat! So, waarnatoe gaan jy hierdie naweek?

Hooffoto: Bigstock (Clarens)