Met meer as 25 000 blyplekke op ons webtuiste kan ’n mens maklik van al die mooistes waarop jy al afgekom het, vergeet. Het jy geweet LekkeSlaap het ’n Gunsteling-opsie waar jy al jou gunstelingblyplekke kan stoor en weer in ’n japtrap kan opspoor wanneer jy jou volgende vakansie beplan? Danksy hierdie nuttige funksie kon ons die top-10-blyplekke wat LekkeSlapers onder hulle Gunstelinge gestoor het, bymekaarmaak sodat jy ’n paar juwele by jou eie lysie kan voeg.

Aardts Gasteplaas

Aardts Gasteplaas

Hierdie klipsteenkothuis is perfek vir ’n romantiese wegbreek en is slim ontwerp met ’n dam op die dak om die slaapkamer koel te hou wanneer die Karoo-son fel skyn. Die argitektuur ewenaar die natuurskoon en jy kan jou dae met betowerende sonsondergange afsluit. Die kothuis is aan die suidelike deel van die berg geleë wat ’n natuurlike metode is om die temperatuur konstant te hou.

Gunsteling-geriewe: houtvuurwarmbad, kaggel, buitebraai

Old Mill Lodge & Restaurant

Old Mill Lodge & Restaurant

Die Karoo kraai steeds koning met Old Mill Lodge & Restaurant in die Klein-Karoo wat die tweede meeste gunsteling-klieks ontvang het. Die lodge is op ’n volstruisplaas aan die voet van die Swartberge geleë en bestaan uit luukse kothuise langs die dam en tentverblyf op die rivieroewer. Verder spog dit met ’n rits aktiwiteite soos 4×4-roetes, voetslaanroetes, ’n speelpark, klein Zipline en ’n ponie- en haaspark. Die restaurant is net ’n paar kilometer van Oudtshoorn af en bedien smullekker maaltye met ’n skouspelagtige uitsig op die berge. 

Gunsteling-geriewe: troeteldiervriendelik, afslaggeskenkbewys vir die volstruisplaas, twee swembaddens, trou- en funksiegeriewe

De Ware Jacob

De Ware Jacob

Wanneer die Weskus wink, dink ’n mens nie twee keer nie. Hierdie gewilde kusgebied is met bekoorlike vakansiedorpies bespikkel — De Ware Jacob in Jacobsbaai, is een van hulle. Dié vier luukse kothuise is gerieflik vir selfsorg ingerig en is ideaal vir stil, romantiese wegbreke vir paartjies. Dit is ook net 5 minute se stap vanaf ’n klein, privaat baai. 

Gunsteling-geriewe: gemeenskaplike swembad, gratis WiFi, en ’n houtvuurwarmbad, stoep en kaggel by elke kothuis

Glen Eden Farm Guest Cottages

Glen Eden Farm Guest Cottages

Dié unieke eenhede is sommer met die eerste oogopslag genoeg om jou op daardie hartjie in die hoek van ons webblad te laat kliek! Glen Eden Farm Guest Cottages bied verblyf in vyf luukse kothuise en vier glanskamp-eenhede waarvan drie handgemaakte gypsy-waens met tipi-tente is. Die verblyf is op ’n kleinhoewe net buite Montagu op Roete 62 geleë en het talle staproetes, visvanggeleenthede, diere soos donkies en alpakkas, perdrygeleenthede en aktiwiteite vir die jongspan op die perseel. 

Gunsteling-geriewe: troeteldiervriendelik, kaggels, plonspoele, braaigeriewe, houtvuurwarmbaddens, speelplek vir kinders

Son, See, en Sundowners

Son, See, en Sundowners

Wat meer as “son, see en sundowners” wil ’n mens nou hê? Dít is presies wat hierdie selfsorgwoonsel in Bloubergstrand bied. Die kuswoonstel spog met ’n uitsig oor Robbeneiland en op Tafelberg en is ideaal vir ’n gesin met slaapplek vir twee volwassenes en twee kinders. Hoewel dit gerieflik met moderne geriewe ingerig is sodat jy jou dae luilekker tuis kan deurbring, is die omgewing vir ’n rits restaurante en aktiwiteite bekend, asook vir die branderplankryers en sweefskiërs wat jy op die strand kan dophou.  

Gunsteling-geriewe: braaiplek, gratis WiFi, asook die kompleks se buite- en binneswembad, muurbalbaan en gimnasium

Groendraai River Cottages

Groendraai River Cottages

Tussen jou en Limpopo lê daar ’n pad na die Waterberge wat drie selfsorgkothuise met luukse geriewe ’n geheim hou, net vir jou! Groendraai River Cottages bied ’n bobaas-bosveldervaring waar jy kan visvang, kajakvaar en die stap- en fietsroetes van Vaalwater kan verken. Tydens seisoentyd blom amarillisse op die plaas en saans kan julle onder die sterreruim in die boma kuier. 

Gunsteling-geriewe: Nespresso-masjien, vuurmaakplek, lugversorging, elektriese komberse, plonspoel, bababedjie en -eetstoeltjie, gratis WiFi

Lesoba Guest Farm

Lesoba Guest Farm

As die foto’s soos ’n skermgreep uit ’n Lion King-film lyk, dan beland dit sommer vinnig op ’n mens se gunsteling-lysie. By Lesoba Guest Farm naby Clarens wag daar ’n opwindende vakansie vir buitelug-entoesiaste. Verblyf word in troeteldiervriendelike eenhede van verskillende style gebied, waarvan die sandsteen-chalets langs ’n dam geleë is. Aktiwiteite sluit, onder meer, staproetes met panoramiese uitsigte oor Lesotho en die Caledon-rivier in en langs die pad is daar die Queen Victoria-rotsformasie, San-rotstekeninge en ’n dinosourus-fossiel te sien. Vir die jongspan is daar die geleentheid om meer oor skaapboerdery te leer en om lammetjies met die hand te voer.

Gunsteling-geriewe: troeteldiervriendelik, gasverwarmers, visvanggeleenthede, stoepe met braaigeriewe

Forest Valley Cottages

Forest Valley Cottages

Knysna se towerwoud is sinoniem met rus en vrede, sonder om opwindende aktiwiteite eenkant te stoot. Die ses selfsorgeenhede van Forest Valley Cottages skuil langs die Rheenendal-pad tussen die natuurskoon van die Tuinroete en nooi diegene wat uit die stad wil ontsnap om hiér agteroor te kom sit. Op die voetslaan- en bergfietspaaie is daar ’n verskeidenheid voël- en dierspesies te sien en saans kan jy in die moderne kothuis voor die kaggel opkrul terwyl die naggeluide van die woud jou ’n goeie nagrus toewens.

Gunsteling-geriewe: spa-bad, Jacuzzi, WiFi, braaiplek, lugversorging, kaggel

28 on Twist

28 on Twist1

As jy op soek is na ’n lekker wegbreek saam met jou gesin of groep vriende is 28 on Twist die perfekte plek! Hierdie vakansiehuis het slaapplek vir ses en is net 250 meter vanaf die hoofswemstrand in Pearly Beach. Bring jou dae op die strand of in die hangmat op die dek deur en kyk hoe die son agter die horison groet. Vir die kouer aande is daar ’n knus kaggel in die leefarea en ’n vuurput buite in die tuin. 

Gunsteling-geriewe: kaggel, braaigeriewe, vuurput, buitestort

Eagle View

Eagle View

Eagle View se verblyf doen sy naam gestand en spog met ’n panoramiese uitsig oor die skilderagtige vallei wat ’n mens nie sommer kan klop nie. Hierdie luukse kothuis buite Dullstroom is op talle wegbreek-wenslysies bygevoeg. Die klipmure word met groot glasdeure wat jou met ’n prentjiemooi sonsopkoms wakkermaak, afgewerk. Die ontwerp, dekor en geriewe is noukeurig beplan om die impak op die omgewing so min as moontlik te hou en om gaste ’n eksklusiewe ervaring te bied. 

Gunsteling-geriewe: gasverwarmer, houtvuurwarmbad, heliblad vir helikopters, braaigeriewe, boma

’n Lekke wenk

Die bostaande blyplekke is vanuit ons LekkeSlapers se Gunsteling-lysies saamgestel — ’n kenmerk op ons webtuiste waar jy spesifieke blyplekke kan “merk” en op een plek kan stoor. 

Hoe merk ek ’n Gunsteling?

Op die profiel van die eiendom waarop jy gekliek het, is daar ’n wit omlynde hartjie in die boonste regterhoek van die foto. As jy op die hartjie kliek, sal hy rooi raak en by jou “Gunstelinge” gevoeg word. Jy kan hierdie lys in die regterhoek van die webtuiste se boonste banier vind. Maak egter seker jy is by jou profiel ingeteken sodat jy jou Gunstelinge kan sien.


Hoeveel van hierdie blyplekke is reeds onder jou Gunstelinge gestoor? Laat weet vir ons in die kommentaar-afdeling hieronder en deel gerus watter ander lekke plekke julle ook al raakgesien het!