Is jy op soek na ’n opwindende reiservaring wat beide uniek en koste-effektief is? Die tiny house-tendens is jou antwoord! Tiny houses het al hoe meer gewild geraak as ’n manier om uitgawes te verminder, maar het jy geweet dat dit ook ’n wonderlike reiservaring kan wees?

Hier is ’n paar redes waarom jy ’n tiny house vir jou volgende wegbreek moet bespreek:

’n Unieke ervaring: Kom ons erken dit, om in ’n gewone hotelkamer te bly kan na ’n rukkie ’n bietjie vervelig raak. Tiny houses bied opwindende alternatiewe blyplek en elkeen spog met sy eie unieke karakter en bekoring. Van netjiese en moderne ontwerpe tot rustieke, ongekunstelde houthuisies, daar is ’n tiny house vir elke reisiger se smaak.

Bekostigbaar: Reis kan duur raak, maar om in ’n tiny house te bly, kan help om die kostes te verminder. Tiny houses word soms teen ’n fraksie van die koste van hotelle en gastehuise verhuur en is daarom ’n ideale opsie vir sakpasreisigers.

Privaat en afgeleë: Om in ’n tiny house te bly, gee jou die kans om nuwe bestemmings te verken en van die hoofpaaie af te draai om kleiner, onbekende dorpies te besoek. Baie tiny houses is op die platteland of in afgeleë dorpies geleë waar reisigers hulself in die natuur sal bevind en ’n ander kant van hul bestemming kan ervaar.

By LekkeSlaap.co.za is ons altyd op die uitkyk na unieke en interessante verblyf en daarom is ons opgewonde om hierdie lys tiny houses aan ons lesers bekend te stel.

Trails End Tiny Home, Gqeberha (Port Elizabeth)

Trails End Tiny Home in die buitewyke van Gqeberha bied ’n unieke, eko-vriendelike selfsorg-wegbreek op wiele in ’n kusbos op ’n privaat natuurlandgoed. Die huisie bied slaapplek aan vir twee gaste en het ’n dubbelbed op die solderarea, ’n badkamer met ’n stort en ’n kompostoilet, ’n ten volle toegeruste selfsorgkombuisie en ’n skuifdeur wat na ’n sonnige stoep met ’n uitsig oor die omliggende natuuskoon lei.

Lost Valley Farm, Rustenburg

Lost Valley Farm bied gerieflike verblyf op ’n klein wildsplaas net 15 kilometer vanaf Rustenburg en 70 kilometer vanaf Pilanesberg Nasionale Park. Die Tiny House-eenheid beskik oor ’n oopplan-uitleg met ’n solderstyl-slaaparea met ’n dubbelbed, ’n sitarea met ’n slaapbank, ’n volledig toegeruste selfsorgkombuis en ’n en suite-badkamer met ’n stort. Buite is daar ’n boma-area met braaigeriewe en ’n uitsig oor wildekatte in kampe. Julle kan in die dam gaan visvang, ’n piekniek in die pragtige tuin geniet, in die gemeenskaplike swembad afkoel, of die plaas te voet verken.

Elephant Trailer Tiny House, Harkerville

Elephant Trailer Tiny House is op ’n kleinhoewe in die rustige area Harkerville geleë, net ’n paar kilometer buite Plettenbergbaai. Verblyf word in ’n olifantsleepwa gebied wat in ’n tiny house op die rand van ’n dam omskep is en dit kan vier gaste akkommodeer. Die huisie beskik oor ’n hoofslaapkamer met ’n dubbelbed, ’n tweede skakelslaapkamer met ’n stapelbed vir kinders, ’n en suite-badkamer met ’n stort-oor-bad, en ’n volledig toegeruste oopplan-kombuis en -sitarea met ’n platskerm-TV teen die muur. Die huisie lei na ’n lieflike houtdek met sonstoele, ’n houtvuurwarmbad en ’n boma met braaigeriewe.

Swallow Creek Cottages, Buffeljagsrivier

Swallow Creek Cottages is selfsorgkothuise wat in Buffeljagsrivier op ’n stil kleinhoewe met ’n pragtige uitsig op die Langeberge geleë is. Dit is ideaal vir gaste wat ’n troue of funksie in die area bywoon. Studio Cabin 5 is ’n oopplan-ateljeewoonstel met ’n dubbelbed en ’n privaat badkamer met ’n stort. Die kombuis is met ’n yskas, induksieplaat en ’n mikrogolfoond toegerus en gaste het toegang tot buitebraaigeriewe met ’n wonderlike uitsig oor die nabygeleë velde en op die berge.

Die Bosvarkie Accommodation and Camping, Calitzdorp

Die Bosvarkie Accommodation and Camping is op ’n plaas net ses kilometer vanaf Calitzdorp, die port-hoofstad van die Klein-Karoo, geleë. Die Bosvarkie spog met ’n boskroeg, restaurant en kampeerterrein op die perseel en is die ideale plek vir enigiemand met ’n liefde vir die natuur. Die Tiny House-eenheid is ’n selfsorg-sinkdakhuisie in die kampeerterrein en hiér deel julle die ablusiegeriewe met warmwaterstorte met die kampeerders in die kampeerterrein. Die huisie het ’n dubbelbed met ’n muskietnet, ’n waaier, yskassie, gaskookplaat en basiese eetgerei en breekware. Buite is daar ’n piekniekbankie en braaigeriewe.

Gîte Studio, Franschhoek

Gîte Studio is ’n luukse woonstel met kontemporêre meubels in ’n skilderagtige plaasomgewing in Franschhoek. Hiér is julle net ’n entjie van die dorp en al sy oulike koffiewinkels en restaurante af. Die pragtige selfsorgwoonstel bied slaapplek aan twee gaste en het ’n koningingrootte-bed, ’n en suite-badkamer met ’n stort en ’n kombuisie. ’n TV en gratis WiFi-toegang word ook voorsien. Kom ontspan in die houtvuur-warmbad terwyl jy aan ’n glasie plaaslike wyn teug en die manjifieke uitsig bewonder.

Freedom Tiny Two, Oos-Londen

Freedom Tiny Two is ’n oulike, afgesonderde selfsorgkothuis op ’n plaas sowat 13 kilometer vanaf Oos-Londen. Die huisie het slaapplek vir drie gaste en beskik oor twee slaapkamers en ’n badkamer met ’n stort. Die kombuis is volledig toegerus vir selfsorg en sluit selfs ’n wasmasjien in. Daar is ook ’n TV met Netflix en beperkte, gratis WiFi, en buite is ’n stoep met ’n uitsig oor die rustige plaasomgewing. Kom stap ’n draai in dié uitgestrekte, lowerryke omgewing en geniet ’n ontspannende piekniek met ’n pragtige uitsig.

Freedom Tiny Three, Oos-Londen

Kom ervaar die bekoring van Freedom Tiny Three op ’n plaas wat deur wild en ongerepte natuur omring word. Dié selfsorgkothuis is tussen Beaconbaai en Gonubie geleë, sowat 13 kilometer vanaf Oos-Londen en net ’n hanetreetjie van gewilde plaasstalle, restaurante en brouerye af. Die kothus bied slaapplek aan twee gaste en beskik oor ’n slaapkamer met ’n dubbelbed, ’n badkamer met ’n stort, ’n volledig toegeruste kombuis, insluitend ’n wasmasjien, ’n sitarea met ’n slim-TV met Netflix-toegang en onbeperkte, gratis WiFi. Die stoep spog met ’n uitsig oor die dam en die plaas.

Of jy nou op soek is na ’n knus kothuis op die plaas of ’n moderne woonstel naby ’n rits geriewe, ons het iets vir elke sak en smaak. So waarvoor wag jy? Gaan na LekkeSlaap.co.za en bespreek vandag jou unieke en bekostigbare reisavontuur in ’n tiny house!

Hooffoto: Freedom Tiny Three