(Suid-)Afrikaners is mos plesierig! Daarom het ons ’n fees, naweek of samekoms vir omtrent elke ding onder die son: van vetplante tot vleis, en van wol tot walvisse. Kyk ’n bietjie deur LekkeSlaap se lys van ons land se vreemde, fantastiese feeste en maak seker jy bespreek vroegtydig jou lêplekkie sodat jy 2023 ’n behoorlike feesjaar kan maak! 

George Ou Karskou

George

Kaartjieverkope is reeds oop, so jy moet vinnig spring vir hierdie jaar se karskou. Vanjaar is die 26ste jaar wat dié gewilde geleentheid gehou word en dit sal ’n Italiaanse baadjie aantrek met Italiaanse motorhandelsmerke wat orals te sien sal wees. Die Ou Karskou word deur die Southern Cape Old Car Club gehou en lok duisende besoekers wat hulle aan die ou motors, motorfietse en trekkers kom vergaap. 

Wanneer? 11 tot 12 Februarie 2023

Ou karskou George 2023 george old car show 2023
Foto: verskaf

Clarens Craft Beer Fest

Clarens

’n Vrystaatse somer, musiekvertonings en 25 brouerye met meer as 140 verskillende biere. Klink dit na ’n fees? Wel, dit is! Clarens hou vanjaar weer hulle bierfees en brouerye soos Zwakala, Mad Giant, Clockworks en Everson Cider is reeds op die lys. Kaartjies word vanjaar in fases verkoop, so hoe gouer jy spring, hoe goedkoper sal jou kaartjie wees!

Wanneer? 24 en 25 Februarie 2023 

clarens craft beer festival 2023
Dié fees is vol glimlagte, heerlike bier en vermaak. | Foto: verskaf

Pump Palooza Pampoenfees

Nieu-Bethesda 

Wou jy nog altyd ’n blakende gelaat en krulhare hê? Dan moet jy na hierdie naweek vol pampoen kom! Dit is ’n lekker gesinsnaweek en het ’n pampoenuitstalling en -veiling, ’n 5 km-pretdraf, lekker kos en musiekvertonings, alles ten bate van die bejaardes in die area. Een van die groot trekpleisters is die kompetisie waartydens groeiers in die omgewing hul grootste, mooiste en kleinste pampoene bring om te vergelyk.  

Wanneer? Gewoonlik rondom Paasnaweek in April, maar hou die media vir bevestigde datums dop. 

Pump Palooza pumpkin festival nieu bethesda pampoenfees nieu bethesda 2023
Die pampoenstalletjies word deur die grootste-pampoen-kompetisie gekomplementeer. | Foto: Facebook

South African Cheese Festival

Stellenbosch

Daar is min dinge wat ’n mens so gelukkig en tevrede stem soos ’n stukkie kaas en ’n glasie wyn. As jy ons sentiment deel, maak seker jy koop vir die jaarlikse Kaasfees op Stellenbosch, wat by Sandringham gehou word, kaartjies. Hier is kase (en wyn, gin, likeur, koffie en boetiekbier) te kus en te keur, so jy sal knuppeldik en doodtevrede wegstap ná ’n naweek van vermaak vir die hele gesin. 

Wanneer? Gewoonlik rondom die einde van April of begin van Mei, maar hou die media vir bevestigde datums dop.

south african cheese festival Suid-afrikaans kaasfees stellenbosch 2023
Klink ’n glasie en eet ’n kasie by vanjaar se Kaasfees. | Foto: Webtuiste

Stoep Tasting Wine Weekend

Graaff-Reinet (en Nieu-Bethesda)

Dié fees, wat op verskeie stoepe in Graaff-Reinet en Nieu-Bethesda uitspeel, het tien jaar gelede met net vyf deelnemende wynmakers, vyf stoepe en 45 kaartjieverkope begin. Vandag is dit een van Suid-Afrika se top-wyntoerismenaweke en stel Suid-Afrika se beste, onafhanklike wyn- en drankmakers aan die wyer Suid-Afrikaanse publiek bekend. Die deelnemende produseerders word sorgvuldig gekies en uitgenooi en kaartjies vlieg sommer vinnig, so moenie laat slaap nie! 

Wanneer? 25 tot 28 Mei 2023

Stoep Tasting Wine Weekend
Luilekker herfsdae in Graaff-Reinet en Nieu-Bethesda se strate wag op jou. | Foto: verskaf

Karoo Winter Wool Festival

Middelburg 

Of jy nou ’n vernuftige breier is, lief is vir die Karoo of net van bedsokkies hou, keer na Middelburg in die Karoo hierdie winter — ons belowe jy sal nie koud kry met al die wol in die omtrek nie! Die Winter Wool Festival vier die natuurlike wolvesel wat in hierdie deel van die Karoo geproduseer word. Die verskeidenheid en kwaliteit van die wol is merkwaardig en die woltentoonstellings word deur stalletjies, wolwerkswinkels, Karoo-kos en -drankies en ’n dans by die Karoo Wool Shed gekomplementeer. 

Wanneer? 22 tot 25 Junie 2023

Karoo Winter Wool Festival
Van braai tot brei, die Karoo Winter Wool Festival is ’n heerlike naweek vir ieder en elk. | Foto: verskaf

Hantam Vleisfees

Calvinia 

Calvinia se Vleisfees kom al van 1989 aan en is ’n twee-dag-affêre met musiekvertonings, straatpartytjies, ’n skaapskeerkompetisie, klassiekekarskou, stalletjies en vleis, vleis, VLEIS! O, en moenie van Mejuffrou Vleisfees vergeet nie! Al is daar baie ander dinge om die hele gesin besig te hou, gaan dié fees eintlik daaroor om die streek se heerlike, geurige skaapvleis aan almal bekend te stel. So kom koop jou jaar se vleis teen plaashekpryse en hou terselfdertyd partytjie! 

Wanneer? Die fees is gewoonlik die laaste naweek van Augustus, maar hou die media vir bevestigde datums dop.

Calvinia big post box groot posbus
Moenie vergeet om ’n foto voor Calivinia se groot posbus te neem wanneer jy hier is vir die fees nie! | Foto: Adriëtte le Roux

Schreiner Karoo Writer’s Festival

Cradock

As literatuur en poësie meer jou nering is, is dit ’n fantastiese verskoning om in Junie na Cradock te keer. Die Schreiner Karoo Writer’s Festival, vernoem na die skrywer, Olive Schreiner, wat hier gewoon het, se datums vir hierdie jaar is reeds vasgestel en die program is aan die groei. Hou gerus hulle webblad dop om te sien watter skrywersgesprekke, werkswinkels, musiekvertonings en kunsuitstallings jy kan bywoon.

Wanneer? 16 tot 20 Junie 2023

SPAR Kirkwood Wildsfees

Kirkwood

Dis musiek, stalletjies en feesviering in Kirkwood wanneer die Wildsfees sy jaarlikse opwagting in die middel van die winter maak. Kinders kan op karnavalritte vermaak word, en daar is biltongstalletjies en roosterkoek by dosyne om die koue te verdryf. Die hondevertoning en skaapkop-langtafel is elke jaar ’n groot trekpleister, so pak jou reënstewels en baan jou weg na dié Oos-Kaapse dorp!

Wanneer? 30 Junie tot 2 Julie 2023

kirkwood wildsfees
Dié fees is ’n baie groot geleentheid en is gewild vir sy vermaak en stalletjies. Foto: verskaf

Bastille-fees

Franschhoek

Trek jou beste rooi, wit en blou klere aan en vaar Franschhoek se strate vir ’n Franse fête in. Op Bastille-naweek vier Franschhoek sy Hugenote-erfenis met kos, wyn en vermaak in die markiestent, en verskeie besighede in Franschhoek vier saam fees deur Bastille-pakkette te bied. Daar is gewoonlik selfs ’n Franse filmfees, boules-kompetisies, en ’n vaatjierol-kompetisie wat vir groot vermaak sal sorg. Onthou jou kaartjie!

Wanneer? Op die naweek naaste aan Bastille-dag, die 14de Julie, maar hou die media vir bevestigde datums dop. 

Darling Veldblomskou

Darling

Die Darling Veldblomskou is al ’n kleurvolle instelling wat hope toeriste na die blomvelde rondom dié Weskusdorpie lok. Blomuitstallings by die Darlingmuseum word gewoonlik deur fynbosverkope, ’n markie by Darling Brew en uitstallings by The Marmalade Cat gekomplementeer. Die indrukwekkende orgideëkwekery, Duckett Orchid Nursery, is ook in hierdie tyd vir besoekers oop, of jy kan bloot die blomvelde rondom die dorp besoek om die veldblomme in hulle natuurlike omgewing te sien.

Wanneer? Gewoonlik rondom September, maar hou die media vir bevestigde datums dop.

duckitt orchid nursery darling
Die Duckett Orchid Nursery buite Darling is ook oop tydens die blommenaweek. | Foto: Pieter Wolhüter

Clanwilliam Veldblomskou

Clanwilliam

Kom Augustus, vaar plaaslike vrywilligers weer na die plase in die Cederbergstreek uit om ’n lys blommetjies uit die veld te gaan selekteer wat dan op groot hope grond in Clanwilliam se Blomkerk “geplant” word. So kan besoekers die volledige skouspel van die Cederberg se blommeprag op één plek, in één week tydens die Clanwilliam Veldblomskou ervaar. 

Wanneer? Gewoonlik rondom einde Augustus, maar hou die media vir bevestigde datums dop. 

clanwilliam veldblomskou
Die Blomkerk in Clanwilliam word jaarliks vir die Veldblomskou gebruik. | Foto: Adriëtte le Roux

Vetplantfees

Calitzdorp

Die Calitzdorp Vetplantvereniging hou jaarliks rondom September hierdie sappige, stekelrige fees by die Calitzdorp-stasie. Vetplantfoendi’s en -entoesiaste kan skaars inheemse en eksotiese vetplante op uitstalling sien en koop, of raad kry oor hoe om daai ongelukkige vetplantjie in jou vensterbank te vertroetel. 

Wanneer? 15 tot 17 September 2023

Waterblommetjiefees

Paarl

Bring vir jou ’n piekniekkombersie en ’n groot aptyt saam wanneer jy vanjaar se Waterblommetjiefees in die Paarl bywoon. Hierdie fees word jaarliks op die plase Domaine Brahms, Rhebokskloof en Windmeulkelder gehou en die veelsydigheid van hierdie vlesige blommetjie is die hoogtepunt van die fees, soos die wynlandgoedere waterblommetjies in lenterolletjies, samoosas, bredies en roomys omtoor. Bestel sommer ’n glasie wyn terwyl jy daar is — jy ís dan nou op ’n wynplaas!

Wanneer? Gewoonlik rondom die begin van September, maar hou die media vir bevestigde datums dop.

Waterblommetjie festival
Geniet ’n heerlike bord waterblommetjiebredie by dié fees. | Foto: webtuiste

Wine and Patat Spring Festival

Napier

Wanneer die lente sy opwagting maak, is dit tyd vir feesviering en patat in Napier se strate. Hier is natuurlik stalletjies met snoek en patat, maar ook wyn uit die streek, ’n voëlverskrikker-kompetisie, kunsuitstallings, buitelug-geleenthede en stalletjies. So, kom asem hierdie Oktober tydens die patatfees Napier se lentelug in!

Wanneer? Gewoonlik rondom Oktober, maar hou die media vir bevestigde datums dop. 

Hermanus Whale Festival

Hermanus 

Die Walvisfees, wat die eeueoue migrasie van die suidelike noorkaperwalvis rondom die punt van Suid-Afrika vier, word hierdie jaar vir die 32ste keer gehou. Die fees is ’n huldeblyk aan Wendy die walvis, ’n eensame walviskoei wat in die 1930’s deur die dorpsmense versorg en gered is toe sy op die kus gestrand het. Só word ekologie, die wonder van die natuur en van gemeenskapsgees jaarliks by die Walvisfees gevier. Natuurlik kan jy ook die walvisse tydens die fees in Hermanus se waters sien baljaar, stalletjies en gesprekke bywoon, en net ’n lekker tyd by die see deurbring. 

whale festival hermanus walvisfees
Kom sien hoe die walvisse in die baai baljaar! | Foto: webtuiste

Wanneer? 29 September tot 1 Oktober 2023

Iona Cherry Crop Celebration

Tussen Fouriesburg en Ficksburg

Iona, ’n plaas buite Ficksburg in die Vrystaat, het die leemte in die mark gesien toe Ficksburg se gewilde kersiefees tot ’n einde gekom het en hou al vir die afgelope paar jaar self ’n heerlike fees wanneer die kersie-oes begin. Tydens hierdie oesviering kan jy kersies pluk, musiekvertonings bywoon, ’n pretstap of bergfietsresies aanpak, heerlike kosstalletjies besoek en die kinders met karnavalritte vermaak. Onthou net om vooraf kaartjies te koop!

Wanneer? Gewoonlik in November, maar hou die media vir bevestigde datums dop. 

Franschhoek Cap Classique & Champagne Festival

Franschhoek

Koop hierdie Desember vir jou behoorlike sjampanje vir Nuwejaar en elke ander groot geleentheid wanneer jy Franschhoek se sjampanjefees bywoon. Dié tweedag-affêre het MCC-stalletjies te kus en te keur. Natuurlik is daar ook stalletjies wat oesters, kouevleise en ander heerlike kos verkoop, so koop jou kaartjie sodra die feesdatums aangekondig word.

Wanneer? Gewoonlik in Desember, maar hou die media vir bevestigde datums dop.

Franschhoek Cap Classique & Champagne Festival
Kom geniet ’n dag vol borrels en blydskap! | Foto: webtuiste

Liggiesfees

Nieu-Bethesda 

Op Oujaarsaand is Nieu-Bethesda se strate ’n pragtige skouspel van papierlanterns in allerhande vorms. Die Bethesda Kunssentrum is aan die stuur van die Liggiesfees, oftewel die Festival of Lights, en jy kan by die sentrum ’n lantern koop of bespreek om self een te maak. Op Oujaarsaand is daar dan ’n laternprosessie deur die dorp en die informele nedersetting se strate. Die parade word deur ’n musiekvertoning en braai by die kunssentrum gevolg en die fondse wat ingesamel word gaan vir gemeenskapsopheffing, so dit is ’n wonderlike manier om die nuwe jaar af te skop. Maak dan ook ’n draai by Bushman Heritage Museum en die Tower Café Restaurant terwyl jy hier kuier.

Wanneer? 31 Desember 2023 

Liggiesfees Festival of Lights Nieu Bethesda
Jy kan kindergesiggies en lanterns by die Liggiesfees verwag. | Foto: verskaf

__

Moenie laat slaap en uitmis op hierdie oulike feeste nie! Bespreek vroegtydig jou verblyf en jou kaartjies, en laat weet ons in die kommentaarboksie hieronder watter feeste nóg op jou jaarkalender is.

Hooffoto: deur die Stoep Tasting Wine Weekend verskaf