Die jaar is amper op sy rug en dis dus tyd om ’n welverdiende blaaskans te neem. Hoe klink ’n wegbreek saam met jou vriende waar strelende musiek in die agtergrond speel terwyl die aroma-olies jou besige realiteit na stilte bring? Hierdie spa-wegbreke is die perfekte geleentheid vir julle om weer op te vang en kwaliteit-tyd saam deur te bring.

Drostdy Hotel

Graaff-Reinet, Oos-Kaap

Spawegbreke vir vriende_Drostdy Hotel

So salig soos die Karoo ’n mens se siel kan maak, só skep hierdie hotel ’n rustige atmosfeer by sy gaste. Die luukse hotel pronk in die hartjie van Graaff-Reinet en spog met drie swembaddens, tuine en ’n Africology Spa. Die hotel kombineer historiese Kaap-Hollandse, Victoriaanse en Karoo-argitektuur met luukse infrastruktuur soos verhitte handdoekrelings en ondervloerse verhitting in die badkamers.  

Umngazi Hotel & Spa

Port St Johns, Oos-Kaap

Spawegbreke vir vriende_Umngazi Hotel & Spa

As hierdie foto jou asem wegslaan, dan moet jy onmiddellik na Umngazi Hotel & Spa toe gaan! Hierdie kindervriendelike oord is teen die Umngazi-heuwels langs die Mngazi-rivier geleë en bied ’n uitsig oor die Wildekus se see. Alle maaltye is ingesluit en terwyl julle ’n besoek aan die spa,  gesondheidsentrum of tennisbaan geniet, is daar ’n kinderoppasdiens, kindereetarea, speletjies- en kuierarea om die kroos besig te hou.  

Maki-Saki Selfsorg en Boetiek Spa

Weskus, Wes-Kaap 

Spawegbreke vir vriende_Maki-Saki Selfsorg en Boetiek Spa1

Dit “maki-saki” of jy vir ’n naweek of langer wil wegbreek nie, hierdie boetiekhotel en spa in Yzerfontein is net die plek waar jy saam met jou vriendinne wil kuier. Hier kan jy saans met die gedruis van die golwe wat op die rotse breek aan die slaap raak en soggens met ’n koffie wakker word soos die môreson sy kop uitsteek. ’n Skoonheidsalon, Jacuzzi, verhitte swembad en oefengeriewe is ook op die perseel beskikbaar. 

The Cellars-Hohenort

Constantia, Wes-Kaap

Spawegbreke vir vriende_The Cellars-Hohenort

Kaapstad se kunstige suster, Constantia, is bekend vir sy lowerryke wynlande, pragtige tuine en ikoniese berge; en by dié hotel kan jy al hierdie elemente beleef! By The Cellars-Hohenort kan jy en jou troeteldier jul drome laat waar word met smullekker maaltye, bederf-behandelings en ’n uitgestrekte prag-perseel om te verken. 

Pezula Nature Hotel & Spa

Knysna, Wes-Kaap 

Spawegbreke vir vriende_Pezula Nature Hotel & Spa

Knysna se betowerende atmosfeer sal jou laat voel of jy in ’n sprokieswêreld leef. Pezula Nature Hotel & Spa is op die oostelike Knysna-kop geleë en word deur inheemse woude, berge, mere en strande omring. As jy jou spa-uitstappie wil opkikker kan jy ’n paar balle op die gholfbaan slaan of die restaurante se heerlike disse met plaaslike bestanddele beproef. 

Views Boutique Hotel and Spa

Wildernis, Wes-Kaap

Spawegbreke vir vriende_Views Boutique Hotel and Spa

Die Tuinroete is só mooi ons moet dit twee keer noem! Views Boutique Hotel and Spa beloof presies wat die naam sê: pragtige uitsigte wat jou asem sal wegslaan! Die luukse hotel is op ’n duin op Wildernis se strand met ’n ononderbroke uitsig oor die Indiese Oseaan. Dit is die perfekte wegbreek vir enige geleentheid waar jy jou dae in die spa of hidro-kamer, op die dek en in die swembad kan deurbring. 

Magalies Mountain Lodge

Pretoria, Gauteng

Spawegbreke vir vriende_Magalies Mountain Lodge and Spa

Dié privaat gastehuis is op die grens tussen Gauteng en Noordwes geleë en word deur die Magaliesberge en die Mootvallei omring. Die tien kamers sluit ontbyt en aandete in en spa-behandelings word oor naweke ook ingesluit. Hier kan julle rus, die buitelug geniet en avonturiers kan die bekende Sterkfonteingrotte besoek of ’n lugballonvlug aandurf. 

Riverview Spa & Accommodation

Wes-Rand, Gauteng

Spawegbreke vir vriende_Riverview Spa & Accommodation1

Kom rus in een van die ses losstaande chalets op die Krokodilrivier se oewer wat aan die Wieg van die Mensdom grens. Die spa bied halfdag- of voldagpakkette en sluit hidroterapie en maaltye in. Ontbyt en middagete word bedien en aandete word by die chalets afgelewer. Daar is ook piekniekmandjies vir wanneer julle ’n bietjie tyd in die buitelug wil deurbring. 

Leaves Lodge & SPA

Sonheuwel, Mpumalanga

Spawegbreke vir vriende_Leaves Lodge & SPA

Sodra jy dié lodge met sy welige natuurskoon betree, voel jy sommer hoe jou bekommernisse iets van die verlede word. Leaves Lodge & SPA, soos sy naam toon, is in ’n rustige voorstad in Mbombela (Nelspruit) langs ’n lowerryke natuurreservaat geleë. Die gekwalifiseerde terapeute laat jou na ’n rustige droomwêreld wegsweef en die spa het ’n unieke buitelug-dek, hidrojet-swembad en ’n verhitte swembad met ’n stoep. Boonop dra die pragtige uitsige oor die inheemse woud en bergstroompie tot die ontspannende ervaring by. 

Durban Spa

Durban, KwaZulu-Natal

Spawegbreke vir 'n groep-Durban_Spa

Durban is nie verniet ’n gewilde bestemming vir vakansiegangers wat daarvan hou om opwindende aktiwiteite aan te pak nie. Durban Spa is propvol pret vir enige ouderdom en boonop is dit net 150 meter vanaf die Golden Mile-strand geleë! Die woonstelle kan tussen vier en agt gaste akkommodeer en behalwe vir die dag-spa wat julle kan besoek, is daar ook ’n haarsalon, Jacuzzi en restaurant op die perseel.  

The River Wellness and Spa at Zwakala River Retreat

Magoebaskloof, Limpopo

Spawegbreke vir vriende_The River Wellness and Spa at Zwakala River

Hoog teen die Magoebaskloofberge, is houthuisies diep tussen dennebome gebêre. Elkeen van dié huisies het ’n dek en ’n vuurput en talle stap- en fietsroetes kronkel deur die woud. Die spa op die perseel bederf jou met verskeie behandelings waarvan gesigbehandelings, masserings en naelbehandelings ’n paar is. 

Muunga Bush Lodge & Spa

Hoedspruit, Limpopo

Spawegbreke vir vriende_Muunga Bush Lodge & Spa

Muunga Bush Lodge & Spa is op die veilige Hoedspruit Wildlandgoed geleë. Die lodge het vyf luukse suites wat toegang tot ’n lapa, vuurput en ’n groot swembad met ’n uitsig oor die bos bied. Die spa bied onder meer gesigbehandelings, masseersessies en waksbehandelings.


As jy jou aan die foto’s hierbo vergaap, weet ons presies waar jy vir jou volgende wegbreek moet slaap. Bespreek by een van hierdie spa-wegbreke om jou tweede asem vir die laaste deeltjie van die jaar te kry.

Hooffoto: The River Wellness and Spa at Zwakala River Retreat