Verbeel jou ’n spierwit landskap. Die lug is vars en koud. Vir so ver soos die oog kan sien, is die heuwels en berge met ’n wit sneeukombers bedek. Sneeumanne staan en loer, kort-kort trek ’n sneeubal deur die lug en aan die anderkant van jou is kinders jolig besig om sneeu-engele te maak.

Néé, dit is nie ’n toneel uit ’n oorsese kersfliek nie, dit is winter in die Wes-Kaap! Net ’n paar uur se ry uit Kaapstad is daar dele waar die koue wintermaande die berge met ’n sneeukombers bedek en as jy gelukkig genoeg is dat daar hiérdie winter sneeuvlokkies sal val, kan jy ’n winterwonderland beleef! LekkeSlaap het vir jou ’n lys van areas waar sneeu ’n moontlikheid is, saamgestel en ’n paar lekker verblyf-opsies daarby gesit sodat ’n sneeukyk-uitstappie sommer in ’n snoesige wintervakansie kan verander. So rol af en vertoef by een van hierdie snoesige sneeukyk-huisies sodat jy naby en gereed is om hierdie pragtige natuurverskynsel na te jaag!

Sederberge

Een van die beste plekke om sneeu te sien, is in die beeldskone Sederberg Wildernisgebied, net sowat twee tot drie uur se ry vanaf Kaapstad. In die winterseisoen, veral ná ’n besonderse koue tydperk, verander hierdie gebied in ’n spierwit winterwonderland. Die hoë bergpasse, pieke en hange van die Sederberge word heeltemal met sneeu bedek en dit is dus ’n uitstekende plek om na sneeu te gaan soek. Ons stel voor julle maak ’n wegbreek daarvan en bespreek by een van hierdie snoesige plekkies naby die berge om vinnig-vinnig by die sneeu te kom.

Mount Ceder

Snoesige sneeukyk-huisies vir dié Wes-Kaapse winter _Mount Ceder

Mount Ceder is in ’n vallei op die hoofroete wat deur die Sederberge strek, geleë en word deur asemrowende berge omring. Die lodge het ’n rits aktiwiteite op die perseel wat bergfietsry, kanovaart, staproetes, voëlkyk en swem in die rivier insluit, en is naby 4×4-roetes en verskeie ander besienswaardighede in die Sederbergstreek geleë. Daar is twaalf bekoorlike huise wat slaapplek aan tussen twee en agt gaste elk bied en elke huis het buite-braaigeriewe en ’n knus kaggel wat jou teen die koue sal beskerm. Vir diegene wat graag in lekker warm water wil ontspan, spog Kareeboom, Blinkberg en Waboomhoek met houtvuurwarmbaddens en Puntjie en Klipbokkop het Jacuzzi’s. 

Kromrivier Cederberg Park

Snoesige sneeukyk-huisies vir dié Wes-Kaapse winter_Kromrivier Cederberg Park

Kromrivier Cederberg Park is in die hartjie van die Sederberge geleë en word deur fynbos en majestueuse, oranje rotsformasies omring. Dit is ’n bekende basis vir voetslaners wat graag die area kom verken. Hiér is ’n restaurant en aktiwiteite op die perseel sluit perdry, visvang, voëlkyk, bergfietsry, kunsvlieghengel, forelvisvang en swem in. Hiér kan julle in luukse chalets bly wat elk slaapplek aan ses gaste bied. Die snoesige leefareas spog met groot kaggels en die slaapkamers het ook kaggels wat vir lekker warm winteraande sal sorg.

Little Eden

Snoesige sneeukyk-huisies vir dié Wes-Kaapse winter_Little Eden

Little Eden is ’n stukkie paradys in ’n natuurreservaat wat met ’n uitsig oor die Klein Koue Bokkeveld spog. Daar is sowat tien kilometer se wandelroetes op die perseel wat ’n ongelooflike uitsig en geleenthede vir wildkyk bied. Hierdie huis bied slaapplek aan vier gaste en het twee slaapkamers — ideaal vir ’n gesin. Ná ’n besige en koue dag van in die sneeu baljaar, kan julle op die gemaklike rusbank voor die kaggel sit en ontspan.

Worcester

Worcester is sowat ’n uur en ’n half se ry vanaf Kaapstad. Die Langebergreeks is hiér te vinde en gedurende die wintermaande is hierdie dorpie vir die sneeubedekte berguitsigte bekend. Dit is dus gerieflik geleë vir diegene in die Moederstad wat graag ook die sneeu eerstehands wil ervaar, maar nie lus is vir té ver ry nie. Bespreek sommer by een van hierdie plekkies om seker te maak dat jy nie hierdie winter die sneeu misloop nie.

De Wilge

Snoesige sneeukyk-huisies vir dié Wes-Kaapse winter_De Wilge

De Wilge is in die prentjiemooi Nuyvallei op ’n sitrusplaas geleë en bied ’n ongelooflike uitsig op die Langeberge. Nabygeleë aktiwiteite sluit wildritte, wildkyk (insluitend die Groot 5), perdry en visvang in. De Wilge spog met ’n swembad en ’n braai-area op die perseel en julle kan ook voëlkyk, wynproe, bergfietsry en fietsry. Daar is ses snoesige eenhede van verskillende groottes om van te kies. Beide die Lemon- and Lime-selfsorgeenheid het knus kaggels en houtvuur-warmbaddens wat dit dié perfekte opsie vir daardie koue wintersdae maak. 

Seven Oaks Vineyard Cottages

Snoesige sneeukyk-huisies vir dié Wes-Kaapse winter_Seven Oaks Vineyard Cottages

Die pragtige Seven Oaks Vineyard Cottages is tussen Wolseley en Worcester geleë. Hiér kan jy in die vrede van die natuur ontspan, heerlik rond wandel of kyk hoe die son oor die tuin en wingerd ondergaan. Daar is vier knus selfsorgkothuise om van te kies wat slaapplek aan twee tot vier gaste bied. Elkeen spog met ’n lekker binne-braai én ’n Turkse houtvuur-warmbad langs die stoep wat jou vinnig-vinnig sal laat vergeet dat dit winter is.

Bergland Accommodation

Snoesige sneeukyk-huisies vir dié Wes-Kaapse winter_Bergland Accommodation

Bergland Accommodation is op ’n vrugteplaas aan die voet van die Olifantsberg, sowat 15 kilometer vanaf Worcester, geleë. Dit spog met ’n pragtige uitsig oor die Breederiviervallei en hiér kan julle met verskeie voetslaan- en bergfietsroetes die welige plaas verken. Kies tussen tien gastekamers en vier chalets, waarvan die gastekamers langs een van die plaasdamme ekslusiewe toegang tot ’n gemeenskaplike lapa met ’n binne-braai bied. Die eenslaapkamer-chalets word deur wingerd omring en het pragtige berguitsigte en die tweeslaapkamer-chalets is snoesig ingerig en het losstaande buitebraaigeriewe.

Ceres

Die dorpie Ceres skuil sowat 135 kilometer buite Kaapstad. Die omliggende bergreekse staan dikwels in die wintermaande as ’n winterwonderland bekend. Wanneer die berge en bergpasse hiér met sneeu bedek word, is hierdie skouspelagtige landskappe wit geverf. Ceres is ’n voortreflike bestemming om sneeu te sien, so bespreek vinnig by een van hierdie plekke om seker te maak dat jy nié die sneeu misloop nie!

Fairfield Cottages

Snoesige sneeukyk-huisies vir dié Wes-Kaapse winter_Fairfield Cottages

Fairfield Cottages is op ’n pragtige vrugteplaas aan die voet van die Skurweberge geleë. Op hiérdie plaas bring die winter sneeu op die berge en helder waterstrome vloei verby die kothuise. Daar is ’n verskeidenheid aktiwiteite op die plaas wat voetslaan- en bergfietsroetes, visvang, kanovaart en voëlkyk insluit. Fairfield is ook die tuiste van wild, pragtige fynbos, twee vriendelike honde en ’n paar perde. Daar is drie lieflike selfsorgkothuise wat slaapplek aan tussen ses en twaalf gaste bied. Elkeen spog met ’n pragtige uitsig op die berge wat die Ceres-vallei omring, asook ’n braai en ’n kaggel wat vir snoesige winteraande sal sorg. Boonop spog Fynbos Mountain Cottage ook met ’n warmbad waarin julle lekker agteroor kan sit.  

Boplaas Guesthouse

Snoesige sneeukyk-huisies vir dié Wes-Kaapse winter_Boplaas Guesthouse

Boplaas Guesthouse is op ’n plaas in die Koue Bokkeveld, sowat 56 kilometer vanaf Ceres, geleë en dateer uit 1743. Hierdie geskiedkundige plaashuis is die Afrikaanse digter Boerneef se tuiste en besoekers kan sy werk tydens ’n toer bewonder. Julle kan ook op die plaas fietsry en voetslaan. Dié vierslaapkamerhuis bied slaapplek aan agt gaste en spog met ’n uitsig oor die pragtige omgewing. Die leefarea het ’n knus kaggel waar julle snoesig in die koue wintermaande kan sit en kuier. 

Klondyke Cherry Farm

Snoesige sneeukyk-huisies vir dié Wes-Kaapse winter_Klondyke Cherry Farm

Klondyke Farm is ’n vrugteplaas wat ’n yslike 1200 meter bo seespieël geleë is en vir ’n behoorlike fris winter sal sorg. Daar is ’n rits aktiwiteite naby dié spogplaas, soos bergroetes by Matroosberg, Ceres Zipline en die 4×4 en vierwielmotorfietse by die Matroosberg Reservaat. Kies tussen drie gerieflike selfsorgkothuise wat slaapplek aan tussen twee en agt gaste bied. Elkeen spog met lekker braaiplek en ’n knus kaggel wat vir snoesige verblyf in die koue sal sorg. As julle gelukkig is, kan julle selfs op dié plaas sneeumanne bou. 

Kry sneeu-inligting regstreeks

Alhoewel daar in die verlede in hierdie areas sneeu geval het, bly dit uiteraard maar ’n natuurverskynsel en daarom kan sneeu wispelturig wees. Juis om hierdie rede is daar ’n aanlyn hulpmiddel wat jou dadelik van hierdie gebeurtenis in kennis sal stel. Snow Report lig gebruikers in oor waar die sneeukomberse gewaar kan word. Jy kan hulle webblad vir die nuutste inligting dophou of hulle op Facebook, Instagram of Twitter volg. Jy kan selfs vra dat hulle vir jou ’n WhatsApp-boodskap stuur oor wanneer en waar die sneeuflokkies val. Die beste tyd vir sneeu in die Wes-Kaap is gewoonlik tussen die einde van Junie en die einde van Julie. Die flokkies val ook veel eerder op die berge as in die dale, so staptogte of ’n rit deur die naaste bergpasse is die beste manier om die sneeu op te spoor. 

So, bespreek solank jou gunsteling snoesige sneeukyk-huisie en pak daai ekstra baadjie sodat jy hierdie winter óók in die sneeu kan speel. Die flokkies kan binnekort begin val! 

Hooffoto: Natasha Labuschagne