Jy is jonk en vol lewenslus, of jy dink darem nog so. Jou hele lewe pas in ’n tas, of kan ─ met moeite  ─ as jy die ritssluiter onder jou knieë toestoei. Jy is lus vir ’n anderste avontuur … Nie ’n strandvakansie nie en tog ook net nie ’n weelderige hotel waar daar getel word hoeveel botteltjies uit die yskas verdwyn nie (Was dit toe nié verniet nie!?). Die jaar sleep al sy voete deur die derde maand, Desember voel nou al behoorlik soos laas jaar, en al waaraan jy kan dink is vakansie … Dit is nóú die tyd om jou rugsak te pak en iets nuuts te probeer ─ wat van ’n rugsakreis deur die Oos-Kaap?

Daar is sekere vereistes waaraan ’n rugsakreis moet voldoen: Jy hoef nie letterlik al jou aardse besittings in ’n rugsak te druk nie, maar dit help tog om lig te reis. Goedkoper verblyf-opsies en gemeenskaplike geriewe, soos gedeelde kombuise en badkamers, is kenmerkend van rugsakreis. So, as jy dit geniet om nuwe mense te ontmoet, is dit beslis ’n avontuur om te oorweeg.

Die Oos-Kaap word gans te dikwels misgekyk. Dié provinsie se weergalose prag is iets wat jy self moet beleef: die vlaktes, rotsagtige koppies, borselkop-bossies en roesbruin grond. Van die land se mooiste skatte lê in die Oos-Kaap se klein juweeldorpies weggesteek, soos die Uilhuis in Nieu-Bethesda en die “bad op die rand van die wêreld” in Hogsback. Daar is soveel om te sien en te doen in die Oos-Kaap dat rugsakreisigers gereeld dié einste deel van ons land as bestemming kies. So, volg hul voorbeeld … Begin by Stormsrivier en kies koers deur Port Elizabeth tot by Oos-Londen ─ moet natuurlik ook nie vergeet om by al die klein, stowwerige plekkies tussenin aan te klop nie.

River Kaya Accommodation is ’n uitstekende rusplekkie teen die Krommerivier naby St. Francisbaai. Hulle rugsakreisigerkamers is ideaal vir pa-en-seun-naweke, ram- of hennepartytjies en selfs gesinswegbreke. Daar is slaapplek vir 18 mense in totaal en 4 tot 6 mense deel ’n kamer. Jy kan heelwat doendinge hiér geniet wat spesiaal ontwerp is vir groot groepe: visvang, bergfietsry, ontspan, voëlkyk en voetslaan. Daar is selfs kajakvaarte vir groepe van 2 tot 12 mense beskikbaar! Bring jou eie vriendegroep of maak nuwe maats om die kaggelvuur.

28 Towpath is net 15 minute van Port Elizabeth af in die prentjiemooi, rustige dorpie Redhouse. Dit  is reg teen die rivier met uitsigte oor die flaminkpanne. Dié blyplek ondersteun volhoubare ontwikkeling en bied jou die geleentheid om plaaslike gemeenskappe te ondersteun terwyl jy deur die Oos-Kaap reis. By 28 Towpath kan jy kamers in ’n huis bespreek wat jy dan met ander gaste deel. So, as jy lus is om interessante mense te ontmoet, is dít die plek vir jou. Jy kan in die hangmatte lê of die lekke ligging benut deur die strand (10 km ver) of Addo en ander wildparke (45 km ver) te besoek. By 28 Towpath kuier jy saam met musikante, kunstenaars, branderplankryers, roeiers, WWOOF-vrywilligers, musiekterapeute en geloofsgenesers. Ons kan waarborg dat jy omtrént ’n interessante spul mense hier sal raakloop.

Tsitsikamma Backpackers is ’n unieke, omgewingsvriendelike blyplek in Stormsrivier midde-in die Tsitsikamma-woud en -berge. Dit is net 65 km van Plettenbergbaai en 110 km van Jeffreysbaai af. Die goeie nuus vir rugsakreisigers is dat dit ook op die Baz Bus-roete is. Hier gaan jy in luukse dubbelkamers tuis, maar moenie bekommer nie, die unieke rugsakreisiger-gevoel gaan nie verlore nie. Tsitsikamma Backpackers het ’n gesellige boma, sokkertafel, veerpyltjiebord, snoekertafel en vlugbalbaan waar jy saam met jou medereisigers kan kuier.

Owlhouse Backpackers is in die tuin van ’n eertydse Boeddhiste-meditasiesentrum weggesteek. Hiér kan jy saam met die vissies in die dam swem, fietse huur of die Sneeuberge te voet gaan verken. Die Mountain Zebra Nasionale Park en die Vallei van Verlatenheid, net buite Graaff-Reinet, is albei slegs ’n daguitstappie ver en daar is begeleide rotskuns- en fossieltoere vir diegene wat daarin sou belangstel. Hierdie plekkie is een van min in Nieu-Bethesda wat van sonkrag-warmwatersilinders, kompostoilette en gryswaterherwinning gebruik maak. Die rommel word ook herwin en hulle maak kompos op die perseel. Daar is slaapplek vir 80 gaste, so daar heers deurentyd ’n gesellige atmosfeer. Dit is die ideale plekkie vir rugsakreisigers aangesien dit omgewingsvriendelik, gemeenskaplik en naby interessante besienswaardighede is. Moet veral nie ’n besoek aan die wêreldbekende Uilhuis misloop nie.

Island Vibe in Jeffreysbaai is baie gewild en wyd bekend onder rugsakreisigers. Dié plekkie is spesifiek gemik op jongmense en staan op ’n duin met fantastiese uitsigte oor die Indiese Oseaan ─ dit is stellig die beste ligging in Jeffreysbaai. Hier kan professionele en amateur branderplankryers die golwe aandurf terwyl die dolfyne en noorkapperwalvisse dieper in die baai baljaar. ’n Mens kan ook perdry op die strand, vlieërbranderry en sandplankry by Island Vibe. Die huis is só ontwerp dat die strand letterlik op jou drumpel is, so jy kan luilekker rondlê, sonbaai of net ontspan. Daar is kamers met 3 beddens en kamers met 12 beddens en die deelkamers sal sorg dat jy lekker mense ontmoet saam met wie jy later in die kroeg of by die restaurant op die perseel kan kuier. Jy kan ook een van jou nuwe vriende uitdaag vir ’n potjie pool.

Woodlands Cottages and Backpackers is in Kenton-on-Sea aan die oewer van die Boesmansrivier geleë. Dit is ’n absolute paradys vir voëlkykers ─ verskeie spesies maak gereeld hul verskyning, veral die pragtige Knysnaloerie! Dit is halfpad tussen Port Elizabeth en Oos-Londen en net ’n klein entjie van Grahamstad af. Daar is hangmatte waar jy met ’n boek kan ontspan of jy kan die riviere, riviermondings en ongerepte strande gaan verken. Daar is darem ook ’n speletjieskamer vir vermaak op dae wat die weer nie saamspeel nie. Moenie die kans misloop om in die afgesonderde buitelug-bad te week nie!

Die hele idee van ’n rugsakreis is om soveel moontlik van ons mooie land te sien met so min as moontlik hulpbronne. Dit is gewoonlik ’n reistog wat met openbare vervoer en gemeenskaplike verblyf onderneem word. Tog bied dit jou iets wat ’n luukse hotel nie kan nie: die kans om bande te smee met interessante mense van oraloor … Mense met stories om te vertel. Mense wat hou van reis. Mense soos ek en jy. Doodgewone, plat-op-die-aarde-mense met kaal voete en ’n rugsak.

Waarvoor wag jy? Rugsakreise is tog soveel meer prettig en sosiaal as om in ’n larney hotel te gaan sit en TV kyk.

Pak jou rugsak en klim op die Baz Bus of ’n trein na ’n ongewone, interessante blyplek of 4 in die Oos-Kaap!

Hooffoto: Person with Backpack and Grey Hoodie Hitchhiking on Road. Foto: Image Catalog. (Flickr).

Tripel-collage:

1. A bath on a cliff Hogsback, Bernard Cloete. (Flickr)

2. church_graaff_reinet, Ada van Graan. (Flickr)

3. Owl House, Imraan Ismail. (Flickr).