Een van Suid-Afrika se gewildste trekpleisters is beslis die ongelooflike natuurskoon en berge. Rotsklim, oftewel mountain rock climbing, is dus ’n perfekte en opwindende aktiwiteit om hierdie natuurbakens te verken! Dit bied ’n unieke perspektief en waardering vir die natuur en daar is by die meeste bestemmings ’n verskeidenheid roetes van verskillende moeilikheidsgrade wat dit vir elke lid van die gesin geskik maak! Ons het by Tony Lourens, ’n kranige rotsklimmer, redakteur van SA Mountain Magazine en klimgids by Blue Mountain Adventures, gaan aanklop om ons ’n bietjie oor hierdie aktiwiteit touwys te maak en ook sy top-bestemmings met ons te deel.

Rotsklim kan binnenshuis of buite in die berge geskied. Binnenshuise rotsklim bestaan hoofsaaklik uit ’n skuur met mure wat rotse naboots. Die mure het roetes van verskillende moeilikheidsgrade wat handvatsels en hulpmiddels het om die persoon te help klim. Vir beginners wat egter gretig is om die natuur te verken, is die Ware Jakob jou antwoord.  

Daar is verskeie rotsklimstyle waarvan bouldering, aid-climbing, trad-climbing (kort vir traditional climbing) en top-roping die gewildste is. Beginners word aangeraai om met die top-roping-style te klim, aangesien die klimmer se tou deur ’n hefboom geryg word en aan ’n tweede, professionele persoon gebind word wat dan as die klimmer se anker en valnet dien. Rotsklimtoere, onder die toesig van ’n gids, help die klimmer en sy toeskouers om ’n geruste hart te hê aangesien die roetes menigte kere al geklim is en die gids die nodige veiligheidsmaatreëls toepas.

Rotsklim-blog
Top-roping is wanneer die klimmer stewig aan ’n tou vasgemaak is wat deur ’n hefboom aan die bokant van die klimroete loop en terug af na ’n twede persoon wat as anker dien. Foto’s verskaf

Hoewel roetes se moeilikheidsgrade baie noukeurig vasgestel word, is die hoofsaaklike faktore: 

– Die aantal stappe van die rotswand
– Die hoeveelheid en grootte van die handvatsels en vastrapplekke op die roete
– Hoe ver die verskillende vashouplekke van mekaar af is
– Die vorm en rigting van die vashouplekke

Rotsklim het geen ouderdomsbeperking nie. Kinders van so klein soos ses of sewe jaar kan al begin klim en klouter en so lank soos jou gesondheid jou toelaat, kan jy Suid-Afrika se pragtige natuurreuse aandurf. ’n Mens hoef ook nie ’n kursus te voltooi, of ’n lisensie te hê om te gaan rotsklim nie, hoewel dit raadsaam is om ’n kursus te voltooi indien jy die sport meer ernstig wil beoefen. Jy moét egter ’n geregistreerde en gesertifiseerde klimgids wees wanneer jy mense vir toere uitneem en lei.

“Suid-Afrika, en veral die Wes-Kaap, het baie pragtige en fantastiese klimgebiede”

Dis dus moeilik vir Tony om net ’n paar uit te sonder. Tafelberg se prag bly ’n klassieke uitblinker, maar daar is wel ’n paar ander wat ’n plek op die podium verdien.

Cederberge

Wes-Kaap

Foto’s verskaf

Tony is al meer as veertig jaar by rotsklim betrokke en hoewel hy al baie berge in lande reg oor die wêreld aangepak het, erken hy dat die Cederberge in die Wes-Kaap een van sy gunsteling-klimbestemmings bly! Die Cederberge is een van die Wes-Kaap se juwele en met die betowerende rotsformasies, ongerepte natuurskoon, oeroue rotstekeninge en hemelse stilte, bied dié area ’n idilliese wegbreek. Met meer as 2500 gevestigde roetes wat voorsiening vir verskeie vaardigheidsvlakke maak, is die Cederberge ’n opwindende uitdaging vir almal om hul vermoëns te toets. Hierdie roetes is oor ruwe terreine, soos Wolfbergskeure en Truitjieskraal, versprei en met sandsteenformasies, krake en skeure versier.

Behalwe vir die klim-avontuur, kan gesinne die ryk kultuur en geskiedenis van die omgewing ook verken. Boonop is die berge besaai met ’n verskeidenheid verblyf-opsies, van skilderagtige kampeerplekke soos Kromrivier Cederberg Park, tot luukse lodges wat enige iemand sal laat voel asof hulle na ’n buitewêreld ontsnap. 

Montagu

Wes-Kaap

Foto’s verskaf

Die majestueuse Montagu-berge se reputasie lok rotsklimmers van heinde en verre. Die rotsformasies hier bestaan hoofsaaklik uit kwarts wat vir ’n gemaklike greep en ’n opwindende uitdaging sorg. Met ’n indrukwekkende verskeidenheid van meer as 400 roetes van verskillende moeilikheidsgrade, is daar ’n roete vir almal geskik. Volgens Tony is Montagu veral ’n wonderlike, gesinsvriendelike rotsklimbestemming, juis oor die verskillende roetes wat oor verskeie dele van die berge versprei is.

Montagu-klimroetes
Die Legoland-krans is een van die gewildste klimrotse in Montagu met roetes wat makliker tot matige moeilikheidsgrade het. Dis ideaal vir beginners en ook kindervriendelik. Foto: Blue Mountain Adventures

Montagu se bekoring strek egter verder as sy klimgeleenthede. As ’n mens in Montagu se hoofstraat, Langstraat, ry ervaar jy ’n klassieke klein-dorpie-gevoel, maar in die are wat na die res van dié geskiedkundige dorpie vloei, pols daar pragtige natuurskoon, kunstige argitektuur, opwindende aktiwiteite en natuurlik, eeue oue mensestories. Gesinne kan gaan stap, piekniekhou, plaaslike markies en kafees besoek, die nabygeleë warmwaterbronne geniet of selfs die skilderagtige Robertson-wynvallei verken. Boonop spog Montagu met ’n verskeidenheid verblyfopsies wat plattelandse rustigheid, kuns en gerief kombineer. 

Kliek hiér vir ’n menu tot Montagu en sy mense.

Magaliesberge

Gauteng

Hornbill Lodge and Legends Restaurant op LekkeSlaap

Die Magaliesberge is ’n gewilde rotsklimbestemming as gevolg die unieke geologiese formasies. Hierdie berge is net ’n uur se ry vanaf Johannesburg en Pretoria en bied ’n gerieflike ontvlugting aan stedelinge wat op soek is na avontuur, tóg rustigheid. Die Magaliesberge spog met meer as 1000 gevestigde roetes wat klimmers se vermoëns op ’n diverse reeks sandsteenkranse en uitlopers toets. Die roetes garing deur gebiede insluitend Tonquani, Castle Gorge en die Cableway Crag, wat elkeen sy eie stel uitdagings en skilderagtige uitsigte bied. 

Die streek bied ’n oorvloed aktiwiteite wat vir alle ouderdomme geskik is. Gesinne kan begeleide staptogte deur die skilderagtige landskappe aanpak en die inheemse flora en fauna van die area verken. Vir diegene wat ’n meer ontspanne ervaring soek, is die Magaliesberg-streek met bekoorlike verblyf besaai wat ’n gesellige toevlugsoord te midde die natuur bied. Boonop bied die nabygeleë Hartbeespoortdam ’n string wateraktiwiteite soos bootvaarte en visvang. Die area spog ook met kultuurryke besienswaardighede soos kunsgalerye, handwerkmarkte en wildreservate wat pret vir die hele gesin verseker! 

’n Paar wenke vir beginners:

  • Tony sê dat die geheim van rotsklim eintlik in jou bene wat jou lyf moet opstoot, lê, en nie in jou arms wat jou optrek nie.
  • ’n Mens hoef nie sterk te wees om te begin klim nie. Die makliker roetes is daar vir klimmers om te geniet en boonop word beginners aangeraai om saam met ’n gids te klim wat jou veiligheid verseker. 
  • Trek gemaklik aan. Hoewel begeleide toere dikwels reeds die nodige gereedskap en toerustig, soos klimskoene en klimkryt, sal hê, is dit belangrik om gemaklike klere waarmee jy kan strek en beweeg aan te trek.
  • Moenie vergeet om geestelik voor te berei nie. As dit ’n mens se eerste keer is, kan die hoogtes effens oorweldigend raak en ’n mens se gedagtes kan oortyd werk. Daarom word beginners aangeraai om altyd saam met ’n professionele gids te klim wat jou kalmte en veiligheid verseker. 
  • Wees ten alle tye eerlik met jou gids, hulle is daar om te help. As jy ongemaklik is, bang voel of voel jy kan nie verder klim nie, laat hulle dadelik weet sodat hulle jou op ’n veilige manier kan help.

Kan jy al die adrenalien deur jou are voel klop en jou geliefdes hoor wat jou aanmoedig terwyl julle saam nuwe hoogtes verower? Dink net aan daardie ongelooflike landskap-uitsigte wat vir jou op die bopunt van die rots wag! Maak sommer jou volgende gesinsvakansie ’n wen-wen-wegbreek deur ’n rotsklim-avontuur in een van die bekoorlike streke aan te durf en ekstra opwindende herinneringe te koester. 

Kontak gerus vir Tony vir ’n rotsklim-avontuur:
082 550 6819 | tony@samountain.co.za

Hooffoto: Daniëlle Terblanche tydens LekkeSlaap se media-besoek aan Montagu


Lees ook

Die Robertson-wynroete

Aktiwiteite in die Cederberg

CapeNature: 6 minder bekende staproetes