Die Hibiskuskus skuil aan die einde van KwaZulu-Natal se Suidkus, net noord van die Wildekus, en is sowat 90 minute se ry vanaf Durban. Die warm Mosambiekse stroom wat hiér verbyvloei komplementeer die subtropiese klimaat en sorg heel jaar lank vir ’n vakansie-geleentheid aan die kus vir dié wat op soek is na son, sand en see. Dis daarom nie ’n verrassing dat dié kus een van die mees gewilde vakansiebestemmings in Suid-Afrika is nie — reisigers van oraloor keer keer-op-keer na dié kusgebied terug. 

Die dorpies al langs die kus sluit Hibberdene, Port Shepstone, Uvongo, Shelly Beach, Margate, Southbroom en Port Edward in, en ’n paar van hulle spog met uitstekende Blouvlagstrande en prentjiemooi baaitjies en rotspoele. In dié blog wys ons jou ons gunsteling-strandhuise aan die Hibiskuskus, sodat jy sommer vinnig-vinnig jou volgende somerwegbreek kan bespreek.

Het jy geweet hibiskusplante floreer in dié subtropiese klimaat en kom prominent in die gebied voor? Dís waar die kus se naam vandaan kom — Suid-Afrika het ongeveer 60 inheemse hibiskus-plantspesies!

Ocean Vista, Manaba Beach

Ocean Vista, Manaba Beach

Ocean Vista is ’n moderne vierslaapkamerhuis met ’n swembad en ’n 180 grade-uitsig oor die see in Manaba Beach, net ’n blok vanaf die strand. Dit is ideaal vir ’n familie-wegbreek of ’n vakansie saam met vriende, en beskik oor ’n ten volle toegeruste kombuis, lugversorging, ’n TV met DStv én gratis WiFi. Behalwe vir die swembad is daar ook ’n stoep met ’n gasbraai, sonstoele en ’n etenstafel buite. Die erf is met sekuriteitskameras, ’n alarmstelsel en laserstraal-sekuriteit toegerus, en het oorgenoeg parkeerplek op die perseel. Kom sit op die enorme stoep agteroor en bewonder die see-uitsig!

Boulevard Bonanza, Margate

Boulevard Bonanza, Margate

Dié privaat dakwoonstel spog met ’n see-uitsig vanaf die hoofslaapkamer, die leefarea en die kombuis. Daar is slaapplek vir ses in drie slaapkamers, so dit is ideaal vir ’n gesinswegbreek. Ander geriewe sluit DStv, lugversorging, ’n ten volle toegeruste kombuis en ’n balkon met ’n see-uitsig, etenstafel en braaigeriewe in. Jy hoef ook nie oor trappe klim te bekommer nie — die kompleks het ’n gerieflike hysbak wat jou tot by jou voordeur neem! 

Goose Shack, Southbroom

Goose Shack, Southbroom

Goose Shack is ’n pragtige vierslaapkamer-eenheid op die grondverdieping met ’n uitsig oor die see. Die oopplan-leefarea bestaan uit ’n toegeruste kombuis, eetarea en ’n sitarea met ’n TV met die volle DStv-pakket en gratis WiFi. Buite is daar ’n stoep met braaigeriewe en ’n uitsig oor die see. Wanneer julle nie by die eenheid kuier nie, kan julle van die kompleks se geriewe gebruik maak, insluitend die swembaddens en speelarea vir kinders, of via die kompleks se hekkie direk na die strand stap.

The Beach House, Port Shepstone

The Beach House, Port Shepstone

Dié luukse strandhuis bied ’n pragtige uitsig oor die see en is absoluut ideaal vir walviskyk tydens seisoentyd en vir vakansiegangers wat heel dag lank op die strand wil baljaar, maar tog vinnig huis toe wil draf as hulle iets vergeet het. Met vier slaapkamers vir volwassenes en twee stapelbeddens vir kinders is dit perfek vir groot groepe met kinders, en julle kan die troeteldiere saambring. Die leefarea lei na ’n groot onderdakstoep en ’n pragtige tuin met ’n swembad en braai-area — en van oral is daar ’n uitsig oor die see!

Woodlands Beach Villa, Southbroom

Woodlands Beach Villa, Southbroom

Hoe klink ’n pragtige vierslaapkamer-villa met slaapplek vir ’n groep van twaalf aan die einde van ’n doodloopstraat? Ja, net ’n hanetreetjie vanaf Granny’s Tidal Pool-strand bied Woodlands Beach Villa die ideale strandvakansie. Dié seefrontverblyf het ’n swembad, ’n privaat strandarea en gratis WiFi. Wanneer julle nie op die strand of in die swembad baljaar nie kan julle van die braaigeriewe op die stoep gebruik maak en ’n vleisie oor die kole gooi.

Dolphin Bay Beach Cottage, Munster

Dolphin Bay Beach Cottage, Munster

Dolphin Bay Beach Cottage is ’n bekoorlike selfsorghuis reg teen die strand. Dit is ideaal vir ’n gesin wat op soek is na gerieflike verblyf by die see, naby verskeie aktiwiteite en besienswaardighede. Hiér word jy met ’n see-uitsig vanaf elke slaapkamer, Smeg-toestelle in die kombuis, ’n platskerm-TV met DStv, gratis WiFi en ’n teleskoop vir walvis- en dolfynkyk bederf! Buite is daar ’n stoep met Weber-braaigeriewe, én trappies wat direk na die strand lei!

Villa Colinas, Margate

Villa Colinas, Margate

Kom verbeel jou jy kuier aan die Spaanse kus in dié prentjiemooi villa! Villa Colinas bied selfsorgverblyf met skoonmaakpersoneel en ’n sekuriteitswag saans. Dié lieflike villa is net 4,3 kilometer vanaf Margate en word deur pragtige kusbos omring. Indien julle nie self wil kosmaak nie, kan daar teen ’n ekstra koste voorsiening vir maaltye gemaak word en wyn uit die kelder bestel word. Daar is ook ’n swembad, pizza-oond, strandvlugbal- en strandsokker-veld en WiFi op die perseel.

Dolphin Bay Beach House, Munster

Dolphin Bay Beach House, Munster

Dolphin Bay Beach House het ’n uitstekende ligging so te sê op die strand en ’n uitsig oor die vleiland, strand en strandmeer van Munster. Die huis bied direkte toegang tot die ongerepte strand en spog met vyf slaapkamers met see-uitsigte vir ’n groot groep van twaalf. Die oopplan-leefarea lei na ’n beskutte stoep met draagbare en gasbraaigeriewe, en op die boonste verdieping is daar ook ’n klein draagbare braai op die houtdek. Verder is daar ’n dubbelmotorhuis, alarmstelsels vir binne en buite, en dit is aan gewapende reaksie gekoppel.

San Lameer Villa 14109, San Lameer Landgoed

San Lameer Villa 14109, San Lameer Landgoed

San Lameer Villa 14109 is op die San Lameer Landgoed geleë. Dié subtropiese paradys bestaan uit ’n natuurbewarea van 200 hektaar en spog met ’n 18 putjie-kampioenskapgholfbaan, ’n hotel met ’n spa, restaurant en kroeg, luukse villas en direkte toegang tot twee pragtige Blouvlagstrande. Hierdie villa beskik oor vier slaapkamers en lei na ’n onderdakbalkon met ’n etenstafel, swembad met sonstoele, braaigeriewe en ’n uitsig oor die gholfbaan.


Het jy geweet daar is sulke pragtige blyplekke aan die Hibiskuskus? Nou weet jy! Moenie langer wag nie, bespreek nou jou volgende wegbreek na hierdie subtropiese paradys en kom baljaar die dae op die strand om!

Hooffoto: Dolphin Bay Beach House (LekkeSlaap.co.za)