Wees gerus dié vakansie (maak nie saak waarheen jy op pad is nie), want ons het van die beste en oulikste padstalle in elke provinsie namens jou gaan opspoor!

Dit is Desember en die motor is klaar swaar gelaai … Die kinders trek lootjies om te sien wie in die middel moet sit, mamma rits die tasse weereens oop om dubbel seker te maak die sonbrandroom is ingepak en pappa lig die enjinkap op om nog ’n bietjie water in die Volvo te tap. Jou verlof is goedgekeur, die skole is gesluit en die branders of bosveld roep. Of jy nou woon in Kaapstad of KwaZulu-Natal, en of jy reis na Gonubie of Genadendal – daar is iets wat elke vakansieganger in gemeen het! Enige reisiger sal jou lang stories kan vertel oor die vervelige ure agter die stuur, neulende kleintjies, honde wat begin tjank na 20 km, en die hongerpyne wat nie eens wag totdat die motor behoorlik uit die dorp uit is nie.

Die beste deel van langpad ry is natuurlik die stilhouplekkies langs die pad. Ons praat mos nou van padstalle! ’n Padstal is so Suid-Afrikaans soos biltong en braaibroodjies en dit is by dié oases teen die pad waar mens die heel beste pasteie, tuisgemaakte gemmerbier en geskenkies kan vind! Jy kan ook sommer jou proviand aanvul vir die langpad wat nog voorlê en selfs op die nippertjie ’n Kersgeskenk koop!

Dassiesfontein is tussen Caledon en Botrivier op die N2. Op die voorstoep staan daar ’n verstommende aantal handgemaakte Falkirk-, Queen Anne- en Dover-koolstowe wat jy kan koop as jou beursie dit toelaat. Dassies bak elke dag hul eie brood in een van hul eie koolstowe.

Dit is een van die bekendste padstalle in die Wes-Kaap. Hier kan jy verskeie produkte en antiekware koop en daar is selfs ’n restaurant en melkery op die perseel. Bokkoms, konfyt, beskuit, gedroogde vrugte én melk, jogurt en kaas, wat by die melkery op die perseel vervaardig word, is van die proviand wat jy hier kan aanskaf. Die restaurant bedien 7 dae van die week trotse boerekos! Die porsies is groot en bied waarlik waarde vir geld, soos jy kan sien in die foto hierbo: lamsboud op potbrood met slaai en blatjang.

Daar is ook verskeie interessante goed te koop, soos emaljeware, aluminiumpotte, antieke eetgerei en versamelstukke soos porseleinpoppies, Afrikanaboeke en meubels. Hier kan jy foto’s neem saam met die donkies, jou trommeldik eet aan tradisionele huiskos, geskenke koop en jou reis met ’n hele paar uur verleng terwyl jy tussen die antiekware en in die leerwinkel rondkrap. Maak gerus ’n draai by Dassies!

Ronnie’s Sex Shop op Roete 62, naby Barrydale, is ’n legendariese stilhouplek in die Wes-Kaap. Dit is natuurlik glad nie ’n sekswinkel nie. Die naam is eintlik die gevolg van ’n poets wat Ronnie se vriende jare gelede vir hom gebak het. Ronnie wou ’n padstal oopmaak en vrugte en proviand verkoop aan moeë reisigers. Hy het “Ronnie’s Shop” netjies teen die muur geverf en was gereed om sy klein besigheid se deure te open toe sy pelle die woord “Sex” redelik rofweg byvoeg.

Aanvanklik was Ronnie vreeslik ontsteld oor die kru naamverandering, maar na ’n tydjie het hy besluit om die padstal op die ou end in ’n kroeg en restaurant te omskep, en die naam so te hou aangesien dit beslis jou oog vang. By Ronnie’s sal jy nou ’n klein spyskaart vol heerlike kroegkos, ongewone melkskommels met skop asook braaigeriewe en braaipakke aantref. Hier kan jy kuier in ’n kroeg vol interessante dekor en versierings, van vroue-onderklere wat in rye opgehang is oor die kroegtoonbank tot die graffiti van duisende besoekers se name wat elke beskikbare stukkie muur in beslag neem.

Ronnie’s Sex Shop is beslis die vermaaklikste stilhouplek op Roete 62.

Enige iemand in die Oos-Kaap sal jou met sterre in hul oë vertel van Nanaga se hemelse pasteie. Die padstal is tussen Port Elizabeth en Grahamstad op die R72, net soos jy afdraai van die N2 af. Hulle tuisgemaakte pasteie en roosterkoek is so smullekker dat talle reisigers hul roetes rondom Nanaga beplan, maar jy kan ook ander lekkernye, soos biltong, tuisgemaakte pynappelsap, konfyt, blatjang, brood, beskuit, biltong, droëwors en gemmerbier hier koop.

Die pasteie is hul trots en kom in ’n verskeidenheid liplekker-kombinasies, soos kaas-en-spek, wildspastei, wildevark en lam-en-kruisement. Jy kan die pastei sommer dan en daar eet of dit selfs inpak vir padkos.

Ontbyt, middagete en nageregte word by die restaurant bedien. Die heerlike spyskaart sluit onder meer tradisionele Suid-Afrikaanse spesialiteite soos potjiekos en lamtjops in.

Die Pienk Padstal staan trots in die hoofstraat van Kakamas in die Noord-Kaap. Dit is redelik moeilik om die plekkie met sy ligpienk geboutjie en skokpienk donkies wat waghou by die ingang te mis.

Dié padstal is getrou aan sy naam aangesien byna die hele binnekant pienk is. So as die Groen Kalahari-vlaktes jou begin verveel, stop ’n bietjie by dié pienk plekkie en proe hulle gedroogde vrugte, biltong, konfyt en tuisgemaakte blatjang. Die padstal verkoop ook olywe, soetgoed, antiekware en versamelstukke, en hulle nooi gaste uit om die tuisgemaakte ystee en koek op die proef te stel. As dit nou nie eintlik jou koppie tee is nie, verkoop hulle ook hardehout soos mampoer en witblits wat plaaslik vervaardig word. Trots Suid-Afrikaans en nostalgies!

Jasmyn Plaasstal is op die R511 net buite Hartbeespoort geleë. As jy enigsins in dié geweste is, is dit byna onmoontlik dat jy nie iewers iets sal hoor oor Die Windmeul of Jasmyn se padstal nie. Hou ’n ogie oop vir die yslike Hollandse windmeul en grasdak wat onder inwoners bekend staan as “Die Windpomp”.

Jasmyn is dalk bekend vir sy enorme windmeul, maar die plekkie is ook ’n gewilde bestemming op die Suid-Afrikaanse padkaart weens die twee restaurante, boekwinkel, wyn- en kaasproe-geleenthede, slagtery, bakkery en deli op die perseel. Daar is ook ’n groot verskeidenheid vrugte, groente, suiwelprodukte, tuisgebakte brood, heerlike vleis en biltong te koop. En moenie dink die opsies stop daar nie! Ander produkte wat aan gaste van regoor die land verkoop word, sluit in: organiese skoonmaakmiddels, blomme, kunsvlyt, geskenke, koffie en soetgoed.

So, as jy jou in die Hartbeespoort-omgewing bevind, saal gerus af by dié oulike padstal!

Dié padstal is op die R61 tussen Palm Beach en Munster in KwaZulu-Natal geleë. Die perseel bied ’n unieke inkopie-ervaring en meer as 20 doendinge vir die hele gesin!

Mac Banana is op ’n piesangplaas geleë en spog met ingelegde en vars produkte en soetgoed. Daar is ook ’n kunsgalery, wynkelder en kwekery. Die nuutste toevoeging is die “plaaswerf” waar daar verskeie diere in ’n troeteltuin is vir die jongspan se vermaak. Ander geriewe op die perseel sluit mini-gholf, vierwielmotorfietsritte, ponieritte en ’n speelplek in.

Die hoogtepunt is natuurlik hul pannekoeke! Mac Banana se pannekoeke het lankal roem verwerf en besoekers sit graag in die somersonnetjie en smul aan ’n heerlike pannekoek met ’n soet- of sout-vulsel.

The Farm Stall at Halls is op die R104 net buite Nelspruit, in Johannesburg se rigting. Dit is aan die linkerkant langs die Halls Gateway na die Laeveld.

Dié plekkie is al jare lank ’n plaaslike landmerk. Dit is nou wragtiewaar ’n koop-ervaring wat jy nie mag misloop nie. Hier kan jy heerlik ontspan in die tuin met ’n koppie tee en snytjie koek of jy kan ’n smaaklike maaltyd geniet in die knus restaurant op die perseel. Die padstal het ook verskeie vars produkte wat jy in jou inkopiemandjie kan laai, soos vars groente en vrugte, konfyte, heuning, gedroogde vrugte, nougat, soetgoed, koekies, beskuit, peri-peri-sous, eiers, kaas, vars melk en varsgebakte broodrolletjies en pasteie. Moet ook nie vergeet om hulle gewilde forelpastei, roulades en patee ook te probeer nie.

Die winkeltjie het ook ’n oulike verskeidenheid unieke presente, soos haarbande wat met kraletjies versier is en verskillende armbande van rek en krale wat alles plaaslik met die hand gemaak is. Die restaurant gebruik sover moontlik net plaaslike produkte en bedien heerlike tuisgemaakte kos, soos pannekoeke, wafels, burgers en ’n stewige ontbyt.

Die Constantia Kersiepadstal is langs die R26 buite Clocolan op pad na Ficksburg.

Hierdie plekkie het oorspronklik gedien as die verkoopspunt van die kersies wat op die Constantia-kersieplaas geproduseer is. Deesdae is dit ’n uiters suksesvolle padstal wat allerlei kersieprodukte verkoop, onder meer kersie-likeur, kersie-roomysversiering en 100% kersiesap. Ander produkte wat te koop is, sluit geskenke, klere en dekor, meubels, kuns, speelgoed en sandsteenprodukte in.

Daar is ook ’n restaurant met ’n omheinde speelarea. In die restaurant kan jy rustig agteroor sit en die lekkerste kersie-geregte en -lekkernye soos kersie-vrugteskommels, melktert en pannekoeke met hul geheime kersiesous geniet.

Coach House Confectionary is ’n vreeslike lekker stilhouplek vir enigeen met ’n soettand. Dié winkeltjie is in Tzaneen in Old Coach Straat, Agatha geleë. Hulle maak en verkoop die allerlekkerste soetgoed wat uit neute en heuning van die hoogste gehalte gemaak word.

Indien jy ’n bietjie in Tzaneen vertoef, of selfs net deurry, kan jy gerus by Coach House stilhou. Hier kan jy nie net heerlike bederfies vir jouself koop nie ‒ hulle verpakte soetgoed maak ook uitstekende geskenke. Die reeks produkte sluit onder meer makadamia-heuning-nougat, amandel-heuning-nougat, brosbrood en broslekkers in.

Hulle bied ook toere deur die fabriek aan van 10:00 tot 14:00 op Dinsdae, Woensdae en Donderdae en is Maandag tot Vrydag van 08:00 tot 16:00 oop. Beplan maar jou roete in Limpopo deur Tzaneen ‒ dit is definitief die moeite werd!

Dié oulike klein winkeltjie, op die hoek van Rustenburgstraat in Magaliesburg, is  die tuiste van die land se beste brandrissies! Hekpoort Heksie het ’n paar jaar gelede begin met haar beroemde pikante rissiesous wat jy vandag in vele restaurante en winkels regoor Suid-Afrika sal vind.

Katy van Wijk, wat nou al in dié geweste naam gemaak het as Hekpoort se Heksie, kweek en verwerk die rissies.  Deesdae verskaf sy die beste, plaaslike brandrissies, rissie-konfyt, pekelrissies en meer aan enigeen wat die moed het om dit te probeer. Al hou jy nie van ’n brandbekkie nie, is die winkeltjie sélf iets om te beleef. Die goeie diens, outydse musiek en styl van die winkel maak dit klaar die moeite werd werd. Boonop is daar hoenderpasteie en allerlei gevriesde lekkernye te koop sodat jy die res van die vakansie glad nie hoef kos te maak nie.

Hekpoort Heksie is definitief ’n moet as jy ’n draai maak in die Magaliesburg-omgewing.

So, los maar ruimte in jou sak wanneer jy inpak! Jy gaan die plek nodig hê vir wanneer jy by dié padstalle aandoen.  Deel gerus jou padstalfoto van dié somervakansie met ons, op Twitter of Instagram, en laat weet ons as jy ’n nuwe een ontdek het!

Hooffoto: “Road Trippin’ 2”. Viktor Bobchev (Flickr).

Drietal foto-collage onder “Jasmyn”: Van links na regs: 1. North Charleston Farmers Market. Foto: North Charleston (Flickr). 2. Windmeul van Jasmyn. Foto: Jasmyn Facebook-blad. 3. Baking some 100% Whole Grain Bread. Foto: Susy Morris (Flickr)