Die jaar het skaars afgeskop en dit voel reeds asof ’n mens al weer ’n vakansie nodig het. Daarom is ’n naweekwegbreek elke nou en dan net die ding wat jy nodig het om jou te verfris en weer nuwe energie vir die res van die maand te gee. 

In die Wes-Kaap het ons gelukkig geen tekort aan naweekbestemmings naby Kaapstad nie. Hiér kan jy in jou kar klim en binne sowat twee uur agter die stuur in ’n heeltemal nuwe omgewing wees. Of jy nou by die see wil ontspan, op die plaas wyn wil proe, of op soek is na daardie kleindorpie-atmosfeer — dié lys naweekdorpies sluit dit alles in!

Swellendam

Swellendam, lekkeslaap, verblyf, akkommodasie
Foto: Schoone Oordt Country House

Swellendam is die derde oudste dorp in Suid-Afrika en skuil in die skadu van die Langeberge langs die Breederivier. Hiér kan jy wynproe, voetslaan, bergfietsry en by top-restaurante aanklop. Maak ’n draai by die Drostdy Museum, by Sulina’s Fairy Sanctuary vir ’n bietjie magie en by Bukkenburg Pottery Studio vir ’n pottebakkeryles. Saterdae stroom almal na die Under the Oaks-markie waar jy lekker live musiek kan luister terwyl jy aan die heerlike eet- en drinkgoed smul.

Lees ons blog oor Swellendam vir nog lekke dinge om te doen.

Hermanus

hermanus lekkeslaap, verblyf, akkommodasie
Foto: Windsor Hotel Hermanus

Dié walviskykdorp is natuurlik baie gewild — en met goeie rede! Ten spyte van sy gewildheid behou Hermanus sy ongekunstelde bekoring en natuurskoon, terwyl dit ’n verskeidenheid aktiwiteite vir buitelugliefhebbers en fynproewers bied. Van walviskyk, wynproe en kunsgalerye, tot strande, restaurante en ’n Saterdagmark — hierdie dorp het alles wat jy nodig het vir ’n lekke naweek!

Struisbaai

struisbaai lekkeslaap, verblyf, akkommodasie
Foto: Protea 5

Wanneer jy die mees suidelike punt van Afrika besoek, daar waar die Indiese en Atlantiese Oseaan ontmoet, sal jy deur Struisbaai ry. Dis ’n baie gewilde vakansiedorp waarheen vakansiegangers elke Desembervakansie stroom. Struisbaai is net twee uur se ry buite Kaapstad en gerieflik geleë vir daguitstappies na Arniston, L’Agulhas en Napier. As jy van ’n stadige leefstyl hou en mal is oor die buitelewe is dié dorpie ideaal!

Kliek hiér om te sien wat daar alles in Struisbaai op jou wag. 

Tulbagh

tulbagh lekkeslaap, verblyf, akkommodasie
Foto: The Tulbagh Boutique Heritage Hotel

Tulbagh dateer uit die vroeë 1700’s en is die vierde oudste dorp in die land. Kom stap deur Kerkstraat en verkyk jou aan die ou geboue — dié straat het meer Kaaps-Hollandse, Edwardiaanse en Victoriaanse erfenisterreine as enige ander straat in die land! Daar is egter baie meer as net ou geboue om hier te sien. Die dorp word deur pragtige berge en uitstekende wynplase omring en bied iets vir elke wyn- en bierdrinker, natuurliefhebber en selfs adrenalienvraat. 

Franschhoek

franschhoek lekkeslaap, verblyf, akkommodasie
Foto: La Clé Village

Franschhoek lê in ’n prentjiemooi vallei en spog met eeue oue wingerd en Kaaps-Hollandse argitektuur, maar dit het eintlik geen bekendstelling nodig nie. Dié wyndorpie is vir sy Europese bekoring bekend en bied ’n heenkome aan diegene wat ’n bietjie van hul alledaagsheid wil ontsnap. Of jy nou jou lyf Fransman wil kom hou, bekroonde wynplase en restaurante wil besoek, of bloot die natuurskoon om die dorp wil verken, hiér is iets vir elke tipe reisiger.

Lees dié blog as jy ’n wenk vir romantiese verblyf nodig het.

Riebeek-Kasteel

riebeek kasteel, lekkeslaap, verblyf, akkommodasie
Foto: La Montagne Lodge

Hierdie stukkie paradys skuil aan die hange van Kasteelberg en word deur koringlande en wingerd omring. Die plattelandse atmosfeer van hierdie bekoorlike vallei skep saam met die natuurskoon en eienaardige, vriendelike inwoners die ideale wegbreek buite die stad. Omdat hier so baie kunstenaars woon en die dorp deur wynlandgoedere omring word, word daar soms na Riebeek-Kasteel as “Franschhoek 15 jaar gelede” verwys. Kom proe wyn en loer by al die oulike, interessante winkeltjies in!

Yzerfontein

yzerfontein, lekkeslaap, verblyf, akkommodasie
Foto: Lisa Croeser

Yzerfontein is bekend vir sy natuurskoon en spog met die 16 Myl-strand wat die langste ononderbroke strand aan die Suid-Afrikaanse kuslyn is. Dié strand bied ook ’n ongelooflike uitsig op Tafelberg in die verte en dis daarom geen verrassing dat dit veral onder watersport-entoesiaste gewild is nie. Daar is egter nog ’n rits dinge om te sien en doen in dié dorpie: van voetslaan en kunsroetes, tot gin-proe en oulike winkeltjies.

Lees ons blog oor Yzerfontein as jy meer oor dié Weskus-dorpie wil weet.

Greyton

greyton, lekkeslaap, verblyf, akkommodasie
Foto: The Post House Hotel

As jy op soek is na ’n rustige naweek in ’n kleindorpie met grondpaaie en eikehoutboomlanings, is Greyton die plek vir jou! Een van die gewildste aktiwiteite is om die Saterdagoggendmark te besoek, waar jy jou mandjie vol organiese vrugte en groente, varsgebak en handgemaakte produkte kan laai en saam met die vriendelike, plaaslike inwoners kan kuier. Die antiekwinkels is ook ’n besoek werd en as jy tyd het om te soek, sal jy beslis hiér ’n verlore skat ontdek. Dan is daar ook buitelugaktiwiteite, soos fietsry en voetslaan, en ’n rits gehalte-restaurante waar jy vir ete kan aansit.

Montagu

montagu lekkeslaap, verblyf, akkommodasie
Foto: Olive Stone Farm and Cottages

Montagu is dikwels net ’n vinnige stop vir reisigers wat na die dieper Klein-Karoo op pad is, maar soos jy die dorp in Langstraat binnery, kry ’n mens ’n gevoel dat daar baie meer aan dié dorp is. En jy’s reg! In die are wat na die res van dié geskiedkundige dorpie vloei, pols daar pragtige natuurskoon, kunstige argitektuur, opwindende aktiwiteite en, natuurlik, eeue oue mensestories. Hiér kan jy rotsklim, olywe proe, ’n trekkerrit geniet én ’n spooktoer op ’n fiets aandurf!

Kliek hiér vir ’n menu tot Montagu en sy mense.

Langebaan

langebaan, lekkeslaap, verblyf, akkommodasie
Foto: The Farmhouse Hotel

Omdat Langebaan net ’n uur en ’n half se ry van die Moederstad af is, is dit ’n geweldige gewilde bestemming. Oor naweke bars seekos-restaurante uit hul nate, die strandmeer is vol watersport-entoesiaste en gedurende die veldblomseisoen stroom die skares na die Weskus Nasionale Park. Besoek die Mykonos Casino as jy gelukkig voel, maak ’n draai by Black Eagle Brewing Co. vir ’n yskoue bier en klop by !Khwa ttu San Culture aan vir ’n opvoedkundige uitstappie om meer oor die aarde se oudste beskawings te leer.

***

Ons Kapenaars is bevoorreg om so baie verskillende naweekdorpies binne ’n gerieflike ryafstand te hê! ’n Mens kan baie maklik op die nippertjie besluit om ’n naweekwegbreek te bespreek, so watter dorp gaan jy volgende besoek? Laat ons weet in die blokkie hier onder.

Hooffoto: MonTQ Guest House