KwaZulu-Natal is ’n provinsie met prentjiemooi plattelandse dorpies net ’n hanetreetjie vanaf Durban se geroesemoes, en die Natalse binneland is ’n toevlugsoord vir natuurliefhebbers, avonturiers en enigiemand wat smag na stilte buite die besige stad.

In hierdie blog neem ons jou op ’n virtuele toer deur die skilderagtige landskappe, oulike dorpies en ontsagwekkende natuurwonders wat buite Durban se stadsgrense op jou wag. Van lowergroen heuwels en oulike dorpies met vriendelike inwoners tot sneeubedekte pieke in die Drakensberge — KwaZulu-Natal se kleindorpies bied aktiwiteite en besienswaardighede te kus en te keur.

Underberg

Aan die voet van die Suidelike Drakensberge en in die hartjie van die skilderagtige platteland, spog Underberg met ongerepte skoonheid en boeiende bekoring. Hierdie dorp is net sowat twee en ’n half uur se ry vanaf die stad en word deur majestueuse berge, natuurreservate en kronkelende riviere omring – ideaal vir diegene wat op soek is na ’n wegbreek met aktiwiteite in die natuur.

By Khotso Guest Farm kan jy lekker bly én perdry! Dié perd- en skaapplaas bied verblyf in selfsorg-eenhede, gerieflike kamers en kampeerplek, en lok baie besoekers omdat daar perdryroetes op die perseel is — daar is selfs ’n twee of drie dae lange avontuur waar jy Lesotho op ’n perd se rug verken. Dit klink nou na ’n fantastiese manier om weer tyd in die natuur deur te bring en vars berglug in te asem!

Lieflike verblyf by Khotso Guest Farm.

As perdry nie heeltemal jou ding is nie, is daar ook ’n rits staproetes vir verskeie fiksheidsvlakke om in die Drakensberge aan te durf. Die Sleeping Beauty Cave-roete is ’n lekker roete vir gesinne en neem sowat vyf uur, maar daar is ook oornagstaproetes, soos die Sherry Cave- en Sinclair’s Cave-roete, waartydens julle in die grot kan oornag en die volgende dag kan terugstap. Trek jou stapstewels aan en kom waag die majestueuse Drakensberge aan!

Durf ’n perdryroete by Khotso Guest Farm aan.

En diegene wat visvang as die ideale manier om te rus beskou, sal mal wees oor Penwarn Farm Lodge. Dié lodge bied rustieke tog moderne selfsorgverblyf aan paartjies en groepe op ’n rustige plaas net buite die dorp. Die plaas het ’n hele paar damme op die perseel wat vol forel en baars is, asook ’n deel van die Ngwagwanarivier waar jy forel kan vang — alles op ’n vang-en-vrylaat-basis. Daar is ook ’n rits ander aktiwiteite op die perseel, soos stap-, bergfiets- en drafroetes, kajakroei, voëlkyk, vlugbal en tafeltennis.

Pragtige selfsorgverblyf by Penwarn Farm Lodge reg langs die water.

Vir ontbyt, middagete of aandete kan julle ’n draai by The Old Hatchery Restaurant maak. Van watertandlekker biefstukke en gebraaide seekos tot stewige bredies en vegetariese opsies, daar is iets vir elke smaak. Julle kan knus binne voor die kaggel kuier of buite op die stoep sit en die welige groenigheid en foreldam-uitsig bewonder. Daar is ook bekostigbare B&B- en selfsorgverblyf vir paartjies en groter groepe op die perseel, so bly sommer oor!

Die restaurant by The Old Hatchery spog met ’n uitsig oor die foreldam.

Howick

Howick is ’n bekoorlike dorpie wat vir sy betowerende waterval, rustige landskappe en ryk geskiedenis bekend is, en is ’n toevlugsoord vir natuurliefhebbers en ’n ideale opsie vir enigiemand wat op soek is na ’n welverdiende ruskans.

Op ’n Saterdagoggend moet jy ’n draai by die Karkloof Farmers’ Market gaan maak. Die boeremark is ’n unieke binnenshuise mark met ’n rits verskillende stalletjies wat alles van vars groente van plaaslike boere en produsente tot heerlike tuisgebakte lekkernye verkoop. Stewige ontbyt, gehaltekoffie en aktiwiteite vir kinders lok die plaaslike inwoners naweek op naweek.

Jy kan nie Howick besoek en nie die waterval sien nie, so die Gorge Walk is seker een van die beste maniere om ’n skouspelagtige uitsig oor die waterval en die kloof te sien. Dié staproete neem jou deur ’n pragtige rivierwoud, grotte en kronkelende strome en neem net meer as ’n uur van die begin tot by die watervalpoel, so maak seker jy sit genoeg tyd opsy om die roete te stap. Let dat daar ’n klein fooi gehef word wat na die Howick Falls Bewarea gaan.

Die pragtige Howick-waterval. Foto: Unsplash

As ’n glasie wyn en ’n kaasbord eerder jou idee van ontspan op ’n Saterdag is, dan moet jy beslis ’n draai by Abingdon Wine Estate of Highgate Wine Estate maak. Abingdon is ’n versteekte juweel vir wynentoesiaste. Die boetiekwynlandgoed spesialiseer in koelklimaatwyn, wat die unieke terroir van die streek ten toon stel. Hiér kan jy by die wynkroeg kom wynproe en aan ’n kaasbord of ’n paar tapas-happies smul terwyl jy die natuuskoon om jou bewonder. Highgate is in Lionsrivier, net buite Howick, geleë en is bekend vir hul uitgestrekte wingerd, wat ook uitsonderlike wyne produseer wat die unieke terroir van die area weerspieël. Die landgoed bied natuurlik heerlike wynproe-sessies, wat ook met ’n kaasbord en tapas-happies gepaard kan gaan, maar jy kan ook ’n oulike piekniekmandjie met smullekker eetgoed bestel en dit tussen die wingerd, in die woud of langs die dam geniet.

Piggly Wiggly is ’n bekoorlike mark wat ’n unieke inkopie- en ontspanningservaring op die Highgate-wynlandgoed bied. Nadat die eienaars in 1996 die plaas gekoop het, het hulle besef daar is ’n behoefte aan vars produkte in die gemeenskap, en so is Piggle Wiggly gebore! Die mark spog met ’n groot versameling boetiekwinkels en kunsgalerye. Kom stap deur die oulike stalletjies en kyk na die verskeidenheid kunsvlyt, plaaslike produkte en handgemaakte goedere. Daar is ook ’n knus koffiewinkel waar jy aan heerlike maaltye en varsgebroude koffie kan smul.

Ons stel voor jy klok dan by St Ives Lodge oorkant die pad in vir gerieflike verblyf en uitstekende hengel-geleenthede. Dié lodge net buite die dorp bied gerieflike verblyf in luukse eenhede vir paartjies en gesinne. St Ives het bekend geword as een van die beste baarshengelplekke in die Middellande en spog met baars van tot ses kilogram! Daar is twee baarsdamme op die perseel waar jy op ’n vang-en-vrylaat-basis kan hengel. Hierdie damme is nie oop vir die openbaar nie, so maak seker jy bespreek jou verblyf vroegtydig en bring jou hengeltoerusting saam. 

St Ives Lodge is ideaal vir kranige hengelaars.

Nottingham Road

Nottingham Road is ’n bekoorlike dorpie wat deur golwende heuwels, plaaslande en bekoorlike woude omring word. Die dorpie is ’n idilliese bestemming met ’n rustieke bekoring en lok reisigers van oraloor om die kleindorpie-atmosfeer te kom ervaar.

As die kleinspan saam reis, sal hulle mal wees oor ’n uitstappie na The Candle Dipping Shop! Dit is ’n unieke winkel wat jou die kuns van kersmaak wys. Kom kyk na die uitgebreide versameling kersmaakvoorraad en klaargemaakte kerse vol kleure en geure. Julle kan aan die kersdoopproses deelneem en lonte in ’n verskeidenheid kleurvolle gesmelte was dompel om julle eie pasgemaakte kerse te skep. As jy wonder watter aandenking jy saam met jou huis toe kan neem, is dit die ideale uitstappie!

Kleurvolle kerse. Foto: Unsplash

As jy dink daar is min dinge so lekker soos ’n koue bier, moet jy ’n draai by die Nottingham Road Brewing Company gaan maak. Dit is in 1996 gestig en het ’n gewilde bestemming vir bier-entoesiaste geword. Die brouery maak boetiekbier van hoë gehalte deur tradisionele broumetodes en plaaslike bestanddele te gebruik. Die brouery bied begeleide toere waartydens jy meer oor die brouproses leer en daarna kan jy heerlike bier by die proelokaal op die perseel proe. En as die honger begin knaag, het hulle ook ’n restaurant waar jy saam met die bier aan ’n heerlike bord kos kan smul.

Maak ’n draai by die Nottingham Road Brewing Company. Foto: Wikimedia Commons

Swissland Cheese is vir hul Switserse-stylkase wat met tradisionele metodes en gehaltebestanddele geproduseer word, bekend. Hiér kan jy heerlike kaas met ’n verskeidenheid geure en teksture proe terwyl jy oor die kaasmaakproses leer. Let daarop dat die kaasplaas tans slegs op openbare vakansiedae en tydens skoolvakansies oop is. ’n Besoek aan Swissland Cheese is ’n moet vir kaasliefhebbers en diegene wat ’n unieke kulinêre ervaring in die Midlands Meander soek.

As Nottingham Road jou bestemming vir die naweek is, stel ons voor jy bespreek verblyf by Caversham Mill Country Cottages. Dié geskiedkundige landgoed spog met drie Victoriaanse selfsorgkothuise op die Lions- en Impafanarivier. Daar is ook ’n restaurant op die perseel, waar die idee vir die Midlands Meander uitgedink is!

Die idee vir die Midlands Meander is by Caversham Mills uitgedink.

Winterton

Winterton is in die skilderagtige Drakensberg-streek geleë. Hierdie bekoorlike dorpie dien as ’n poort na die majestueuse Drakensberge en sal beslis ’n onvergeetlike ervaring aan elke besoeker bied – of dit nou vir die natuurskoon, besienswaardighede of aktiwiteite is!

’n Pragtige uitsig op die Drakensberge vanaf die Cathedral Peak Hotel.

Cathedral Peak Wines is ’n bekende wynlandgoed naby die ikoniese Cathedralpiek wat ’n uitsonderlike verskeidenheid wyne vervaardig wat die karakter en wese van die streek weerspieël. Van kraakvars en verfrissende witwyn tot sterk en swaar rooiwyn, Cathedral Peak Wines bied ’n uiteenlopende reeks variëteite wat voorsiening vir verskillende smake maak. Kom geniet ’n wynproe en smul aan ’n heerlike kaasbord terwyl jy die skilderagtige omgewing bewonder – ’n onvergeetlike ervaring!

Nie bang vir hoogtes nie? Durf dan ’n warmlugballonvlug saam met Drakensberg Ballooning aan! Drakensberg Ballooning bied werklik ’n magiese en onvergeetlike ervaring in die pragtige Drakensberge. Hierdie avontuur laat jou toe om bo die majestueuse pieke en valleie in ’n warmlugballon te sweef en ’n panoramiese uitsig oor die asemrowende landskap te bewonder. Of jy nou ’n spesiale geleentheid vier of bloot op soek is na ’n buitengewone avontuur, ’n warmlugballonvlug beloof om ’n betowerende reis bo die berge te wees.

Warmlugballonne sweef oor Eureka op ’n plaas in Winterton.

As avontuursport jou ding is, is ’n besoek aan The Drakensberg Canopy Tour ’n moet! Dit bied ’n opwindende avontuur deur die natuurskoon van die Drakensberge in die skadu van Cathkinpiek. Hierdie Ziplining-ervaring stel jou in staat om deur die boomtoppe te sweef en die asemrowende uitsigte oor die omliggende valleie, woude en kranse te bewonder. Ervare gidse help jou van platform tot platform en, terselfdertyd, het jy ’n geleentheid om oor die plaaslike flora en fauna te leer.

Op soek na nóg meer opwinding? Scootours bied ’n aktiwiteit wat jou in staat stel om die Drakensberge se natuurskoon met ’n veld-skopfiets te verken. Jy kry ’n stewige skopfiets en veiligheidstoerusting, en woerts-warts dan afdraand al langs die bergpaadjies terwyl jy die panoramiese uitsig op die pieke, heuwels en oor die watervalle inneem. Ons is amper seker jy het nog nie iets soos Scootours ervaar nie!

Bergville

Bergville se ongeëwenaarde kombinasie van dramatiese berglandskap, ryk kulturele erfenis en ’n verskeidenheid buitelugavonture maak dit ’n lekker bestemming vir reisigers wat op soek is na gerieflike blyplek en buitelug-aktiwiteite aan die voet van die Drakensberge.

Montusi Mountain Lodge se perde wei rustig.

The Northern Horse bied jou die geleentheid om die Drakensberge op ’n perd se rug te verken. Saam met ’n span ervare gidse kan ruiters van alle vaardigheidsvlakke roetes deur valleie, oor riviere en na uitkykpunte aandurf. Gesoute perderuiters en beginners sal mal wees oor dié unieke manier om die natuur van nader te beleef.

En om dinge nog lekkerder te maak, kan jy verblyf op dieselfde perseel as The Northern Horse se roetes bespreek. Montusi Mountain Lodge bied luukse verblyf aan paartjies en gesinne in suites met puik uitsigte op die Amfiteaterberg. Daar is iets vir almal — julle kan die skilderagtige roetes aandurf, antieke rotskunsterreine verken, bergfiets- en perdry, of die spa op die perseel besoek vir verjongende behandelings. Ontbyt en aandete is by die tarief ingesluit, so ná ’n lang dag van verken, kan jy behoorlik hiér kom agteroorsit.

Montusi Mountain Lodge se eenhede is pragtig en luuks.

As die lus vir ’n goeie pizza jou beetkry, is daar geen manier dat enigiets anders te ete jou lus gaan blus nie. Gelukkig weet ons van ’n unieke restaurant in hierdie geweste waar jy behoorlike pizzas wat met vars bestanddele gemaak is, kan bestel. Tower of Pizza het sy naam aan ’n ongebruikte graansilo wat in ’n pizzeria omskep is, te danke. Dit het ’n gewilde kuierplek vir plaaslike inwoners en toeriste geword. Behalwe vir dié berugte pizzas, wat met ’n hoogs geheime familieresep gemaak word, word daar ook ander Italiaanse disse, soos pastas, slaaie en nagereg, voorgesit. Dié graanplaas bied egter ook B&B-verblyf in rondawels en kothuise op die perseel, so as jy ’n bietjie té lekker geëet het, dink ons dit sal slim wees as jy ook sommer hier skuinslê.

Tower of Pizza se graansilo en B&B-verblyf.

Net ’n entjie buite die dorp lê All Out Adventures. Dit is ’n avontuursentrum wat ’n adrenalien gedrewe ervaring soos geen ander bied nie. Besoekers kan aan opwindende aktiwiteite soos Zipline, vierwielmotorfietsry, verfbal en bergfietsry deelneem. Die span by All Out Adventures verseker die hoogste veiligheidstandaarde terwyl hulle ’n opwindende avontuur aan alle ouderdomme en vaardigheidsvlakke bied. Of jy nou die adrenalien deur jou are wil laat bruis of bloot net ’n bietjie uit jou gemaksone wil klim, All Out Adventures is die perfekte bestemming vir ’n opwindende dag vol aksie!

***

So, as jy gereed is om jouself in die natuurskoon te verdiep, die plaaslike kultuur wil beleef, en die rustigheid van die platteland nodig het, is elke dorpie in dié blog ’n goeie keuse wanneer jy weer op soek is na ’n wegbreek buite Durban. Kom trap jou eie spore en ontdek die versteekte juwele van die Natalse binneland.

Op soek na naweekverblyf buite Kaapstad? Lees dan ook hierdie blog.

Hooffoto: Khotso Guest Farm op LekkeSlaap