Mpumalanga is ’n pragtige provinsie propvol natuurlike wonders en avontuur-aktiwiteite wat besoekers van heinde en verre lok. Van ruwe berge, welige woude en watervalle, tot uitgestrekte vlaktes waar die wild vrylik rondloop, bied Mpumalanga ’n speelgrond vir alle soorte avontuursoekers. LekkeSlaap het ’n gids vir jou volgende besoek aan hierdie opwindende provinsie saamgestel én wys ons boonop vir jou waar jy heerlik ná ’n dag vol avontuur kan rus.

Voetslaan in die Drakensberge

Foto: Unsplash

Van die ikoniese Blyderivierspoort tot die mistige pieke van die Drakensberge! Die voetslaanroetes in Mpumalanga bied ’n kaleidoskoop van landskappe, wat van welige woude tot watervalle en panoramiese uitsigte oor die landskappe wissel. Of jy nou ’n rustige wandeling of ’n uitdagende voetslaan-avontuur soek, Mpumalanga se staproetes maak vir alle vaardigheidsvlakke voorsiening, wat onvergeetlike ervarings te midde van die streek se ongetemde skoonheid beloof.

Riviervlotvaart op die Sabierivier

Foto: Facebook

Vir ’n adrenalienstormloop soos geen ander kan julle die Sabierivier tydens ’n onvergeetlike riviervlotvaar-ervaring verken. Hier kronkel jy deur opwindende snelstrome, omring deur welige plantegroei en toringhoë kranse, op ’n opblaasbootjie. Professionele gidse verseker veiligheid en opwinding terwyl jy deur die hartjie van Mpumalanga se ongerepte wildernis roei en herinneringe maak wat ’n leeftyd sal hou. Let wel dat jy tydens hierdie aktiwiteit nat gaan word, so trek gepaste klere aan en onthou ’n droë stel klere vir ná die tyd. 

Kontak: Siyavaya Adventures of GZ Adventures

Graskop Gorge Lift Company

Foto: Facebook

Die Graskop Gorge Lift Company bied ’n oorvloed aktiwiteite aan besoekers — van Zipline, die Big Swing en die glashysbak tot ’n hangbrug oor die kloof. Die gewildste van die aktiwiteite is die panoramiese glashysbak wat in die kloof af daal en ’n asemrowende uitsig op die omliggende kranse en oor die watervalle bied. Aan die onderkant kan julle die houtpaadjies en hangbrûe wat deur die welige woud kronkel, verken. As julle die bloed ’n bietjie vinniger deur die are wil laat bruis, kan julle met die Big Swing oor die kloof se rand swaai. Hiér val jy 70 meter (sowat 20 verdiepings!) in die kloof terwyl jy regop sit en aan ’n harnas vasgemaak is. Vir diegene wat ’n meer ontspanne ervaring soek, bied die restaurant op die perseel ’n kans om aan plaaslike kookkuns te smul terwyl julle die pragtige uitsig geniet. 

Kontak: Graskop Gorge Lift Company

Warmlugballonvlugte oor die Laeveld

Foto: Facebook

Ervaar Mpumalanga vanuit ’n heel nuwe perspektief met ’n warmlugballonvlug oor die Laeveld. Dryf rustig bokant die uitgestrekte landskap wat met wildreservate, riviere en golwende heuwels besaai is, soos die son opkom of ondergaan en ’n goue gloed oor die horison gooi. Ons kan nie aan ’n beter manier dink om ’n geheelbeeld van dié omgewing te kry nie. 

Kontak: Suncatcher Hot Air Ballooning

Abseil langs watervalle in die Blyderivierspoort

Foto: Facebook

Voel die sproei van die magtige Sabiewaterval teen jou liggaam soos jy tydens ’n abseil-avontuur teen die kranse af beweeg. As jy nie vir hoogtes bang is nie, is dit ’n unieke manier om die ongelooflike natuurskoon in te neem en deel van die natuur te voel. Hierdie uitdagende aktiwiteit eindig in die rotspoel onder die waterval en julle kan dan deur die lieflike inheemse woud terug stap na waar julle begin het. 

Kontak: Kestell Adventures

Ry vierwielmotorfiets

Foto: Facebook

As jy ’n spoedvraat is en die natuur om jou eerder op vier wiele wil verken, is die vierwielmotorfietstoere perfek vir jou! Ry deur die woude met ongelooflike fauna en flora en plase wat aan die Krugerwildtuin grens — jy mag dalk net die Groot Vyf raaksien! Onthou jou kamera vir hierdie aktiwiteit, want jy gaan beslis ’n paar tonele wil afneem. 

Kontak: Siyavaya Adventures

Long Tom Scootours & Toboggan

Foto: Facebook

As julle op soek is na ’n gesinsvriendelike aktiwiteit is Long Tom Scootours nét die ding vir julle. Dié aktiwiteit is ’n mengsel van avontuur en natuurskoon en behels opwindende afdraandritte met stewige bromponies op bergpaadjies, deur woude en verby watervalle. Julle ontvang spesiaal ontwerpte bergbromponies wat stabiliteit en beheer bied sodat julle die terrein kan baasraak. Onder leiding van ervare gidse kan avonturiers van alle vaardigheidsvlakke die rit geniet. As julle vir nog ’n bietjie opwinding lus is, kan julle die Long Tom Toboggan probeer. Kom voel hoe die wind deur jou hare waai soos jy die 1,7 kilometer lange Toboggan-baan in die Long Tom-pas aanpak. Dié aktiwiteit is weereens ideaal vir spoedvrate, want jy gly teen 45 kilometer per uur teen dié kronkelende baan af. 

Kontak: Long Tom Scootours

Bly hiér

Ná ‘n dag vol avontuur is dit altyd lekker om in gerieflike verblyf te ontspan en jou kop op ’n sagte kussing neer te lê. Gelukkig is daar talle opsies op LekkeSlaap om van te kies — van luukse hotelle met ongelooflike uitsigte en gerieflike selfsorg-eenhede tot bekoorlike kothuise.

Angels View Hotel

Dié luukse hotel skuil op ‘n berg in Graskop en bied van die mees skouspelagtige uitsigte in Mpumalanga. Die pragtige kamers is met geriewe soos lugversorging en TV’s met DStv toegerus en van die kamers het selfs kombuisies. Daar is ook drie swembaddens om in af te koel, ’n restaurant en kroeg, spa, biblioteek en ’n gimnasium.

Misty Mountain

Ons kan verstaan waarom Misty Mountain se verblyf só gewild is! Dié lodge is in ’n ongelooflike omgewing naby Sabie geleë en bied verblyf in verskeie eenhede. Elke eenheid het ’n stoep en braaigeriewe vanwaar jy die uitsig kan bewonder. Daar is ook ’n restaurant op die perseel en die lodge is die tuiste van die Long Tom Scootours & Toboggan, begeleide vierwielmotorfietsritte en staproetes.

Lisbon Eco Lodge

Die houthuisies by Lisbon Eco Lodge is die ideale verblyf as julle hierdie omgewing en al sy opwindende trekpleisters wil verken. Elke huisie op die Lisbonrivieroewer is vir vyf volwassenes en ’n kind geskik. Dis lekker naby die gewilde besienswaardighede en aktiwiteite by die Blyderivierspoort en julle kan selfs die Krugerwildtuin tydens ’n daguitstappie besoek.

Van die hoogtes van die Drakensberge tot die dieptes van die Blyderivierspoort, Mpumalanga bied ’n magdom avontuuraktiwiteite vir adrenalienvrate en natuurliefhebbers. Of jy nou deur ongerepte wildernis ry, riviervlotvaar, of bo die boomtoppe sweef — al dié unieke ervarings in Mpumalanga sal jou beslis ’n nuwe lus vir die lewe gee. Pak dus jou avontuurlus in en maak gereed om die reis van ’n leeftyd in hierdie wilde en wonderlike hoekie van Suid-Afrika aan te pak.

Hooffoto: Graskop Gorge Lift Company

Alle ander foto’s vanaf LekkeSlaap of soos aangedui.

Lees ook:

Prettige aktiwiteite aan Natal se Suidkus

Rotsklim: Jou beginners-handleiding tot dié avontuur

Someraktiwiteite in die Wes-Kaap