Tydens elke seisoen bied Suid-Afrika nuwe dinge om te verken — of dit nou seediere is wat migreer, of blomme wat hulle verskyning maak. Om Suid-Afrika te verken soos wat die seisoene verander en alles wat daarmee gepaard gaan, gee ’n nuwe waardering vir die besondere, Suid-Afrikaanse ervarings wat reg onder ons neuse skuil. In 2021 het ons plaaslike toerisme van voor af liefgekry, en hierdie liefde gaan beslis nie in 2022 kwyn nie. Beplan sommer nou al waar en wat jy wil verken in 2022 en gee vir jouself iets om na uit te sien regdeur die jaar!

Walviskyk

Foto: Bigstock

Tussen Junie en November is dit tyd om kus toe te neig om walvis te kyk. Walvisse migreer in hierdie tyd vanaf Antarktika na Mosambiek, en tydens hulle reis kan hulle in Suid-Afrika se waters ook gesien word! Hierdie majestieuse seediere kan regoor Suid-Afrika se kus gesien word ─ van die Kaap tot in KwaZulu-Natal.

Wes-Kaap

Hermanus in die Wes-Kaap  is ’n gewilde bestemming om walvisse te gewaar, en daar is ’n 12 kilometer lange kuspaadjie in hierdie dorp met interessante openbare kunswerke om te bekyk. In Hermanus kan jy ook gholfspeel, museums besoek, voetslaanroetes verken en ’n drankie langs die see geniet terwyl die son sak.

Ander gewilde walviskyk-bestemmings in die Wes-Kaap is Valsbaai, die Overberg en die Tuinroete.

Oos-Kaap

Die Wildekus in die Oos-Kaap het nie net interessante plekkies om op land te verken nie, maar om na die see te tuur kan ook ure se genot verskaf met boggelrugwalvisse en suidelike noorkaperwalvisse wat ook gereeld hier voorkom. Die warm water in die Oos-Kaap laat jou toe om sommer ook self in die see te swem so tussendeur die walviskyk!

Gewilde walviskyk-dorpe in die Oos-Kaap is Oos-Londen, Gqeberha (Port Elizabeth), Jeffreysbaai en St. Francisbaai.

KwaZulu-Natal

Dit is gewild om in St. Lucia op bootvaarte te gaan om walvisse van naderby te bekyk. Die boggelrugwalvis kom veral in hierdie waters voor en is een van die groter walvisspesies. 

Ander gewilde walviskyk-dorpe in KwaZulu-Natal is Umhlanga en Scottburgh

Sneeukyk

Foto: Klondyke Cherry Farm op LekkeSlaap.co.za

Sneeu is nie ’n algemene verskynsel in Suid-Afrika nie, maar daar is wel ’n paar yskoue dorpies in ons land waar mens in die winter in die sneeu kan baljaar ─ mits die weersomstandighede dit toelaat. Selfs al val die sneeu nie tot op die grond nie, kan daar bykans elke jaar sneeu op die bergtoppe in die Drakensberge en in die Wes-Kaap gesien word. Jy kan die meeste van jou winter maak deur na die sneeu weg te breek (en dalk selfs jou voete op te skop in ’n knus kothuis met ’n kaggel).

Wes-Kaap

Ceres is nie net bekend vir die heerlike vrugtesap wat hier vervaardig word nie, maar ook vir die wolkombers wat elke jaar op die berge in dié area kom lê. Die hoogste punt in die Boland is in die Matroosberg Privaat Natuurreservaat en jy kan rondom die natuurreservaat en op die Bo-Swaarmoedpad sneeu sien. Oudtshoorn se Swartberge is ook omtrent elke jaar onder die sneeu toegepak en dit is omtrent ’n belewenis om op die Swartbergpas te ry en die wit pieke rondom jou te sien!

Vrystaat

Clarens in die Vrystaat met sy oulike winkels, galerye en restaurante is regdeur die jaar ’n heerlike bestemming, en in die winter is hierdie area vol sneeu. Clarens is naby die Golden Gate Highlands Nasionale Park waar daar verskeie voetslaanroetes tussen die berge is om te verken. 

Noord-Kaap

Sutherland is een van die bekendste sneeukykdorpies in die land en is yskoud in die winter. Die SALT-teleskoop (South African Large Telescope) is hier te siene en dit is elke jaar gewild om hiér in die sneeu te baljaar. Jy kan ook vooraf bespreek om ’n toer van die teleskoop te kry. Die sneeu val gewoonlik in Augustus en jy gaan nie net sneeumanne bou as jy hier ’n draai maak nie, maar kan ook sterrekyk!

Blommekyk

Foto: Rietrylaagte Accommodation and 4×4 op LekkeSlaap.co.za

Blommeseisoen in Suid-Afrika begin gewoonlik vroeg in Augustus en eindig rondom middel-September. Dit begin ook hierdie tyd van die jaar al hoe warmer raak, so om ’n naweekuitstappie na die blomme te maak is die perfekte manier om die begin van ’n nuwe seisoen te verwelkom! Klein dorpies waar blomme gesien kan word, word ook van voor af lewendig gedurende hierdie tyd, met blommefeeste en plaaslike aktiwiteite wat aangebied word.

Wes-Kaap

Die Weskus, wat van Darling tot by Yzerfontein strek, verander in ’n see van oranje, pienk, wit en blou gedurende die blommeseisoen. Die Weskus Nasionale Park naby Saldanha se blomme groei so reg langs die see, en hier kan jy sommer ’n hele paar dae lank kamp terwyl jy die natuurskoon verken. Gewilde Weskus-dorpies om te besoek sluit Lambertsbaai, Yzerfontein, Langebaan en Darling in.

Noord-Kaap

Namakwaland het al sinoniem geraak met blommekyk in Suid-Afrika. Nieuwoudtville se wildeblomreservaat het allerhande unieke blomsoorte om van naderby te bekyk. Dit is gewild om ’n heerlike roosterkoek by een van die padstalletjies in Nieuwoudtville se hoofstraat te kry en dan ’n draai by die blomme te maak. Terwyl jy in hierdie area is, kan jy ook ’n draai by die Kokerboomwoud buite Loeriesfontein maak! Kamieskroon, Loeriesfontein en Springbok kan ook deel vorm van jou reis na hierdie area.

Wildkyk

Foto: Nyumbani Estate Safari Bush Lodge op LekkeSlaap.co.za

Jy kan regdeur die jaar wildkyk en elke seisoen bied nuwe dinge om in die bosveld te beleef. Gedurende die wintermaande in die noorde is die gras droog en is dit makliker om ’n groter verskeidenheid diere raak te sien. In die lente word daar nuwe diere gebore en kan jy die oulike diertjies tussen die ruig somerplante gewaar.

Limpopo en Mpumalanga

Die geliefde Krugerwildtuin in Limpopo en Mpumalanga bly altyd ’n gunstelingbestemming. As jy ’n bietjie wil wegbreek van die hoofstroom en nie in die Kruger wil draai nie, kan jy dit ook oorweeg om te gaan kamp of by ander reservate in die bosveld te kuier. Marlothpark  deel ’n grens met die Krugerwildtuin en het talle lekker blyplekkies.

Noordwes

Die Pilanesberg Nasionale Park is ook ’n tuiste van die Groot Vyf en net twee ure se ry vanaf Johannesburg! Hier is meer as 7500 dierspesies om te gewaar en om met ’n skemerkelkie in die hand agteroor te sit by die Mankwe-dam in dié park is heerlik!

Jou 2022-emmerskoplys

Jy hoef ook nie altyd te wag vir natuurverskynsels om weg te breek van die gejaag nie. Hier is ’n emmerskoplys om enige tyd in die nuwe jaar aan te pak!

Waar ook al jy kies om na weg te breek in 2022, LekkeSlaap sal ’n plekkie vir jou hê. Daar is versteekte juwele regoor die land wat wag om verken te word!

Hooffoto: SANParks Cape Point Rest Camp op LekkeSlaap.co.za