Dit is uiteindelik daai tyd van die jaar: Die son groet jou soggens deur die kamervenster, jou kalender se maande lê in die asblik en jy begin al die dae aftel totdat jy jou werk (en daai een nare kollega) vir eers vaarwel kan groet. Dit is Desembervakansie, jou bestemming is bespreek en jou tasse (met genoeg swembroekies) staan by die deur.

Maar nie so haastig nie. Moenie dat die opwinding jou van alle rasionaliteit beroof nie. Volgens StatsSA het Suid-Afrika oor die afgelope paar jaar toenemende vlakke van misdaad gesien, maar gelukkig hoef dié realiteit nie jou vakansieplanne kort te knip nie. Loer gerus na LekkeSlaap se veiligheidswenke om ’n streslose vakansie te verseker.

Doen navorsing oor jou bestemming

Dit is belangrik om vooraf navorsing oor jou bestemming te doen. Begin deur die resensies oor jou verblyf op LekkeSlaap se webtuiste te lees. Die ervaringe van ander vakansiegangers wat eens in jou skoene was, sal help om van jou onsekerhede op te klaar.

LekkeSlaap bied ook onpartydige resensies oor die streke wat vakansiegangers besoek. Om dié resensies te lees, doen jy ’n soektog op LekkeSlaap se webtuiste. Tik die streek wat jy wil besoek (byvoorbeeld Knysna) in en rol dan op die resultaatblad af totdat jy ’n grys blok aan die linkerkant van die skerm sien wat “Resensies van (byvoorbeeld) Knysna” sê. Dit is belangrik om te onthou dat instansies nie vir hul omliggende omgewing verantwoordelik is nie, maar deur die resensies te lees kan jy jouself as besoeker in staat stel om vir die wis en onwis voor te berei.

Dit sal ook help as jy met die noodhulpnommers wat in dié area gebruik word, vertroud is. Waar sit die polisiestasie? Hoe ver is die naaste hospitaal, apteek, veearts, inkopiesentrum, OTM en vulstasie? Hierdie is antwoorde wat jy tydens ’n oomblik van benoudheid wil weet, so maak seker jy speel nuuskierige agie en vind uit.

Researching LekkeSlaap Region Reviews
Foto: Leroy Jooste

Deel jou reisplan met iemand betroubaar

Ek weet die plan is om van die aardbol af te verdwyn, maar dit sal wys wees om jou reisplanne met ’n betroubare vriend of familielid te deel. Maak seker hierdie persoon ken jou skedule, bestemming(s) en veral die datum waarop jy terugkeer. Kies iemand wat fluks, paraat en proaktief is en nie sal skroom om plaaslike owerhede in kennis te stel sodra dit lyk of iets nie pluis is nie. Probeer ook, indien moontlik, tydens jou vakansie met hom of haar kontak maak.

Pas in by die plaaslike inwoners

Wanneer jy met vakansie is, is dit altyd beter om ’n verkleurmannetjie te wees en soos die plaaslike inwoners te lyk en op te tree, as om onnodig aandag na jouself te trek. Vakansiegangers is geneig om meer kwesbaar vir rooftogte of diefstal te wees, omdat hulle uit plek uit lyk wat boewe die idee gee dat hulle ’n sagte teiken is en maklik gedisoriënteer kan word. So, probeer om deel van die skare te raak. Trek soos die plaaslike inwoners jou normale klere en bykomstighede aan, moenie skielik in die middel van besige strate stop om foto’s te neem nie en, selfs wanneer jy verdwaal, probeer om dit nie so duidelik te laat lyk nie. As jy vir aanwysings moet vra of Google/Apple Maps op jou foon raadpleeg, stap by ’n winkel of kafee in en doen dit buite sig van die mense op straat.

Wees waaksaam en wakker wanneer jy foto’s neem

Soos die Engelse gesegde lui: “A picture is worth a thousand words”, maar wat is ’n foto as jou lewe in die slag bly? In die era van Facebook, Instagram en nou óók TikTok voel dit dikwels asof vakansiegangers besig is met al hoe meer riskante aktiwiteite, nét om ’n “treffende” foto vir sosiale media te kry. Jou lewe is meer as ’n paar duimpies of volgelinge werd. Vermy hoërisiko-aktiwiteite. Gee aandag aan die opgeplakte aanwysings en waarskuwings waar jy ook al gaan. Hou ’n veilige afstand van wild, al maak hulle ’n mooi foto, want diere kan gevaarlik wees.

Moet ook nie tydens jou reis by verlate plekke vir ’n vinnige foto stilhou nie. Gebruik jou gesonde oordeel en hou jou omgewing dop, veral as jy ’n foto of video neem, want dit maak jou kwesbaar. Indien jy ook jou privaatheid wil beskerm, waak daarteen om jou skedule op sosiale media te deel. Niemand hoef te weet waar jy vir middagete gaan eet of by watter gastehuis jou oornagverblyf bespreek is nie. Indien jy wil, kan jy altyd die foto’s lank nadat jy daar weg is deel.

Man in front of Waterfall Safe Travel
Foto: Unsplash

Versteek noodkontant

Ek weet wat jy dink: Wie loop in 2022 nog met kontant rond? Kontant mag dalk in die grootste dele van die land ’n skaarste wees, maar dit is belangrik om te onthou dat nie alle klein dorpies werkende OTM’s in veilige areas het nie. Daar is sekere dorpe, soos Nieu-Bethesda in die Oos-Kaap, wat basies net met kontant werk. Daarom is dit raadsaam om kontant op ’n veilige plek te versteek sou dit nodig wees. Dit sal veral ook nuttig wees in die geval waar jy jou bankkaarte verloor of van jou besittings gesteel word.

Die reisskrywer Elina Mattila noem dat sy een keer haar geld in die versteekte sakke in haar jeans vasgewerk het. Op ’n ander geleentheid het Mattila haar geld tussen twee foto’s wat saam in ’n fotoboek gelamineer is, weggesteek. Jy ken jou bagasie en kleredrag die beste, so raak ’n bietjie kreatief. Dit is ook belangrik om jou kontant en beursie slegs uit te haal op plekke waar jy veilig voel en nie op straat as iemand iets aan jou probeer verkoop of ’n aalmoes vra nie.

Moenie jou gesondheid afskeep nie

Net soos wat jy jou veiligheid prioritiseer, moet jy ook na jou gesondheid en dié van jou reismaats kyk. Wat is die doel van ’n vakansie as jy siek is? Deur nuwe plekke te besoek, stel jy jou liggaam en immuniteitstelsel aan nuwe gevare bloot.

Wees veral versigtig met die kraanwater wat in die buurt beskikbaar is. Koop gebottelde water en moenie in besmette water swem nie. Doen by die bestuurder of eienaar van die gasteverblyf waar jy woon navraag oor gehalte-eetplekke in daai spesifieke area. Maak ook seker om goedgekeurde medikasie vir die mees algemene gesondheidskwessies soos naarheid, hoofpyn en die begin van ’n verkoue saam te neem. As jy iemand is wat maklik hooikoors het of sooibrand kry, vat die nodige medikasie saam, en moenie die krag van praktiese items soos sonbrandroom en ’n hoed onderskat nie – dit spaar jou dalk sonsteek en velskade.

Indien jou toestand verswak, wend ’n ernstige poging aan om by ’n dokter uit te kom. Onthou om ’n sanitasiemiddel vir jou hande saam te neem en maak seker dat jou kinders dit ook gebruik, veral as hulle begin rondspeel, omdat hulle maklik die groep kan aansteek. Dit is ook raadsaam om ’n noodhulptassie byderhand te hê. Beserings kan enige tyd gebeur, ongeag hoe versigtig jy is. Volgens die reisblogger Matthew Karsten hoef jy nie met naalde of skalpels te reis nie, maar toerusting vir brandwonde, snye en verstuitings behoort jou in ’n oomblik van paniek te red.


Dit sal ongetwyfeld ’n onbegonne taak wees om vir elke onvoorspelbaarheid voor te berei. Terselfdertyd sal dit ’n slegte idee wees om die alledaagse werklikheid te ignoreer. Daarom het LekkeSlaap dit goedgedink om hierdie veiligheidswenke vir vakansiegangers saam te stel. Neem hierdie lys as ’n vertrekpunt tesame met jou eie verwysingsraamwerk om jou vakansie so veilig moontlik aan te durf. Jy sal jou vakansie waarskynlik meer geniet as jy voorsorgmaatreëls getref het. Dit mag aanvanklik soos ’n kopkrap-hindernis voorkom, maar dit kan net voordelig wees om die gewoonte van paraatheid te kweek. Onthou, dit is altyd beter om proaktief as reaktief te wees.

Hooffoto: Makumu Private Game Lodge op LekkeSlaap.co.za