Vergeet van die kopseer en frustrasie om jou eie tent op te slaan wanneer jy met vakansie wil gaan. LekkeSlaap het ’n paar gunsteling-glanskampplekke in Limpopo uitgekies vir jou volgende vakansie! Vergemaklik jou wegbreek en vier fees by hierdie bestemmings.

AfriCamps Magoebaskloof

Haenertsburg

By AfriCamps Magoebaskloof kan julle in die plaasdamme baljaar of kano vaar. Hierdie glanskamp-ervaring bied tien tente wat elk slaapplek vir vyf gaste het. Elke selfsorgtent het twee slaapkamers, lugversorging, ’n kaggel en lei na ’n onderdakstoep met braaigeriewe en ’n houtvuurwarmbad. Daar is selfs ’n restaurant en trouvenue op die perseel.

Bushveld Bivouac Lillie

Mica

Bushveld Bivouac Lillie bied ’n luukse selfsorg-ervaring in die Bosveld. Hierdie onvergeetlike verblyf skuil op ’n plaas met kleinwild en is boonop onafhanklik van die plaaslike kragnetwerk. Daar is slaapplek vir twee gaste in die privaat tent en julle kan in die plonspoel afkoel of ’n lekker tjoppie braai. 

Zwartkloof Adventures Tented Camp

Bela-Bela

Hierdie selfsorg-tentekamp bied slaapplek aan vier gaste in die Zwartkloof Privaat Wildreservaat. Daar is twee permatente – die een het twee slaapareas en die ander tent bevat die kombuis. Die hoogtepunt van hierdie verblyf is die wildrit wat by die tarief ingesluit is. Boonop word vuurmaakhout vir die boma-braai voorsien en ’n daaglikse skoonmaakdiens word aangebied. Daar is ook ’n gemeenskaplike swembad ongeveer een kilometer vanaf die verblyf wat julle kan benut.

Leopard Ranch

Vaalwater

Leopard Ranch is die perfekte plek om tyd as ’n gesin in die natuurskoon te geniet. Hiér is vier luukse selfsorgtente wat elk slaapplek aan twee gaste bied. Elke tent het lugversorging en ’n privaat dek en boma waar julle ’n vleisie oor die kole kan gooi. Die lodge spog ook met ’n verhitte swembad waarin julle kan baljaar.

AfriCamps Waterberg

Vaalwater

Hierdie unieke boetiek-glanskamp beloof onvergeetlike herinneringe vir die hele gesin. Elk van die tien selfsorgtente in dié ongerepte wildernisarea bied slaapplek aan vyf gaste. Die tente beskik elk oor twee slaapkamers en lei na ’n onderdakstoep waar julle in die houtvuurwarmbad kan ontspan en lekker kan braai. Julle kan wildritte geniet, die sterre bewonder, perdry en voetslaan. 

Wilderness Tented Camp

Musina

Kom ervaar die Afrika-bosveld by hierdie vierster-tentekamp wat met ’n uitsig oor die mopaniebosveld spog. Die ruim Serengeti-tente is ver genoeg van mekaar af om privaatheid te verseker en ontbyt is by die tarief ingesluit. Elke tent het slaapplek vir twee gaste en ’n dek waar julle daagliks die sonsopkoms en sonsondergang kan bewonder. Die lodge bied ’n restaurant, kroeg en ’n swembad.

***

Daar het julle dit nou – geniet ’n luilekker vakansie in Limpopo. Kamp in styl sonder al die fieterjasies en pakkasie en ervaar die Bosveld se betowering.

Hooffoto: Bushveld Bivouac Lillie

Lees ook:

Luukse lodges in Limpopo

Kom bly hiér naby die Krugerwildtuin!