Daar is minder as ses maande oor voor die feesseisoen aanbreek en ná ’n lang jaar by die werk en skool, verdien elke kind en kraai ’n kaalvoet en stresvrye wegbreek. 

Vakansies hoef jou egter nie platsak te laat nie, daarom het LekkeSlaap ’n paar spaarwenke saamgestel om jou volgende vakansie so rustig en kommerloos moontlik te maak.


Raak vertroud met ons webtuiste

LekkeSlaap.co.za bied ’n verskeidenheid verblyfopsies aan elke smaak en sak. Daar is sakpas-selfsorgverblyf, kampplekke, B&B-verblyf, oorde, lodges en ander luukse plekke waarvan jy kan kies en keur. Probeer reeds vroeg jou bespreking maak om te verhoed dat jy op ’n goeie geleentheid uitmis. 

Besoek ook ons tuisblad om ’n LekkeSlaap Rewards-lid te word, sodat jy lekke voordele kan geniet. Hier kan jy tot 15% afslag by meer as 2000 plekke ontvang en gratis geskenkbewyse loslaan. Hou ook ons weeklikse blogs en nuusbriewe dop om die beste winskopies en verblyfopsies te sien.


Begroot vir jou vakansie

Nadat jy jou ideale plekkie identifiseer het, sal dit raadsaam wees om ’n begroting saam te stel. Bereken jou reiskostes, hoeveel jy sal benodig vir kos en drinkgoed, asook vir uitstappies, restaurante en ander eetplekke en besienswaardighede in dié area. Probeer ook die plekke wat jy wil besoek se tariewe, soos die toergidse en spyskaarte, op hul webwerf opspoor, sodat jy weet wat dit jou gaan kos.

Alhoewel dit slim is om winskopies na te jaag, kan pryse vinnig verander. Probeer dus ’n ekstra bedrag byderhand hê om die ekonomie se slag te verlig. Dit sal jou ook help om voorbereid te wees vir ’n onverwagse mediese probleem en as jy vinnig iets by die naaste apteek moet optel.


Raak ontslae van onnodige uitgawes

’n Vinnige manier om geld te genereer is om van jou ongewenste besittings ontslae te raak. Dink aan ’n tradisionele “garage sale”. As daar ’n item is wat al vir jare in jou kas of solder stof vergader, is dit nou die tyd om afskeid te neem. Versprei die woord in jou buurt en laat mense jou uit hierdie troebel-oerwoud red. Wie weet, dalk hou dit nog terapeutiese waarde ook in. Dink ook aan die speelgoed, musiekinstrumente en sporttoerusting wat jou kinders ontgroei het.

Jy hoef ook nie ’n lid van elke besigheid te wees nie, so raak ontslae van die ongebruikte intekeningsdienste, kredietkaarte, lidmaatskappe, apps of stroomdienste wat jou rekening elke maand ’n knou gee. Items soos ou skootrekenaars, horlosies, DVD’s, verouderde speelkonsoles en selfs beskadigde TV’s en selfone kan verkoop word. As jy items het wat ’n soortgelyke funksie verrig, raak ontslae van een. Kyk uit vir uitverkope en winskopies en gebruik wat in jou spens is om op kruideniersware te bespaar. 


’n Ekstra uurtjie vir jou vakansie se plesiertjie

Aangesien die doel is om ’n ekstra paar rand binne ’n kort periode bymekaar te maak, kan jy dit oorweeg om ’n deeltydse werkie aan te pak. Dit kan jou help sonder om jou roetine heeltemal te ontwrig. Dalk kan jy by die bure au pair, hul honde vir ’n stap om die blok neem of koekies en ander lekkernye in jou buurt verkoop.

Die verskynsel van tegnologie het ook die wêreld soveel meer kleiner gemaak, so benut gerus sosiale media om jou dienste of produkte te bemark. Doen aanlyn-vryskutwerk, tutordienste of rekenaarprogrammering. As jy reeds ’n blogger is of fotograafdienste bied, benader borge om jou reis te ondersteun, met die ooreenstemming om inhoud te verskaf. Baie mense is ook geneig om hul eie woonplekke te verhuur wanneer hulle met vakansie is. So as jy reken dat jou blyplek versteekte potensiaal het – moet jy dit dalk op die proef stel.


Oos, wes, tuis bes (vir eers)

Gereelde aktiwiteite kan jou duur te staan kom. Nooi dus familie en vriende oor om tuis te verkeer. Volg ’n paar lekke Youtube-tutoriale om jou kookvernuf op te skerp, sodat jy aan jou eie tuisgemaakte disse (vir goedkoper) kan smul. Probeer ook in grootmaat kosmaak sodat jy voedsel kan stoor en dit net met elke maaltyd kan opwarm en opkikker.

Tuisbly beteken dan ook dat jy wegneemetes, via toepassings soos UberEats moet afskaal – deaktiveer dit sommer as jy sukkel om die versoeking te bekamp. As jy meer tuis is kan jy jou eie WiFi gebruik en nie geld op data mors nie, asook spaar op petrolkoste. Indien moontlik, probeer ook saamry-geleenthede (lift clubs) benut. Maak ook van die tarief-filter aan die linkerkant van ons webtuiste gebruik, sodat jy verblyf kan kies wat jóú sak pas. As dit steeds onaangenaam klink om tuis te bly, kan jy ’n vinnige wegbreek naby jou huis oorweeg om ’n bietjie asem te skep.


Is jy al opgewonde? Met hierdie praktiese spaarwenke kan jy jou droomvakansie ’n realiteit maak. So gaan kies sommer dadelik jou ideale plekkie op ons webwerf, sodat jy jou plan van aksie in werking kan stel.

Hooffoto en ander foto’s: Unsplash