Soos die kalenderjaar ’n nuwe blaadjie omslaan, is dit tyd om jou vakansieplanne vir 2023 vas te maak.

Óf jy jouself as ’n kind van die wind beskou, die gousblomme agter jou oor steek, die blare vir kompos benut óf die branders op ’n sonskyndag najaag, is LekkeSlaap hier om die hele jaar tot die lekke’ste te benut.

Herfs

Desert Whisper

Desert Whisper (LekkeSlaap)

By Desert Whisper breek gaste weg van die stad se roesemoes en kan hulle intiem en afgesonderd ’n lekke blaaskans geniet met die gesuis van die Namibwoestyn wat hulle omring. Dié privaat wegbreek vir twee vorm deel van die Namib Desert Lodge en bied woestyn-uitsigte waar die goue vlaktes van die Namibwoestyn tot by die sagte silhoeët van die Naukluftberge in die verte strek.

Kingfisher Cottages

Kingfisher Cottages (LekkeSlaap)

Kingfisher Cottages het ’n klipkothuis en drie eko-vriendelike kothuise op die plaas Langhoogte, net 26 km vanaf Montagu. Daar is ’n gemeenskaplike boma-area met ’n braai en sitplek, asook ’n eko-swembad weggesteek tussen die Klein-Karoobome. Terselfdertyd is hierdie verblyf ideaal vir sosiale byeenkomste, familie-reünies, werkswinkels, spanbou en joga-uitstappies. En asof dít nie genoeg vermaak is nie, kan gaste die herfskoelte in die houtvuurwarmbad oorwin.

The Station Calitzdorp

The Station Calitzdorp (LekkeSlaap)

’n Rit na The Station Calitzdorp is ’n spoor wat avontuurlustige vakansiegangers beslis moet volg. Dié gerestoureerde kaartjiekantoor bied aan vier gaste verblyf in selfsorg-eenhede en kampeerplekke. Boonop is daar ’n swembad, kroeg met ’n lisensie en besoekers het die geleentheid om wingerde en wynkelders, wandelroetes en 4×4-roetes te besoek.

Winter

Die Skooltjie

Die Skooltjie (LekkeSlaap)

Die Skooltjie is in die hartjie van die Karoo op ’n plaas naby Beaufort-Wes en bied slaapplek aan vier gaste. Dié historiese eko-toeristebestemming is die oudste en grootste dorp in die Groot-Karoo en bied ’n rits Steentydperk-besienswaardighede, rotskuns, dinosourus-fossiele en argitektoniese style. Aktiwiteite in die omgewing sluit 4×4-roetes, voetslaan, wildkyk en historiese toere in.

Villa Tall Horse

Villa Tall Horse (LekkeSlaap)

Villa Tall Horse is ’n pragtige vakansiehuis op ’n privaat wildlandgoed in Hoedspruit, Limpopo. Hier kan gaste vanaf die villa die wild vrylik sien rondloop, of hulle kan in die verhitte swembad ontspan as die winterkoue hulle onderkry. Gaste kan ook by die boma in die tuin braai of by die terras op die rivieroewer skemerkelkies geniet.

Oranje Guest Farm

Oranje Guest Farm (LekkeSlaap)

Vir diegene wat ’n winter op die plaas wil geniet, bied die Oranje Guest Farm, ’n werkende plaas tussen die pragtige berge van die Oos-Vrystaat, die perfekte milieu. Dié skilderagtige plaas is naby die Lesotho-grens en is ideaal vir trou- en konferensiegeleenthede. Hierdie eiendom is oop vir alle ouderdomme en spog ook met ’n sprankelende swembad.

Lente

Eagle View 2

Eagle View 2 (LekkeSlaap)

Eagle View 2 is ’n luukse huis wat ontwerp is om ’n minimale impak op die omgewing te hê en is nie afhanklik van die tradisionele kragnetwerk nie. Dit is op die Beumont Plaas tussen die Steenkampberge geleë en is slegs 9 km buite Dullstroom. Paartijes wat op soek is na ’n romantiese wegbreek, ’n wittebrood of ’n herdenkingsvakansie in die berge sal hierdie arendsuitsig terdeë geniet. 

Webersburg Estate

Webersburg Estate (LekkeSlaap)

Die gesegde “dit is altyd lente in Stellenbosch” word as’t ware by die Webersburg Estate in Stellenbosch weerklink. Dié Kaaps-Hollandse wynlandgoed het ’n bistro met ’n dek wat ’n uitsig oor die dam het, terwyl gaste op versoek aan heerlike disse kan smul. Dit is ook die perfekte ligging om die natuurskoon van Stellenbosch tydens die blomseisoen te bewonder.

Liefland Cottages

Liefland Cottages (LekkeSlaap)

Op die Lammerhoek-plaas naby Springbok kan gaste Namakwaland se natuurskoon by Liefland Cottages eerstehands ervaar. Hier is twee troeteldiervriendelike kothuise wat gehalteverblyf aan paartjies, familie- of vriendegroepe bied. Dit is ook die ideale plek om die blomme tydens dié seisoen te bekyk, terwyl gaste die braaigeriewe onder die skoon plaaslug kan benut. Verder het gaste toegang tot veilige onderdakparkeerplek.

Somer

SaltLife

SaltLife (LekkeSlaap)

SaltLife is ’n unieke selfsorgvilla in die hartjie van Kampsbaai in Kaapstad. Dit bied slaapplek aan nege gaste en is ongeveer 6 km vanaf die V&A Waterfront en 26,5 km vanaf Kaapstad Internasionale Lughawe geleë. Hier kan gaste pamperlang- en portierdienste geniet, en tydens die somerhitte in die Jacuzzi en swembad afkoel. Boonop is kinders ook welkom en is dié verblyf rolstoelvriendelik.

Pelican Point Lodge

Pelican Point Lodge (LekkeSlaap)

Met die ongerepte strande van die Atlantiese Oseaan aan die een kant en Walvisbaai se strandmeer aan die ander kant, behoort Pelican Point Lodge op elke vakansieganger se emmerskoplys te wees. Hier kan gaste bedags die skepe sien, snags die vuurtoring bewonder en, afhangend van die weer, etes op die dek geniet.

Watervalsrivier

Watervalsrivier (LekkeSlaap)

As jy daarvan hou om die sonsopkoms in jou vellies (of kaalvoet) op die grondpad te vang, is Watervalsrivier, ’n plaas net buite Prins Albert, net die plek om ’n rustige Karoo-somer deur te bring. Gaste kan hulself in die sprankelende swembad met ’n dek vermaak, terwyl hulle steeds via WiFi met die res van die wêreld op tred kan bly.


So noudat jy LekkeSlaap se aanbevelings vir elke seisoen onder oë gehad het, is dit tyd om daardie dagboek nader te trek. En as jy nog steeds twyfel, is ons LekkeSlaap-webtuiste altyd daar om aan jou vakansiebehoeftes te voldoen.

Hooffoto: Unsplash