Wat klink lekkerder as ’n avontuur om die Kaap se kus? LekkeSlaap.co.za het ’n Kaapse draai gaan ry en vat jou saam op ons toer deur Muizenberg, St. James, Kalkbaai, Vishoek, Simonstad, Noordhoek en al die pad tot by Kaappunt.

Muizenberg

Muizenberg is vir die kleurvolle huisies bekend wat in rooi, groen, blou en geel getooi is. Dit is ’n mekka vir branderplankryers, maar dis nie al waarvoor hierdie oulike kusdorp bekend is nie. 

Muizenberg

Wat om te doen

Muizenberg tot St. James-staproete

Net regs van die strand is die Muizenberg tot St. James-staproete. Hierdie roete kronkel al langs die see en spog met pragtige uitsigte op die omliggende berge. Dié plat roete is iets wat die hele gesin kan geniet en was eens as Kaapstad se Gouemyl bekend. Kyk veral uit vir St. James Cottage – dit is in 1853 gebou en krygsgevangenes het glo tydens die Anglo-Boereoorlog in die solder weggekruip.

Muizenberg
Die beginpunt van hierdie staproete is net regs van Muizenberg se strand.

Pak die golwe by die horings

Aandag alle avontuurlustige siele: Gryp daardie branderplank! Muizenberg is perfek vir gesoute branderplankryers, maar ook vir dié van julle wat die sport nog altyd wou baasraak. Daar is ’n rits instansies wat lesse aanbied en waar jy ’n branderplank en uitrusting kan huur. Die branders is nie rof nie en is dus perfek vir beginners. Boonop vorm Muizenberg deel van die Indiese Oseaan en die branders is daarom ook gelukkig ’n bietjie warmer. 

Blue Bird Garage Market

Die Blue Bird Garage Food & Goods Market het ’n lekker lewendige en ontspannende atmosfeer. Hier is ál die kos wat jy kan begeer – Asiese noedels, varsgeroosterde neute, sushi, varsgebakte koeke, tertjies en lekkernye. Jy kan ook deur stapels boeke snuffel, leerprodukte bewonder en na klere kyk. Die markie is in een van Afrika se eerste loodse vir posvliegtuie geleë en van Suid-Afrika se eerste vliegtuie is hier gehou. Hierdie opwindende markie is Donderdae en Vrydae vanaf 16:00 tot 22:00 oop. 

Muizenberg

Waar om te eet

Milk Beach Ice Cream

Milk Beach Ice Cream is enige kind se droom: ’n kombinasie van kleurvolle roomys en spookasem. Roomysgeure soos heuningkoek, kougom, gesoute karamelspringmielies en fudge laat ’n mens behóórlik kwyl. Ons stel die kougom en gesoute karamelroomys met pienk spookasem voor. Daar is selfs smullekker melkskommels en wafels om van te kies. Hierdie bekoorlike winkel is net ’n katspoegie vanaf die strand. 

Muizenberg
Milk Beach Ice Cream se kougom en gesoute karamelroomys met pienk spookasem is soos iets uit Willy Wonka se sjokoladefabriek.

Dimples Dumplings House

Dié oulike restaurant is in die hartjie van Muizenberg en bedien heerlike en geurige Asiese disse. Vir voorgereg het ons die “spicy chicken & teriyaki dumplings” en die “sticky BBQ shredded pork bao buns” verslind. Ons het die “General Tso’s chicken” en die roerbraai-noedels vir hoofgereg bestel en dit was heerlik. Hulle leuse is “A smile in every bite” en ons ervaring was beslis só. Dimples se “dumplings” word met die hand voorberei en hulle gebruik vars bestanddele om heerlike geure op te tower. 

Muizenberg
“Dumplings” is klein stukkies deeg met ’n vulsel van vleis of groente. Dit word gestoom of diepgebraai.
Muizenberg

Kalkbaai

Daar is iets betowerend aan Kalkbaai. Dit voel of  ’n mens jouself in Europa bevind, maar steeds Suid-Afrika se warmte ervaar. Kalkbaai het versteekte juwele om elke hoek en draai – boheemse winkels, juwelierswinkels, ’n antiekwinkel met outydse lekkers, boekwinkels en ook heerlike eetplekke. Dan is daar natuurlik die prentjiemooi hawe met kleurvolle bote waar jy robbe kan sien uitspan en vissersmanne aan die werk kan dophou.

Kalk Bay

Tussen Muizenberg en Kalkbaai skuil die oulike dorpie St. James. Hier kan jy nóg van die ikoniese kleurvolle huisies teëkom én twee idilliese getypoele. St. James- en die Dalebrook-getypoel is die perfekte plek om af te koel en die golwe dop te hou.

St James

Net ’n hanetreetjie van die Dalebrook-getypoel is Chardonnay Deli waar jy ’n lekker sny koek en ’n koppie koffie kan geniet. 

St James

Wat om te doen

Kalkbaai Village Market

Hierdie oulike markie is elke Saterdag en Sondag in volle gang. Hier kan jy alles van retro-klere, juwele en jaffels tot eksotiese sampioene gewaar. Die markie is elke Saterdag vanaf 10:00 tot 17:00 en Sondae 11:00 tot 17:00 in rep en roer.

Kalk Bay

Stap Kalkbaai se strate plat

Met Kalkbaai se eindelose winkels is daar werklik iets vir almal. Snuffel tussen Kalk Bay Books se hordes boeke, verkyk jou aan antieke items by Kalk Bay Trading Post en kry al die lekkers wat jou hart begeer by The Sweet Ol’ Jester. Jy kan selfs juweliersware leer maak tydens een van Soul Design se werkswinkels.  

Kalk Bay

Waar om te eet

SALT

SALT se atmosfeer is lekker ontspanne en ’n mens het ’n uitsig oor die hawe oorkant die pad. Die  kos is uit die boonste rakke – elke happie is hemels. Ons het ’n paar bordjies bestel sodat ons iets van alles kon proe: Wasabi-kalamari met suurlemoen en chilli, botterskorsie-ravioli met saliebotter en parmesankaas, varkriboog-steak op ’n platbrood met groente en tzatziki, en die hoender bao-bun. Selfs die groente se geure het ons laat vra na meer. 

Kalk Bay
Ons het behoorlik aan die botterskorsie-ravioli met saliebotter en parmesankaas, varkriboog-steak op ’n platbrood met groente en tzatziki, die hoender bao-bun en die wasabi-kalamari met suurlemoen en chilli gesmul.
Kalk Bay
Die botterskorsie-ravioli met saliebotter en parmesankaas (links) en die hoender bao-bun (regs) was ongelooflik geurig.

Natuurlik kan ’n mens nie nee vir nagereg sê nie, ons móés die Lindt-sjokoladefondant met vanieljeroomys en geroosterde pistasieneute probeer. Dit was ’n geurige sjokoladedroom! 

Kalk Bay

The Ice Cafe

Daar is altyd voete in hierdie rustieke roomyswinkel in Kalkbaai se hoofstraat, selfs in die winter. Hulle is bekend vir hul topgehalte en bekostigbare roomys, asook hul vriendelike diens. Kies tussen interessante geure soos kaneel, gemmer en drop. 

Kalk Bay

Vishoek

Vishoek is ’n rustige dorp tussen Kalkbaai en Simonstad wat dikwels in die skadu van sy buurdorpe van vergeet word, maar hierdie dorp, wat deur turkoois water en die pragtige berge omring word, staan nie terug as dit by die verskeie doendinge en liplekker-eetplekke kom nie.

Fish Hoek

Wat om te doen

Bring ’n dag by die strand deur

Koel in die see af en stap al langs die strand. Hierdie baai is ook ’n gewilde bestemming vir kajakvaart en lyfplankry. Jy sal ook soggens vroeg talle mense in die rustige waters sien swem. 

Geniet ’n treinrit

Die Southern Line-treinroete loop al langs die kus teenaan die see en stop, onder meer, in Muizenberg, St. James, Kalkbaai, Vishoek en Simonstad. Dit is die ideale manier om die dorpies se skoonheid te bewonder en bied sommer ook ’n opwindende en outentieke ervaring.

Waar om te eet

Gawjus

Gawjus doen beslis sy naam gestand en is werklik “gorgeous”. Dit is ’n oulike koffiewinkel met kleurvolle dekor in die middedorp. Sodra jy hiér instap, word jy met glimlagte begroet.

Kies tussen varsgebakte croissants, brownies en heerlike suurdeegtoebroodjies. Hulle rooi cappuchino en kaas-en-tamatie-suurdeeg-toebroodjie is heerlik. 

Fish Hoek

Fish Hoek Fisheries

Wie kan ooit nee sê vir ’n vis en tjippie toegedraai in papier? Fish Hoek Fisheries se seekos is vars, geurig en bekostigbaar. Kry jou gunsteling-opsie en gaan eet dit in die gemak van jou eie huis of maak dit romanties en geniet dit tydens die sonsondergang met ’n skemerkelkie. 

Fish Hoek

Waar om te bly

Muirhaven

Muirhaven het sy deure aan ons oopgemaak vir die naweek en hiér voel dit of jy werklik tussen die wolke bly. Hierdie praghuis is teen die berg in Vishoek en spog met ’n panoramiese uitsig oor die hele dorp. Die huis is modern met smaakvolle meubels, interessante kunswerke en pragtige plante. Daar is drie ruim slaapkamers, drie badkamers, ’n lieflike sonkamer, agterstoep en ’n balkon. Die hoofslaapkamer lei na die balkon met ’n asemrowende uitsig oor Vishoek se strand en op die omliggende berge.

Fish Hoek

Daar is selfs ’n hysbak wat mense of bagasie kan vervoer. By Muirhaven kan jy werklik ontspan en afskakel. Elke oggend word jy met die voëls se getjirp en die branders wat breek, wakker. Kom geniet ook die skilderagtige sonsopkomste en sonsondergange vanaf die balkon.

Fish Hoek
Fish Hoek

Simonstad

Simonstad is een van Suid-Afrika se oudste dorpe en is ook die Suid-Afrikaanse weermag se grootste vlootbasis. Tydens ’n besoek aan hierdie bekoorlike dorpie kan ’n mens jou maklik verbeel dat jy in Griekeland is. 

Simon's Town

Wat om te doen

Simonstad is propvol oulike winkels, koffiewinkels, aktiwiteite en besienswaardighede. Vaar die hawe in met ’n seefiets of ’n SUP of gaan speel ’n rondte putt-putt. Verken Simonsberg se skoonheid te voet en durf een van die pragtige staproetes aan. 

Boulders-strand

Hierdie pikkewynkolonie is ’n gewilde bestemming vir toeriste. In 1982 was daar slegs twee broeipare, maar tans is daar ongeveer 2 200 pikkewyne! Jy kan tydens jou besoek die pikkewyne op ’n afstand bewonder en ook by Boulders-strand in die water baljaar. As jy op soek is na iets rustiger, is daar ’n paar prentjiemooi strandjies soos Foxy-strand, Water’s Edge en Windmill-strand wat naby Boulders wegkruip.

Simon's Town

Waar om te eet

Blue Kiwi

Blue Kiwi is ’n kleurvolle restaurant in die Harbour Bay-winkelsentrum wat alles van heerlike ontbyt, smoothies en varsgebakte lekkernye tot gewone en plantgebaseerde sushi bedien. Daar is iets wat elkeen se voorkeur sal pas – vleisliefhebbers, vegetariërs en veganiste. Die disse lyk soos klein kunswerke en is byna te mooi om te eet! Ons beveel die “beef sliders”,  Franse roosterbrood en kaneelrolletjies ten sterkste aan. 

Simon's Town
Blue Kiwi se “beef sliders”,  Franse roosterbrood en kaneelrolletjies was uit die boonste rakke.

Al die brood, koeke, terte en lekkernye word in die winkel gemaak en hulle gebruik slegs natuurlike produkte. Blue Kiwi het ook ’n deli in dieselfde winkelsentrum wat vars brood, vrugte, groente en gesondheidsprodukte verkoop. 

Simon's Town
Ons het elke happie van die “beef sliders” (links) en die kaneelrolletjies (regs) geniet.

Noordhoek

Noordhoek is ’n rustige en semi-ongerepte dorp aan die voet van Chapmanspiek. Dié dorp is vir sy pragtige, eindelose wit strande bekend.

Noordhoek

Wat om te doen

Noordhoek Farm Village

Elke Woensdag is The Farm Village Market by Noordhoek Farm Village aan die gang en ingang is gratis. Die hele gesin is welkom en daar is iets vir almal om te doen (en te eet). Daar is ook ’n rits permanente winkels en restaurante soos die bekende Kristen’s Kick-Ass Ice Cream en Café Roux wat regdeur die week oop is. 

Langstrand, Noordhoek

Langstrand is dramaties en ongerep. Dit is perfek vir ’n lang stappie aangesien die strand agt kilometer lank is. Bring die hele gesin en sommer jou viervoetkinders ook. Jy kan ook gereeld mense op perde hier gewaar en as jy avontuurlustig is, probeer dit sommer ook! 

Waar om te eet

Aegir Project Brewery

Aegir Project Brewery is ’n plat-op-die-aarde bierbrouery stapafstand vanaf Noordhoek se strand. Hierdie gesinsvriendelike brouery en restaurant het ’n ontspanne atmosfeer waar gaste lekker kan kuier en die kinders in die speelparkie kan baljaar. 

Jy kan nie Aegir besoek en nié hulle unieke bier proe nie. Hulle brou al die bier self en tower gereeld nuwe geure op. Tydens ons besoek het ons ’n sjokolade- en koffiebier geproe wat topklas was. 

Noordhoek
Aegir se bierproe, die “sticky buffalo hot wings” en die focaccia was heerlik.

Die kos is uit die boonste rakke en ons het veral die “sticky buffalo hot wings”, die focaccia, die “New Yorker Hotdog” en tjips, en die “Spicy KFC-burger” geniet. Aegir het kragte met Kristen’s Kick-Ass Ice Cream saamgesnoer om ’n hemelse roomysbroodjie te skep. Hierdie meesterstuk behels pistasieneutroomys wat omhels word deur ’n sjokoladelaag aan weerskante. 

Noordhoek
Die “New Yorker Hotdog” en tjips, die “Spicy KFC-burger” (links) en die unieke fynbos-jenewer (regs) was topklas.

Kaappunt

Dis dalk ’n lang ent se ry na die mees suidwestelike punt van Afrika, maar pak jou piekniekmandjie en maak ’n daguitstappie daarvan. Wees gereed vir ’n steil, dog asemrowende stappie of vat ’n rit in die kabelkarretjie, die Flying Dutchman, na die vuurtoring. 

Cape Point

Jy kan ure lank in hierdie reservaat deurbing. Besoek gerus die rits strande of volg een van die talle voetslaanpaadjies. Buffelsbaai, Platboomstrand en Diaz-strand is pragtige, ongerepte strande wat ’n besoek werd is. 

Loer gerus eers na die weervoorspelling voordat jy Kaappunt besoek, want as die wind waai, dan wáái hy. Wees egter versigtig vir die bobbejane, hulle kan ’n bietjie hans raak. 

Waar om te eet

The Scone Shack

Hierdie bekoorlike en rustieke restaurant is 20 minute se ry vanaf Kaappunt. The Scone Shack is enig in sy soort en het ’n ietwat magiese flair, veral op ’n mistige en grys wintersdag. Hiér word jy deur die natuur omhels – die tafels is reg rondom die houthuisie gerangskik en daar is plante, diere en ’n dam om jou.

Cape Point

The Scone Shack is natuurlik bekend vir hul skons wat elke dag vars op die perseel gebak word. Selfs die konfyt word vars gemaak en elke dag is daar ’n ander geur soos appel en kaneel. Die warm skons word met konfyt, room en plaasbotter bedien en ’n mens wens daar was nog. Hoenders loop die wêreld vol en daar is selfs ’n paar varke en miniatuur-bokkies. 

Cape Point

Of jy nou jou volgende wegbreek ’n adrenalien-avontuur of ’n rustige ontvlugting wil maak, is die Kaapse kus ideaal vir albei! Begin vandag beplan aan jou volgende kus-avontuur en kies een van ons rits heerlike verblyfopsies wat elke sak sal pas. 

Hooffoto: Bay Views (LekkeSlaap)

Foto’s: Dominique Fuchs


Lees ook:

’n A tot Z-fotogids tot die Suidelike Skiereiland

Muizenberg: Strate en Strande vol Stories

Kom kry Vis-en-Tjips aan die Kaap se Kus