Moenie verveeld wees wanneer julle hierdie vakansie die langpad aandurf nie! LekkeSlaap het ’n tawwe vasvra opgestel waarmee jy jou gesin se algemene kennis oor ons mooie land kan toets. So speel lekker saam, en leer iets op die koop toe!


  1. Waar in die land kan jy die silhoeët van Die Slapende Skoonheid (oftewel Sleeping Beauty) in die berge sien?
    1. Witzenberg (Tulbagh)
    2. Cederberg (Citrusdal)
    3. Drakensberg (Himeville)
    4. Langeberg (Riversdal)
  1. Hoe groot is die Gariepdam?
    1. 178 km²
    2. 374 km²
    3. 118 km²
    4. 245 km²
  1. By watter van die volgende damme sal jy die grootste getal kleinflaminke in Suid-Afrika aantref?
    1. Vanderkloofdam
    2. Katsedam
    3. Theewaterskloofdam
    4. Kamfersdam

  2. Watter dier is Suid-Afrika se mees bedreigde dierspesie?
    1. Oewerkonyn (Bunolagus monticularis)
    2. Swartrenoster (Diceros bicornis)
    3. Wildehond (Lycaon pictus)
    4. Ietermagog (Manis temminckii)
Die wildehond is krities bedreig, maar is dit Suid-Afrika se mees bedreigde dierspesie? | Foto: Royal Madikwe Luxury Safari Lodge
  1. Wat beteken die “Gamka”-deel van die pleknaam Leeu-Gamka?
    1. Leeu
    2. Hare
    3. Laagte
    4. Wyfie
  1. Watter van die volgende Suid-Afrikaanse dorpe het laaste Eskom-krag gekry?
    1. Koffiebaai
    2. Nieu-Bethesda
    3. Pofadder
    4. Modjadjiskloof

  2. Watter natuurreservaat in Suid-Afrika bevat sand wat ’n brulgeluid maak?
    1. Witsand Natuurreservaat
    2. Kgalagadi Oorgrenspark
    3. Ai-|Ais/Richtersveld Oorgrenspark
    4. Oorlogskloof Natuurreservaat

  3. Watter dorp in Suid-Afrika se straatligte is heel eerste geëlektrifiseer?
    1. Johannesburg
    2. Kimberley
    3. Pretoria
    4. Kaapstad
  1. Wat is die langste brug in Suid-Afrika?
    1. Bloukransbrug, Nature’s Valley
    2. D.H. Steyn-brug, Bethulie
    3. Mtentu-brug, Lundini
    4. Nelson Mandela-brug, Johannesburg
Die D.H. Steyn-brug buite Bethulie is ’n indrukwekkende treinbrug, maar is dit die langste brug in Suid-Afrika? | Foto: Rus n Bietjie Gastehuis
  1. Watter bok se vleis sal bederf as jy toelaat dat die bok se hare aan die vleis raak?
    1. Waterbok
    2. Springbok
    3. Koedoe
    4. Blesbok

  2. Watter van die volgende nedersettings is die middelpunt van Suid-Afrika?
    1. Petrusburg
    2. Trompsburg
    3. Colesberg
    4. Emmaus
  1. Wat beteken die woord “Kgalagadi”?
    1. Land van rooi sand
    2. Dorsland
    3. Brul van die leeu
    4. Plek van sterre
  1. Waar is die Sandveldstreek?
    1. Noord-Kaap
    2. Weskus
    3. Tankwa-Karoo
    4. Groot-Karoo
  1. Waar is die Kaalvoetvrou Monument?
    1. Bloemfontein
    2. Retiefpas in die Drakensberg
    3. Petrus Steyn
    4. Camdeboo Nasionale Park

  2. Wat is die giftigste slang in Suid-Afrika?
    1. Swartmamba 
    2. Groenslang (boomslang)
    3. Koperkapel (Kaapse kobra)
    4. Spoegkobra (rinkhals)

  3. Wat is die hoogste waterval in Suid-Afrika?
    1. Lisbonwaterval
    2. Tugelawaterval
    3. Augrabieswaterval
    4. Magwawaterval
  1. Wat is die oudste natuurreservaat in Suid-Afrika?
    1. Krugerwildtuin
    2. Addo-olifantpark
    3. Camdeboo Nasionale Park
    4. Hluhluwe–Imfolozi Park
  1. Suid-Afrika is die tuiste van die oudste grotte in die wêreld. Watter grotte is dit?
    1. Sudwalagrotte
    2. Kangogrotte
    3. Sterkfonteingrotte
    4. Wondergrotte
Die Kangogrotte buite Oudtshoorn is wêreldbekende grotte met indrukwekkende stalagmiete en stalagtiete wat jaarliks duisende besoekers lok, maar is dit ook die oudste grotte ter wêreld? | Foto: Bigstock
  1. Watter dorp se NG-kerk het ’n springbok as ’n weerhaan?
    1. Aberdeen
    2. Steytlerville
    3. Rietbron
    4. Springbok

  2. In watter provinsie in Suid-Afrika word die meeste platinum gemyn?
    1. Noordwes
    2. Mpumalanga
    3. Limpopo
    4. Gauteng

BONUS-VRAAG

  1. Voltooi die sin: Suid-Afrika is die tuiste van die wêreld se grootste …
    1. posbus
    2. mensgemaakte pynappel
    3. stoel
    4. skoen

Antwoorde

1

Sleeping Beauty is ’n bekende piek in die Langeberg agter Riversdal en vertoon as die profiel van ’n pragtige, slapende vrou met lang wimpers. Daar is tot ’n Sleeping Beauty-staproete tot bo-op die piek se kruin as jy van die Garciaspas se kant af stap.

2

Die Gariepdam is Suid-Afrika se grootste reservoir met ’n stoorkapasiteit van 5,34 miljoen megaliter en is 374 km² groot.

3

Die Kamfersdam buite Kimberley is een van slegs vier broeikolonies in Afrika en die enigste broeikolonie vir kleinflaminke in Suid-Afrika. Sowat 60 000 kleinflaminke kan hier gewaar word, al is hulle populasie vinnig aan die afneem. 

Die kleinflamink is die kleinste spesie in die flaminkfamilie en kom in Sub-Sahara Afrika voor. Hy is minder pienk as die grootflamink met meer swart op sy snawel. | Foto: Bigstock

4

Daar word bereken dat daar tans net sowat 250 oewerkonyn-broeipare in Suid-Afrika oor is. Dié pragtige konyn, met kenmerkende kringe om sy oë, het net sowat twee baba-konyne per jaar. Oewerkonyne, ook bekend as die doekvoetjies, is uiters bedreig weens hulle lae aanwassyfer en die geweldige druk op hulle habitat weens menslike uitbreiding en landbou. 

5

Gamka beteken ‘leeu’ in ǀXam, dus beteken Leeu-Gamka eintlik Leeu-Leeu.

6

Nieu-Bethesda, ’n dorpie in die Oos-Kaap-Karoo wat vir die Uilhuis bekend is, het eers in 1991 krag gekry. Dis die laaste Suid-Afrikaanse dorp op rekord om op die nasionale kragnetwerk geskakel te word.

7

Op baie droë, warm dae maak die sand in die Witsand Natuurreservaat buite Groblershoop ’n unieke, vibrerende geluid wat deur sommige as ’n brulgeluid beskryf word.

8

Kimberley se straatlampe is in 1882 met elektriese ligte vervang. Teen dié tyd het selfs Londen nog gaslampe in die strate gebruik! Te danke aan die groot klomp diamante wat in hierdie tyd in Kimberley gemyn is, was investering van só ’n aard dat die voorstaande tegnologie eerste hier aangebring is. 

9

Hoewel dit net ’n treinbrug is en nie met ’n voertuig begaanbaar is nie, is die D.H. Steyn-brug (ook bekend as die Hennie Steyn-brug) buite Bethulie in die Xhariep-distrik Suid-Afrika se langste brug. Dit is 2993 meter lank. 

10

Ervare jagters meen dat die hare van ’n waterbok ’n onaangename, olierige reuk en smaak veroorsaak indien dit aan die bok se vleis raak. Dit is kennelik aan ’n tipe ensiem in die hare te wyte. Sou jy egter versigtig omgaan met die verwerking van ’n waterbok se vleis, wag daar lekker wildspasteie op jou. 

Die verwerking van die waterbok se vleis is nie net moeiliker as ander bokke s’n nie, maar dié bok is ook besonders slim en ’n ontwykende teiken vir jagters … al het hy van nature ’n wit teiken op sy boude. | Foto: Bigstock

11

Emmaus in die Vrystaat is net so 20 kilometer buite Petrus Steyn. Dié treinstasie en nedersetting is Suid-Afrika se mees sentrale punt. So, as jy jouself hier bevind, kan jy maar weet dat jy bitter ver van die see af is. 

12

Die Kgalagadi kry sy naam van die Kgalagadi-stam wat hier gebly het. Dié woord beteken ‘Dorsland’ of ‘Die land wat droog is’ en dit is nie moeilik om te verstaan waarom dit ’n gepaste naam is nie. 

13

Die Sandveldstreek is ’n smal kusstreek langs die Kaapse Weskus wat dorpe soos Redelinghuys, Lambertsbaai en Aurora insluit. Dit is bekend vir die verbouing van enorme aartappels wat vrylik hier in die sagte sand kan groei. Die Sandveldstreek moenie met die Sandveld Natuurreservaat op die grens tussen die Vrystaat en Noordwes verwar word nie.

14

Tydens die Groot Trek, toe Piet Retief se trekparty oor die Drakensberg getrek het, het een van die vrouens in die trekparty, Susanna Catharina Smit, gesweer dat sy eerder kaalvoet oor die Drakensberg sou loop as om onder die Britse vlag regeer te word. Vandag staan die standbeeld van ’n kaalvoetvrou wat oor die berg loop by Retiefpas ter nagedagtenis hiervan.

15

Die Swartmamba kom in die Noordwes, Limpopo, Mpumalanga en in die noorde van KwaZulu-Natal voor waar hulle in struike, gras, op die grond of in bome aangetref word. Die slang se byt spuit die slagoffer met ’n neurotoksiese stof in wat ’n persoon binne 20 minute kan laat sterf sou die byt ’n groot aar tref. 

16

Die Tugelawaterval tuimel ’n duiselingwekkende 948 meter na benede en is amptelik die wêreld se tweede hoogste waterval. ’n Tseggiese ekspedisie het egter in 2016 nuwe opmetings geneem en bevind dat die valle 983 meter hoog is, wat dit eintlik hoër as Venezuela se Angel-waterval maak. Ongelukkig is dit nog nie amptelik bevestig nie.

17

Hoewel die Hluhluwe en Umfolozi Junction Parke eers later saamgesmelt het om een park te vorm, bestaan die grense van die Hluhluwe-Imfolozi Park in KwaZulu-Natal al sedert 30 April 1895. Die park is gestig nadat William John Burchell, ’n natuurkundige, in 1812 ’n witrenoster in die gebied gewaar het. Teen dié tyd was daar algemeen aanvaar dat die witrenoster in die 19de eeu deur onvolhoubare jagpraktyke uitgewis is. Die stigting van die park het ten doel gestreef om dié dier van uitwissing te red.

Hierdie witrenosters speel lekker in die modder by die Hluhluwe-Imfolozi Park. | Foto: Wikimedia Commons

18

Die Sudwalagrotte in Mpumalanga bestaan uit pre-Kambriese dolomietklip wat sowat 2800 miljoen jaar gelede gevorm is en die grotte self het 240 miljoen jaar gelede gevorm wat dit die oudste grotte ter wêreld maak. 

19

Die Nederduits Gereformeerde Kerk in Rietbron in die Oos-Kaap is in 1953 herbou nadat die oorspronklike gebou deur ’n brand verwoes is. Met die herbouing het die kerk ’n pragtige springbokkie as ’n weerhaan bygekry. 

20

Die Limpopo-provinsie het 35 platinum-myne en die grootste suiwer platinum-afsetting ter wêreld. In 2021 is 130 metrieke ton se platinum in Suid-Afrika gemyn. Noordwes, met sy 31 platinum-myne, is kort op Limpopo se hakke.

BONUS

Die grootste mensgemaakte pynappel ter wêreld staan trots buite Bathurst. Dié area is bekend vir sy pynappelplase, dus was dit net gepas om ’n drieverdieping-pynappel uit glasvesel en staal hier op te rig. Die pynappel se grondverdieping is ’n geskenkwinkel met verskeie pynappelprodukte, die eerste verdieping het ’n toerismekantoortjie en daar is ’n uitkykdek op die boonste verdieping. Hou jou lyf Spongebob Squarepants en gaan kuier by dié enorme pynappel!

Maak gerus ’n draai by hierdie indrukwekkende pynappelmonument. | Foto: Bigstock

Het jy nog tawwe tienies wat jy vir ons sou kon vra? Vra gerus in die kommentaarblokkies hieronder, dan leer ons saam!

Hooffoto: Kimberley se Groot Gat op Bigstock.