Suid-Afrikaners is oor die algemeen lief vir braai, maar in Septembermaand brand die vlamme ekstra hoog! Erfenisdag word al vir jare lank om lekker braaivleisvure gevier, en LekkeSlaap nooi jou om hierdie Erfenismaand saam met jou geliefdes by een van dié braaiplekke in ons ongelooflike land te kuier. 

Bushwillow Private Villa

Hoedspruit

’n Bosveldvuur het ’n spesiale tipe bekoring en Bushwillow Private Villa het ’n lekker boma waar julle om die knetterende vuur kan ontspan en na die natuurgeluide luister. Die villa word deur die bos omring en daar loop koedoes, waterbokke, impalas, vlakvarke, kameelperde en sebras vrylik rond. 

Camissa Cottages

Stellenbosch

Die Camissa Kothuis by Camissa Cottages spog met ’n vuurput met een van die mooiste uitsigte op Stellenbosch se berge en oor die wingerd! Julle kan ’n vleisie oor die kole gooi, ’n glasie wyn in die wynlande geniet en selfs in die houtvuurwarmbad agteroorsit. 

Eco Karoo Mountain Lodge

Luckhoff

Die eindelose Vrystaatvlaktes lê voor jou uitgestrek by Eco Karoo Mountain Lodge se pragtige boma. Die boma voor die chalets wat tussen die koppies skuil het oorgenoeg sitplek, so julle kan Braaidag saam met ander gaste vier. 

EersteBosch

Stellenbosch

Kom kuier ’n bietjie op ’n wynplaas by EersteBosch se plaashuis met ’n groot boma en houtvuurwarmbad. Dié huis is geskik vir sewe gaste, so jy en jou vriende of familie kan lekker gehaltetyd saam deurbring en die rustigheid van die Boland geniet. 

Elements Private Golf Estate Lodge 296

Bela-Bela

Met ’n uitsig soos hierdie oor die Bosveld, kan jy elke aand van die week braai! Dié luukse huis in die Elements Privaat Gholflandgoed se lieflike buite-area spog met ’n stoep wat na ’n boma lei en ’n dek met ’n verhitte swembad ─ ons kan nie aan ’n beter kombinasie vir ’n wegbreek dink nie. 

Blue Crane Farm

Dullstroom

Steek ’n vuur op hierdie pragplaas buite Dullstroom aan. Blue Crane Farm bied lieflike selfsorghuise en daar is twee damme waar julle kan kunsvlieghengel. Die bomas langs die damme spog met ongelooflike uitsigte en elke huisie het ook braaigeriewe op die stoep. 

The Sugar Shack

Ballito

Wat is beter as ’n braai met ’n uitsig oor die see? By The Sugar Shack se twee selfsorgeenhede kan julle lekker op die stoep wat na die see front kuier, in die swembad afkoel en in die boma braai terwyl die branders in die agtergrond breek. 

Coot Club

Stanford

Coot Club se prentjiemooi kothuise skuil langs die Kleinrivierstrandmeer in ’n besonderse omgewing. Elke kothuis het ’n braai en ’n vuurput, en ontbytmandjies, aandete en braaiborde is op versoek en teen ’n ekstra koste beskikbaar. 

Ntoma House

Hoedspruit

Dít lyk mos lekker! Ntoma House is ’n asemrowende wegbreekplek vir ses tussen die Bosveldbome. Natuurliefhebbers sal mal wees oor die landskap en julle kan om die vuurput kuier en die pragtige omgewing bewonder. Verder is daar ook ’n swembad om in af te koel en ’n tuin waarin julle kan ontspan. 

Groendraai River Cottages

Vaalwater

Die vlamme staan hoog in Vaalwater by Groendraai River Cottages. Hiér het elke kothuis ’n plaasstoep met privaat braaigeriewe met die mooiste uitsig oor die Bosveld en daar is selfs ’n houtvuurwarmbad om in te ontspan. 

Twalumba

Marlothpark

Is julle ’n groot groep wat op soek is na ’n lekker, groot wegbreekplek? Dan is Twalumba in Marlothpark net die plek vir julle! Hierdie verblyf is vir twaalf gaste geskik en bestaan uit drie aparte eenhede, ’n gemeenskaplike kombuis en eetarea, ’n lieflike boma met sitplek en ’n plonspoel voor die eenhede. 

Umkhaya

Marlothpark

Hierdie mooi huis is net 440 meter vanaf die Krugerwildtuin se heining en het ’n lekker vuurput met ’n uitsig oor die bos waar diere vrylik rondloop. Julle kan ook in die swembad afkoel, oor die pragtige omgewing uitkyk en op die stoep kuier. 

Recce Lodge PRM128

Bela-Bela

Hierdie bosveldhuis vir twaalf in die Mabalingwe Natuurreservaat is elke natuurliefhebber se droom en boonop kan julle behoorlik onthaal. Kom kuier in die groot boma met ’n vuurput of raak gesellig in die braaikamer met ’n pooltafel. Daar is ook ’n swembad om in af te koel.

Bobbejaankrans

Ladismith

Kom steek ’n braaivleisvuur in die Klein-Karoo aan. Bobbejaankrans is ’n ongekunstelde kothuis vir vier met ’n uitsig oor die eindelose vlaktes. Die braai-area en plonspoel is by mekaar en julle kan alte lekker in die stilte van die natuur braai. 

28 on Twist

Pearly Beach

By 28 on Twist is julle net 250 meter vanaf die hoofswemstrand in Pearly Beach! Die vakansiehuis spog met ’n dek vanwaar julle die pragtige see-uitsig kan geniet en ’n vuurput met sitplek voor die huis. Een sak hout word voorsien en julle kan nog bloekomhout by die eiendom koop. 

Desert Wind Private Guest and Game Farm

Montagu

Desert Wind bied ’n versteekte boma langs die kloof en nog ’n boma langs die stalle naby die verblyf. Die plaas is tussen die berge naby Montagu geleë en is ’n lieflike wegbreekplek as julle op soek is na rustige verblyf in ’n mooi omgewing. 

Chantilly Resort

Darnall

Hierdie oord skuil tussen ou bome en golwende suikerriet-heuwels en bied luukse selfsorg-chalets wat ideaal is vir ’n romantiese wegbreek. Braai sommer reg voor die chalet in die vuurput of op die stoep, en ontspan in die natuur. 

Sanjika Escapes Boshuis

George

Sanjika Escapes Boshuis is een van die mooiste wegbreekplekke vir vier aan die voet van die Outeniekwaberge. Hiér word julle deur voëlgesang, die gekabbel van die rivier en vars plaaslug omring! Die vuurput onder die bome het genoeg sitplek en daar is selfs ’n pizza-oond.

Varkenskraal Farm

De Rust

Rustigheid is aan die orde van die dag op hierdie plaas in Meiringspoort. Varkenskraal bied twee selfsorghuise ─ een met braaigeriewe op die onderdakstoep en een met ’n vuurput met ’n uitsig op die berge. Julle troeteldiere kan ook saam met julle op hierdie plaas kom kuier. 

Bergsicht Country Farm Cottages

Tulbagh

Op ’n plaas buite Tulbagh wag daar ’n spesiale wegbreekplek op julle. Bergsicht bied selfsorgkothuise wat pragtig versier is en van die eenhede het houtvuurwarmbaddens wat gestook kan word. Elke kothuis het ’n beskutte stoep met braaigeriewe en gratis hout word vir jou eerste braai voorsien.  

Gaan koop solank jou vleis en hout en bespreek vandag nog jou volgende wegbreek by een van hierdie lekker blyplekke met braaigeriewe! 

Hooffoto: Coot Club (LekkeSlaap)