Dis moeilik om verby die perfekte Instagram-foto van jou gunstelingverblyf te blaai. As jy daarvan hou om jouself in die skoonheid van jou omgewing te verloor, dan is hierdie versameling plekke perfek vir jou! Hier wys ons jou hoe ongelooflike ruimtes met gerieflikheid gekombineer word en hoe jy jou Instagram-profiel met daardie perfekte fotogeleentheid sommer nuwe lewe kan gee. 

Forest Valley Cottages

Knysna

Forest Valley Cottages

Met sy pragtige woudligging is Forest Valley Cottages die perfekte toevlugsoord vir diegene wat uit die gewoel van die alledaagse lewe wil ontsnap en ’n kiekie (of twee, of drie) wil neem. Die kothuise skuil in ’n rustige, beboste vallei waar julle behoorlik kan ontspan. Elke kothuis het moderne geriewe, insluitend ’n privaat buitebraai-area, ’n kombuis, Jacuzzi-bad, lugversorging en ’n knus kaggel. Die privaat stoep het ’n asemrowende uitsig oor die woud, en dis die perfekte plek om jou koppie koffie of ’n skemerkelkie te geniet. Julle kan die natuurskoon verken deur die voetslaanroetes te volg of die besienswaardighede, soos die Knysna-koppe en middedorp, te besoek. 


Fifty Seven Waterberg

Vaalwater

Fifty Seven Waterberg

Fifty Seven Waterberg is ’n luukse 5-ster-lodge in die hartjie van die Welgevonden Natuurreservaat wat ’n tuiste aan die Groot Vyf bied. Die elf eenhede bied ’n unieke geleentheid om die natuurskoon en wild van nader te ervaar. Sommige eenhede het kaggels, ander privaat plonspoele, en elke eenheid spog met ’n privaat dek vanwaar jy die Afrika-prag kan dophou. Pak ook jou kamera in vir die wildritte waar julle diere soos leeus, olifante, buffels en renosters kan sien, en waar ’n oorvloed voëlspesies die bosveld inkleur. 


Woud Blokhuis

Dullstroom

Woud Blokhuis

Woud Blokhuis is ’n unieke houthuis tussen die silwerberkebome in Mpumalanga se hooglande. Hoewel die houthuis elemente van die ongerepte woud-omgewing met moderne geriewe soos ’n toegeruste selfsorgkombuis en kaggel kombineer, is dit die rustigheid, stilte en talle fotogeleenthede wat hier op jou wag. Hetsy jy die perfekte oomblik van die sonsopkoms wil vasvang, of die plaaslike flora en fauna wil verken, Woud Blokhuis is ’n Instagram-waardige bestemming wat aan die bopunt van jou reislys hoort.


Earth Wind and Ocean 8

Tuinroete

Earth Wind and Ocean 8

Earth Wind and Ocean 8 is ’n pragtige selfsorghuis vir ses in Ballotsbaai in George. Die huis bied ongelooflike uitsigte so reg uit ’n fotoboek en dit is ideaal vir natuurliefhebbers wat op soek is na ’n tikkie bederf en luuksheid. Koel in die swembad af, geniet ’n koppie koffie op die dek, gaan uit om die nabygeleë restaurante en strand te besoek, en keer weer terug om die aand met ’n braai af te sluit. 


Kraal African Luxury Lodge

Potchefstroom

Kraal African Luxury Lodgev

Vind vrede by ’n luukse lodge in Noordwes se berge. Kraal African Luxury Lodge se glasmure nooi die natuur na binne en jy kan vanuit jou eenheid die uitgestrekte landskappe en horison bewonder. Ontbyt en aandete is ingesluit en word in die hooflodge bedien. Hier is ook ’n spa, sauna, verhitte swembad en ’n Jacuzzi en julle kan op ’n opwindende wildrit gaan om die omgewing te verken.  


Heaven Can Wait

Knysna

Instagram-plekke op LekkeSlaap

Soortgelyk aan Kraal African Luxury Lodge, is Heaven Can Wait ’n versteekte juweel wat sinoniem met privaatheid en rustigheid is, maar in plaas van Noordwes se berge, word hierdie selfsorghuis met Knysna se skilderagtige landskappe en die see omring. Die huis het vyf slaapkamers met slaapplek vir tien en pronk teen ’n krans op die Pezula Landgoed. Die vensters strek van die vloer tot by die plafon en as jy nie knus voor die kaggel sit en die ondervloerse verhitting geniet nie, kan jy buite op die dek in die randvloeiswembad of Jacuzzi uitspan. Met die talle toere, eetplekke en staproetes in die omgewing, sal jou foon propvol Instragram-foto’s wees waarmee jy kan spog!


4 Cyphia Close Cabins

Houtbaai

4 Cyphia Close Cabins

Kan jy glo hierdie pragtige verblyf is net drie kilometer vanaf Houtbaai se gewilde strand, hawe, winkels en restaurante? Hierdie drie unieke houthutte is in ’n ontwerperstuin tussen fynbos geleë en bied omgewingsvriendelike verblyf. Die perseel spog met ’n natuurlike rots-eko-rotsswembad, buitelug-areas en ’n vuurput met eindelose uitsigte op die berge en oor die see vanuit verskeie hoeke. Boonop is die omgewing propvol voëllewe en plaaslike wild. Elke eenheid is noukeurig ontwerp en bestaan uit ondermeer herwonne dennehout en unieke buitelugruimtes wat die natuur in hierdie Kaapse area beklemtoon. 


Desert Whisper

Hardap

Instagram-plekke op LekkeSlaap

Shhh, hoor jy dit? Dis die gefluister van Namibië se sandduine wat na jou roep. Desert Whisper is ’n unieke, kontemporêre woestynwegbreek in die middel van die Namibwoestyn en word deur die natuur se natuurlike vorms, materiale en kleure geïnspireer. Die eenheid se styl smelt met die goue vlaktes van die woestyn saam en daar is ’n houtpaadjie wat na ’n privaat plonspoel met ’n asemrowende uitsig oor die horison lei. Hoewel ’n mens algehele privaatheid by hierdie oase geniet, het gaste te alle tye radio-kontak met die gasheer indien daar navrae is. 


Gondwana Game Reserve

Tuinroete

Gondwana Game Reserve

Met eenhede só naby die watergat, is die kans goed dat Suid-Afrika se groot sagmoedige reuse ’n draai op jou stoep sal kom maak! Die Gondwana Game Reserve spog met ’n verskeidenheid lodges, suites en glanskamptente wat jou volgende wegbreek ’n onvergeetlike Tuinroete-ervaring sal maak. Eko-tentkampe en die Pioneer Trails-kamp is veral gewilde keuses onder natuurliefhebbers, juis omdat jou kameralens al skeiding tussen jou en die natuur sal wees. Al drie maaltye word by elke eenheid ingesluit en gaste kan hul dae by die swembad, op die hangmatte, by die boma of op ’n wildrit in die bosveld deurbring. 


Cliff House

Knysna 

Cliff House

Kaptein, span die seile, want daar waar die son opkom, daar oor die horison wag ’n selfsorg-villa op die randjie van die Knysna-koppe op jou. Cliff House laat jou nie net voel of jy iewers op ’n eiland ontspan nie, maar bied ook ’n sitplek in die voorste ry wanneer die walvisse en dolfyne tydens die kalfseisoen ’n draai kom maak. Jy kan ook die kranspaadjie volg om die panoramiese landskappe te bewonder. Hier kan agt vriende ’n wegbreek geniet en om die vuurput, in die swembad of Jacuzzi, of voor die kaggel ontspan.


Melozhori Treehouse

Bonnievale

Instagram-plekke op LekkeSlaap

Daar is net iets besonders omtrent ’n afgeleë wegbreek in die natuurskoon met berge en klowe wat jou omring. Dít is presies wat hierdie romantiese eenheid op ’n privaat wildreservaat net buite Bonnievale bied. Die eenheid spog met ’n stoep wat ’n warmbad en ’n uitsig oor die skilderagtige vallei het. ’n Pizza-oond sorg vir smullekker maaltye en verder kan jy voor die kaggel of op die stoep by die ingeboude braai kuier. As die landskap van die natuurreservaat jou roep, kan jy in die reservaat gaan stap en die natuurskoon verken.


Voel jy ook sommer nou geïnspireer om jouself met ’n prentjiemooi wegbreek te bederf? Bespreek sommer nou een van hierdie pragtige plekke wat jou van al jou sorge sal laat vergeet.

Hooffoto: Heavan Can Wait, LekkeSlaap