Franschhoek het geen bekendstelling nodig nie. Dié wyndorpie is bekend vir sy Europese sjarme en bied ’n heenkome aan diegene wat ’n bietjie van hul alledaagsheid wil ontsnap. By Franschhoek Country House & Villas doen ons dit én nog meer. Dié vyfsterboetiekhotel skuil aan die buitewyke van Franschhoek; ver genoeg van die dorp se gedruis, maar naby genoeg om die strate per fiets te verken.

Ons arriveer op ’n warm Vrydagmiddag en word vriendelik deur die algemene bestuurder ontvang. Met die eerste oogopslag is dit duidelik dat daar geen moeite met luukse geriewe en die pragtigte tuine gespaar is nie. Die hotel se kamers, suites en ander geboue word deur wandelpaadjies verbind en al langs die pad kan jy rose in volle bloei gewaar. Ons het ’n goeie naweek gekies om te kom kuier aangesien dit die jaarlikse Open Gardens-fees is, maar die bestuurder verseker ons dat dié tuine deur die jaar vrolik lyk. 

Waar jy jou skoene uitskop

Na ’n deeglike toer van die hotel se geriewe, wat twee swembaddens, ’n sitarea, en restaurant insluit, klok ons by ons kamer in. Ons is bevoorreg genoeg om in ’n lieflike villa-suite te oornag, maar Franschhoek Country House & Villas bied ook standaardkamers, tuinkothuise en luukse kamers. Al die kamers het lugversorging en privaat sitareas, en sommiges het ook privaat balkonne. Die uitsig vanuit elke kamer is egter pragtig. 

Met die eerste oogopslag is dit duidelik dat daar geen moeite met luukse geriewe en die pragtigte tuine gespaar is nie.

Ons villa-suite is elegant versier met ’n manjifieke koninggrootte-hemelbed en groot badkamer met ’n dubbelwasbakeenheid, ’n groot stort en ’n Victoriaanse bad. Met die ontwerp van dié suite is daar aan elke moontlike gerief gedink — van lugversorging tot die lekkerste, plaaslike Terbadore-koffiekapsules vir die Nespresso-masjien. 

Al die kamers het lugversorging en privaat sitareas, en sommiges het ook privaat balkonne. Die uitsig vanuit elke kamer is egter pragtig. 

Ons word met nie net een nie, maar twee privaat balkonne bederf waar ons heerlik kan uitspan en koffie drink. Van hiér kan ons ook sien hoe die gewilde Franschhoek-wyntrem jolige gaste op- en aflaai. 

Waar jy afkoel en ’n glasie klink

Ons vakansie in Franschhoek val toevallig op die eerste, behoorlike warm naweek in die Kaapse Wynlande. Die hotel se twee swembaddens, waarvan een selfs verhit is, is ’n lieflike lafenis. Hiér kan jy ontspan en ’n drankie by die vriendelike personeel bestel. Daar is ook handdoeke en koue, gebottelde water gereed vir wanneer jy uit die swembad klim. Moet egter nie gehaas voel nie — dié swembaddens is verkwikkend tot laat in die na-middag. 

Die hotel se twee swembaddens, waarvan een selfs verhit is, is ’n lieflike lafenis.

Behalwe vir ’n gerieflike sitarea in sekere van die kamers, bied die hotel ook ’n gemeenskaplike sitarea met ’n televisie, tafels, bordspeletjies, kaarte en ’n kaggel. In die wintermaande is dié area in ’n knus warmte gehul en kan jy heerlik aan ’n glasie soetwyn teug terwyl ’n Kaapse storm buite woed. 

Waar jy ’n bietjie bene kan rek

In ’n dorpie soos Franschhoek is daar om elke hoek en draai iets nuut te sien. Franschhoek Country House & Villas maak dié verkenningstog lekker opwindend en bied fietse waarmee jy die dorp kan invaar. Die fietse is teen ’n klein fooi beskikbaar en jy kan hulle vir ’n hele dag of ’n halwe dag huur. Julle kan so ver as wat julle wil met hulle rondry, solank julle net teen die bepaalde tyd terug by die hotel is. Diegene wat braaf is kan selfs gaan wynproe! 

Franschhoek Country House & Villas maak dié verkenningstog lekker opwindend en bied fietse waarmee jy die dorp kan invaar.

Ons durf die pad in dorp toe aan en draai in La Provence-straat links. Van hiér ry ons verby pragtige wingerd en lowerryke tuine en bo-oor die Stiebeuelrivier. Al met die agterpaadjie langs bereik ons die middedorp waar ons  vir ’n vinnige koffie stilhou. Al is dit ietwat vreesaanjaend, is dit waar wat hulle sê: ’n Mens vergeet nie sommer hoe om fiets te ry nie! In ’n dorp soos Franschhoek voel jy egter genoop om sommer vinnig-vinnig te leer. 

Waar jy smullekker maaltye kan geniet

Monneaux Restaurant is ’n wêreldklas-restaurant wat gerieflik op dieselfde perseel as die hotel geleë is. Dié restaurant beloof varsheid, kreatiwiteit en vrygewigheid op elke bord én hulle maak so sonder om tegniek en elegansie prys te gee. 

Monneaux Restaurant is ’n wêreldklas-restaurant wat gerieflik op dieselfde perseel as die hotel geleë is.

Ná ’n lang dag in die son en op die fietse, is ons alte dankbaar vir die stappie tot by Monneaux. Die son sak stadig en die sagte pienk lig van skemer romantiseer die sitplek buite verder. Franschhoek is natuurlik wynwêreld en Monneaux het geen tekort aan  wêreldklaswyne van topgehalte nie. Ons besluit op die Ken Forrester Petit Pinotage aangesien dié trots Suid-Afrikaase variëteit uitstekend saam met ons voorgereg én hoofgereg gaan. 

Vir voorgereg word ek met ’n egte Asiatiese dis bederf wat uit saggekookte eend-pot stickers met oelek, soja, gemmer en knoffel bestaan. Die gerookte rooibossalm met artemisia, labneh, pynappel en quinoa tabouleh is net so lekker. Vir hoofgereg bestel ons die geroosterde springbokskenkel! Dié dis braai vir ure op ’n spit en word saam met parmesan-polenta, geroosterde aartappels, balsamiese asyn en portobello-sampioene bedien. Die vleis is doeksag en ontplof behoorlik met geure. Na dié feesmaal, is ’n soetigheid aan die orde van die dag. Die amarettor affogato met koffie gee daardie laaste skop energie voor slaaptyd, terwyl die appel-tarte tatin ’n lieflike, tuisgemaakte gevoel by ons laat. 

Vir voorgereg word ek met ’n egte Asiatiese dis bederf wat uit saggekookte eend-pot stickers met oelek, soja, gemmer en knoffel bestaan. Die gerookte rooibossalm met artemisia, labneh, pynappel en quinoa tabouleh is net so lekker.

’n Aand by die Franschhoek Country House & Villas is nét wat jy nodig het as jy op soek is na ’n bederfwegbreek met Suid-Afrikaanse gasvryheid. Ná ontbyt in die sitarea, pak ons met ’n swaar hart ons tassies en vat die pad terug Kaap toe. Met Franschhoek se besonderse berge in die agtergrond, beloof ons om binnekort weer die Franse romanse van Franschhoek Country House & Villas te kom uitsoek. 

Baie dankie aan Franschhoek Country House & Villas vir hulle gasvryheid.

Hooffoto: Nina Fouché

Ander foto’s: Franschhoek Country House & Villas op LekkeSlaap.co.za.