Enige iemand wat in ’n Afrikaanssprekende huisgesin grootgeword het, sal waarskynlik Heidi van die Berge op een of ander manier kan onthou. Die temaliedjie draai dalk nog iewers in jou agterkop, of jy kan nog die oulike donkerkopdogtertjie in jou geestesoog sien huppel in haar wit frokkie langs haar ewe wit bokkie. Die storie van die vyfjarige weeskindjie wat by haar oupa in die berge gaan bly, het ons kinderharte bekoor, en selfs grootmense het glimlaggend hulle poste voor die TV ingeneem wanneer die kenmerkende temaliedjie begin speel het.

Dié kinderverhaaltjie oor die Duitse dogtertjie, die verlamde meisietjie Klara en die bokwagtertjie Peter het aanklank gevind by baie kinders en het gesorg vir ure se onskuldige pret. Later in Heidi se storie is sy weggeneem van die berge waarvoor sy so lief geraak het en was sy sielsongelukkig in die stad. Baie Suid-Afrikaners kan hul hiermee vereenselwig. Die lewe in die stad raak soms te veel en dan wil ons ook graag na skouspelagtige berge, soos Heidi se Switserse Alpe, wegbreek.

Hier in Suid-Afrika is ons nét so bederf met pragtige berge, koppies, pieke en heuwels, maar baie van ons het nooit soos Heidi die voorreg gehad om ín die berge te kon woon nie. Dit is nóú tyd om iets daaraan te doen ─ kies koers na die berge, ver weg van die stad se gedruis en geraas! Gaan ontspan langs ’n kabbelende bergstroompie, voel hoe die sweet jou aftap wanneer jy pieke uitklim net om die allermooiste uitsig te aanskou, of kry jou sit op ’n lekker plat klip nes ’n Kaapse dassie, en laat die son jou lyfie lekker warm bak.

Die Witteberge lê in die Vrystaat, net duskant Lesotho se suidwestelike hoek, en strek sowat 60 km ver. Die berge bestaan uit leiklip, sandsteen en kwartsiet. Dié omgewing het al verskeie fossiele opgelewer, veral van plante en kruipers, so hou jou oë oop vir patrone in die rotse. Kliek hier vir blyplek naby die Witteberge!

Die Baviaanskloofvallei (vallei van die bobbejane) beslaan sowat 200 km en die Baviaanskloofberge vorm die grens daarvan. Dit is ’n gewilde toeristebestemming en strek vanaf Patensie in die ooste tot by Willowmore in die weste. As jy ook die Baviaanskloof wil besoek, kliek gerus hier.

Die Amathole-berge in die Oos-Kaap is oortrek met digte, antieke woude wat bestaan uit verskeie inheemse bome, soos geelhout, witstinkhout en wildekastaiing. Die foto’s laat nie reg geskied aan die prag van dié bergreeks nie ─ jy moet dit eerstehands ervaar. Vir blyplek hier naby kliek gerus hier!

Die Waterberge is ’n bergmassief van ongeveer 14500 km² in die noorde van Limpopo. Die gemiddelde hoogte is sowat 600 m bo seespieël, maar van die pieke is 1400 m hoog. Die rotsformasies in dié reeks is gevorm deur miljoene jare se rivier-erosie wat rotswande en pramkoppies uitgekerf het. Indien jy op soek is na verblyf by dié pragtige bergreeks, kliek hier.

Die Sederberge is deel van die natuurreservaat naby Clanwilliam, ongeveer 300 km noord van Kaapstad. Dié bergreeks is vernoem na die bedreigde, endemiese Clanwilliam-sederboom (Widdringtonia cedarbergensis). Die berge is veral bekend vir dramatiese rotsformasies en San-rotskuns. Vir lieflike verblyf in die Sederberge, kliek hier!

Die Kogelberg is ’n bergreeks wat al langs die Valsbaaikuslyn in die Wes-Kaap lê. Die Kogelberg het die steilste en hoogste ononderbroke helling na seevlak aan die ganse Suid-Afrikaanse kus. Gaan besoek die Kogelberg en vind die perfekte blyplek deur hier te kliek!

Clarens, die dorpie wat bekend staan as “die juweel van die Vrystaat“, lê aan die voet van die bekende Maloti-berge. Dit is deel van die Drakensberge en die hoogste piek, Thabana Ntlenyana, is 3482 m bo seespieël. Dit is die hoogste piek in Suidelike Afrika. Kliek hier vir blyplek naby die Maloti-berge!

Die Wolkberge in Limpopo vorm die noordelike subreeks van die Drakensberge. Dit strek 30 km ver en grens aan Haenertsburg en Tzaneen. Die Wolkberge is ook die oorsprong van verskeie bergstroompies en die Mohlapitse– en die Ga-Selati-riviere, sytakke van die Olifantsrivier, ontspring in hierdie luisterryke bergreeks. Kliek gerus hier as jy die Wolkberge van naderby wil beskou!

Die Hottentots-Hollandberge bestaan uit sandsteen en vorm die reeks tussen Somerset-Wes en Gordonsbaai in die weste en die groot Elgin-vallei in die ooste. Sir Lowryspas is die enigste pad wat oor die berg loop en vorm deel van die N2-hoofweg. Aan die begin van Die Groot Trek in 1835, toe die Voortrekkers besluit het om die Kaapse Kolonie te verlaat, was dit die eerste berg wat hulle oorgesteek het. Die snye en krapmerke wat die ossewaens se wiele in die rotsformasies gemaak het, is vandag steeds te siene. Kliek hier vir blyplek as jy ook die Hottentots-Hollandberge wil verken met jou volgende vakansie!

Die Kouebokkeveld is net bo Prins Alfred Hamlet, noord van Ceres en suidoos van Citrusdal. Dié reeks het ’n hoë platorand, die grootste piek is 1600 m hoog en dit word gereeld wit van die sneeu in die winter. Dit is een van die hoogste en koudste plekke in die Wes-Kaap. Daar is baie oulike plekkies waar jy kan gaan bly in die Kouebokkeveldberge, kliek hier vir lekke opsies!

Die Strydpoortberge vorm deel van die Drakensberge. Dit is in Limpopo by Mokopane, naby Haenertsburg, geleë en kry ook dikwels wintersneeu. Die Strydpoort-berge strek omtrent 150 km weswaarts van die Wolkberge af amper tot by Potgietersrus. Daar is baie graniet, kwartsiet en dolomiet in dié omgewing wat destyds gemyn is vir goud en asbes. Aangesien water skaars is hier en die plek nogal afgeleë is, is baie van die plase verlate ─ dis natuurlik baie goeie nuus vir die proteas en ander endemiese flora wat hier die vlaktes volstaan. As jy die Strydpoort-berge wil besoek, kliek gerus hier!

Daar het jy dit ─ die 10 beste Suid-Afrikaanse bergreekse waar jy ook jou lyfie Heidi kan hou! Ontsnap na een van LekkeSlaap.co.za se lekke blyplekke naby of sommer ín die berge en jy sal gou sien hoekom Heidi so siek geword het toe sy haar geliefde berge moes verlaat. Dat ’n enorme stuk aarde, rots, plantegroei en klip darem nou só hard aan mens se hartsnare kan pluk…

Hooffoto: A Room With A View, Michael Seljos (Flickr). 

Kagga Kamma Nature Reserve, LekkeSlaap instansie-profiel.

Mount Ceder, LekkeSlaap instansie-profiel.