Wat is ’n vakansie sonder bordspeletjies? Wat is ’n bordspeletjie sonder aantygings van ’n gekroekery? Die Desembervakansie is om die draai en reg oor die land word daar aan dié tog beplan. LekkeSlaap het gaan kyk watter bordspeletjies die hele gesin kan besig hou en hoe lank die speletjie duur (want Monopoly raak, volgens my, veels te langdradig!). Boonop deel ons ’n rits blyplekke wat bordspeletjies bied sodat jy dít nie óók by jou vakansiepaklys hoef te voeg nie.

Boereplaas

Daar is ’n nuwe voorman op die dorp: Boereplaas. Gesinne wat dié speletjie ken is mal daaroor en diegene wat nog nie daarvan weet nie sal dit beslis moet aanskaf. Oom Sakkie is die plaasbestuurder en maak links en regs droog. Elke speler is die boer van ’n plaas en dis jóú verantwoordelikheid om vir oom Sakkie se foute te boet en die boerdery van die grond af te kry.

Boereplaas | LekkeSlaap

Bananagrams

Bananagrams herinner ons aan Scrabble se jonger sussie. Dis kompak, eenvoudig en baie vinniger. Die letters het geen waarde nie en al wat ’n mens nodig het is die letterblokkies. Elke speler trek 21 blokkies om ’n woordrooster te bou. Die speler wie se blokkies eerste op is, kry die kans om nog te trek en so hou dit aan totdat al die blokkies gebruik is. Die speler wie se woordrooster die vinnigste klaar is, wen ─ dit moet, natuurlik, sonder spelfoute wees!

Bananagrams | LekkeSlaap

Slangetjies en Leertjies

As jy nie Slangetjies en Leertjies as kind gespeel het nie, waarmee was jy dan heeltyd besig? Diegene wat nie dié speletjie ken nie, sal sommer gou-gou by een van die ander spelers leer. Elke speler begin op die beginblokkie en maak dan beurte om die dobbelsteen te gooi. Die dobbelsteen dui dan aan hoeveel plekke jy vorentoe kan skuif. As jy aan die onderkant van ’n leer beland, kan jy by die leer opklim. As jy op die kop van ’n slang beland moet jy terug tot by die einde van die slang gly.

Slangetjies en Leertjies | LekkeSlaap

Rummikub

Ek onthou hoe ek as kind ’n hele paar vakansies ure lank saam met my gesin Rummikub gespeel het. As jy dit nie ken nie (of net nie meer so lekker onthou nie) kan jy sommer net hierdie kort opsomming lees: Daar is teëltjies van een tot 13 in vier verskillende kleure en ’n paar speelmans (jokers). Elke speler kry 14 tot 16 teëltjies en maak beurte om stelle van minstens vier teëltjies in die middel neer te sit. As jy nie kan speel as dit jou beurt is nie, moet jy ’n ekstra teëltjie optel. Die eerste speler wat al sy teëltjies gebruik, wen.

Rummikub | LekkeSlaap

30 Seconds

Dié speletjie, wat deur ’n Suid-Afrikaner ontwerp is, is ’n tydlose treffer en sal jou algemene kennis behóórlik toets! Dis ’n bordspeletjie waar een speler vyf begrippe op ’n kaartjie aan ’n spanmaat moet verduidelik sonder om die gesogte begrip of dele daarvan in die verduideliking te gebruik. Die doel is om al die begrippe op die kaartjie in 30 sekondes te raai sodat jou span op die bord kan vorentoe skuif. Dit sorg vir ure se humor (veral as iemand iets verkeerd raai of verduidelik) en daar is selfs ’n 30 Seconds Junior vir die jongspan.

30 Seconds | LekkeSlaap

Twister

Dié een is vir die hele gesin. As jy dit al gespeel het, sal jy sommer begin giggel as jy net die naam lees. Al die spelers sit elke voet op ’n kol op die mat. Iemand word as die skeidsregter aangewys en spin dan die bord wat saam met die speletjie kom. Die skeidsregter roep dan ’n liggaamsdeel en die kleur waarna die bord se pyltjie wys. Dit kan byvoorbeeld “regterhand blou” wees. Al die spelers op die mat moet dan die bevel gehoorsaam en hul regterhand op ’n blou kol sit. Daar kan egter nooit meer as een hand of voet op ’n kol wees nie en dís waar die chaos inkom. As ’n speler omval of nie die spesifieke kol kan bykom nie, is daardie speler uit. Die laaste speler wat oorbly, wen.

Twister | LekkeSlaap

Vingerbord

Wanneer laas het jy Vingerbord gespeel? My niggie-hulle het as kinders só ’n bord gehad en dit was ’n gróót bederf omdat ons nooit een in ons huis gehad het nie. Die spel is redelik eenvoudig: Daar is twee spanne van twee spelers elk. Elke speler sit oorkant sy spanmaat met die bord in die middel en kry ’n gekleurde merker. Die doelwit is om die ander merkers in ’n gaatjie te skiet.

Vingerbord | LekkeSlaap

Uno

As jy nog nie oorweeg het om ’n familielid tydens ’n potjie Uno te onterf nie, het jy dit nooit reg gespeel nie. Verál as daai +4-kaarte so een vir een ophoop. (Terloops, volgens die amptelike reëls kan jy nét hierdie kaart speel as jy geen ander kaarte het wat by die kleur in die middel pas nie.) Dié kaartspel sorg vir eindelose gesinspret en so ’n bietjie gestryery en suur gesigte tussenin. Daar is ook omtrent altyd ’n speler wat dié speletjie ken, so dis nie eers nodig om die reëlblad uit te haal nie.

Uno | LekkeSlaap

Cluedo

Iemand is vermoor (en nee, dis ongelukkig nie die Uno-speler wat ’n +4-kaart gespeel het nie). Dis elke speler se doelwit om die moordenaar vas te trek. Die wenner is die eerste speler wat die moordenaar, die moordwapen en die kamer waarin die moord gepleeg is, kan vasstel. Die antwoorde op dié vrae word in die moordkoevert gebêre en word eers onthul as ’n speler die moord akkuraat kan opsom.

Cluedo | LekkeSlaap

Jenga

Dié speletjie is ook geskik vir die hele gesin en kan selfs alleen gespeel word. Dit bestaan uit 54 houtblokkies wat in ’n ry van drie bo-op mekaar gepak word. Elke speler kry dan ’n beurt om een blokkie uit te trek en dit bo-op die toring te plaas. Die speler wat eerste ’n blokkie uittrek en die toring laat omval, verloor. Die blokkies is ook duursaam, so jy hoef nie te vrees dat die jongspan dit moontlik kan buig of breek nie.

Jenga | LekkeSlaap

 

Blyplekke met bordspeletjies

Mama Fourie’s Guest Cottages, Vrystaat

Mama Fourie's Guest Cottages | LekkeSlaapMama Fourie’s Guest Cottages bied pragtige selfsorgverblyf met vriendelike eienaars in Fouriesburg. Kinders speel graag op die gras en die gastehuis het ook ’n hele rits bordspeletjies, wat Monopoly, Slangetjies en Leertjies, Ludo, Kringetjies en Kruisies en Vingerbord insluit. Daar is ook twee ou busse wat gerestoureer en in ’n kombuis- en eetarea omskep is. Die bestuur bied selfs ’n Jukskeikursus aan en daar is ’n buitelug-skaakbord. Jy kan lekker by die braai-area sit en bordspeletjies tot laat saam met die gesin speel.

Vintage Charm Guest House, Mpumalanga

Vintage Charm Guest House | LekkeSlaap’n Mens kan nie anders as om tuis te voel met die reuk van varsgebakte brood en croissants wat hiér in die lug hang nie. By Vintage Charm Guest House kan jy saans voor aandete in die tuin wandel of in die verhitte swembad swem. Daar is ’n ruim leefarea met ’n binnebraai waar jy kan ontspan, bordspeletjies kan speel of op versoek kan braai.

Cayley Lodge, KwaZulu-Natal

Cayley Lodge | LekkeSlaapNiemand sal by Cayley Lodge in die Drakensberg verveeld wees nie. Dié moderne leefstyloord bied ongelooflik baie geriewe en doendinge, onder meer ’n dagspa, swembad, speletjieskamer, ’n speelgrond, minigholf en bordspeletjies. Jy kan ook visvang of ’n rit op een van die Cayley Cruiser-trekskuite aanpak.

Carley Beach House, Oos-Kaap

Carley Beach House | LekkeSlaapDié bekoorlike vakansiehuis het ’n pragtige see-uitsig en is in Astonbaai. Carley Beach House net oorkant die strand en spog met ’n buitebraai, ’n kroeg op die onderste verdieping, ’n swembad en ’n dubbelmotorhuis. Daar is ook bordspeletjies, soos Slangetjies en Leertjies en ’n pylbord. Dis ideaal vir ’n vriendegroep of ’n gesin.

Brinksfontein Guest House, Wes-Kaap

Brinksfontein Guest House | LekkeSlaapBrinksfontein Guest House is op ’n grondpad, in die stil en rustige Karoo. Dis die perfekte plek om jou skoene uit te skop en jou batterye te herlaai. Die kothuis het ’n hele versameling tydskrifte en boeke en daar is ook bordspeletjies en ketties. Daar is ’n ou skaaptrog en ’n boma-braaiplek buite die kothuis sodat gaste lekker in die vars Karoo-lug kan ontspan.

Of jy ’n uur lank ’n boer wil wees, of jou algemene kennis wil uitbrei ─ daar is sekerlik ’n bordspeletjie vir elke ouderdom en persoonlikheid. As die kinders boonop vir die soveelste keer sê dat hulle verveeld is en vra wat hulle kan doen, kan jy vinnig ’n bordspeletjie uit die kas haal en hulle sal ure lank besig bly. 

Wat is jou gesin se gunstelingspeletjie? Ons sal graag hieronder van jou wil hoor!

Hooffoto: Bigstock