Dit was ’n goeie jaar vir Suid-Afrikaanse strande, ondanks die groot uitdagings wat munisipaliteite die hoof moes bied. Só kan ’n mens aflei uit die Wildlife and Environment Society of South Africa (WESSA) se nuwe lys Blouvlagstrande wat aandui dat daar meer blou vlae as verlede jaar tydens die 2022/2023-seisoen langs die Suid-Afrikaanse kus sal wapper. 

WESSA, in oorleg met die Foundation for Environmental Education in Kopenhagen, koördineer al vir twintig jaar die gradering van Suid-Afrikaanse strande deur watergehalte te toets, strandbeheerbesoeke te doen en te kyk dat omgewingsbewusmaking en veiligheidsmaatreëls in plek is. Hulle mik om teen 2030 100 Suid-Afrikaanse strande met Blouvlagstatus te kroon. Vanjaar is hulle halfpad op pad na dié doelmerk, met 51 Blouvlagstrande en 33 aspirant-strande (oftewel “pilot beaches”) in vergelyking met verlede seisoen se 48 Blouvlag- en 19 aspirantstrande. 

Mik jy hierdie somervakansie see toe, kan jy nie verkeerd gaan met die Wes-Kaap nie, want dié provinsie spog met ’n indrukwekkende 33 blou vlae. Muizenberg, Vishoek, Llandudno, Clifton 4, Kamspbaai, Melkbosstrand en Bikinistrand in Kaapstad het Blouvlagstatus, so ook Kleinmond-, Hawston-, Grotto– en Castle-strand net anderkant die berg in die Overstrand. Vakansiegangers sal vir die eerste keer in Onrus ook op ’n Blouvlagstrand kan baljaar. Al die swemstrande in die Hessequa-streek, waaronder Witsand, Preekstoel, Lappiesbaai, Jongensfontein, Gouritzmond en Stilbaai-Wes, het vir die vierde opeenvolgende jaar Blouvlagstatus en dit is maklik om te sien waarom Mosselbaai, met sy 5 blou vlae, een van die gewildste vakansiebestemmings in Suid-Afrika is. Ry gerus na De Bakke, Hartenbos, Kleinbrak, Santosstrand en Glentana se strand vir veilige, skoon waterpret. Struisbaai moet allermins vergeet word en na die Tuinroete se kant toe is Heroldsbaai vir die eerste keer saam met Wildernis op die lys, en spog die Bitou met vlaggies by Robberg 5, The Waves, Nature’s Valley, Lookout, The Dunes en Singing Kettle

Ná April en Mei se rampspoedige vloede wat rioolstortings teen KwaZulu-Natal se kus tot gevolg gehad het, is dit bemoedigend om te sien dat daar 9 Blouvlagstrande op dié provinsie se lys is. Marina Beach in Southbroom is spesiaal erken omdat dit die enigste strand in die land is wat sy Blouvlagstatus vir die twintigste opeenvolgende jaar behou. Trafalgar, Southport, Umzumbe, Ramsgate en Hibberdene in die Ray Nkonyeni Munisipaliteit is die ander strande op KwaZulu-Natal se lys, met Thompsonsbaai, Willard Beach en Blythedale in Kwadukuza wat nuut op die lys gevoeg is. Ongelukkig sal geen van eThekwini (Durban) se strande dié Desember blou vlae hys nie, maar die stad het vroeër die week aangekondig dat ’n onlangse verbetering in watergehalte dit moontlik gemaak het om dele van die sentrale strandfront te heropen. 

In die Oos-Kaap is Kings Beach in Nelson Mandelabaai vir 10 opeenvolgende jare se Blouvlagstatus erken en Dolphin Beach, Kelly’s Beach, Humewood, Hobie– en Kariegastrand hys ook vanjaar blou vlae. Kaap St. Francis, Marina Martinique en Middel Kenton-on-Sea is nuut op die Vriendelike Provinsie se lys. 

WESSA se ondersteuning van munisipaliteite streef nie net ’n hoë ekologiese doel na nie, maar poog ook om die land se kusgebiede ekonomies te laat groei deur ’n toerisme-inspuiting te bring. As jy nog nie jou plekkie by die strand vir die somervakansie bespreek het nie, weet jy nou watter areas om op LekkeSlaap.co.za te soek vir ’n sorgelose, veilige en skoon strandvakansie.

Hooffoto: Oupa se Pitte in Heroldsbaai op LekkeSlaap.co.za