Daardie kennisgewing op jou foon beteken gewoonlik net een ding: Dis weer tyd vir beurtkrag. Dié gebeurtenis is aan Suid-Afrikaners so bekend soos braaivleis en biltong, maar tog vang hy ons telkens sonder kerse, planne vir aandete of ’n TV om die naweek se sport op te kyk. LekkeSlaap het dit dus goedgedink om ’n paar plekkies wat die ellendige Fase 1 tot 8 ontwyk, uit te soek. By dié “off the grid”-blyplekke skakel jy slegs jouself af.

The Kunene Manor, Midrand

By The Kunene Manor kan jy die rustigheid van ’n lowerryke landskap geniet, maar steeds naby genoeg aan Midrand vir inkopies en uitstappies wees. Daar is twee rustieke selfsorgkothuise wat slaapplek aan vier of ses gaste onderskeidelik bied en albei is goed toegerus vir selfsorg. Ontspan in die heerlike swembad of braai-area en vergeet van beurtkrag, want hiér werk jy om jou eie skedule!

Klipkraal Gasteplaas, Heidelberg

Klipkraal Gasteplaas, Heidelberg

Kom skuil tussen die heuwels van die Suikerbosrand en vergeet van al jou sorge in die stad. Klipkraal Gasteplaas maak net van sonkrag en gas gebruik en bied verblyf in drie selfsorgeenhede. Al drie dié kothuise bied ’n unieke wildervaring en die mooiste uitsigte sodat jy weer mens kan raak. Van wildkyk en voetslaan tot net lekker ontspan in die swembad — dís nou die tipe wegbreek wat jy verdien. 

Sibani Luxury Tents, Krugersdorp

Sibani Luxury Tents, Krugersdorp

Wie het gesê luukse verblyf het elektrisiteit nodig? By Sibani Luxury Tents kan jy ’n bosveldwegbreek sonder sorge en beurtkrag ervaar. Verblyf is in struktuur-tente beskikbaar en elke tent het ’n koninggrootte-bed of twee enkelbeddens, ’n sitarea en ’n privaat badkamer. Wildritte en wynproe is op die perseel beskikbaar en die lodge spog ook met ’n bomabraai-area. Die privaat reservaat is naby die Wieg van die Mensdom en julle kan ook ’n uitstappie na die Sterkfonteingrotte beplan.

Lisbon Eco Lodge, Graskop 

Lisbon Eco Lodge, Graskop 

Dié houthuisies lyk soos iets uit ’n sprokiesverhaal! Lisbon Eco Lodge is heeltemal onafhanklik van die nasionale kragnetwerk en bekoor gaste met die mooiste uitsigte oor ’n rivier, bewaarde vleilande, ’n natuurreservaat en ’n blouswaeltjie-broeigebied. Die houthuisies skuil tussen bome en koppies en bied ’n rustige wegkruipplekkie met twee slaapkamers, ’n toegeruste kombuis en ’n privaat braai-area. Daar is oorgenoeg om op dié perseel te verken en die Lisbon-waterval moet sommer eerste op jou lysie wees!

Nature’s Loft, Fouriesburg

Nature’s Loft, Fouriesburg

Kom raak een met die natuur by Nature’s Loft, net 1,9 kilometer buite Fouriesburg. Hier is drie houthuise en ’n luukse tent wat elk met sonkrag aangedryf word en die mooiste uitsigte bied. Die huisies het dubbelgas, insulasie en ’n kaggel — jy sal nie eers agterkom wanneer die ligte in die res van die omgewing afgeskakel word nie! Die eiendom spog ook met lekker roetes vir stap, fietsry en motorfietsry. 

Eco Karoo Mountain Lodge, Luckoff

Eco Karoo Mountain Lodge, Luckoff

Dié lodge is op ’n 4 200 hektaar-plaas en is 100% sonkrag-aangedrewe. Eco Karoo Mountain Lodge bied drie aparte selfsorg-suites wat elk slaapplek aan vier gaste bied en spog met ’n privaat badkamer, sowel as ’n buitestort met ’n uitsig op die berge! Verder is daar ’n sprankelende swembad om in af te koel en die boma is die perfekte plek om onder die sterre te kuier en dankbaar te wees vir die ligte wat aan is. Die beste van als is, jy kan jou viervoetkinders saambring!

Amara Tomana, Zastron

Amara Tomana, Zastron

Amara Tomana beloof ’n ware wegbreek ver van die alledaagse gejaag en gewoel. Die plaas het geen elektrisiteit nie, so julle kan behoorlik afskakel en om die vuur sit en kuier. Die kothuis het twee slaapkamers en die kombuis is met ’n gasstoof en -yskas toegerus. Die melkweg se sterre vertoon op hulle mooiste hier — kom kyk sommer self!

Olive Stone Farm and Cottages, Montagu

Olive Stone Farm and Cottages, Montagu

Mooi was nog nooit só mooi soos in Montagu nie! Olive Stone Farm and Cottages word deur die majestueuse Langeberge omring en bied verblyf in drie bekoorlike kliphuisies wat elk ’n plonspoel, braaiplek en lieflike stoep het. As jy mal is oor die plaaslewe en wynproe is dié wegbreek ideaal vir jou, en jy kan selfs perd- en fietsry op die perseel. Dié salige naweek in die natuur sal ook nie deur beurtkrag onderbreek word nie. 

Suidster, Montagu

Suidster, Montagu

Só gepraat van die mooie Montagu, kom kuier gerus ook by Suidster. Dié wegbreekplekkie is onafhanklik van die nasionale kragnetwerk en spog met ’n KolKol-warmbad vir luilekker dae sonder sorge. Suidster is tussen Barrydale en Montagu en die Langeberge skilder die mooiste agtergrond vir ’n wegbreek in die Klein-Karoo. Daar is twee pragtige kothuise wat elk slaapplek aan twee gaste bied en met al die nodige sonkragaangedrewe-geriewe toegerus is. 

Starry Starry Night, Montagu

Starry Starry Night, Montagu

As jy nog altyd in ’n koepeleenheid wou oornag, dan is Starry Starry Night perfek vir jou. Dié eiendom is in ’n eko-bergreservaat op die ikoniese Roete 62 en slegs twee ure se ry vanaf Kaapstad. Die twee bekoorlike kothuise is in ’n Nova StarDome-styl gebou en bied selfsorgverblyf onder die pragtige sterrehemel. Die reservaat maak van sonkrag gebruik en spog met riviere, watervalle, voetslaanroetes, ’n organiese kruie- en groentetuin en ’n KolKol-warmbad vir ekstra bederf. Hiér sal die ononderbroke vallei- en fynbos-uitsigte jou totaal en al laat vergeet om jou beurtkragskedule dop te hou. 

Black Eagle Lodges – The Lodge, Caledon

e Lodges - The Lodge, Caledon

Ongeveer 13 kilometer buite Caledon, op die Kempsrivier Plaas, sal jy Black Eagles Lodges – The Lodge aantref. Dié omgewingsvriendelike huis maak van sonkrag en gas gebruik en bied behoorlike rus vir die siel met die stilte van die natuur wat so te sê raas. Die huis het oorgenoeg slaapplek vir ses en die lekker stoep, beskutte boma en houtvuurwarmbad beloof ’n wegbreek soos min. Terwyl die ligte elders afgeskakel word, kan jy ’n vuurtjie aansteek en rustig kyk hoe die son oor die dam sak. 

Snyderskloof Karoo Cottage, Matjiesfontein

Snyderskloof Karoo Cottage, Matjiesfontein

Snyderskloof Karoo Cottage is sowat 25 kilometer vanaf Matjiesfontein en hier kan jy indrukwekkende sonsondergange en -opkomste, vars lug en die mooiste uitsigte verwag ─ nes ons die Karoo ken. Die selfsorgkothuis is van klip wat in die veld opgetel is gebou en bied slaapplek aan ses gaste. Daar is geen elektrisiteit nie, maar die kombuis is met gastoebehore toegerus en daar is ’n kaggel wat ook as die braai-area dien. Onder die lapa en in die swembad is egter waar jy wil wees as jy die Karoo op sy mooiste wil sien en behoorlik van beurtkrag wil vergeet. 

Kraanvoëlkuil Karoo Lodge, Pearston

Kraanvoëlkuil Karoo Lodge, Pearston

Kraanvoëlkuil Karoo Lodge is op 3 800 hektaar se Camdeboo-vlaktes geleë en bied verblyf in vyf kamers. Dié wildplaasstyl-lodge het ’n sonkragstelsel wat die ligte aanhou en spog met ’n lieflike, groot vuurput wat vir ’n kampvuur gemaak is. Jy kan vrylopende wild, soos gemsbokke, steenbokke, springbokke, blouwildebeeste en meer sien wanneer jy op die perseel fietsry of stap. Die beste van als? Selfs Wagter mag saamkom om die stilte te geniet!

Mbotyi Mountain Bush Camp, Lusikisiki

Mbotyi Mountain Bush Camp, Lusikisiki

As jy lus is vir ’n bietjie avontuur moet Mbotyi Mountain Bush Camp op jou emmerskoplys wees. Dié kamp skuil aan die randjie van die Ntsubane-woud en spog met ’n uitsig oor die Mbotyi-riviermonding. Daar is rustieke verblyf in vier Wendy-huise en ’n houthuisie wat ’n behoorlike Wildekus-ervaring beloof. Jy kan slegs met ’n 4×4 die kamp bereik en wanneer jy daar is, verken jy die wêreld te voet of per fiets. Jou maaltye word daagliks op die vuur voorberei, insluitend plaaslike vissoorte, en daar is ook ’n kontantkroeg. 

Mountain View Safari Lodge, Hoedspruit

Mountain View Safari Lodge, Hoedspruit

As ’n Bosveldvakansie vir jou ook soos die ideale blaaskans klink,  moet jy ’n draai by Mountain View Safari Lodge maak. Dié lodge is in die Ndlovumzi Natuurreservaat, 35 kilometer buite Hoedspruit, op ’n privaat perseel in die Olifantsrivier-bewarea. Daar is twee luukse en privaat kampeerareas wat onomhein is sodat jy behoorlik naby die wild kan wees. Die tente is sonkragaangedrewe en spog met ’n funksionele kombuis, ’n buitestort, kaggel en braaigeriewe. Wanneer jy saans op jou eie privaat stoep sit, met net die naggeluide van die natuur, sal jy sukkel om die raserigheid van ’n kragopwekker te onthou. 

Morokologa Nature Reserve, Vallei van die Olifante

Morokologa Nature Reserve, Vallei van die Olifante

Morokologa Nature Reserve bied selfsorgverblyf in grasdak-safarihutte op ’n ongerepte 550 hektaar-natuurreservaat. Die reservaat is reg teen, maar geskei van, die groter Selati Natuurreservaat wat rondom dit is. Dié hutte is heeltemal onafhanklik van die nasionale kragnetwerk en elkeen het ’n privaat badkamer, kombuisgeriewe ’n heerlike boma met ’n vuurput en braaigeriewe. Hier kan jy met ’n skemerkelkie ontspan terwyl die jongspan in die speelkamer doenig is. As die Groot 5 hul nie laat steur deur beurtkrag nie, hoekom moet jy?

Syringa Sands Mountain Cottage, Waterberg

Syringa Sands Mountain Cottage, Waterberg

Dié plekkie is so afgeleë, dit kan slegs met ’n 4×4-voertuig bereik word! Syringa Sands Mountain Cottage is die perfekte plek vir ’n moeë stadsiel. Die kothuis skuil hoog teen die Sandrivierberge en bied ’n uitsig op die Waterberge. Die sonsondergange en -opkomste is onbeskryflik en jy kan dit vanaf die groot stoep bewonder. Die kothuis word deur lieflike wandelpaadjies omring en die Syringa Sands-hek is ook net 7 kilometer ver. 

Idwala View – Mabalingwe Nature Reserve, Bela-Bela

Idwala View - Mabalingwe Nature Reserve, Bela-Bela

Wildkyk bly darem maar net ’n wonderlike voorreg in Suid-Afrika, en met wild wat so volop in die Mabalingwe Natuurreservaat voorkom, is ’n paar aande by Idwala View – Mabalingwe Nature Reserve nét wat jy nodig het om ’n bietjie te ontsnap. Tydens beurtkrag verseker die eiendom se sonkragstelsel dat jou tyd nie versuur word nie en jy kan steeds lekker in die swembad en op die sondek uitspan, ’n spa-behandeling ontvang óf die eenheid se WiFi, TV en toegeruste kombuis gebruik. Moet ook nie bekommer nie, hiér is oorgenoeg spasie vir jou en nege ander! 

Stuurmansfontein Corbelled House, Carnarvon

Stuurmansfontein Corbelled House, Carnarvon

Dié nasionale monument is 57 kilometer buite Carnarvon en word deur die mooiste Karoo-landskappe omring. Stuurmansfontein Corbelled House is heeltemal onafhanklik van die plaaslike kragnetwerk en daar is ook nie selfoonsein nie. Dit beteken jy kan totale rus en vrede verwag en vergeet van ’n realiteit met beurtkrag. Die huis beskik oor drie slaapkamers en ’n badkamer met ’n buitestort, en daar is slaapplek vir ses gaste. Hiér het jy net kerse, gaslampe en die Karoo-sterrehemel om die aand te verlig. 

Die Berghuis, Swartruggens 

Die Berghuis, Swartruggens 

Die Berghuis bied lieflike verblyf op ’n 160 hektaar-beesplaas en selfs wild kan hier gesien word. Die plaas is tussen Swartruggens en Groot Marico en maak van sonkrag en gas gebruik. Die pragtige uitsigte oor die plaas dra tot ’n rustige atmosfeer vir ’n naweekwegbreek by. Gooi ’n vleisie oor die kole en luister na die natuur se geluide, hier kan jy salig van al jou sorge vergeet.


Wanneer Eskom weer besluit om die ligte af te skakel, keer gerus terug na dié bladsy en bespreek ’n wegbreek sommer tjop-tjop!

Lees ook:

Wat’s Eskom? “Off the grid”-blyplekke in die Kaap

Hooffoto: Sibani Luxury Tents op LekkeSlaap.co.za.