Of jy nou die Kaap of die Karoo besoek, bied Suid-Afrika ’n groot verskeidenheid asemrowende natuurskoon. Suid-Afrika is een van die mees biologies diverse lande in die wêreld, net ’n kort koppie agter Indonesië en Brasilië. Volgens die Suid-Afrikaanse Nasionale Biodiversiteit Instituut (SANBI) word ons nie net omring deur twee oseane nie, maar beslaan die land sowat 2% van die wêreld se landmassa en bied dit ’n tuiste vir sowat 10% van die wêreld se plantegroei, 7% van die reptiel-, voël- en dierspesies en boonop 15% van alle kus-marienelewe. Drie van Suid-Afrika se nege biome is selfs as belangrike biodiversiteitsbrandpunte genomineer.

LekkeSlaap het die mooiste tuine regoor die land opgespoor ─ van Kirstenbosch in Kaapstad, tot die Karoo en Namakwaland, na die Laeveld en Durban met sy subtropiese klimaat. ’n Besoek aan ’n botaniese tuin is ’n heerlike daguitstappie vir oud en jonk en dis sommer op jou drumpel!

 13

Die Kirstenbosch Nasionale Botaniese Tuin, aan die oostelike voet van Tafelberg in Kaapstad, is seker die bekendste tuin in die land. Dié tuin het in 1913 wortelgeskiet op ’n reuse stuk grond wat deur Cecil John Rhodes nagelaat is en spog deesdae met ses verskillende biome. Dit is die eerste botaniese tuin in die wêreld wat geskep is om die land se unieke inheemse flora te bewaar. Kirstenbosch bied ’n tuiste vir sowat 7000 spesies. Dis ook natuurlik ’n gewilde plek vir musiekkonserte en buitelug-kunsuitstallings. Die Boomslang, soos dit informeel bekendstaan, ’n 130 meter lange boomtopwandelpad wat spesiaal vir die eeufees opgerig is, is ’n nuwe toevoeging tot die tuin. Dié plankpaadjie vleg deur die boomtoppe van die tuin en bied asemrowende uitsigte.

 13

14

Die Karoo Woestyn Nasionale Botaniese Tuin aan die voet van die Hexrivierberge in Worcester en is reeds in 1921 gestig. Die kurators van dié tuin fokus veral op vetplante en ander inheemse plante wat in droë streke voorkom. Die tuin beslaan sowat 154 hektaar waarvan 11 hektaar verbou is. Die res is inheemse plantegroei wat behoue gebly het. Daar is twee staproetes in die natuurlike deel van die tuin en dis veral mooi tydens die lente wanneer die vygies begin blom.

 14

15

Die Harold Porter Nasionale Botaniese Tuin, wat in 1959 geopen is, het ’n groot verskeidenheid Kaapse Fynbos en is in die hartjie van die Kogelberg-biosfeerreservaat geleë. Hierdie tuin spog met beeldskone berghange, kranse, klowe, heiveld en woud. Die tuin is meer as 190 hektaar groot, spog met sowat 1600 plantspesies en bied lieflike staproetes. Besoek gerus enige dag van die jaar dié tuin in Bettysbaai!

 1

16

Die Tuinroete Botaniese Tuine is in George in die Wes-Kaap geleë. Dis ’n jong tuin wat eers in 1998 geopen is. Dit grens aan die Outeniekwa Natuurreservaat en het ’n groot verskeidenheid  plante wat endemies is aan die Suid-Kaap, en die Suid-Kaap Kruieversameling word ook hier gehuisves. Die tuin is ’n gewilde vergaderplek en daar word gereeld praatjies en musiekkonserte gehou. Dié tuin spog ook met verskeie stap- en bergfietsroetes.

7

17

Die Stellenbosch Universiteit Botaniese Tuin in Stellenbosch is in 1902 begin. Dié tuin is klein in vergelyking met van die ander botaniese tuine in die land, maar huisves ’n enorme verskeidenheid spesies  ─ van die spesies, soos die Erica verticillata, kom nie meer in die natuur voor nie. Die tuin spog met verskillende temas en spesifieke plantversamelings. Die Wes-Kaapse Bonsai Erfenisversameling, wat deel van dié tuin vorm, is veral interessant.

 4

 1

Die Makana Botaniese Tuine, in Grahamstad in die Oos-Kaap, word bestuur deur Rhodes Universiteit. Dit is die eertydse Kaapkolonie se tweede botaniese tuin. Dié tuin se opening is eers uitgestel in 1846 as gevolg van die grensoorloë, maar dis uiteindelik in 1853 formeel geopen. In 1994 is dit tot ’n nasionale monument verklaar. Makana is veral bekend vir sy groot verskeidenheid voëllewe.

3

2

Die Vrystaat Nasionale Botaniese Tuin is in Bloemfontein geleë en bied ’n tuiste vir meer as 400 plantspesies. Die tuin is sowat 70 hektaar groot, is in 1967 geopen en spog met 144 voëlspesies, 32 wildspesies en 54 reptielspesies! Die tuin se plantversameling kom uit die Vrystaat, Noord-Kaap en Lesotho. Dit sluit ook ’n reeks geharde bome in, waaronder ’n wilde-olyfboom wat blykbaar meer as 200 jaar oud is.

8

4

Die Pretoria Nasionale Botaniese Tuin, ook een van die nege nasionale tuine, is in die ooste van Pretoria in Gauteng geleë. Die tuin beslaan sowat 76 hektaar en is in 1946 gestig.  Vleilandspesies, vetplante, ’n medisinale tuin en broodboom-versameling is hier te vinde. Dis ook die tuiste van die Nasionale Biodiversiteit Sentrum. ’n Kwartsiet-dagsoom verdeel dié tuin in twee dele, die kouer suidelike kant en ’n warmer area aan die noordelike kant. Dit skep twee unieke wêrelde vir besoekers en plantkundiges. Hier is ook ’n lekker staproete.

9

1

Die Johannesburg Botaniese Tuin is in die voorstad Emmarentia geleë. Dié tuin het begin op sportvelde, maar het sedertdien uitgebrei om sowat 81 hektaar te beslaan. Die tuin is verdeel volgens verskillende temas: bome, kruie, blomme en kweekhuise. Die roostuin is een van die grootste besienswaardighede ─ hier is tans meer as 10 000 spesies te sien! Die kruietuin spog met 5532 verskillende spesies en daar is ’n spesiale Shakespeare-tuin wat gewy is aan die kruie wat in William Shakespeare se skryfwerk voorkom en met ’n amfiteater vir konserte.

15

5

Die Walter Sisulu Nasionale Botaniese Tuin is in Roodepoort in Johannesburg geleë. Dit was voorheen bekend as die Witwatersrand Nasionale Botaniese Tuin. Dis sowat 300 hektaar groot en is formeel gestig in 1982 en is dus die jongste van die nasionale botaniese tuine. Die witkruisarend-broeipaar (Aquila verreauxi) wat in die Roodekrans-rif bo die tuine nesmaak, is dié tuin se trots.

6

6

Die Manie van der Schijff Botaniese Tuin word deur die Universiteit van Pretoria bestuur en bevat sowat 3000 plantspesies in verskillende versamelings. Dit beslaan sowat 3,5 hektaar van die universiteit se Hatfield-Wes kampus. Hul hooffokus is die beskerming en navorsing van inheemse plantegroei, maar die publiek is ook welkom. Die ongelooflike broodboom-versameling is een van hul gewildste versamelings.

11

7

Die Durban Botaniese Tuin in KwaZulu-Natal is Afrika se oudste, oorlewende botaniese tuin. Dis in 1849 gestig en is ook Durban se oudste openbare instelling. Dit beslaan sowat 15 hektaar en bied ’n groot verskeidenheid inheemse en eksotiese plantegroei wat in ’n subtropiese klimaat voorkom en spog met majestueuse bome regdeur die tuin. Dit is oorspronklik gestig om plante van ekonomiese waarde, soos suikerriet, tee, koffie en pynappels te kweek. Vandag is hul hooffokus die bewaring van veral broodboom- en palmboom-spesies.

5

9

Die KwaZulu-Natal Nasionale Botaniese Tuin is in die westelike voorstede van Pietermaritzburg, op die bekende “Mayor’s Walk”, geleë. Dié tuin is in 1974 gestig en bevat plantegroei van die ooste van Suid-Afrika en die Noordelike Halfrond. Hul trots is ’n boomlaning wat meer as ’n 100 jaar oud is. Dis een van die oudste boomlanings in die wêreld en verlede jaar is fondse beskikbaar gestel vir ingrypende opknappingswerk om nuwe lewe in die tuin in te blaas.

16

10

Die Laeveld Nasionale Botaniese Tuin is een van die nege nasionale tuine en is in Nelspruit, Mpumalanga, waar die Krokodilrivier met die Nelsrivier kruis. Die Nelspruit Munisipaliteit het in 1969 met die idee vorendag gekom om ’n tuin te skep om toeriste te lok, en die tuin is in 1971 geopen. Die tuin beslaan 165 hektaar waarvan slegs 30 hektaar verbou word. Dit is uiters rolstoelvriendelik en persone met gestremdhede kan meeste van die ontwikkelde areas besoek. ’n Staproete deur die beeldskone Afrika-reënwoud lei na die hangbrug, waar besoekers die Krokodilrivier kan oorsteek om die bekende waterval te besoek. Plante uit die Kusgordel en  Limpopo is hiér te sien.

12

2

Die Noordwes-Universiteit Botaniese Tuin is op die Potchefstroom-kampus geleë. Die tuin is klein, minder as 3 hektaar, en is oop vir die publiek. Dit is oorspronklik begin om studiemateriaal aan studente te verskaf, maar is in 1982 oopgestel aan die publiek. Die klimaat, wat wissel van uiterste warm somers tot koue, droë winters, is geskik vir ’n groot verskeidenheid plantegroei. Benewens die versameling eksotiese plante wat van botaniese, medisinale of opvoedkundige belang is, is al die plante in hierdie tuin inheems. Daar is ook ’n verskeidenheid soogdiere, amfibieë, visse en voëls wat van die tuin ’n tuiste gemaak het.

10

12

Die Hantam Nasionale Botaniese Tuin is die jongste van Suid-Afrika se nege nasionale tuine en is in 2007, net buitekant Nieuwoudtville in die Noord-Kaap, gestig. Dis natuurlik in die hartjie van die veldblomwêreld geleë en beslaan sowat 6000 hektaar, wat dit ’n besondere plek maak gedurende die blomseisoen. Die tuin het ’n groot verskeidenheid inheemse plantegroei, waaronder dele van die Nieuwoudtville-skalie-renosterveld, Nieuwoudtville-Roggeveld-doloriet-renosterveld en die Hantam-vetplant-Karooveld. Daar is nege verskillende staproetes in die tuin en besoekers kan meer as 80 endemiese plante uit die Bokkeveld-plato en meer as 1350 blomspesies hier aanskou. Dis ’n móét vir enigeen wat Namakwaland in die lente besoek!

2

Maak seker jy besoek een van dié pragtige tuine, regoor die land. En as jy op soek is na heerlike blyplekke in elke omgewing, bied LekkeSlaap jou ’n paar lekker opsies.

Hooffoto: Die Boomslang, Kirstenbosch Nasionale Botaniese Tuin, deur Adam Harrower.