Erfenismaand is om die draai en die Bo-Kaap is net die plek waar jy kultuur en plesier op sy beste kan ervaar. Hier kan jy op ’n staptoer deur die woonbuurt gaan, die kleurvolle huisies bewonder, Kaaps-Maleise disse probeer of ’n bietjie meer oor die geskiedenis agter hierdie prentjiemooi omgewing leer.

In hierdie blog wys LekkeSlaap jou hoe en waar jy jou hande lekke vuil (of vol deeg) kan maak, of ’n lekke bederfie kan geniet. So waarvoor wag jy? Lees verder en maak jou planne vir Erfenismaand sommer vroeg vas.

Die Bo-Kaap se geskiedenis in ’n neutedop

Die Bo-Kaap is aan die voet van Seinheuwel in Kaapstad geleë en is sedert die tweede helfte van die agtiende eeu die tradisionele tuiste van Kaapstad se Moslembevolking. Dit dateer uit die 1760’s toe menige huurhuisies deur die Nederlandse koloniste gebou en aan slawe verhuur is. Hierdie voormalige slawe staan as die Kaapse Maleiers bekend, wat uit Maleisië, Indonesië en die res van Afrika gebring is om in die Kaap te werk. Hierdie inwoners het ook bygedra tot die vorming van die Afrikaanse taal, en vandag is daar steeds families wat al geslagte lank daar woon en ’n belangrike deel van Kaapstad se kulturele erfenis vorm.

Die kleurvolle huisies

Het jy al gewonder wat die storie agter die kleurvolle huisies is? Toe die slawe die huise destyds gehuur het, was dit die eienaars se instruksies dat die huise slegs wit geverf kon word. Toe hierdie reël uiteindelik opgehef is, en die slawe toegelaat is om hul eie eiendom te besit, het hulle al die huise met helder kleure geverf – as simboliek om uiting aan hul vryheid te gee. Die huise is ’n mengsel van Kaaps-Hollandse en Kaaps-Georgiese argitektoniese style en word as ’n viering van die Islamitiese geloof, kultuur en Oosterse oorsprong beskou, en dien boonop as ’n groot trekpleister vir toeriste.

Besienswaardighede en aktiwiteite in die gebied

Bo-Kaap Museum

Die Bo-Kaap Museum vorm deel van die Iziko-groep Kaapse museums en is in die 1760’s deur Jan de Waal, die oorspronklike ontwikkelaar van die gebied, gebou. Dié museum is in 1976 gestig om die leefstyl van ’n tradisionele 19de eeuse Moslemgesin wat in Bo-Kaap woonagtig was uit te beeld en dit is as ’n gesin se huis opgerig en gemeubileer. Dit is nou ’n Nasionale Monument wat Suid-Afrika se Islamitiese erfenis in die vrolike Bo-Kaap-woonbuurt ten toon stel, terwyl dit die bevryde slawe en hul tog na selfidentiteit herdenk.

Adres: Waalstraat 71, Bo-Kaap, Kaapstad

Kontakbesonderhede: 021 481 3938

Die Auwal-moskee

Die Bo-Kaap is bekend as die middelpunt van Kaapstad se Moslembevolking en spog met die bekende Auwal-moskee wat reeds in 1794 gebou is. Die Auwal-moskee is die eerste moskee in Suid-Afrika, wat op die grond van ’n vrygestelde swart Moslem-slaaf en sy gesin, gestig is. Dié moskee was die eerste plek in die land waar die unieke Kaaps-Maleise Moslem-tradisies en -taal formeel geleer is en openbare gebede gepraktiseer is. Dit is ook die tuiste van ’n handgeskrewe kopie van die Koran deur Tuan Guru, wat dit uit die geheue geskryf het terwyl hy op Robbeneiland opgesluit was. Besoekers wat die moskee buite daaglikse gebedstye wil besoek, moet asb. onthou om hul bene en skouers te bedek, terwyl die dames ook ’n kopdoek moet hê.

Adres: Dorpstraat 39, Bo-Kaap, Kaapstad

Kontakbesonderhede: 082 551 7324

The Atlas Trading Company

Die Atlas Trading Company is ’n ikoniese speserywinkel wat in die hartjie van die Bo-Kaap sedert 1946 deur ’n familie bestuur word. Dit is die oudste speserywinkel in Kaapstad en, volgens die direkteur Wahab Ahmed, is die winkel gebou van dieselfde klip wat gebruik is om die Kasteel die Goeie Hoop te bou. Wanneer jy hier tussen die rakke loop word jy met houtagtige borrie- en kerriemengsels, aromatiese wierook, groothandelsakke rys, of tintelende gedroogde brandrissies verwelkom. Dit is veral ’n gunsteling onder plaaslike kokke en professionele sjefs, en die produkte is in klein pakkies of grootmaat beskikbaar. 

Adres: Waalstraat 104, Bo-Kaap, Kaapstad

Kontakbesonderhede: 021 423 4361

Bo-Kaap Kombuis

Bo-Kaap Kombuis skuil aan die voet van ’n heuwel en spog met ’n skouspelagtige uitsig op Tafelberg en oor die stad. Volgens die eienaars Yusuf en Nazli Larney weerspieël die restaurant die gebruike en tradisies van die Bo-Kaap se oorspronklike inwoners. Die uitgebreide spyskaart bestaan ​​uit kerries, vegetariese disse en versnaperinge soos samoesas. Daar is ook ’n verskeidenheid outentieke Kaaps-Maleise geregte soos stadig gekookte denningvleis, wat met tamarynpasta en plaaslike speserye gekook word. Ander disse sluit lams- en viskerrie, en botterhoender in, asook lekke plaaslike nageregte soos malvapoeding.

Adres: August-straat 7, Schotsche Kloof, Kaapstad

Kontakbesonderhede: 021 422 5446

Ander lekke eetplekke in die omgewing: 

Biesmiellah is ’n halaal-restaurant wat geen alkohol bedien en rondom Moslem-oortuigings en gewoontes gestig is. Hier kan jy aan bobotie, samoesas, brandrissiehappies en botterhoendergeregte smul. 

Adres: Hoek van Waal- en Pentz-straat 2, Schotsche Kloof, Kaapstad

Kontakbesonderhede: 021 423 0850

Rose Corner Cafe is reg in die middel van die Bo-Kaap geleë en is vir hul koesisters en gevlegte en gekruide oliebolle wat in stroop gedoop is en met klapper besprinkel word, bekend.

Adres: Waalstraat 100, Schotsche Kloof, Kaapstad

Kookkursusse en plaaslike toere

Vir diegene wat op soek is na iets meer prakties of selfs opvoedkundig, is daar ook kort kookkursusse:

By The Bo Kaap Cooking Tour wat deur Zainie Misbach bestuur word, kan jy leer hoe om samoesas te vou en roti’s te maak, oefen om die speserye vir ’n perfekte tradisionele Kaaps-Maleise kerrie te meng, asook die Bo-Kaap-gemeenskap beleef. Sluit die toer met ’n lekke voorbereide middagete af.

Adres: Rose-straat 46, Bo-Kaap, Kaapstad

Kontakbesonderhede: Zayed 078 739 4073 of Zainie  074 130 8124

Gaste kan ook die Kaaps-Maleise kooktoer saam met Cape Fusion Tours doen, wat ’n besoek aan Truth Coffee, die Distrik 6-museum en ’n insiggewende kuier deur die woonbuurt insluit. Tydens hierdie toer ontmoet jy ook lede van die gemeenskap en leer hoe om ’n paar heerlike tradisionele disse te kook.

Adres: Vredehoeklaan 6, Oranjezicht, Kaapstad

Kontakbesonderhede: 021 461 2437


Blyplek in die Bo-Kaap

As die bogenoemde besienswaardighede vir jou lekke lyk, kan jy jou wegbreek nóg kleurvoller maak deur jou verblyf by LekkeSlaap te bespreek. Ons webtuiste spog met verblyf in die Bo-Kaap-omgewing vir elke sak en dan is jy sommer naby genoeg om die kultuur en plesier ten volle te vier.


Die Bo-Kaap bied as’t ware iets vir elke smaak en gas, óf jy wil smul aan lekkernye, jou kookvernuf wil opskerp óf slegs ’n begeleide wandeling wil neem, hierdie is die perfekte plek om jou erfenismaand ’n bietjie ryker te maak.

Hooffoto: Natasha Labuschagne