As die gedagte aan geskiedkundige verblyf jou dadelik aan die spook van Uniondale laat dink, is dit waarskynlik tyd dat iemand vir jou die prentjie ’n bietjie anders skets! LekkeSlaap bied werklik iets vir almal en hierdie keer het ons ’n paar blyplekke met onvergelykbare karakter gaan soek, wat jou sal terugneem in tyd sodat jy vol heimwee en nostalgie met nuwe oë na ou plekke kan kyk. 

Langfontein Farm Cottages
Oos-Kaap

1830 Cottage

By Langfontein Farm Cottages sowat 50 kilometer vanaf Graaff-Reinet kan julle ’n ware voorsmaak van die lewe op ’n Karooplaas kry. Verblyf word in drie verskillende kothuise naamlik Westbrook, Dot’s Cottage en 1830 Cottage, wat almal tussen die agtiende en vroeë negentiende eeu gebou is, gebied. 1830 Cottage is tydens die Boereoorlog as ’n polisiestasie gebruik en alhoewel dit steeds die oorspronklike voordeur oorhou, sal julle geen teken van boeie of tralies vind nie aangesien die kothuise in 2004 deur die nuwe eienaars gerestoureer is. 

Foto’s: Marliza Van Den Berg

Daar is plek vir die hele gesin én ’n paar vriende op die plaas aangesien Westbrook slaapplek vir veertien gaste, 1830 Cottage plek vir vyf gaste en Dot’s Cottage plek vir twee gaste het. Die verblyf spog ook met volledige kombuisies, kaggels en braaigeriewe vir gesellige kuiers. Verder het die hoofhuis ’n swembad waarin almal kan swem!   

Asof dit nie genoeg is om jou ’n hele paar jaar terug te neem nie, spog die woonhuis op die plaas met sy oorspronklike houtvloer en plafon van geelhout uit Knysna, kaggels en ’n enorme voordeursleutel! Daar is ’n wingerdstok in 1860 langs die huis  geplant, dieselfde jaar wat die huis gebou is en dit is tot vandag nog ’n welige prieel gedurende die warmer maande. Dié plant is waarlik stokoud.

San Gabriel Homestead

Wes-Kaap

Dié plaas bied sprokiesagtige slaapplek tussen Somerset-Wes en Stellenbosch in die hartjie van die Kaapse Wynlande. San Gabriel Homestead het oor die afgelope twee en ’n half eeue verskeie inwoners gehad, maar is uiteindelik in 2006 deur die huidige eienaars gekoop en word nou, ná die pandemie, aktief vir besprekings bemark. 

Die plaas se ou slawekwartiere, wynkelder, stalle en ander geboue is in sewe selfsorgkothuise omskep, waarvan die oudste Mr Bickerton’s Cottage is. Dié kothuis het die eerste eienaar, Paul Hartog Junior, aan wie byna twee hektaar in 1759 toegeken is, in 1754 gehuisves terwyl die herehuis, wat ook bespreek kan word, opgerig is. 

Van die sewe kothuise is daar vyf met slaapplek vir twee gaste, twee met slaapplek vir vier gaste en die hoofhuis wat slaapplek vir agt gaste het. Elke eenheid het genoeg gemaklike sitplek op ’n privaat stoep en gaste kan ook in die gemeenskaplike swembad swem.

Die herehuis spog met ’n pragtige geelhoutvloer en -plafon en die klip- en kleimure van die hoofhuis, wynkelders en Mr Bickerton’s Cottage getuig van die lang tydperk wat die opstal al staan. Verder het die eikehoutbome van honderde jare oud en die rose in die binnehof wat amper 100 jaar oud is ook die toets van tyd deurstaan. Nóg ’n spesiale, unieke kenmerk van die huis is die gewel wat uit 1756 dateer en saam met dié op Joostenberg-landgoed in Muldersvlei, een van die twee oudste gewels in die Kaap is. 

Die Poort Private Nature Reserve

Wes-Kaap

Hierdie privaat natuurreservaat is ’n paradys vir natuurliefhebbers en die afwesigheid van enige geraas van die moderne samelewing sal jou toelaat om ’n geloofwaardige prentjie van die lewe van lank gelede op dié plaas te skets. 

Verblyf word in drie kothuise genaamd The Barn, Eagle’s Nest en Fig Tree aangebied. Laasgenoemde is in 1915 van baksteen en klei gebou en het as pioniershuis gedien. Dit het oor die jare heen verskeie inwoners gehuisves en is in 2004 opgeknap, vier jaar ná Mnr. Broer Nel wat in die kothuis gebore is, oorlede is. Dit spog tans met ’n buitestort en ’n aparte, aangrensende slaapkamer met ’n en suite-badkamer. Beide geboue grens aan die ou leivoor waarlangs peperbome wat skadu oor die stoep en braaiplek gooi, groei.

Alhoewel die presiese datum nie bekend is nie, word daar beweer dat Eagle’s Nest in 1881 gebou is. Nietemin was dit die eerste gebou op die plaas. Hierdie selfsorgkothuis is die som van die twee oorspronklike klein geboue wat nou deur die sitarea verbind word. Dit is makliker om Eagle’s Nest te perd te bereik as met ’n kar, maar as jy ’n voertuig met ’n hoë grondvryhoogte het, sal jy piekfyn wees. 

Nie net kan jy die stilte op die reservaat wat aan die Swartberg Bewarea grens, indrink nie, maar jouself ook verder in die geskiedkundige ervaring verdiep te danke aan die gebrek aan selfsoonsein, WiFi en elektrisiteit in die kothuise. Gryp jou vellies en ’n boek en kom kuier in ’n kothuis in die Karoo tussen die Kaapse kreupelbosse!

Langkloof 1919

Limpopo

Hierdie plaas in Limpopo is al meer as ’n eeu lank die tuiste van die Botes-familie en is die perfekte bestemming vir enige iemand met ’n waardering vir items wat woordlose stories uit die verlede vertel en jou kop aan die dink sal kry. 

Die plaas, Langkloof, is in 1919 deur Pieter Willie Botes, die huidige eienaar se oupagrootjie, vir sy kinders gekoop. Pieter se seun, Abe, en sy vrou, Sannie, het hulself dadelik op die plaas gevestig en eiehandig ’n tweeslaapkamerhuis en ’n stoortjie aan die voet van ’n heuwel gebou. Ongebakte kleistene van die rivierwal en hout van die geelhoutbome op die plaas is gebruik om die bouwerk te voltooi. Die stoortjie is kort daarna in ’n slaapkamer vir die nuwe baba, Frikka, omskep en dien vandag as die en suite-badkamer van die huis se hoofslaapkamer. Pieter moes nog ’n stoor bou, wat óók later in ’n kinderkamer vir die jongste gesinslid, Toon, omskep is.

Anton, die huidige eienaar en seun van Toon, het in 2010 die plaas by sy neef gekoop en in 2013 begin om die verwaarloosde huis saam met sy vrou op te knap. Hulle het die oorspronklike uitleg behou en dit vir die eerste keer as verblyf op LekkeSlaap in 2021 geadverteer. Die uitleg is nie die enigste oorspronklike kenmerk van die huis nie — dit spog ook met ou foto’s en portrette teen die mure, kombuisgoed, persoonlike items soos knipmesse en brille en selfs die oorspronklike katel wat steeds in die slaapkamer staan!

Apple

Wes-Kaap

Foto: Devon Janse van Rensburg op Unsplash

Vir ’n outentieke Kaapse ervaring is hierdie Kaaps-Georgiaanse meenthuis in die hartjie van Kaapstad in die Bo-Kaap beslis die regte bestemming. Hierdie dubbelverdiepinghuise word  aan hul uitleg gekenmerk — twee slaapkamers op die boonste verdieping en ’n kombuis en ’n leefarea op die onderste verdieping. Die huise is tussen 1790 en 1825 deur Nederlandse setlaars gebou en het as een van die oorspronklike huurhuisies vir slawe en vrymense van oostelike Moslem-oorsprong gedien. 

Die huisies was aanvanklik wit geverf, maar ná die bevryding van slawe in die Kaap in 1834 is dit met helder kleure vervang. Die naam, Apple, is gekies op grond van die huis se helder rooi en groen kleure wat ’n mens aan appelboorde herinner.

Die huidige eienaars het die huis in Maart 2019 opgeraap en die buitekant versigtig in lyn met die geskiedkundige oorlegplan vir die Bo-Kaap gerestoureer om die oorspronklike kenmerke van die huis ten toon te stel. Alhoewel die huis binne moderne geriewe bied, is daar geen twyfel dat dié mure ’n storie of twee kan vertel nie. Al die bestaande kleurfoto’s van die huis dui aan dat die mure rooi geverf was en die eienaars het ook hierby gehou. 

Tyd bring karakter en ’n bekoring aan geboue wat nie deur ontwerp of dekor nagemaak kan word nie. Daar is iets wat jou hart vinniger laat klop wanneer jy by ’n gebou instap en dadelik na die lank, lank gelede teruggeneem word, so bespreek vandag nog by een van hierdie geskiedkundige blyplekke as jy oor die verlede nuuskierig is. 

Hooffoto: Langfontein Farm Cottages
Alle ander foto’s, tensy anders vermeld: LekkeSlaap