Hierdie Vrouedag kan jy maar van blomme en sjokolade vergeet, want met ’n spa en ’n restaurant op die perseel, kan jy nie anders as om die spesiale dame in jou lewe hiér te kom bederf nie. LekkeSlaap het gesorg dat julle kan kom afskakel en niemand oor kosmaak hoef te bekommer nie! Maak Vrouedag dié jaar ekstra spesiaal en trakteer ’n vrou op ’n welverdiende blaaskans waar sy ’n voorskoot vir ’n voetmassering kan ruil. Of jy jouself, jou ma of jou ouma met ’n wegbreek wil bederf, hierdie plekke sal beslis vir ’n onvergeetlike tyd propvol herinneringe sorg.

The Alphen Boutique Hotel & Spa

Constantia

LekkeSlaap se wegbreekplekke vir Vrouedag

Wyn proe eenvoudig anders in die Wes-Kaap. Dis waarom dié luukse hotel in die hartjie van Constantia se wynstreek die ideale wegbreekplek vir enige wynproe-entoesias is. Dit is naby talle bekroonde wynplase en bied verblyf met ’n kombinasie van oorspronklike kenmerke, soos kaggels, en moderne geriewe. Bespreek een van die agtien kamers met slaapplek vir twee en kom verlustig jou in ’n konin(gin)klike tyd. Ontbyt is ingesluit en ander etes kan by een van die drie restaurante op die perseel bestel word, so kas toe met kosmaak! Daar is ook ’n kroeg waar julle rustig kan verkeer, pragtige tuine om in te wandel, ’n verhitte swembad en ’n spa waar julle lieflike spa-sessies kan geniet. 

Cradle Lodge and Health Spa

Bonjanala

LekkeSlaap se wegbreekplekke vir Vrouedag

Bring jou hart se punt na Hartbeespoort vir ’n naweek in die natuur. Verblyf is in een van twaalf smaakvol versierde kamers in die lodge, reg langs die spa, beskikbaar. Die lodge het twee verhitte Jacuzzi’s, ’n infrarooi sauna en selfs ’n stoomkamer. Asof dit nie genoeg is om enige iemand te verkwik en sielsrus te gee nie, is daar ook verskeie spa-pakette om te bespreek. Verder kan julle die buiteswembad, tuine, asook kalmerende waterstrome geniet of maaltye by die restaurant op die perseel nuttig. Dit bied voorwaar alles waarvoor jy vir jou bederfwegbreek kan wens.

Silver Forest Boutique Hotel

Somerset-Wes

LekkeSlaap se wegbreekplekke vir Vrouedag

Gaan vir goud by Silver Forest Boutique Hotel in Somerset-Wes waar julle kan ontspan vir die eerste span. Die gastehuis bied verblyf in verskillende luukse tuinsuites en woudsuites, met geriewe soos Nespresso-koffiemasjiene, WiFi en Netflix. Somerset-Wes word deur berge en wingerd omring en spog met ’n rits wynplase en die Helderberg Natuurreservaat waar julle kan gaan piekniek hou, stap en fietsry. As julle eerder rustig tyd op een plek wil deurbring, is hierdie die perfekte plek, want daar is ’n swembad, restaurant en ’n spa, en julle kan selfs op die perseel wynproe — kan jy nou meer! 

Timamoon Lodge

Hazyview

LekkeSlaap se wegbreekplekke vir Vrouedag

Vier Vrouedag deur uit die stad na dié lodge te ontsnap, in ’n area wat vir die natuurskoon, wild, safari’s en besienswaardighede soos die Krugerwildtuin en die Panoramaroete bekend is. Verblyf is in een van sewe unieke eenhede, elk met ’n kaggel en ’n privaat swembad, beskikbaar. Met ’n wasgoeddiens, restaurant, kroeg en spa-behandelings op die perseel kan jy nie anders as om agteroor te sit en jou sorgelose self te herontdek nie. So gepraat van sorgeloos — ontbyt en aandete is ingesluit sodat jy werklik oor niks hoef te bekommer by dié volmaakte wegbreekplek nie.

De Oude Kraal Country Estate & Spa

Vrystaat

LekkeSlaap se wegbreekplekke vir Vrouedag

As jy ’n vrou soos die baas van die plaas wil laat voel, laat dit dié Vrystaatse skaapplaas sowat 35 kilometer suid van Bloemfontein wees! Dié B&B-verblyf met sy noukeurig versierde eenhede met kaggels en buitestorte, asook die heerlike vyfgangmaaltyd wat by The Colonial Restaurant op die perseel beskikbaar is, sorg vir ’n verrykende ervaring soos min. ’n Spa-behandeling is die kersie op die koek en sal ’n wegbreek waaroor niemand uitgepraat kan raak nie verseker.

Fordoun Hotel and Spa

Nottingham Road

LekkeSlaap se wegbreekplekke vir Vrouedag

Bederf ’n dame met ’n wegbreek naby die Drakensberge in hierdie hotel in Nottingham Road in die Middellande van Kwa-Zulu-Natal. B&B-verblyf word in ’n Luxury-suite, Deluxe-suite wat na die dam front en Superior-suites wat na die berg front, gebied. Eersteklas-etes is by die Skye Bistro, wat gedurende die winter knus kaggelvure aansteek, beskikbaar en die spa op die perseel spog met ’n hele span kundiges en behandelings wat internasionaal bekroon is. Om nie eens van die binnenshuise swembad, gimnasium, sauna, stoomkamer, Vichy-stort en hidroterapiebad vir paartjies te praat nie! 

Kloofzicht Lodge & Spa

Wes-Rand

LekkeSlaap se wegbreekplekke vir Vrouedag

Hiér wag ’n onvergelykbare ervaring in die Wes-Rand. Dié lodge is in Muldersdrift aan die voorheuwels van die Zwartkopsberge geleë en bied B&B-verblyf in ’n verskeidenheid suites, elk met gemaklike beddens en ’n privaat ingang. Te danke aan ’n kinderoppasser kan julle elke oomblik gerus wees en by die kroeg, restaurant en gedurende spa-behandelings ontspan. Die lodge haal selfs nóg ’n las van jou skouers af aangesien wasgoeddienste ook beskikbaar is — ideaal!

The Cygnature Boutique Hotel

Modderrivier

LekkeSlaap se wegbreekplekke vir Vrouedag

Dié gholflandgoed met ’n uitsig op die golwende heuwels en ’n dammetjie sorg vir ’n majesteuse wegbreek in die Karoo. Verblyf met ’n rustige atmosfeer weg van die stadsgedruis is deur die bank ’n goeie plan — veral as jy in ’n elegante, moderne kamer met ’n spa-bad in ’n spoghotel kan bly. Die Cygnature Restaurant op die perseel bied à la carte-etes en julle kan ’n rondte gholf speel, behandelings by die mini-spa geniet, of selfs perdry. Dís mos hoe ’n mens Vrouedag vier!

Aloe Lifestyle Hotel

Eshowe

LekkeSlaap se wegbreekplekke vir Vrouedag

In die hartjie van Zoeloeland skuil ’n hotel vol geskiedenis en kultuur wat deur pragtige natuurskoon omring word en beide plaaslike en internasionale gaste lok. Verblyf is in verskeie kamers wat deur Zoeloe-hutte geïnspireer is, beskikbaar. Julle kan voëlvry rondbeweeg en die swembad met sonstoele, die gimnasium en die spa besoek terwyl Aloe Kids Zone die kinders vermaak. Maak gerus ook ’n draai by hierdie bobaas-wegbreekplek se restaurant en die kroeg op die perseel en vier die feit dat julle nie hierdie keer hoef te kook nie. 

De Kloof Luxury Estate Boutique Hotel and Spa

Swellendam

LekkeSlaap se wegbreekplekke vir Vrouedag

Niemand sal jou kwalik neem as jy ogies vir Swellendam maak nie, veral nie as jy hiérdie versteekte juweel in ’n groen, afgesonderde vallei met asemrowende uitsigte besoek nie. Verdiep jou in ’n unieke ervaring deur in een van die ontwerperskamers of -suites te slaap en in die Kolkol-houtvuurwarmbad agteroor te sit. Hierdie plattelandse toevlugsoord spog ook met Sans Souci Spa wat twee behandelingskamers insluit, en ’n restaurant. Alles wat julle benodig om te ontspan, insluitend ’n binnehof met kruie, roostuine, voëllewe en koivisdamme, is hiér. Waavoor wag jy? Bespreek sommer nou al!

Gocheganas Lodge

Khomas

LekkeSlaap se wegbreekplekke vir Vrouedag

Weet jy wat skuil 40 kilometer vanaf Windhoek? Hierdie lodge wat op ’n heuwel geleë is en met ’n skouspelagtige uitsig oor die landskap spog — en dis iets wat jy self moet sien om te glo. Verblyf is in grasdak-chalets met dekor wat plaaslike kunsvlyt en die Namibiese kultuur inkorporeer, beskikbaar. Julle kan ’n unieke eetervaring by die restaurant op die dak geniet, die binnenshuise swembad benut en dan ’n idilliese dag met ’n sessie by die spa met ’n grot-sauna en ’n hidroterapiebad afsluit. 

Lighthouse Guesthouse & Cafe

Groblersdal

LekkeSlaap se wegbreekplekke vir Vrouedag

Laat julle volgende gekose lêplek by dié alles-in-een-gastehuis wees, want dit bied soveel meer as net B&B-verblyf in Limpopo. Bespreek een van agt smaakvol gemeubileerde gastekamers met ’n privaat ingang en asem die geur van lieflike laventeltuine in, of smul aan lekkernye by die koffiewinkel op die perseel. Niemand hoef nêrens heen te gaan nie, want met ’n boetiek, haarsalon, naelkroeg, fiksheidsateljee en selfs ’n koffiewinkel met allerlei smullekker disse, kan jy maar vir ’n paar dae van jou verantwoordelikhede vergeet. O, en maak seker dat julle nie die dag-spa op die perseel links laat lê nie! 

Tsitsikamma Lodge

Stromsrivier

LekkeSlaap se wegbreekplekke vir Vrouedag

Skud al die huishoudelike spanning af en kom sien watter salige sielsrus by hierdie toevlugsoord in die Oos-Kaap skuil. In die pragtige tuine van dié lodge wat in die woud weggesteek is, wag daar vir julle 34 hutte wat uit stompe gebou is — nader aan die natuur kry jy nie. As die spa-bad in die hut nie genoeg is om julle volkome te laat ontspan nie, kan julle gerus die River Spa op die perseel besoek, die sprokiesagtige staproete na die biblioteek aanpak of in die swembad gaan afkoel. Sodra julle ’n behoorlike aptyt gewek het, kan julle by die gelisensieerde restaurant vir smullekker, tuisgemaakte etes aansit. 

Ashwood Guesthouse & Spa

Bloemfontein

LekkeSlaap se wegbreekplekke vir Vrouedag

Vir nóg ’n lieflike Vrouedag in die Vrystaat, is dié lekker wegbreekplek net buite Bleomfontein se middestad ideaal. Verblyf is in ses eenhede beskikbaar, elk met al die geriewe waarvoor julle kan wens. Met wasgoeddienste, ’n lughawe-pendeldiens en ’n kinderoppasdiens wat op versoek beskikbaar is, kan jy meer vryheid omhels en die restaurant besoek of ’n welverdiende spa-behandeling geniet. As stilsit nie jou idee van ontspanning is nie, kan jy gerus ’n draai by Oliewenhuis Kunsgalery maak, wat sowat 11 kilometer vanaf die gastehuis is. 

Moenie verder bekommerd wees as jy nog nie aanstalte met jou Vrouedag-verrassing gemaak het nie, want agteros kom ook in die kraal en hiér het jy nou ’n magdom lekke plekke om vrouwees by te vier! Én as jy meer as net ’n handjie vol vroue in jou lewe het wat só ’n wegbreek verdien, kan jy hier loer na spa-wegbreke vir die hele groep.

Hooffoto: De Kloof Luxury Estate Boutique Hotel & Spa