Suid-Afrika is vir ongelooflike natuurskoon bekend en die beste manier om dit te ervaar is om na die berge te ontsnap. Vir paartjies wat op soek is na ’n romantiese wegbreek, bied die berge ’n skilderagtige en rustige omgewing vir ontspanne verblyf. Of jy nou op soek is na avontuur of bloot in die rustigheid van die natuur wil agteroorsit, Suid-Afrika se bergreekse het iets vir almal. 

Klein-Hangklip

Rooiels

Klein-Hangklip is ’n versteekte juweel hoog teen die berg in Rooiels, ’n rustige kusdorpie aan die oostekant van Valsbaai. Hierdie eko-vriendelike en moderne selfsorgkothuis is teen die hange van die Klein-Hangklipberg geleë en spog met ’n asemrowende uitsig oor die see en op die omliggende berge. Die kothuis is met romanse in gedagte ontwerp en spog met ’n knus kaggel, ‘n houtvuurwarmbad op die dek en hangmatte waar julle kan lê en die sonsondergang geniet. Daar is ook ’n boma waar julle ’n vleisie oor die kole kan gooi en lekker onder die sterrehemel kuier. 


Eagle View 2

Dullstroom

Eagle View 2 in Dullstroom sal julle asems wegslaan! Dié luukse oopplan-huisie skuil op ’n koppie in die Steenkampbergreeks en word deur asemrowende berguitsigte en welige groen heuwels omring. Die verblyf is onafhanklik van die plaaslike kragnetwerk en dis volledig met alle moderne geriewe toegerus en elegant gemeubileer om maksimum gerief en ontspanning te verseker. Die huisie het ’n houtvuurwarmbad met ’n skouspelagtige uitsig en julle kan ’n skemerkelkie op die dek geniet terwyl die son voor julle sak. Loer ook gerus na Eagle View 1 op dieselfde plaas. 


Zielenrust

Wellington

Kom vind sielsrus in die Boland! Zielenrust bied prentjiemooi verblyf in die voorheuwels van die Hawequaberge naby Wellington. Die klipkothuis is eko-vriendelik, het ’n romantiese atmosfeer en is die ideale wegbreekplek in die winter. Die binnebraai sorg vir snoesige aande en julle kan in die houtvuurwarmbad ontspan en die uitsig oor die omgewing aanskou. Daar is ook ’n unieke buitebadkamer met ’n stort met ’n besonderse uitsig. Kom lê in die hangmat onder die boom en vergeet van al jou sorge. 


Exhale Cottage

Montagu

Exhale Cottage is ’n bekoorlike selfsorgkothuis wat van sonkrag gebruik maak op ’n plaas naby Montagu. Hierdie knus kothuis is ideaal vir paartjies wat op soek is na ’n romantiese toevlugsoord in die natuur, wat privaatheid, rustigheid en ’n asemrowende berguitsig bied. Die hoogtepunt van die kothuis is die stoep met hangnette en ’n houtvuurwarmbad met ’n ononderbroke uitsig oor die mooiste natuurskoon. Geniet ’n ontspannende bad of stort buite terwyl die son agter die berge sak. Julle kan ook na die rotspoele stap om af te koel en die 2,5 kilometer lange staproete verken. 


Balie’sGat Kamp en Akkommodasie

Koue Bokkeveld

Balie’sGat Kamp en Akkommodasie bied unieke selfsorghoutkothuise en permatente op ’n plaas in die hartjie van die Koue Bokkeveld, ’n skilderagtige, bergagtige streek in die Sederberge. Die houthuisies is vir twee gaste elk geskik en die luukse permatente bied slaapplek aan twee volwassenes en twee kinders elk. Die permatente skuil in ’n kloof en word deur ongelooflike rotsformasies omring, so dis ideaal vir paartjies wat op soek is na afgeleë verblyf. Elke tent het ’n vuurput en ’n buitebad met ’n uitsig op die kranse. Balie’sGat Kamp en Akkommodasie is die perfekte verblyf vir natuurliefhebbers wat op soek is na ’n outentieke buitelug-ervaring.


Kleinrivier Mountain Escapes

Uitenhage

Kleinrivier Mountain Escapes is ’n skilderagtige bergtoevlugsoord naby Uitenhage in die Oos-Kaap. Hiér is ’n verskeidenheid verblyfopsies, insluitend selfsorgeenhede en kampeerplekke tussen die pragtige Kleinrivierberge. Die selfsorgeenhede is pragtig ontwerp en bied asemrowende uitsigte op die omliggende berge en oor die valleie. Kleinrivier Mountain Escapes is ideaal vir paartjies wat lief is vir voetslaan, want daar is verskeie roetes tot by bergpoele op die plaas. 


Suidster

Montagu

Suidster bied twee romantiese selfsorgkothuise op ’n pragtige plaas tussen Montagu en Barrydale. Hierdie afgesonderde kothuise is onafhanklik van die plaaslike kragnetwerk en ideaal vir paartjies wat privaatheid en rustigheid soek. Elke kothuis het ’n knus kaggel, ’n volledig toegeruste kombuis, ’n dek vanwaar julle die uitsig kan bewonder, ’n houtvuurwarmbad en ’n lieflike buitestort. Beplan ’n romantiese aandete onder die sterrehemel, verken die vyf kilometer-voetslaanroete en geniet die ruskans saam met jou ander helfte. 


Leopard Valley Eco Retreat

Citrusdal

As julle op soek is na ’n vinnge, romantiese naweekwegbreek naby Kaapstad, is Leopard Valley Eco Retreat net die plek vir julle! Dié eko-vriendelike toevlugsoord net buite Citrusdal bied vier selfsorghuisies waar julle ’n onvergeetlike naweek kan geniet. Die huisies bestaan uit skeepsvraghouers wat pragtig ontwerp is en bied asemrowende uitsigte oor die omgewing. Twee van die huisies het hul eie houtvuurwarmbaddens, maar julle kan ook in die plaasdam afkoel. 


Doorinkloof

Montagu

Doorinkloof is ’n plaaskothuis op ’n skilderagtige plaas tussen die berge net buite Montagu. Hierdie oopplan-kothuis is perfek vir paartjies wat ’n romantiese en rustige toevlugsoord soek, en bied ’n asemrowende uitsig op die omliggende berge en oor die vrugteboorde. Die kothuis het ’n binnebraai vir ’n romantiese aand binne en daar is ’n houtvuurwarmbad en braaigeriewe buite op die stoep. 


Eco Karoo Mountain Lodge

Luckhoff

Eco Karoo Mountain Lodge is ’n Instagram-gunsteling, so jou ander helfte sal beslis beïndruk wees! Dié unieke en eko-vriendelike lodge in die hartjie van die Karoo bied foto-geleenthede om elke hoek en draai en die luukse selfsorgsuites het elkeen ’n buitestort met ’n uitsig en ’n privaat stoep. Die lodge spog met ’n swembad met ’n uitsig oor die eindelose Karoovlaktes, ’n boma en ’n gemeenskaplike kombuis. Julle troeteldiere is ook welkom by die lodge! 


KumbuKumbu Mountain Villas

Montagu

Wil jy die spesiale persoon in jou lewe met ’n luukse wegbreek bederf? Dan moet julle na KumbuKumbu Mountain Villas net buite Montagu kom! Hiér is twee pragtige selfsorgvillas om van te kies. Elke oopplan-villa het groot vensters sodat julle die ongelooflike, panoramiese uitsig kan bewonder, ’n kaggel en ’n balkon met ’n plonspoel en sonstoele om op te ontspan. Die villas is gerieflik ingerig met moderne geriewe, so julle kan behoorlik afskakel en mekaar se geselskap geniet. 


Hoor jy dit? Die berge roep na jou en jou geliefde! Bespreek vandag nog ’n welverdiende romantiese wegbreek in die berge. 

Hooffoto: Klein-Hangklip (LekkeSlaap.co.za)