Almal weet hoe ’n reusestad jou hele lewe kan insluk. Pretoria en Johannesburg is twee van die grootste stede in Suid-Afrika en dit is geen wonder dat hul inwoners soms net ’n bietjie uit hul betonkloue wil ontsnap nie.

Die stadslewe is ’n dol affêre, gevul met elektriese lig, loeiende sirenes, huisalarms, motorenjins wat brul en toeters wat blaas en mense wat deur mekaar vleg met selfone vasgegom aan hul ore. Jy is altyd op pad: werk toe, huis toe, winkel toe, kinderpartytjies toe, parkie toe of gimnasium toe. Selfs saans as die son besluit dis slaaptyd, sit die stad sy liggies aan en hou die veraf gedreun van vragmotors en nagklubs jou wakker.

Al kou die rep en roer van die stadslewe al lank aan jou, is dit nie altyd moontlik om met vakansie te gaan nie. Jou verlof is dalk poegaai na Desember, miskien is jy besig met ’n belangrike projek by die werk, en dit help glad nie om na die skoolkalender te kyk nie ‒ die vakansie is nog baie ver. Tog is daar ’n oplossing wat ’n ieder en ’n elk sal pas: blitsvinnige naweekwegbreke!

Gautengers kan sommer nou al begin ontspan danksy al die heerlike blyplekke op LekkeSlaap.co.za waar hulle lekker maklik en vinnig uit die geroesemoes van die stad kan ontsnap. Die volgende lêplekkies bied iets vir elke smaak én is minder as 2 ure se ry van Pretoria en Johannesburg af! Waarvoor wag jy? Pak jou oornagtassie en bespreek vandag nog ’n lekker naweekwegbreek!

’n Uitstekende keuse vir fiksheidsvrate!

Solace Guest House and Spa, met sy goed toegeruste gimnasium en spa- en welwees-sentrum op die perseel, is die perfekte keuse vir ’n heerlike naweek in Midrand. Dié instansie is baie na aan Pretoria en Johannesburg en is dus perfek as jy wil wegkom en jouself net wil bederf. Die feit dat dit naby die N1 én die Gautrein is, maak dit ook ideaal.

GPS koördinate: -25.952660, 28.120212  /  S 25°57’9.576″ E 28°7’12.763″

Perfek vir deftige dames en here!

Die Kings & Queens Boutique Hotel in Centurion is ’n uitstekende keuse vir diegene wat soos koninklikes wil lewe, al is dit dan nou net vir ’n naweek. Dié hotel bied fantastiese verblyf met luukse kamers, lugversorging, ’n swembad, braaigeriewe en selfs ’n kroeg en restaurant. Die weelderige dekor sal jou gou laat vergeet van jou alledaagse stres en gesukkel. Hier kan jy jouself in ’n spoggerige kokon toedraai en vir ’n hele naweek lank vergeet van alles en almal.

GPS koördinate: -25.890925, 28.131650  /  S 25° 53’27.33″ E 28°7’53.94″

Interessant en eksentriek vir kunssinnige stedelinge!

Die Rabbit Hole Hotel in Krugersdorp het ’n magiese atmosfeer en sal jou herinner aan iets uit ’n sprokiesverhaal. Elke detail van dié besonderse plek laat jou voel asof jy in ’n feëverhaal rondstap. Hierdie interessante hotel sal jou laat vergeet van al die e-posse en papierwerk by die kantoor. ’n Allemintige ontbyt is ingesluit by die tarief en aandete is beskikbaar op versoek, so daar is geen rede vir jou om dié kleurvolle hotel te verlaat nie. Behalwe as jy graag ’n potjie gholf op die Krugersdorp Gholfbaan wil speel ─ dis minder as 500 m van die hotel af!

GPS koördinate: -26.087214, 27.777049  /  S 26°5’13.97″ E 27°46’37.376″

Gerieflike verblyf vir huishoendertjies.

Van Dykshuis Guest Lodge is in Heidelberg, Gauteng, geleë, lekker ver weg van die stad se gedruis in die hartjie van die manjifieke Suikerbosrand. Dié huis met sy Victoriaanse styl is 4-ster en elke slaapkamer het ’n en suite-badkamer. Verder het die lodge ’n volledig toegeruste gimnasium, tafeltennis, ’n pooltafel, ’n veerpyltjiebord, skaak en ander bordspeletjies, WiFi, ’n swembad en satelliet-TV. Ontsnap uit die stad en word ’n slag wakker met die gekwetter van voëltjies en die gekwaak van paddatjies in plaas van die gewone verkeersgeraas.

GPS koördinate: -26.495569, 28.357587  /  S 26°29’44.048″ E 28°21’27.313″

Verblyf op die Franse platteland vir mense wat moeg is vir die stedelike strate.

La Provence d’Afrique is enig in sy soort. Die suites loop uit op ’n pragtige keisteenstraatjie, en daar is ’n kafeetjie, 2 groot kaggels en ’n 1929 Chevy-trok wat dien as ’n kroeg ‒ sowaar ’n stukkie Provence in Afrika! Die dekor is alles in ’n Franse styl en ontbyt is ingesluit. Daar is ook romantiese ekstras beskikbaar, soos “hot stone”-masserings in die woud of ’n piekniekmandjie wat voor die kaggel in die straatkafeetjie geniet kan word. Die spa is natuurlik ook ’n wenner! Ontvlug vir ’n naweek die wolkekrabbers en kom raak rustig in Magaliesburg.

GPS koördinate: -25.987193, 27.541587  /  S 25°59’13.895″ E 27°32’29.713″

’n Paradys vir wildliefhebbers ─ 2 wildritte per dag is ingesluit!

Thaba Khaya Lodge in Brits is ’n unieke 4-ster-toevlugsoord wat deel is van Sable Ranch. Dié lodge spog met ’n groot verskeidenheid wild wat oor 4000 hektaar versprei is. Daar is interaktiewe safari-ervarings en jy sal heelwat wild te siene kry, insluitend seekoeie, arende, luiperds en skilpaaie. Na ’n opwindende dag van wildkyk kan jy gerus ontspan in die kroeg op die perseel of op die swembad-dek met sy uitsigte oor die berge en die watergat. Aangesien die oord slegs slaapplek vir 12 gaste op ’n slag bied, is persoonlike diens en aandag aan detail gewaarborg.

GPS koördinate: -25.430832, 27.718069  /  S 25°25’50.995″ E 27°43’5.048″

Nét die plek vir avonturiers!

Mountain Chalet and MTB Trails is ’n troeteldiervriendelike blyplek in die bosveld, so selfs Wagter kan saam uit die stad ontsnap! Dit is sowat 15 km noord van Brits en is absoluut perfek vir die van julle wat nie graag stilsit nie. Gaste benodig ten minste ’n bakkie of voertuig met ’n hoë grondvryhoogte om dié plek te bereik. En moenie vergeet om jou bergfiets in te pak nie, want daar is ’n hele paar lekker bergfietsroetes wat jy kan aandurf. Daar is ook ’n waterwurm, putt-putt, tennisbane, kano’s en warm en koue swembaddens. Aangesien dit in die bosveld is, is sebras, koedoes, njalas, rooibokke, volstruise én kameelperde hier te siene.

GPS koördinate: -25.535051, 27.732474  /  S 25°32’6.184″ E 27°43’56.906″

Kaptein, span die seile!

By die Korhaan Rivierlandgoed in Sasolburg kan jy jou lyf kaptein hou op ’n huisboot. Vat die stuur en vaar op die waters van die Vaalrivier Barrage Reservoir. Die personeel sal jou touwys maak en help om ’n roete te beplan, en daarna kan jy die kaptein van jou eie rivier-avontuur wees! Elke boot bied slaapplek vir 5 mense, so jy kan die hele gesin saamneem ‒ almal verdien ’n blaaskans! Terwyl jy kaptein-kaptein speel kan jy jou bootjie vasmeer by verskeie oulike plekkies al langs die oewer, soos restaurante, spa’s, gholfbane en ’n casino. Hengel van jou bootjie af of braai op die dek. Dit klink mos soos die perfekte naweekwegbreek, of hoe? Daar is 24 uur van die dag iemand aan diens wat kan help indien jy in die moeilikheid sou beland, so dit is baie veilig!

GPS koördinate: -26.777721, 27.769778  /  S 26°46’39.796″ E 27°46’11.2″

’n Bosveldhemel vir natuurliefhebbers!

Thirsty Falls Gasteplaas lê hoog teen die suidelike hange van die Magaliesberge. Elke privaat kothuis skuil in die bos en elkeen het sy eie balkon met panoramiese uitsigte en ’n oop vuurherd. Daar is ’n skugter koedoefamilie wat met sonsopkoms en sonsondergang te voorskyn kom. Jy kan heerlik gaan stap in die natuur en ander kleinwildspesies ook te siene kry. Die boomtoptoere, warmlugballonvlugte, perdritte, forelhengel en kersemaak sal jou gou laat vergeet van die stad en al jou bekommernisse. Thirsty Falls is ’n werkende plaas wat fokus op volhoubare ontwikkeling, so beproef hier die beste kuur teen stadskoors ─ die natuur!

GPS koördinate: -25.861830, 27.365586  /  S 25°51’42.588″ E 27°21’56.109″

’n Pragtige wegbreek in die natuur vir stadsjapies.

Avonturiers kan hulself terdeë geniet by Lekkerkry Wildplaas. Dié plaas is in die beeldskone bosveld geleë. Verskeie wildsoorte, soos koedoes, blouwildebeeste, swartwildebeeste, elande, rooibokke, springbokke, rooihartbeeste, njalas, sebras en wild- en waterbokke loop vry rond. Daar is selfs ’n paar apies en bosvarke! Hier kan jy jouself verlustig in wildritte, vierwielmotorfietsritte, voetslaan en bergfietsry. Die boma en swembad is gemáák vir lekker kuiers. Hier kan jy bloot ontspan of jou hartklop opjaag en vergeet van die vervelige kantoor.

GPS koördinate: -26.586064, 27.497661  /  S 26°35’9.83″ E 27°29’51.579″

Dit is hoog tyd dat jy bietjie van die stad af wegkom, al is dit net vir ’n kort rukkie. Bespreek vandag nog jou naweekwegbreek en verkwik ’n slag jou stedelike siel.

*                                   *                                   *

Hooffoto: Roadtrip, Foto: Silent Star Photos (Flickr)