Die nostalgie pluk aan jou hartsnare sodra jy begin terugdink aan die stories van jou kinderdae. Die boeke waardeur jy liefderik geblaai het, sonder om al die woorde te verstaan. Die prentjies wat jy met jou vinger nagetrek het op die kleurvolle blaaie wat altyd met slapenstyd te voorskyn gekom het.

Storieboeke, sprokies, rympies. Elkeen van ons het ’n gunsteling gehad. Daar was een storie of een rympie wat jy bo die ander verkies het, waarna jy oor en oor kon luister en wat Mamma somtyds twee keer na mekaar vir jou moes voorlees. Die ouderdom laat ons vergeet van die prenteboeke op die rak. Hulle word in bokse gedruk, geskenk of bloot op ’n stowwerige rak gelos. Die vergeet duur voort, totdat jy self kinders kry, die boeke afstof en nuwe boeke koop wat, soos in jou eie kinderdae, weer en weer en nog ’n keer voorgelees word aan die klein mensie vol verwondering oor al die pragtige prente en verhale oor avonture en toorkuns en magiese diere wat kan praat.

Al is daar nie meer ’n enkele sprokiesboek op jou rak nie en al lees jy nie meer elke aand dieselfde bekende stories nie, verlaat die sprokies van jou kinderdae jou nooit regtig nie. LekkeSlaap het besluit om 10 lekke plekke te gaan soek waar jy die hoofkarakter in jou gunsteling-sprokie kan wees. Raak saam met ons nostalgies en gee jouself oor aan die onskuldige verwondering van jou kinderdae.

Almal ken die eeue oue storie van Aspoestertjie. Die weesdogtertjie wat deur haar stiefma en stiefsusters soos ’n slaaf behandel is tot sy die dag, met die hulp van haar Goeie Feë, die bal by die kasteel bygewoon het en sodoende haar prins ontmoet het. Daarna het hulle natuurlik vir ewig en altyd gelukkig saam gewoon in sy mooie kasteel.

As jy ook jou lyf prinses wil hou, kies koers na Stone Castle in Saldanha aan die Weskus. Dié majestueuse gebou is ’n kasteel wat die naam werd is, met dik klipmure, hoë dakke, swaar deure, baie kamers, ’n heerlike vuurherd en trappe wat na die hoë torings lei. Vir hedendaagse prinsesse is dit natuurlik ’n ekstra bonus dat dié einste kasteel boonop reg teen die strand geleë is en dus met ’n absoluut koninklike uitsig spog.

Is jy ook siek en sat van vloere skrop en skottelgoedwas? Pak dan jou tas en sleep jou prins saam na Stone Castle in Saldanha. Jy het nie ’n Goeie Feë nodig om dié droom te laat waar word nie!

“Daar is ’n ou vrou, sy woon in ’n skoen. Sy het so baie kinders, sy weet nie wat om te doen. Sy gee hulle sop, sonder botter of brood. Dan kry elkeen ’n pak, van klein tot groot.”

As jy Afrikaans as huistaal gehad het, is daar ’n goeie kans dat jy dié rympie al een of ander tyd gehoor het. As die gejaag en stres van die alledaagse lewe jou ook voor jou tyd oud laat voel, pak die kroos in die kar en kies koers na Limpopo. The Shoe Guest House is ongeveer 20 km van Ohrigstad af geleë en bied ’n ware bosveld-ervaring wat boonop omgewingsvriendelik is aangesien die gastehuis 80% sonkrag gebruik. Dit is ook troeteldiervriendelik, so elke lid van die gesin kan in dié avontuur deel.

Die meisie met die rooi mantel, die kappie en die mandjie eetgoed vir ouma staan onder Afrikaanse kinders bekend as ’n geliefde sprokie én ’n waarskuwing. Soos almal goed weet is Rooikappie die storie van ’n ongehoorsame dogtertjie wat haar om die bos laat lei het op pad na haar ouma se huisie wat diep in die woud weggesteek was.

As jy ook bietjie lus is om die pad byster te raak, kan jy altyd by Forest Valley Cottages kom afpak. Dié pragtige plek is diep in die inheemse Knysna-woud versteek en bied ’n uiters romantiese toevlugsoord. Vergeet van alles en almal en kom kruip weg in die woud in een van dié bekoorlike kothuise met asemrowende uitsigte, dekke en buitestorte. Jy kan selfs in die bad lê en uitkyk oor die duisende, digte bome in die vallei.

Forest Valley Cottages spog met die ideale ligging, want al voel dit of jy so diep in die bos versteek is dat niemand jou ooit weer sal vind nie, is dit tog net 8 minute se ry van die Knysna-strandmeer af en net 9 – 15 minute buite die dorp.

Sneeuwitjie se stiefma, die koningin, was so jaloers op haar skoonheid dat sy ’n jagter beveel het om die prinses te vermoor en haar hart aan die koningin te besorg. Die jagter kon dit nie oor sy eie hart kry om die mooie prinsessie om die lewe te bring nie en het haar aangeraai om weg te hardloop. Sy het op die ou end ’n huisie gevind waarin 7 dwergies gebly het, waar sy haarself toe sommer tuisgemaak het. Tot tyd en wyl die koningin haar weer opgespoor het, het Sneeuwitjie saam met die 7 diamantmynwerker-dwergies in hul huisie gebly en in ruil vir skuiling het sy die huisie skoon gehou en kos gemaak.

Gnome Cottage in Clarens is ’n bekoorlike, ouwêreldse huisie met ’n baie ongewone struktuur. Kom speel Sneeuwitjie en kruip weg vir die wrede wêreld in dié pragtige dwerghuisie wat in een van die mooiste plekke in Suid-Afrika staan. Met die betowerende sandsteenberge van Clarens as agtergrond, en die matige klimaat kan jy ook kom kyk hoekom die streek as “Die Juweel van die Vrystaat” bekend staan.

Heidi se storie is al so oud soos die berge. Baie Afrikaanse kinders het aanklank gevind by dié bekende verhaaltjie van die Duitse dogtertjie, die bokwagtertjie Peter en die verlamde dogtertjie Klara, wat in die skilderagtige Switserse Alpe afspeel. Heidi het nie goed geaard in die stad nie en was baie lief vir die berge waar sy haar ware tuiste gevind het.

As jy ook soms voel dat die lewe in die stad jou effe weemoedig laat, kan jy mik na die berge en by Klipfontein Bushcamp kom kuier. Klipfontein Bushcamp is in Lydenburg in Mpumalanga geleë en spog met pragtige houthuisies wat lieflike uitsigte bied. Die kothuisies op die plaas kan net deur een groep op ’n slag bespreek word, so jy sal volkome rus en privaatheid geniet gedurende jou kuiertjie in die berge. Dié plekkie is net 2 uur en 30 minute van Pretoria af en is enige natuurliefhebber se droom met uitsigte op die Steenkampsberge, Kwena-dam en die vallei. Hou jou lyfie Heidi en kom bokspring by dié pragtige, bergagtige bestemming!

Ons almal ken die storie van die 3 varkies ─ die 3 varkies wat die huis moes verlaat en elk ’n huisie vir hulself moes bou. Elke varkie het anders oor die saak gedink en ’n ander boumateriaal gekies. Die oordeelsdag het natuurlik gekom toe die wolf opdaag om elke huisie se standvastigheid te toets.

Die Huisie van Strooi:

Die eerste varkie het sy huisie uit strooi gebou.

Hierdie varkie was baie lui en het sommer die eerste boumateriaal gekies wat sy kant toe gekom het ─ ’n man met ’n strooibaal op sy rug. Hy het blitsvinnig vir hom ’n huisie aanmekaar geflans, maar dit het nie baie lank gehou toe die wolf kom en dreig om die huisie om te blaas nie.

Strooi Kooi in Calitzdorp is uit strooibale en materiale uit die omgewing gebou. Dit kombineer al die elemente van tradisionele Karoo-boutegnieke en is baie omgewingsvriendelik. Strooi Kooi is darem stewiger as die varkie van ouds se huisie, so as strooi ook in jou smaak val, kan jy gerus hier kom nesskop.

Die Huisie van Stokkies:

Die tweede varkie het sy huisie uit stokkies gebou.

Hy was effens slimmer as die eerste varkie, maar steeds nie lus om baie ver te soek vir boumateriaal nie. Die tweede man wat hul pad gekruis het, het ’n bondel stokkies op sy rug gehad en die tweede varkie het besluit dit is ’n heel gawe boumateriaal. Hy bou toe ’n huisie uit stokkies, wat effens meer standvastig was teen die wolf se bolwange, maar steeds nie kon bly staan nie.

As jy ook stokkies as boumateriaal sal waag, kan jy by Biesjesfontein Guesthouse gaan afsaal. Die stokkieshuisie is delikaat en pragtig en op ’n plaas net 4 km van Springbok af geleë. Dié selfsorgplekkie is perfek vir diegene wat wil wegkom van die verkeersgeraas en net ’n rustige plaasleefstyl wil ervaar. Hier kan jy lekker braai onder die manjifieke sterrehemel en kyk hoe perde en springbokke op die tipiese Namakwaland-bossieveld wei.

Die Huisie van Bakstene:

Die derde varkie het sy huisie met bakstene gebou.

Hierdie enetjie was die geduldigste van die lot en het gewag tot hy iemand kry wat bakstene verkoop. Hy het gedink dit sal ’n lekker sterk boumateriaal wees en eerder dít gebruik vir sy huisie. Die dag toe die wolf vir hom kom, het hy glimlaggend in sy baksteenwoning gesit terwyl die wolf homself uitasem blaas, en die huisie het bly staan.

Sequoia Gardens in Magoebaskloof is die tipe plekkie wat ideaal is as ’n toevlugsoord in die natuur. Nes die derde varkie se huisie is dit uit bakstene gebou en is daar ’n oulike kaggel met ’n skoorsteen. Die ligging van die huisie is so sprokiesagtig in die middel van wilde tuine op ’n beeldskone bosbouplaas, dat jy maklik van die wye wêreld daar buite sal vergeet. Kom vind jou rus by hierdie oulike huisie in Limpopo.

Ons almal ken Raponsie. Die mooie meisie met die ongelooflike lang hare wat toegesluit is in ’n toring deur nóg ’n jaloerse heks. Die pragtige kind is weggesteek van die wêreld as straf aan haar ouers wat die heks se kruie gesteel het toe Raponsie se ma siek geword het tydens swangerskap. Raponsie het haar hare gebruik as ’n leer vir die heks om haar in die toring te kom besoek. Op die ou end het sy haar prins op dieselfde manier ontmoet na hy haar soet stem hoor sing het.

Fairview Estates in Fouriesburg is perfek vir enigeen wat graag Raponsie wil speel. Die twee torings staan styf teen mekaar op ’n plattelandse plaas met baie alpakkas, Bonsmara-vee, mielies en bone. Hier kan jy jouself kom wegsluit in ’n toring met die plattelandse plaasatmosfeer en oulike alpakkas vir geselskap. Kom soek jou prins, of bring hom saam, en bring ’n rustige paar dae in die Vrystaat deur. Gelukkig hoef jou hare nie so lank soos Raponsie s’n te wees om hier te kom kuier nie ─ die torings het darem trappe tot heel bo!

Alhoewel Die Avonture van Alice in Wonderland nie oorspronklik in Afrikaans geskryf is nie, is dit al telkemale vertaal en oorvertel aan kinders van alle tale, Afrikaans inkluis. Dié verhaaltjie handel oor ’n dogtertjie met die naam van Alice wat sien hoe ’n wit konyn ’n sakhorlosie raadpleeg voor hy in ’n gat verdwyn. Uit nuuskierigheid volg sy toe die konyn in die gat af en bevind haarself in Wonderland. Dit is ’n verskriklike interessante plek waar die magiese alledaags is, diere kan praat en sy nie te alle tye noodwendig dieselfde grootte bly nie.

The Rabbit Hole Hotel is duidelik geïnspireer deur hierdie magiese verhaaltjie en is ’n mengelmoes van helder mosaïek-skeppings, reuse boeke wat die ingang bewaar, teepotte as tuinversiering, weelderige meubels en helder spatsels kleur in onverwagse plekke. By dié hotel in Krugersdorp kan jy ook jouself verloor in ’n magiese wonderland. Jy hoef nie eens in ’n konyngat te klim om dit te beleef nie!

Nou weet jy ook van 10 lekke plekke waar jy jouself in ’n storieboek-wêreld kan verlustig en kan vergeet van die wrede werklikheid. Pak jou tassie, kinders en troeteldiere in die motor en kies koers na jou gunsteling van dié 10 blyplekke. Vertel stories onder die sterrehemel en sing bekende volksliedjies om die kampvuur terwyl jy malvalekkers op stokkies braai.

Met dié blyplekke kan ons jou help om jou vakansie in ’n feëverhaal te omskep!

Hooffoto: The Arrival of the King & Queen of Fairies – E Stuart Hardy, Sofi (Flickr)