Ongeveer twee miljard jaar gelede het ’n meteoriet groter as Tafelberg die aarde getref en vandag staan dié gebied as die Vredefortkoepel bekend. Dié Wêrelderfenisgebied is in die Vrystaat en is egter nie net ’n geologiese skatkis nie. LekkeSlaap het 15 opwindende doendinge ontdek wat so reg in menige avonturier se kraal sal pas!

https://www.instagram.com/p/BTSGEhhlU6T/?hl=en

’n Begeleide toer kan volgens jou spesifieke belangstellings aangepas word en ons beveel aan dat jy só ’n toer met ’n ander avontuur in die koepel kombineer. Otters’ Haunt spesialiseer in opvoedkundige toere waartydens jy meer kan leer van geologie, astronomie, evolusie, asook die geskiedenis van dié gebied se vroegste bewoners, kulture, migrasies, tot die meer onlangse slagvelde en ontdekking van goud. Daarom stel ons voor dat jy vir ’n paar nagte by dié blyplek kom afsaal.

https://www.instagram.com/p/BJcywiZhJa5/

1. Verken die ou goudmyntonnels

Hoewel goud tans op die eertydse krater se rante, soos by Johannesburg en Welkom, ontgin word, is die eerste goud as’t ware al in 1886 hier in die koepel ontdek. Omdat dit egter min goud opgelewer het, het die 15 000 mynwerkers die gebied kort daarna weer verlaat op soek na gouer weivelde. Daar is ’n paar tonnels in Thabela Thabeng wat jy self kan verken, en ’n gids kan jou ook ’n klompie ander gaan wys. Een van die tonnels is 1,5 km lank.

https://www.instagram.com/p/BJkeRIqjW8B/

2. Bestudeer die rotsformasies

Die meteoriet se impak het diep frakture in die onderste rotslae gemaak wat gesmelte rots vanaf die oppervlak in die skeure laat sypel het. Jy hoef nie noodwendig ’n geoloog te wees om behae te skep in die ontblote kliprante wat só gevorm is nie.

https://www.instagram.com/p/BImU2tNjfRw/

Die Vaalrivier wat deur die Vredefortkoepel kronkel is ’n groot bron van vermaak en bied verskeie doendinge aan jonk en oud.

3. Witwatervlotvaart

Die Vaalrivier spog met ’n lekker steil stroomversnelling by een punt en ’n 800 meter lange stroomversnelling op ’n ander ─ voorwaar ’n uitdaging! Dis daarom nogal gepas dat een van die versnellings “Gatsien” gedoop is.

https://www.instagram.com/p/BQc9sw3DdbO/

4. Hengel

Dimalachite River Lodge & Nature Resort is ’n uitstekende plek om die hengelkuns te kom baasraak. Buiten wildritte en ’n rits ander doendinge, bied dié lodge ook begeleide visvangtoere op vlotte.

https://www.instagram.com/p/iWwrOmkBSA/

5. Roei

Jy kan ook die Vaalrivier in ’n kano of kajak verken. River Cottages in Parys is nog ’n lekker blyplek as jy op soek is na rivierplesier.

https://www.instagram.com/p/BC48ebHP6m3/

Aangesien die Vredefortkoepel oor so ’n wye gebied strek, kan uitstappies te voet nie noodwendig reg aan sy grootsheid laat geskied nie. Jy sal moontlik hoër moet uitstyg om behoorlik perspektief te kry.

6. Lugballonvlugte

’n Vroegoggend-lugballonvlug is die beste manier om jou dag in die koepel te begin. Jy meld 05:00 by die vertrekpunt aan, drink ’n stomende koppie koffie, en ontmoet jou reisgenote terwyl die lugballon gereed gemaak word. Tydens dié uitstappie sal jy met luisterryke uitsigte beloon word en jy kan ook wild gewaar ─ onthou dus jou kamera! Die avontuur word dan met vonkelwyn en ontbyt afgesluit.

https://www.instagram.com/p/BJaz0-thSS4/

7. Valskermspring

Jy kan met ’n vliegtuig nóg hoër as ’n lugballon styg én boonop met ’n valskerm neerdaal. As jy nie kans sien vir tandem-vryval nie, kan jy maar net rustig sit en die koepel uit die vliegtuig besigtig.

https://www.instagram.com/p/_ql9VYRn7h/

8. Bergfietsry

Otters’ Haunt bied roetes vir beginners, kinders en ervare bergfietsryers, wat dit die ideale aktiwiteit vir die hele gesin maak. Beskikbare roetes sluit ’n twee dag lange rit in, asook ’n roete teen ’n kloof uit met ’n pragtige uitsig van bo af. Die Crater Cruise, een van Suid-Afrika se grootste bergfietsgebeurtenisse, word ook jaarliks in die lente gehou.

https://www.instagram.com/p/BA-Ff43EBfV/

9. Rotsklim en abseil

Die gewildste rotsklimplek in die koepel is Bobbejaankrans wat op ’n privaat eiendom in die Thabela Thabeng-oord geleë is. Daar is ook vyf uitgesoekte punte vir abseil wat gruisgroewe, ’n toring en ’n krans insluit.

https://www.instagram.com/p/BBkPBeolqOE/

10. Voetslaan

Daar is dagroetes en ’n vierdagroete om die koepel te verken, en opsies wat vir onderskeidelik beginners en gesoute stappers geskik is. Rotstekeninge en klipstrukture dui daarop dat die koepel al sedert die Ystertydperk bewoon word en is langs dié roetes te sien.

https://www.instagram.com/p/BCnd-QluPVk/

11. Perdry

Dié roetes loop langs die Vaalrivier af en verversings word langs die pad verskaf. Daar is ook sonsak- en maanligritte!

https://www.instagram.com/p/BNfSig_Dk04/

12. Voël- en wildkyk

Die koepel bied ’n tuiste aan ’n menigte wild en honderde voëlspesies. C est La Vie en Lapapalesa Game Farm is die ideale blyplekke vir wild-ervarings en ander doendinge langs die Vaal en in die koepel. Jy kan onder meer wildsbokke, kameelperde en sebras hier te siene kry.

https://www.instagram.com/p/BO-TdFbD7Ug/

13. 4×4-roetes en vierwielmotorfietsry

Wildritte word gewoonlik met ’n 4×4-voertuig aangepak, maar dis ook moontlik met ’n vierwielmotorfiets as jy nog ’n bietjie nader aan die natuur wil wees.

https://www.instagram.com/p/BPVqscKDQT2/

14. Zipline

Koepel Mega Zip se twee glykabels is elk 600 m lank en strek oor die koepel se koppies. Dit sal die adrenalien behoorlik laat pomp!

https://www.instagram.com/p/BISYLkABJ2i/

15. Parys Dome Avontuurfees

Dié jaarlikse fees vind hierdie jaar in November plaas en bied feesgangers die geleentheid om aan ’n hele rits avonture deel te neem, waarvan baie reeds hierbo genoem is.

’n Gedeelte van die Vredefortkoepel lê oorkant die Vaalrivier in Noordwes. As jy dus op soek is na ’n lekker afgeleë selfsorg-gesinsvakansie, kan jy gerus een van dié oulike plekkies in Noordwes oorweeg:

Rietpoort Cottages  |  Aandster Accommodation  |  Bakoor Plaas Akkommodasie

Parys en Vredefort is albei na aan die koepel se middelpunt. Parys se ligging langs die Vaal het ’n eertydse besoeker herinner aan die Seine-rivier in die Franse stad, Parys, vandaar die naam. Parys het al beroemdheid verwerf vir sy kuns, handwerk en antiekware. Verskeie kunstenaars en ambagslui het ook al hier kom nes skrop. Verder is daar restaurante en koffiewinkels te kies en te keur.

https://www.instagram.com/p/BT_Dd4_BY9t/

Gaan loer ’n bietjie na dié lekker selfsorgplekkies in Parys:

Hessie se Witperd | Jak de Priester Huis | Aloe River

As jy meer gerief soek, sal dié gastehuise jou dalk geval:

Rose Acres Guest House | Casa Cara Guest House | Devondale Guesthouse & Venue

En as jy daarvan hou om meer uitspattig te wees, is daar ook ’n paar uiters luukse opsies:

Riparian Retreat | 260 Vaal de Grace Parys | Art Lovers Guesthouse

https://www.instagram.com/p/BSRMBo0AdmR/

Geskiedenis wat oor etlike miljarde jare strek, avontuur in oorvloed, ’n rustige wegbreek in die natuur, kuns en kultuur – alles in een koepel! Dit is dus hoogtyd dat jy hiér ’n draai kom maak!

Hooffoto: Vredefort Dome, Wikimedia Commons