Suid-Afrika word beskou as een van die wêreld se topvoëlkykbestemmings met sowat 850 opgetekende voëlspesies. Die meeste spesies, soos die bosluisvoël en lelkraanvoël, woon in Suid-Afrika of besoek ons land jaarliks. Slegs ’n kwart van die spesies, soos die teeleendjie en die jakkalsvoël, word net hier op eie bodem gevind. LekkeSlaap wys jou waar die beste voëlkykplekke is, watter interessante spesies in die verskillende gebiede voorkom, asook waar jy salig kan slaap en soggens met pragtige voëlsang begroet sal word!

________________________________________________________________________________________

Hoewel Gauteng meer stedelik is, kom daar steeds sowat 350 opgetekende voëlsoorte in Johannesburg en Pretoria voor. Baie spesies is héél tuis in die stad tussen al die hoë geboue ─ die ideale nesmaakplek vir kransbewoners. Dis miskien ’n goeie idee om ’n vinnige voëlkyktoer by jou volgende sakereis in te werk!

As jy in Gauteng wil gaan voëlkyk, kliek hier om verblyf te bespreek.

________________________________________________________________________________________

KwaZulu-Natal se noordoostelike deel is een van ons land se rykste voëlgebiede. Dis ’n tropiese gebied en die landskap sluit woude, vleilande, varswatermere en bosveld in. Die pragtige voëls wat hier voorkom beklemtoon dié idilliese en diverse landskap. Die provinsie word verdeel in twee voëlkykroetes: die Suidelike KwaZulu-Natalse Voëlkykroete en die Zoeloeland Voëlkykroete ─ ’n móét vir enige voëlkyker se emmerskoplysie!

Kliek hier om verblyf in KwaZulu-Natal vir jou volgende voëlkyktoer te bespreek.

________________________________________________________________________________________

Wakkerstroom is waarskynlik dié provinsie se gewildste voëlkykdorpie en skaars grasveldspesies kom veral in die geweste voor. Nege uit Suid-Afrika se 13 inheemse voëlspesies is in die Wakkerstroom-omgewing te sien en die dorp maak spesiaal voorsiening vir voëlkykers met ’n verskeidenheid geriewe, soos voëlskuilings en plaaslike toergidse.

Kliek hier om verblyf in Mpumalanga te bespreek.

________________________________________________________________________________________

Die Wes-Kaap bied baie meer as net pragtige strande, Tafelberg en die Kirstenbosch Botaniese Tuine. Dié provinsie is ook verskeie inheemse én uitheemse voëlspesies se tuiste. Duisende watervoëls kom in die somer in die Weskus Nasionale Park, tussen Yzerfontein en Langebaan, voor. Boonop is die Tuinroete se Birds of Eden die grootste voëlhuis ter wêreld en beslaan sowat 2,3 hektaar inheemse woud waarin voëls vrylik kan rondbeweeg.

Kliek hier om verblyf vir jou volgende voëlkyktoer in die Wes-Kaap te bespreek.

________________________________________________________________________________________

So, al is jy ’n leek of reeds ’n gesoute voëlkyker, sal die prag en praal van Suid-Afrika se ryk voëllewe jou beslis bekoor! Voëlkykseisoen is hoofsaaklik tussen September en Maart wat jou nou genoeg tyd gee om te spaar en ’n welverdiende voëlkyk-wegbreek te reël.

Hooffoto: TravelGround (African Bird of Prey Sanctuary)