As jy van die noorde af kom en dalk nie só baie reis nie, ken jy dalk net één Middelburg – die een in Mpumalanga. Eintlik het dié dorp ’n naamgenoot in die Oos-Kaap, en alhoewel hulle presies dieselfde naam het, bied elkeen ’n unieke en verrykende ervaring! Ek het bietjie rondgesnuffel om uit te vind wat dié naamgenote elk so besonders maak.

Middelburg in Mpumalanga

Dié dorp, wat eers as Nasareth bekend gestaan het, is hernoem na Middelburg omdat dit halfpad tussen Gauteng en die goudmynkern Lydenburg geleë is.

Van die bekendste trekpleisters in die dorp is die Kolumbus-aanleg, die grootste vlekvrye staal-vervaardiger in Afrika, en Loskopdam wat oor 30 km strek en waar verskeie wildspesies gereeld gewaar word. Maar dis tog nie al nie ─ by dié dam kan jy ook voëlkyk, visvang, wildkyk vanuit ’n boot, voetslaan, minigholf speel en nog vele meer. Bespreek nou by Loskopdam Forever Resort of by een van ons ander blyplekke in dié area.

Untitled design (6)

As jy lief is daarvoor om besienswaardighede te besoek en ’n avontuurlustige reisiger is, is hierdie dorp in sy eie reg ’n absolute goudmyn. Vir al die voetslaners is daar onder meer die broodboom-, Ribbokkloof- en Slagthoek-roetes. Ander avontuur-doendinge op Ribbokkloof sluit 4X4-roetes, bergfietsry, visvang en swem in.

Untitled design (1)

Vir kultuurdiere is ’n besoek aan die Botshabelo Kultuurdorpie en Natuurreservaat ’n móét. Dit is ’n opelug-museum waar jy die plaaslike Ndebele-volk se pragtige hutte en kralewerk kan aanskou.  

Verder trek die Botshabelo-sendingstasie ook baie aandag, siende dat dit al in die 1860’s deur dominee Alexander Merensky van die Berlynse sendingorganisasie opgerig is. Dit sluit onder meer die Fort Merensky Nasionale Monument, ander opgeknapte geboue uit dié era en ’n Ndebele-dorpie in. ’n Besoek aan dié kultuurdorpie is ’n unieke ervaring en beslis die moeite werd!

Untitled design (7)

Middelburg bied ook verskeie eetplekke vir die kosliefhebbers, want jy wil tog sekerlik nie honger lei terwyl jy die dorp rooi verf nie. Soettande sal in die sewende hemel wees by The Oven op Ribbokkloof wat heerlike gebak het om van te kies en te keur, of jy kan smullekker ontbyt, middag- en aandetes by die luukse Rustique Boutique Hotel en Restaurant gaan geniet.

Untitled design (9)

Nou ja, ons wil nou nie al Middelburg se skatte uitdeel nie, so doen jouself gerus ’n guns en gaan delf self in dié dorpie.

Middelburg in die Oos-Kaap

Indien jy onbewus was van die Middelburg in die Oos-Kaap, is ons hier om jou touwys te maak oor dié geskiedkundige dorpie wat omring word deur bekende name soos Cradock, Hanover, Nieu-Bethesda en Graaff-Reinet!

Hierdie dorpie spog met twee nasionale monumente ─ die Karel Theron Primêre Skool, wat in 1908 gebou is en as die grootste skool in die Kaapprovinsie beskou is, asook die oudste gereformeerde kerkgebou in Suid-Afrika. Ander geskiedkundige besienswaardighede sluit die Grootfontein Landboukollege en die PW Vorster Museum met sy pragtige Victoriaanse boustyl in.

Verder maak die dorpie ook naam met windpompmodelletjies wat deur plaaslike kunshandwerkers van bottelproppies, spuitblikkies, oliekanne, ou verfblikke en ander materiale gemaak word.

Untitled design (10)

Vir avonturiers is daar ook talle doendinge in die omgewing, soos byvoorbeeld om die Nasionale Bergkwaggapark tussen Cradock en Graaff-Reinet te gaan verken. By dié park kan jy gaan voetslaan op die Salpeterroete, of Sonnenrust, Juriesdam of Umngeni se 4×4-roetes gaan aanpak. Besoek gerus die park se webtuiste vir meer inligting.

AAEAAQAAAAAAAAAAAAAAJDcxYWI5ZjlhLWEzNDYtNGRkMC05MThmLThmZDgxMjhlNGY4MA

Om die honger te stil kan gaste heerlike etes by restaurante in die omgewing geniet. Picadilli’s is byvoorbeeld ’n bekende koffiehuis met heerlike vroeë en laat ontbyte, en die Hillston-plaas bedien nie net smullekker etes nie, maar bied ook verskeie doendinge soos kookklasse, voetslaanroetes, perdry, voëlkyk en nog meer!

Untitled design (5)

Nou ja toe! As jy volgende keer iewers naby dié dorpies is en jy nie weet wat daar is om te sien en doen nie, het jy nou geen verskonings nie. Bespreek gerus by een van LekkeSlaap se lekke blyplekke as jy smag na ’n eiesoortige ervaring in enige van dié twee naamgenoot-dorpe.

Middelburg in Mpumalanga | Middelburg in die Oos-Kaap

Sleutelwoorde: Middelburg, Mpumalanga, Eastern Cape