Daar word heelwat gegons oor Lyon Paradise in Potchefstroom ─ ’n magiese venue waar verskeie paartjies al die jawoord gegee het. LekkeSlaap het gaan loer waarom die trouklokke hiér so hard lui!

Lyon Paradise is net 13 kilometer buite Potchefstroom op die R501 na Carletonville geleë. Die rooi- en witroostuin wat deur grasdakeenhede omring is, die kalmerende sierfontein en die spierwit buitelig-gazebo maak dié plaas ’n immergewilde venue vir paartjies wat hul droomdag in ’n ware plattelandse paradys wil vier.

Die seremonie

Warm of koud, sonskyn of reën ─ Lyon Paradise bied die geleentheid om die perfekte bruilof in enige seisoen te vier. Hiér kan jy in die grasdakkapel of buite onder die romantiese gazebo trou.

Die foto-uur

Almal wil hulle sprokiesdag op film verewig en Lyon Paradise se natuurskoon stel beslis nie teleur nie. Van verskuilde hoekies en die lusernlande tot ’n grondpad met lowergroen boomlanings, hier sal julle definitief pragfoto’s kan neem!

Die onthaal

Lyon Paradise kan 40 tot 300 gaste akkommodeer en bied ’n sprokiesverhaal vir puik foto’s. Die sale is reeds fabelagtig, en jy kan dit nog mooier met dekor, liggies en blomme optooi!

Die spyseniering

Of jy nou ’n heerlike plattelandse spitbraai of ’n deftige buffet wil hê ─ hiér is beslis iets wat in elkeen se smaak sal val! 

Die verblyf

Die lieflike bruid- en wittebrood-suite bied slaapplek aan vier en beskik oor twee kamers, waarvan die een twee driekwartbeddens en die ander een ’n dubbelbed het. Dié suite is ruim en het ook ’n ketel, koffie- en teemaakgeriewe en heerlike beskuit, ’n TV met sekere DStv-kanale, asook ’n groot werksoppervlakte waar die bruid en die gevolg hulle kan mooimaak op die groot dag. Die suite gee die bruid ook die geleentheid om die aand voor haar troue saam met haar bruidsmeisies te ontspan na ’n lang dag van saal opmaak en rondhardloop. Al wat jy benodig is ’n pizza en ’n bottel wyn!

Gaste-akkommodasie sluit 12 stylvol versierde kamers met en suite-badkamers in. Elke kamer beskik oor twee driekwartbeddens en die badkamers het storte, baddens en toilette. Kamergeriewe sluit TV’s met sekere DStv-kanale, tee, koffie en beskuit in. Gaste het ook toegang tot onderdakparkeerplek.

Die geriewe

Daar is ’n swembad met ’n braai-area wat ideaal is vir warm somerdae.

So, as jy binnekort voor die kansel staan, maar nog nie die regte venue gevind het nie, is Lyon Paradise dalk nét waarna jy soek!

Ligging: Plot 281, Oude Dorp, Potchefstroom

Dienste aangebied: Troues, funksies, verjaarsdae, matriekafskeide, konferensies en kombuistees

Kontak hulle gerus by info@lyonparadise.co.za om meer oor hulle pakkette uit te vind en onthou om verblyf vir dié spesiale dag te bespreek.

Hooffoto: Lyon Paradise deur Almero Olwage (Creative Photography)

Lyon Paradise | weddings | conferences | birthdays | matric farewells | kitchen teas |  North West | Potchefstroom