Kaapstad is bekend vir die berg, inkopies by die V&A Waterfront, museums en koffiewinkels. Dit is alles grootmens-aktiwiteite wat ’n kind nie sal bekoor nie. Kaapstad bied egter ook pret vir gesinne! Kom kuier in die Kaap en geniet aktiwiteite soos die akwarium, Houtbaai se Clay Cafe, Drieankerbaai se putt-putt, Groenpuntpark se groot oop spasies en prettige klimrame, en nog vele meer saam met jou kind.

LekkeSlaap het ’n lys aktiwiteite saamgestel wat jou kinders sal vermaak!


Kirstenbosch Nasionale Botaniese Tuin, Nuweland

Kirstenbosch
Foto: Bigstock

Die Kirstenbosch-tuin is ’n klassieke Kaapse uitstappie. Daar is twee restaurante met heerlike kos om van te kies, maar die tuin het ook groot grasperke met ’n uitsig op Tafelberg en oor die stad waar ’n mens mag piekniek hou. In die somer word daar selfs Kirstenbosch Summer Sunset Concerts in die park aangebied. Die tuine het lieflike wandelpaadjies, staproetes teen die berg op en bordjies met brokkies geskiedenis wat reg oor die tuin versprei is.

Parkeerplek: Gratis parkeerplek is op die perseel beskikbaar.

Toegangsfooie: Die tuin het ’n toegangsfooi. Kinders, studente en pensioenarisse kry egter afslag en kinders onder ses kry gratis toegang. 

Bespreek jou verblyf naby Kirstenbosch

Two Oceans Aquarium, V&A Waterfront

Two Oceans Aquarium
Foto: Verskaf

Kaapstad se akwarium in die V&A Waterfront is ’n belewenis. Hier kan jy en jou gesin van kleurvolle visse tot fassinerende haaie besigtig. Daar is ’n pikkewyn- en ’n agter-die-skermstoer en ’n mens kan selfs in die tenk saam met ’n instrukteur duik en saam met van die wêreld se merkwaardigste visse swem! 

Parkeerplek: Daar is veilige parkeerplek naby die akwarium teen ’n ekstra koste.

Toegangsfooi: Die akwarium het ’n toegangsfooi. 

Bespreek jou verblyf in die V&A Waterfront

Rollercade, V&A Waterfront

Rollercade
Foto: Verskaf

Voel asof jy terug is in die verlede by die V&A Waterfront se rolskaatsbaan. Trek sommer ’n lekker uitrusting uit die sewentigs aan en word heeltemal na ’n ander wêreld meegevoer. Hier kan jy onder die diskoligte na musiek luister en dans of met rolskaatse op ’n houtbaan skaats. Dit is pret vir die hele gesin! 

Parkeerplek: Veilige parkeerplek is teen ‘n ekstra fooi beskikbaar.

Toegangsfooi: Die baan het ’n toegangsfooi. 

Bespreek jou verblyf in die V&A Waterfront

Clay Cafe, Houtbaai

Clay Cafe Houtbaai
Foto: Verskaf

As jy deel van ’n kreatiewe gesin is, is dié kunskafee in Houtbaai waar ’n mens keramiekware kan verf nét die plek vir jou! Hier kan ’n mens ure vertoef deur allerlei keramiekware soos koppies, borde, bakkies en beeldjies te verf. Jou geverfde keramiek-items word dan ná jou besoek vir jou gebak. Só kan jy lank ná jou besoek aan die lekker dag herinner word wanneer jy uit die koppie wat jou kinders vir jou geverf het drink, of die beeld waaraan jy so hard gewerk het raaksien. Die kafee het ook ’n restaurant en ’n mens hoef nie op te hou verf met middagete nie!

Parkeerplek: Gratis parkeerplek is op die perseel beskikbaar.

Toegangsfooi: Elke persoon betaal ’n klein standaardfooi vir die vuring en die verf. Daar is ook ’n unieke koste aan die keramiek-item wat jy kies om te verf verbonde. 

Bespreek jou verblyf in Houbaai

World of Birds, Houtbaai

World of Birds
Foto: Verskaf

Het jy geweet dat Afrika se grootste voëlpark in Houtbaai is? As jou gesin van diere hou, is hierdie ’n heerlike gesinsuitstappie. By World of Birds kan ’n mens apies, reptiele én voëls sien. In hierdie park is daar meer as 4 000 voëls en klein diertjies en ongeveer 300 verskillende spesies. Daar is ’n klein restaurant, maar jy kan ook jou eie kos saambring en piekniek hou. 

Parkeerplek: Parkeerplek is op die perseel beskikbaar. 

Toegangsfooi: Die park het ’n toegangsfooi.

Bespreek jou verblyf in Houbaai

Groenpuntpark, Groenpunt

Groenpuntpark
Foto: Adriëtte Le Roux

Groenpuntpark is ’n kinderparadys met sy groot oop grasperke en unieke klimrame. Hier kan die kinders lekker hardloop en na hartelus baljaar! Groenpuntpark het ook ’n amfiteater waar daar soms gratis vertonings gehou word en ’n tuin wat die biodiversiteit van Kaapstad tentoonstel. Die tuin bevat ongeveeer 25 000 inheemse bome en 300 verskillende plantspesies! Bespreek sommer vandag nog verblyf in Groenpunt

Parkeerplek: Parkeerareas by die park se ingange bied parkeerplek.

Toegangsfooi: Toegang is gratis.

Bespreek jou verblyf in Groenpunt

Scratch Patch, Cave Golf & Mineral World, Simonstad

Scratch Patch, Cave Golf & Mineral World
Foto: Verskaf

Simonstad se Scratch Patch, Cave Golf & Mineral World is ’n goeie plek om ’n dag saam met jou gesin deur te bring. Hier kan ’n mens ’n handjievol minerale uitsoek en ’n klein gholfbaan met ’n grottema geniet. Dit is heerlike vermaak vir oud en jonk, maar dit is ook veral populêr onder kleuters. Wanneer jou gesin klaar gesoek en gespeel het, kan julle ’n heerlike ete by Simonstad se hawe gaan geniet.

Parkeerplek: Parkeerplek is op die perseel beskikbaar.

Toegangsfooi: Vir die Scratch Patch betaal ’n mens per sakkie wat jy met klippies vul. Die Cave Golf het ’n bekostigebare fooi per speler per rondte. 

Bespreek jou verblyf in Simonstad

Boulderstrand se pikkewyne, Simonstad

Boulderstrand se pikkewyne
Foto: Bigstock

Die Boulderstrand-pikkewyne naby Simonstad is ’n bekende besienswaardigheid. Hier kan jy brilpikkewyne, die enigste pikkewynspesie wat op die Afrika-kontinent voorkom, sien. Dit is ’n goeie idee om hierdie pikkewyne in die somer te besoek omdat hulle dan tyd op die strand deurbring. Ander tye van die jaar swem die pikkewyne graag in die see. ’n Uitstappie na Boulderstrand is die ideale geleentheid om ’n paar mooi foto’s van jou gesin te neem soos hulle Suid-Afrika se natuurskoon geniet. ’n Mens kan ook op die strand tussen die rotse swem in ’n area wat gerieflik windbeskut is. Die brilpikkewyne is ’n bedreigde spesie en daar is ook ’n besoekersentrum opgerig ter beskerming en befondsing van die pikkewyne. Wandel al langs die Bouldersstrand-wandelroete, maar onthou jy mag nie aan die pikkewyne raak nie.

Parkeerplek: Parkeerplek is op die perseel beskikbaar.

Toegangsfooi: Daar is ’n openbare parkeerarea by die ingang van die Bouderstrand-wandelpaadjie.

Bespreek jou verblyf in Simonstad

Putt-putt by die see, Drieankerbaai

Drieankerbaai Putt-putt
Foto: Verskaf

Drieankerbaai se putt-putt-baan is ’n besonderse ervaring, want hier speel jy putt-putt met ’n uitsig oor die see en met die klank van golwe wat in die agtergrond breek. Dit is ’n bekostigbare gesinsaktiwiteit en wanneer julle klaar gespeel het, kan julle oor die pad stap vir aandete of ’n roomys. 

Parkeerplek: Parkeerplek in die straat en ’n openbare parkeerarea naby die baan is beskikbaar.

Toegangsfooi: Daar is ’n bekostigbare speelfooi per persoon. 

Bespreek jou verblyf in Drieankerbaai

Glowing Rooms, Milnerton

Glowing Rooms
Foto: Verskaf

Kom Milnerton toe vir ’n putt-putt-ervaring wat jou en die kinders vir ’n ses sal slaan! Hier kan julle met 3D-brille op in ’n neon-landskap glim-in-die-donker-putt-putt speel. Dié feëtjie-agtige ruimtes met hul reënboogkleure maak die speelervaring iets heeltemal uniek en dit beloof om jou kinders te bekoor!

Parkeerplek: Gratis parkeerplek is op die perseel beskikbaar.

Toegangsfooi: Daar is ’n toegangsfooi. 

Bespreek jou verblyf in Milnerton

Rush, Claremont

Rush Claremont
Foto: Verskaf

Rush is ’n springpark in Claremont wat van hoek tot kant met springmatte of trampoliens bedek word. Die springpark bied ook “dodge ball”-toernooie en aktiwiteitsure vir kleuters. Jy kan maak asof jy ’n gladiator op ’n afstootbalk is of in die sponsput spring. Hier kan kinders hulself uitwoed en ouers weer kind word. 

Parkeerplek: Daar is veilige parkeerplek oorkant die pad teen ’n ekstra fooi, maar ook parkeerplek in die straat.

Toegangsfooi: Die springpark het ’n toegangsfooi. 

Bespreek jou verblyf in Claremont

Ten Pin Bowling Cape Town, Grand West

Ten Pin Bowling Cape Town
Foto: Bigstock

Die kegelbaan by Grand West is ook ’n klassieke keuse vir ’n gesinsaktiwiteit in die Kaap. Hier kan jy nog dié ouwêreldse speletjie op een van twaalf houtbane speel. Miskien is jy ’n bobaasspeler of miskien speel jy net saam vir die geselligheid. Ongeag jou vaardigheidsvlak, hierdie helder wêreld en die klanke van die balle wat rol sal jou vir ’n paar uur heeltemal van die wêreld daarbuite laat vergeet. 

Parkeerplek: Daar is betaalde parkeerplek by Grand West

Toegangsfooi: Die kegelbaan het ’n toegangsfooi. 

Bespreek jou verblyf naby Grand West

Rooibustoer, Kaapstad

Rooibustoer
Foto: Bigstock

Laaste, maar nie die minste nie, indien jy nog onseker is oor watter aktiwiteite om aan te pak of nie lus is om self ’n reisplan op te stel nie, is die die Rooibustoer ’n lekker oplossing! Hierdie toer neem jou en jou gesin deur Kaapstad en stop by die lekke’ste besienswaardighede. So kan jy terugsit, ontspan en al die mooiste dele van die Kaap beleef. ’n Mens kan by enige van die stoppe van die toer parkeer en opklim, maar die hoofkaartjiekantoor is in die V&A Waterfront.

Parkeerplek: In die V&A Waterfront, waar die hoofkaartjiekantoor is, is daar veilige parkeerplek teen ’n ekstra fooi.

Toegangsfooi: Daar is verskillende toere met verskillende roetes en fooie wat op die webtuiste uitgelê word. 

Bespreek jou verblyf in Kaapstad

Lekke Wenk

Het jy geweet LekkeSlaap het ’n funksie waarmee jy jou soektogte op ons webstuiste kan filter? Nadat jy vir akkommodasie op die hoofblad gesoek het, kan jy die resultate filter deur links onder “Filter volgens Fasiliteite” op “Kinders word toegelaat” te kliek. Al die resultate wat verskyn sal slegs dié wees waarheen jy jou kinders kan saamneem!

Moenie huiwer om vir jou gesin ’n vakansie in die Kaap te reël nie! Daar is oorgenoeg aktiwiteite vir die hele gesin. Bespreek sommer vandag nog by een van LekkeSlaap se gesinsvriendelike verblyfopsies in die Moederstad. Watter kindervriendelike aktiwiteit is jou gesin se gunsteling? Vertel vir ons in die kommentaar hieronder!

Hooffoto: Verskaf deur die Two Oceans Aquarium