Raak jy mismoedig as jy hoor jy moet die Vaaldriehoek besoek? Wel, wees gerus, want LekkeSlaap het gaan kyk hoe om vaal in vrolik te verander!

Die Vaaldriehoek is nog altyd bekend as die driehoek wat grotendeels deur Vanderbijlpark, Vereeniging en Sasolburg gevorm word. Destyds was dit ’n belangrike stedelike en industriële middelpunt, maar vandag is die Vaalrivier hoofsaaklik ’n groot trekpleister vir bootritte, skubaduik, visvang, watersport, kampeer en ’n hele paar ander avontuurdoendinge.

Dis nie net in die Kaap waar jy kan wynproe nie. Die Vaaldriehoek spog deesdae met sy eie wynroete waar jy by 17 verskillende bestemmings in die Vaal tot 36 van Suid-Afrika se topwyne kan proe. Vanaf  die 25ste Junie tot die 30ste Julie 2017 kan wynliefhebbers elke Saterdag en Sondag heerlik kom teug aan onder meer Altydgedacht, Blaauwklippen, L’ Avenir, Papillion, Robertson, Spier en Van Loveren, om maar net ’n paar te noem.

 Wynproe-kostes:

* R20 vir 8 proesessies
* R30 vir 12 proesessies
* R40 vir 16 proesessies

LET WEL! Die openingsdag vind reeds die 24ste Junie by Stonehaven on Vaal plaas en vir slegs R100 ’n kaartjie kry jy:

* Gratis wynproesessies op ’n boot vir 50 minute wat elke 15 minute vertrek.
* ’n Gratis wynproe-glas waaruit jy meer as 200 wyne kan geniet.
* Musiekvertonings, besienswaardighede en interessante kosstalletjies.
* Al fresco-wynproe op die oewer of in knus wynkamers.

’n Billiker wynproe-ervaring sal jy nie sommer kry nie, so bespreek sommer nou al jou verblyf en ’n pendeldiens sodat almal lekker kan saamproe sonder om oor die verblyf of die rit huis toe te stres.

Webtuiste | 082 465 1243 | info@vaalwineroute.co.za 

Verblyf: Vanderbijlpark | Vereeniging | Sasolburg | Meyerton | Henley on Klip

Pendeldienste: Taljaard Taxis | AVIS Vaal

Wat is dan nou lekkerder as ’n rivierbootrit teen sonsondergang om heerlike wyn en jolige musiek te komplementeer? Dié wenkombinasie kan jy eerstehands by Stonehaven on Vaal, ’n sosiale sentrum in Vanderbijlpark, beleef.

Maar dis nie al wat dié sentrum bied nie. Gaste is gewaarborg van ’n bestemming propvol doendinge en vermaak wat weeklikse aanbiedinge by hul restaurant, die Potjie-en-Mampoerfees (29 Julie), die Lente Bierfees (26 Augustus) en nog veel meer regdeur die jaar insluit. Doen gerus ook verder navraag oor die sentrum se geriewe vir troues, konferensies en ander funksies.

Webtuiste | 016 982 2951/2 | info@stonehaven.co.za | Vanderbijlpark

Bon-Af Bessieplaas is op die R59 sowat 22 km van Parys af geleë. By dié bessieplaas kan jy meer as 80 bessievariëteite pluk (vanaf einde November tot einde Maart) ─ van kruisbessies, braambessies, frambose en bloubessies tot swartbessies, vlierbessies en inkbessies. So, teken dit gerus solank in jou dagboek aan!

Dié plaas het verskeie doendinge wat jou sal besig hou. Hiér kan jy ook leer hoe om botter en seep te maak en koffie te rooster. Om dit alles te kroon is daar ook ’n gesellige teetuin waar jy na die tyd rustig kan gaan sit en kuier. Gaan loer gerus in!

Webtuiste | 056 811 3966 | info@berry-farm.co.za | Vanderbijlpark | Parys

Hierdie sentrum is ’n nie-winsgewende organisasie op Plaas Vaal Rock, sowat 10 kilometer buite Parys in die Vrystaat. Hier kan besoekers kom kyk en leer oor jagluiperds en ander katte.

Besigheidsure: Maandae tot Saterdae om 10:00 (L.W. Slegs met bespreking!)

Toegangsfooi: R100 vir volwassenes en R50 vir kinders van 6 tot 12 jaar. Kinders onder 6 jaar kan gratis ingaan. (EFT of kontant ─ geen tjeks of kredietkaarte word aanvaar nie.)

Webtuiste | 056 811 3966 | cheetah@parys.co.za | Parys

As jy lus is vir ’n bietjie meer avontuur kan jy gerus hiér in Henley on Klip ’n draai kom maak. Bass Lake Adventures bied skubaduikkursusse, bergfietsroetes, voetslaanroetes, boogskiet, voëlkyk, kajak- en kanovaart, fotografie, baarsvisvang, 4×4-roetes en kampeergeriewe. Hierdie bestemming is beslis enige waaghals se droom!

Webtuiste | 016 366 9804 | info@basslake.co.za |  Henley on Klip | Meyerton

Vir dié van julle wat hou van skares en lewende musiek is daar ’n prettige plaaswerf waar verskeie gewilde kunstenaars gereeld vertonings hou. Junie bied klaar ’n opwindende program, so moenie op jou laat wag nie!

Kliek hier om hulle Junie-program te sien.

Webtuiste | 016 454 8388 | barnyardverg@gmail.com | Vereeniging

Nou ja toe! Nou het jy vir seker ’n paar redes om jou verblyf hier in die vrolike Vaaldriehoek te bespreek, want hier is werklik iets vir elke tipe reisiger ─ van kultuurdiere tot avonturiers.

Hooffoto: Vaal River Facebook-blad (deur Petra Stuart)