Ons is almal vertroud met die bekende seekant-swemvakansies wat dié tyd van die jaar weer kop uitsteek! Wel, vandag het ons vir jou ’n paar plekkies teen die water gaan soek wat nie aan die wonderlike Weskus is nie, maar langs ’n dam of aan die oewer van ’n rivier in die bekoorlike binneland. Kom kyk ’n bietjie wat skuil in LekkeSlaap se binnelandse boeke en bespreek vandag nog jou vakansie teen die vars water.

Cheetau Lodge

Kom maak jou lyne nat by die pragtige lodge of gaan kyk ’n bietjie wild of swem. Cheetau Lodge kan ook die perfekte plek wees vir jou droomtroue ─ dink net aan die mooi foto’s wat jy daar by die water kan neem! As jou maag ‘n bietjie begin grom, kan jy sommer ’n draai maak by hulle restaurant op die perseel en aan ’n heerlike gereg smul met ‘n wonderskone sonsondergang en ’n leeu wat brul in die agtergrond.

Lesoba Guest Farm

Dié plekkie is ideaal vir stappers, natuurliefhebbers en buitelug-entoesiaste. As jy die rotskus en dinosourus-fossiel klaar bewonder het, kan jy lekker in die plaasdam afkoel. Vir avontuurlustiges is daar ook 4×4-, bergfiets-, motorfiets- en vierwielmotorfietsroetes beskikbaar. Die kinders kan visvang, swem, leer oor skaapboerdery en lammertjies met die hand voer. Klink na vet pret!

Magoebaskloof Getaway

Dié 4 houthutte is net bo die baarsdam geleë en kranige vissermanne kan ’n baars, karp of kurper uit die water trek. Kom bewonder die berge, woude, rivier en voëlgesang en jy mag net dalk ’n skaars Samango-apie raaksien. ’n Wegbreek in Magoebaskloof ─ dit klink nou fantasties!

Hippo’s Haven

Hierdie luukse selfsorg-lodge is in die Hans Merensky Gholflandgoed geleë en is gemáák vir ’n onvergeetlike wegbreek. Julle kan oor die privaat dam tuur en die sonsondergang bewonder met ’n skemerkelkie in die hand. Speel ’n heerlike potjie gholf tussen die kameelperde, sebras, apies, krokodille en seekoeie.

Rhenosterpoort

Dié omgewing is welbekend vir sy ongerepte natuurskoon en jy kan hier langs die water kom ontspan! Ry perd, voer die jagluiperde en besoek die Kuns- en Kunsvlytmark in Vaalwater! Die Marakele Nasionale Park is ook nabygeleë vir ’n lekke daguitstappie.

Stanford Lake Lodge

In die land van berge, mere, watervalle en woude ─ dis hiér waar die visarende roep. Kom bly hier en geniet die uitsig oor die Stanfordmeer. Kyk of jy al 67 voëlspesies kan gewaar of gaan stap of ry fiets in die inheemse woud en al langs die damme en mere af.

Tau Game Lodge

Dié pragtige lodge is in Groot Marico aan die mees noordelike grens van Suid-Afrika. Tau Game Lodge is spesiaal gebou met ‘n uitsig oor ‘n watergat sodat gaste luilekker die wild kan sit en kyk. Wildritte is regdeur die jaar vir die volwassenes beskikbaar en daar is ook spesiale pakkette vir die jongspan.

Bambuu Lakeside Lodge

Dié luukse lodge lê aan die oewer van ’n privaat meer en bied perfekte verblyf vir gaste wat die Krugerwildtuin wil verken. Buiten swem, kan jy ook abseil, riviervlotry, vierwielmotorfietsry, die bergfietsroetes aanpak en ’n potjie gholf speel. Sluit dan die dag af met ’n heerlike skemerkelkie in jou hand.

Sabie River Bush Lodge

Hier kan jy sommer wildkyk van die swembaddek af wat oor die Sabierivier uitkyk . Die beeldskone bosveld-sonsopkomste en -sonsondergange is ook asemrowend. Die kinders kan ook putt-putt, vlugbal en badminton speel en bord- en kaartspeletjies is ook beskikbaar.

River Bank Lapa Guest House

Luuksheid en die natuur word soomloos verweef hier aan die oewer van die Garieprivier. Ontspan in die welige tuin langs die water of langs die swembad na ’n besige dag. Bewonder die sonsopkoms oor die rivier met voëltjies wat reg rondom jou sing. Dit is ook lekke naby aan ’n paar restaurante.

So, waar in die binneland gaan jy dié somer swem? Besoek gerus LekkeSlaap vir nog plekkies langs die water.