Die Krugerwildtuin is een van Suid-Afrika se juwele en lok elke jaar ’n string besoekers. LekkeSlaap het lieflike blyplekke naby die Krugerwildtuin se hekke uitgesoek om julle reis te vergemaklik. Ontspan in Sabie of rus in Skukuza, baljaar in Belfast of herlaai jou batterye in Hoedspruit. Jou volgende Wildtuin-wegbreek wag!

Malelane-hek

Hamiltons Lodge and Restaurant

Hierdie verblyf is net 500 meter vanaf die Malelane-hek en is ideaal vir gesinne met kinders. Hamiltons Lodge and Restaurant spog met ’n rits verblyf-opsies wat slaapplek aan twee tot vier gaste bied. Daar is selfs ’n restaurant op die perseel wat vars, plaaslike bestanddele gebruik en julle kan heerlike Suid-Afrikaanse wyne saam met jul maaltye geniet. Julle kan ook lekker in die swembad afkoel en ’n draai by die kunswinkel en -galery maak.

Serenity Mountain and Forest Lodge

As jy op soek is na ’n wegbreek in ’n woud, is Serenity Mountain and Forest Lodge buite Malelane die perfekte keuse. Die verblyf is minder as ’n uur se ry vanaf die Malelane-hek en daar is ’n verskeidenheid sprokiesagtige suites wat slaapplek aan tussen twee en vier gaste bied. Julle kan heerlik in die natuur ontspan en die twee gemerkte roetes langs die stroom verken. Boonop is daar piekniekareas, ’n swembad en ’n spa – wat wil jy nou meer hê! 

Paul Kruger-hek

Elephant Point Ndlophu Lodge

Hierdie grasdak-lodge is op die oewer van die Sabierivier op ’n privaat landgoed in Skukuza geleë. Elephant Point Ndlophu Lodge bied slaapplek aan ses gaste en beskik oor drie en suite-slaapkamers. Daar is ’n groot stoep waar julle lekker kan braai en saam by die kroeg of die privaat boma kan kuier. Julle kan ook in die swembad afkoel of tydens kouer weer voor die kaggel ontspan. 

SleepOver Kruger Gate

SleepOver Kruger Gate spog met sakpasverblyf naby Belfast wat net ’n hanetreetjie, ses kilometer om presies te wees, vanaf die Paul Kruger-hek is. Elke kamer bied slaapplek aan twee gaste, het lugversorging en lei na die stoep waar julle lekker terug kan sit en ontspan. Gaste kan ’n tjoppie oor die kole gooi en saans salig slaap, want hier is 24 uur-sekuriteit wat aan gewapende reaksie gekoppel is. Om julle lewens verder te vergemaklik, word die eenhede daagliks skoongemaak en is daar selfs ’n geriefswinkel wat pasteie, alkohol, koffie en koeldrank verkoop.

Orpen-hek

Bona Ntaba Tree House Lodge

By Bona Ntaba Tree House Lodge kan julle die atmosfeer van die Suid-Afrikaanse Bosveld ten volle ervaar. Hierdie lodge skuil in ’n privaat wildreservaat naby Hoedspruit en bied unieke selfsorgboomhuis-chalets wat elk slaapplek vir twee gaste het. Elke chalet het ’n privaat dek waar julle die uitsig op die berge en oor die Bosveld kan geniet. Die chalets word ook daagliks skoongemaak. Die kersie op die koek is dat die hele kamp vir ’n gesinsvakansie bespreek kan word. Julle kan in die plonspoel afkoel en wild soos sebras, kameelperde en ander diere dophou soos wat hulle deur die kamp wandel en by die watergat saamdrom.

Shindzela Safari Camp

Hierdie tentekamp is in die wêreldbekende Timbavati Privaat Wildreservaat buite Hoedspruit en bied verblyf in safaritente onder grasdakstrukture. Elke tent bied slaapplek aan twee gaste en het ’n houtdek waar julle kan ontspan en die pragtige natuurskoon inneem. Drie maaltye, twee safari-aktiwiteite  en ’n kamerdiens per dag is by die tarief ingesluit. Julle kan in die swembad baljaar en selfs seekoeie en krokodille in die damme gewaar. Snags kan julle jul oë vir nagapies, ystervarke en wilde katte oophou.

Phabeni-hek

Round Here Self-catering Holiday Home

Round Here Self-catering Holiday Home bied slaapplek aan veertien gaste net buite Sabie en die hoogtepunt van dié verblyf is dat dit nie deur beurtkag geraak word nie. Daar is ’n hoofhuis en ’n tweede huis wat deur ’n stoep en grasperk geskei word. Die verblyf spog met braaigeriewe en ’n swembad en julle kan snags rustig slaap aangesien die verblyf aan gewapende reaksie gekoppel is.

Blue Jay Lodge

Blue Jay Lodge is ongeveer tien kilometer vanaf die Phabeni-hek en bied B&B- en selfsorgverblyf in Hazyview. Julle kan tussen ’n verskeidenheid suites kies wat elk slaapplek vir twee gaste het en met ’n privaat dek, ’n yskassie met voorraad, ’n TV met sekere DStv-kanale en lugversorging spog. Daar is ’n pragtige randvloeiswembad waarin gaste kan ontspan en voëlkyk-entoesiaste sal ook in hulle element wees.

Krokodilbrug-hek

Meerkatgat 3341 Seekoei Road

Meerkatgat 3341 Seekoei Road is die ideale opsie vir gaste wat van die stadsgewoel wil ontsnap. Hierdie verblyf maak gebruik van sonkrag, bied slaapplek aan vier gaste en skuil in Marlothpark, ’n area wat met pragtige natuurskoon en wild spog. Gaste kan om die braaivuur kuier, in die swembad baljaar en die natuur bewonder. Daar is selfs wildritte waar julle die Groot 5 kan gewaar.

Kruger’s Keep

Hierdie bekoorlike wegbreek in Marlothpark is ideaal vir ’n paartjie en is net agt kilometer vanaf die Krokodilbrug-hek. Diere soos kameelperde, rooibokke, volstruise en wildebeeste kom kuier gereeld op die voorstoep en snags kan julle die nagapies se kaskenades dophou. Daar is selfs ’n privaat area waar gaste onder die sterre en bome kan bad of stort. Gaste kan in die swembad of op die stoep ontspan en die uitsig oor die betowerende Bosveld geniet.

***

Pak solank julle tasse, trek jou safaripakkie aan en wees gereed vir ’n onvergeetlike Bosveld-vakansie.

Hooffoto: Shindzela Safari Camp

Lees ook:

10 sakpaswegbreke naby Gauteng

Lekker glanskampplekke in Limpopo

Troeteldiervriendelike verblyf in Gauteng