Die jaar word ryp met vers en klank en ’n Stellenbosse Maart lok die hele land. Ja, sowaar, ’n fees van woord tref eersdaags die Eikestad se goue akkerblaar en LekkeSlaap weet nét hoe om jou feesbootjie vlot te laat vaar. So, skuif ’n bietjie nader en spits jou ore, want ’n vrolike Woordfees is vir jou beskore.

Stellenbosch se strate begin vroeg Maart gons, want Woordfees vier in 2019 sy 20ste verjaarsdag! Dié fees is ’n jaarlikse hoogtepunt vir musiek-, teater- en kunsliefhebbers en met meer as 1000 aanbiedings op 2019 se feesprogram, behoort dié fees sy goeie naam voorwaar gestand te doen. Indien jy al Woordfees bygewoon het weet jy dat ’n week van pret en plesier in dié universiteitsdorp behoorlike stamina en goeie beplanning verg, en daarom het LekkeSlaap ’n paar vinnige feeswenke saamgestel om ’n feeservaring van formaat te verseker!

 

View this post on Instagram

 

A post shared by US Woordfees (@woordfees) on

Parkeerplek pestilensie

Gereelde Stellenbosch-besoekers is deeglik bewus van die nimmereindigende stryd om parkeerplek in dié motormiernes te vind en tydens Woordfees blyk dit dié miere lê eiers teen ’n hengse pas. Moenie jouself flous en dink jy gaan daai één gelukkige gaatjie vind nie ─ parkeer eerder jou motor op ’n veilige plek en maak van ’n pendeldiens gebruik of trek jou stapskoene se veters styf. Woordfees help jou ook om daardie stywe parkeerfooie te vermy deur gratis parkeerplek by Hoërskool Stellenbosch in Jannaschstraat en oorkant Rhenish Girls’ High School in Kochstraat te bied. Vandaar kan jy op ’n feesbussie klim wat slegs R5 per rit na enige feesvenue uit jou sak sal jaag. Dit was nog nooit so maklik om in Stellenbosch se strate rond te rits nie!

Tyd is ’n faktor!

Só baie aanbiedings, só min tyd! Tyd is altyd ’n kwessie en met 2019 se propvol program sal jy omtrent jou somme mooi moet maak om genoeg tyd vir al jou gunsteling-items te hê. Moenie jou feesprogram met té veel items oorlaai nie. Dis altyd lekker om met daai koevert vol kaartjies by Checkers uit te stap, maar as die dag eers aanbreek kan ’n oorvol program baie veeleisend raak. Beplan jou feesdae goed ─ sorg dat jy genoeg tyd het om na elke feesvenue te ry, stap of pendel en sit genoeg tyd opsy om net luilekker by ’n restaurant, kuierplek of selfs by jou slaapplek te gaan uitspan.

Wees weer-wys

Daar is min dinge wat jou gô so leeg kan tap soos ’n snikhete somersdag op Stellenbosch. Maart is nog hoogsomer in dié geweste en dis belangrik dat feesgangers hulself behoorlik teen die hitte beskerm. Hou altyd genoeg water byderhand, drink baie vloeistof regdeur die dag en maak seker jy het altyd ietsie soet byderhand om jou energievlakke ’n bietjie aan te maan as die hitte jou vang. ’n Sonhoed en sonskerm is beslis ook ’n moet! Ten spyte van die hittige dae, is die aandlug steeds geneig om ’n snerpende briesie mee te sleur, so ’n baadjie of kombers word beslis vir die aandvertonings aanbeveel.

Kontant of kaart?

By ’n kunstefees is dit altyd moeilik om te bepaal waar jy kontant sal moet uithaal en waar jy jou kaart kan deurtrek. Woordfees is egter al ’n hele paar jaar ’n kontantlose fees en geen feesvenue aanvaar kontant nie. Feesgangers hoef slegs hul debiet- of kredietkaart byderhand te hou of van die gerieflike SnapScan-toepassing gebruik te maak. Daar is dus geen nut vir ’n dikke beursie nie en jy hoef jou glad nie aan die gevreesde langvingers wat jou feesbegroting wil bedreig te steur nie.

Fees-veiligheid

Hopelik sal dit nie nodig wees om tydens jou Woordfeesbesoek by ’n dokter te gaan draai nie, maar  dit is tog altyd goed om ’n lysie noodnommers vir die wis en die onwis byderhand te hou:

Ambulans: 021 883 3444
Brandweer: 021 808 8888
Kampusgesondheid: 021 808 3494 (Weeksdae 08:00 tot 17:00)
Mediclinic: 021 821 2000
Nooddienste (tolvry): 0800 60 11 37
Polisie: 021 809 5000
Stellenbosch Hospitaal: 021 887 0310
US Beskermingsdienste: 021 808 4891

En as jy wil skuinslê?

’n Lang dag in Stellenbosch se strate kan nogals ’n uitputtende affêre wees! Moenie dat die moegheid jou onkant vang nie ─ bespreek jou LekkeSlaap-lêplek en geniet die 2019 Woordfees met ’n huppel in jou stap!

Bonne Esperance Guest House

Kom ervaar Stellenbosch op sy beste by Bonne Esperance Guest House in die hartjie van die dorp. Dié elegante B&B in ‘n pragtig opgeknapte Victoriaanse villa het ’n groot stoep wat om die huis strek, gietyster-afwerkings en egte dakruiters. Dié stylvolle gastehuis se nabyheid aan die middedorp maak dit die ideale blyplek vir feesgangers wat te voet die feesterrein wil aandurf.

Majeka House

Majeka House bied vreedsame, privaat verblyf in die historiese dorp Stellenbosch aan. Dit is die ideale basis vir feesgangers wat Stellenbosch se interessante winkeltjies, galerye, museums en straatkafees tydens hul Woordfeesbesoek wil verken. Boonop is talle bekende wynplase en bekroonde restaurante op Stellenbosch se wynroete net ’n klipgooi ver. Majeka House is beslis ’n ideale Woordfeestuiste!

Laanhof

Laanhof is in Die Laan in die hartjie van die Eikestad se toerisme-area geleë. Dié dorp se toprestaurante is net ’n klipgooi ver en daar is uitstekende wynplase met proelokale en restaurante net buite die dorp. Laanhof is net ’n hanetreetjie van al die Woordfees-opwinding af, so as jy iewers in die dorp wil dut, is dit nét die plek vir jou!

Nog lekker lêplekke

Life & Leisure Boutique Guest House | Coopmanhuijs Boutique Hotel & Spa | 7 Ackermann Place Guest House

Woordfees 2019 beloof om feesgangers op ’n onvergeetlike kuns- en kultuurrit te neem en jy beter klim as jy wil saamry! Bespreek nou jou feeskaartjie by Computicket en jou lêplek by LekkeSlaap. Dié fees wil jy beslis nie misloop nie!