Die idee van ’n wittebrood laat die meeste mense se begrotings sommer sug, maar elkeen droom tog van daardie romantiese wegbreek om jou en jou geliefde se nuwe lewenspad te vier. ’n Wittebrood is ’n persoonlike ervaring wat by die paartjie se belangstellings én sak moet pas en daarom het LekkeSlaap.co.za ’n lys met ’n paar wegbreke wat elke sak sal pas saamgestel.   

Sakpasverblyf onder R1000 per nag

FireFly Luxury Tents, Wes-Kaap

Wittebrood_FireFly Luxury Tents

Glanskamptente het baie vinnig onder vakansiegangers gewild geword en is deesdae een van die top-keuses wanneer dit by sakpasverblyf kom. Dit beteken egter nie dat dié tipe verblyf enigsins te kort skiet aan luuksheid, gemak en styl nie. FireFly Luxury Tents is op houtdekke in ’n rustige belt in Harkerville net buite Plettenbergbaai in die Wes-Kaap gebou. Dis naby die Knysna Olifantpark en julle kan saans met die geluid van olifante in die agtergrond aan die slaap raak. Elke tent het ’n en suite-badkamer en ’n groot dek met ’n boma-vuurput. Verder kan julle ontbyt as ’n piekniek of by ’n tafel in die wingerd geniet.

Prikkel die idee van ’n glanskamptent jou belangstelling? Lees ons blog Salig en sakpas in een van dié lekke glanskampe vir ’n paar voorstelle.

Rooikat Cottage, Vrystaat

Wittebrood_Rooikat Cottage

Kunstige Clarens is ’n bekoorlike dorpie wat op elkeen se wegbreeklys hoort, en daarom is dit die perfekte bestemming vir ’n wittebrood-paartjie wat kuns, kos en kultuur waardeer. Rooikat Cottage bied bekostigbare selfsorgkothuise wat net 400 meter vanaf die middedorp geleë is. Hierdie prentjiemooi gebou is op ’n blomryke perseel en smelt soomloos met die groenigheid van die omgewing saam. Geriewe soos elektriese komberse en verwarmers word vir die kouer aande voorsien. Gaste kan aan aktiwiteite soos wynproe, perdry, visvang, gholfspeel en voëlkyk in die omgewing deelneem. 

Heartwood Homestead, Oos-Kaap

Wittebrood_Heartwood Homestead

Hierdie fraaie sinkplaat- en houthuisie laat jou sommer van voor af verlief raak op die plaaslewe. Heartwood Homestead skuil in ’n inheemse woud met ’n uitsig oor die Gonubieriviervallei, is onafhanklik van die plaaslike kragnetwerk en bied paartjies ’n wittebrood wat sinoniem met rustigheid en verlatenheid is. Hier kan jy verwag om plaashoenders en koeie te groet, asook ’n klein kwekery en houtwerkwinkel te besoek. Die huisie is intiem en met basiese geriewe wat tot die omgewingsvriendelike invloed bydra toegerus. Boonop fluister die natuurgeluide van die woud in gaste se ore terwyl hulle op die dek ontspan. 

Tussen R1000 en R3000 per nag

Buccara Wildlife Reserve, Oos-Kaap

Wittebrood_Buccara Wildlife Reserve

As die idee van ’n wittebrood in die Karoo jou hart vinniger laat klop, is Buccara Wildlife Reserve perfek vir jou en jou geliefde. Graaff-Reinet is ewe geskik vir paartjies wat op soek is na ’n luilekker wegbreek of ’n plattelandse ervaring met sy kleindorpie-winkels en -besienswaardighede. Buccara Wildlife Reserve bestaan uit ruim kamers en chalets en beskik oor unieke elemente soos ’n snoekertafel uit die 1911’s en uitgestrekte tuine waar gaste kan uitspan en van tyd vergeet. Die luukse kamers is stylvol ingerig met lugversorging, en suite-badkamers en WiFi, en die plattelandse kenmerke word met die braai-area en vuurput beklemtoon. 

Sicklebush Suite Romantic Getaway, Limpopo

Wittebrood_Sicklebush Suite Romantic Getaway

As die woord “romanties” in die naam van die instansie is, dan weet jy dis ’n bobaaskeuse vir ’n wittebrood. Hoewel hierdie suite op die veilige Hoedspruit Wildlandgoed naby die Krugerwildtuin geleë is, bied dit steeds maklike toegang tot geriewe, winkels en restaurante in die dorp. Die grasdakhuisie het ’n oopplan-uitleg met ruim areas, maar skep tog ’n intieme atmosfeer soos by ’n geheime wegbreekplekkie. Julle kan skemerkelkies op die stoep geniet terwyl julle die voëllewe dophou en kyk hoe wild sommer by die huis verbyloop.

Misty Waves Boutique Hotel, Wes-Kaap

Wittebrood_Misty Waves Boutique Hotel

Bekostigbare verblyf in gewilde vakansiebestemmings soos Hermanus word sommer vinnig opgeraap, maar moenie moed verloor nie! ’n Wittebrood by ’n boetiekhotel wat ’n hemelbed, masseerbehandelings en fliekteater insluit is moontlik sonder dat jy jou hand té diep in jou sak hoef te steek. Misty Waves Boutique Hotel bied al hierdie geriewe en nog meer! Die sjiek kamers met uitsigte oor die lowerryke tuin laat gaste vinnig na ’n ander werklikheid ontsnap. Paartjies kan hier gholfspeel, wandel, welbekende restaurante besoek en walviskyk gedurende die walvisseisoen! Daar is ook ’n hele rits luukse geriewe, soos ’n swembad met sonstoele, ’n restaurant in die hotel se tuin en ’n balkon vanwaar jy die walvisse kan dophou. 

Bederf jouself (meer as R3000 per nag)

umVangati House, Limpopo

Wittebrood_UmVangati House

Hierdie intieme oord met sy uitsigte om elke hoek en draai is in die hartjie van die Blyderivierspoort. By umVangati House kan jy nie anders as om vir ’n oomblik van die realiteit te vergeet en net die natuurskoon te bewonder nie. “umVangati” is die Swazi-naam vir ’n kiaatboom wat op die perseel te vind is. Hierdie tipe hout word by elke suite ingewerk en kombineer dié natuurelemente met moderne argitektuur en geriewe. Maak ’n draai by die instap-wynkelder wat net vir romantiese wegbreke beskikbaar is, en ontspan met ’n skemerkelkie op die swembaddek terwyl die sonsondergang die lug en Drakensberge inkleur. 

Castello Di Monte, Gauteng

Wittebrood_Castello Di Monte

Het jy altyd van ’n sprokiestroue gedroom? Wel, elke feëverhaal moet met ’n kasteel eindig, en hierdie gastehuis sal julle soos prinse en prinsesse laat voel wat ná ’n onvergeetlike troue op hul wittebrood vertrek. Castello Di Monte is ’n Toskaanse villa in Waterkloof Ridge, Pretoria en spog met 16de eeuse prag, ’n Juliet-balkon en luukse geriewe. Gaste kan aan smullekker maaltye wat ingesluit is weglê en die spa-behandelings op die perseel geniet. Outentieke elemente soos ’n reuseskaakbord en ’n swembad met ’n Romeinse styl dra by tot hierdie ouwêreldse wegbreek. Die Wittebrood-suite is met muurkuns versier en het ’n hemelbed om by die tema te pas. Verder word gaste met ’n Jacuzzi en ondervloerse verhitting bederf.  

KumbuKumbu Mountain Villas, Wes-Kaap

Wittebrood_KumbuKumbu Mountain Villas6

’n Wegbreek tussen niks en nêrens is ideaal vir paartjies wat op soek is na rustigheid, stilte en privaatheid. Daarom is KumbuKumbu Mountain Villas perfek vir ’n wittebrood! As julle nie tydens die somer in die plonspoel ontspan en die panoramiese uitsigte vanuit die dek bewonder nie, kan julle gedurende die kouer seisoene voor die kaggel opkrul en kyk hoe die berg ’n sneeubaadjie aantrek. Elke villa is vir twee gaste geskik en het groot glasvensters en -deure wat die natuur na binne nooi, maar is steeds ver uit mekaar geleë om genoeg privaatheid aan gaste te bied.

Kuname Lodge, Limpopo

Wittebrood_Kuname Lodge

Waarmee sal jy graag wil bederf word wanneer jy op jou wittebrood gaan? Dalk ’n buitelugbad wat jou met die natuur verenig, ’n wildrit om die Groot 5 van naby te aanskou, of interessante disse op die spyskaart? As jy by Kuname Lodge bespreek, hoef jy gelukkig nie te kies nie, want hierdie lodge bied al die bogenoemde! Hierdie klein, eksklusiewe safari-lodge in die Karongwe Privaat Wildreservaat is net 45 minute se ry vanaf die Krugerwildtuin en grens aan ’n platorand van die Drakensberge. Paartjies wat hul wittebrood hier hou word daagliks met natuurprag omring en hoewel die verskeie suites apart van mekaar geleë is, beloof elkeen ’n onvergeetlike ervaring. 


As die bestemmings hierbo jou oë laat blink, is dit tyd om jou geliefde nader te wink. Met dié verblyfkeuses is ’n mens sommer lus om die wa voor die perde te span en ’n wittebrood te beplan vóór die troukoors slaan. 

Hooffoto: umVangati House