Die werf van ’n plaas is waar álle dinge bymekaarkom, die sterre, die diere, die mense wat daar werk, die eienaar, die kinders, die kos, die honger, die onreg – dis alles, alles plek op ’n werf – Antjie Krog

Ek onthou nog óns werf. Ek sien in my geestesoog die stoep en ons twee Duitse herdershonde wat in die skaduwee van die melkhoutboom lê. Die tennisbaan se geroeste hekkie wat met ’n stuk draad en ’n bietjie genade regop bly en die doringboom aan die linkerkant wat al ons pap rugbyballe versamel. ’n Gedeelte van ons werf staan as die sogenaamde niemandsland bekend, waar jou kaalvoete nie durf loop nie. Derduisende dubbeltjies wat jou voet se hele bodem bedek en sodra jy gaan sit, is jou hande én jou sitvlak ook vol van dié duiwelskeppings. Pa slaan Sondaemiddae gholfballe en ons moet die werf met emmers patrolleer om die balle weer op te tel. Námiddag is ons moeg en die werf moet rus.

Vandag is ’n werf ’n vreemde verskynsel en dit kan aan verskeie redes toegeskryf word. Met Suid-Afrika wat die afgelope paar jaar as ’n waterskaars land bekendstaan, kan kinders hulle nie meer so met dié hemelse oppervlakte vol herinneringe vereenselwig nie. Ek bevind myself ook deesdae in geselskap waar tannies en ma’s in winkelsentrums en tydens koek en tee ná kerk, beweer hulle kinders speel nie genoeg buite nie. Dit kan as gevolg van tegnologiese vooruitgang óf ’n uitgewerkte, afgeskeepte grasperk wees dat kinders verkies om binne te bly. Met al die ervaring wat ek oor die jare opgedoen het deur by Wim te gaan speel, vir familie te kuier, sport te doen of met vakansie te gaan, het my werf- en grasperkkennis geweldig gegroei en het ek ’n lysie gemaak van grasperktipes wat vir my besonders uitstaan. Grasperke staan reg vir verskillende voete in verskillende seisoene, maar dit is vernaamlik die reuk van ’n varsgesnyde grasperk wat die gemeenplaas by die meeste van die grasperktipes is.

Lize se mandjie en ’n somerspiekniek in die veld

’n Bymekaarkoms met mandjies, komberse, peuselhappies en romanse. Dié grasperk is gewoonlik mooi gesny en in ’n tuin tussen bome met genoeg asblikke in die omtrek. Dis ook mooi versorg en blare wat hier en daar op die gras lê sorg vir ’n woud-atmosfeer. Die geluid van sonbesies is opvallend en so ook die reuk van sonbrandmiddel. Die piekniek-grasperk is redelik gelyk om optimale gemak en sitplek vir die betrokke piekniekgangers te bied. Piekniekgangers sal agterkom dat die grasperk dikwels groen is om te vermy dat enige droë gras aan die kombers kleef. Let wel dat piekniek-grasperke ook seisoenaal is en daarom is ’n piekniekskedule altyd handig.

… aan die voorheuwels van die Ukhahlamba Drakensberg Park Wêrelderfenisgebied.

Umzimkulu Rivier Lodge

Wim word 8 jaar oud

Kinderpartytjies verlang dikwels genoeg ruimte waar kinders kan rondhardloop, klim en klouter. Dié grasperk bied ’n ontvlugting van die tegnologiese stremming wat op kinders se verbeelding geplaas word en ouers wat toesig hou geniet ’n blaaskans op ’n gemaklike bankie onder die bome. Dis lewensbelangrik om die noodhulpkissie ten alle tye byderhand te hou, want só ’n grasperk het nie genade nie. Pasop ook vir die harde grondkolle naby die klimraam wat lief daarvoor is om vel te verwyder. 

… gehalteverblyf met ’n trampolien en klimraam vir die kinders in die Witelsbosarea.

Tsitsikamma Cottages

Die slang in die grasperk

Ongerep, deurmekaar, losbandig, verdag en afgeskeep is hoe dié grasperk beskryf kan word. Almal het in ’n stadium so ’n grasperk. Op ons erf moes ons gewoonlik die slang in die gras na ’n lang Desembervakansie in die huis teëkom. Dis meer bekend op groter erwe, veral aan die agterkant waar gaste nie sommer toegelaat word nie. Dié grasperk bly ook redelik hoog op enige man se prioriteitslysie, maar nooit heel bo nie en soms vir ’n geruime tydjie – enige vrou se nagmerrie. Menige speelgoed en balle word hier verloor en is amper gelykstaande aan ’n kind se klerekas, of ’n studentekommune op ’n Saterdagoggend. Let wel, die grasperk het die potensiaal om in ’n pragtige piekniek-grasperk omskep te word as die mans minder gholf oor naweke speel en meer begin grassny.

… aan die buitewyke van Phalaborwa, 12 kilometer vanaf die Phalaborwa Kruger Wildtuin-hek.

Cottage Lenise

Die verbode vrug

Almal van ons het al dié soort grasperk teëgekom, of dit nou by ’n sportveld, jou ouma of jou oom se huis is. Daar is altyd ’n grasperk waarop ’n mens nie mag loop nie. Dikwels is dit ’n groentjie of ’n jong grasperk en dan is die gras nog in die groeifase, maar ander kere weet ek eerlikwaar nie wat op daardie grasperk aangaan dat ’n mens nie daarop mag loop nie. As kind het my balle gereeld op die verbode grasperk gerol, dan is die swembadpaal nader gebring om die bal op te raap, of ek moes amper ’n luiperdbekruip-beweging uitoefen om by die bal uit te kom. 

… ’n pragtige gedeelte van die Noord-Kaap met geskiedkundige besienswaardighede, soos die Boereoorlog-grafte.

Apollis Cottage

Garden and Home, bladsy 13

Nuwe intrekkers of gesinne wat pas huis gebou het, sit met die dilemma van ’n oop stuk grond met ’n pragtuin wat al in die gedagtes gevorm het. Dis gewoonlik die grasperk in die Garden and Home se tuinafdeling. Dink net hoe lekker kan die kinders hier speel as die gras eers gegroei het. Wim, jy kan Saterdae grassny terwyl ek die kruietuin watergee. Saterdae word daar geplant en natgelei en daar is dikwels rooi band, soos by ’n misdaadtoneel, om kinders en diere wat groei kan belemmer, uit te hou. Dis ’n geduldige fase en ’n gulde geleentheid om ander grasperke te besoek.

… op ’n wildplaas met 4×4-roets en bergfietsroetes in die Waterberge.

Mountain View Bush Lodge

Oefenbowwe en gate soos landmynletsels

In sommige gesinne is dié ’n algemene grasperk en pa’s wat gholf speel sal die grasperk gebruik om middae ná werk oefenballe te slaan voor Saterdag se groot toernooi. Kenmerkend van die grasperk is die bruin grondkolle waar gras uitgeslaan is en uiteindelik weer teruggroei. Lettie is woedend, want die grasperk waaraan sy en Wim so hard gewerk het ly nou aan bomskok en die wit granate het klomp letsels op die grasperk gelaat. Wim kla nou vreeslik want dit kos hom baie geld om na ’n publieke oefenbof te gaan om balle te gaan moker.

… op die Centurion Gholflandgoed, een van die land se mooiste gholfbane.

Leopardsong Manor

Oëverblindery en die groen hofnar

Dis die wolf in skaapsklere wat jou mislei om te dink dis ’n groen paradys en later kom jy agter dis te goed om waar te wees. Ek verneem dit was in ’n stadium mode om ’n gedeelte van die huis met kitsgras te versier om ’n unieke en outentieke atmosfeer te skep. Met verdere navorsing blyk dit dat dié grasperk voordele inhou. The Guardian berig dat meer mense in Engeland hulle egte gras vir kitsgras verruil. Dit is veral handig vir diegene met honde wat in die stad bly en nie ’n modderspul in die huis wil hê nie. Ouer mense wat nie meer in staat is om hulle grasperke te onderhou nie, baat ook hierby. 

… naby Robbergstrand in Plettenbergbaai.

115 on Beachy Head Drive Luxury Guest House

Ek en Wim hol oor die grasperk om die rugbybal tussen die bosse te gaan soek. Met die hond wat ons agterna jaag, word Wim met ’n bytmerk op sy kuit gelaat. Ons vind die bal tussen die bosse en weet dis die einde. Wim is nie in staat om verder te speel nie, die honde is moeg en ons bal is pap. Die werf is wreed. Die werf toets jou. By die voordeur staan en skrop ons voete, want Ma se kombuis wil nie deel hê van die dag se oorblyfsels nie. Vee jou voete af voor jy inkom, ek het nou net die vloer gewas.

Hooffoto: Gaikou Lodge